Daar ís iets wat jy kan doen

Barend Uys. (Foto: Reint Dykema)

Covid-19 het ons roetine totaal kom versteur – ’n mens mis normaliteit. ’n Mens kom tot die besef dat klein goedjies wat ons voorheen as vanselfsprekend aanvaar het, soos ’n familie-ete op ’n Sondagmiddag, iets kosbaars is. Al vermy ’n mens die nuus, kan jy nie anders as om te hoor dat die aantal mense wat Covid-19 opdoen aanhou styg nie, dat die regering nie daarin slaag om mense getoets te kry nie – en aan hierdie dinge kan ’n mens nie veel doen nie. Dit kan ’n gevoel van magteloosheid en daarom moedeloosheid laat ontstaan.

Daar is egter wél dinge wat elkeen van ons binne ons eie vermoë kan doen. Dit is so lekker om te sien hoe mense juis in hierdie uitdagende tye met nuwe planne vorendag kom om te oorleef – planne wat so uitnemend is dat dit ons wêreld gaan verander. Dit is hier waar elkeen van ons ’n rol het om te speel.

Die sanger Adam Tas het in samewerking met die familieboernetwerk Saai en AfriForum die Van-boer-tot-bord-projek van stapel gestuur. Die doel van dié projek is om die middelman tussen die familieboer en die verbruiker uit te skakel sodat gewone mense goedkoper kos kan kry.

Die plan met die projek is om ’n wesenlike vermindering in die prys van kos teweeg te bring – as ’n mens daarvan praat om die prys in die helfte te probeer sny tot voordeel van die verbruiker én die familieboer, praat ’n mens nie van net ’n bietjie goedkoper nie. Die wynboer en oudrugbyspeler Kwagga Boucher het ook aangekondig dat Saai ’n projek aanpak om die familieboer-wynmakers te bevorder, te beskerm en te bewaar deur die innoverende digitale Van-plaas-tot-glas-projek. Die doel van dié projek is om maklike en gerieflike direkte toegang tot familieboer-wynplase vir verbruikers moontlik te maak.

Verskeie mense se vermoë om inkomste te verdien, is baie nadelig geraak deur die inperkingsmaatreëls wat die regering ingestel het. Sangers is van die beroepslui wat die ergste geraak is omdat samekomste vir ontspanningsdoeleindes tans verbode is en dit wil voorkom of dit moontlik nog lank die geval kan wees. Ook hier is daar oorspronklik gedink en lewer sangers nou konserte op verskillende digitale platforms. ’n Voorbeeld hiervan is Dapper Media se vooraf opgeneemde tuiskonserte. Wat ’n mens veral opgewonde maak, is dat die video- en klankgehalte eenvoudig uitstekend is – dit is nie sommer ’n draad-en-tang-plan nie, dit is ’n uitnemende produk.

In hierdie tyd van onsekerheid en deurlopende slegte nuus het ’n mens juis ’n ontspanne onderbreking meer nodig as ooit – die emosionele en sielkundige impak van die voortslepende inperking en gebrek aan fisieke kontak en sosiale samesyn is ook iets wat noodsaaklik is om te bestuur. Die pryse van dié digitale konserte is deur die bank uiters billik en die moeite werd om te ondersteun as jy dit kan bekostig – jy gaan dit nie net geniet nie, jy gaan ook help om ’n bord kos op ’n kunstenaar se tafel te sit.

Hierdie tyd dwing ons om te besef hoe afhanklik ons binne ’n gemeenskap van mekaar is. Waarom sal jy na die groot kettingwinkel toe ry as jy die hardewarewinkel om die hoek kan ondersteun? Dit is die eienaar van die hardewarewinkel om die hoek wat vir jou sal kom oopsluit as jy een Sondagmiddag sit met ’n gebreekte pyp wat jou huis sonder water laat – dis nou as jy en die eienaar mekaar ken. Wat is lekkerder as om goedkoper kos direk by ’n familieboer by ’n boeremark te koop of vermaak deur ’n innoverende digitale platform? Al wat dit verg is ’n keuse gevolg deur gepaste optrede.

Die een goeie ding wat Covid-19 veroorsaak is dat dit ons dwing om nuut te dink, weer te waardeer wat ons het, en ons aanspoor om anders op te tree: óns het die vermoë om deur ons dade ware gemeenskapslewe weer terug te bring.

Die Boere is, soos in die verlede, weer besig om uitnemende planne te maak – al wat nodig is, is dat ons mekaar ondersteun.

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Kliek hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Barend Uys

Barend Uys is die hoof van interkulturele verhoudings en samewerking by AfriForum.

Deel van: Meningsvormers, Produksie

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Henk ·

Geagte Redaksie, ek kon ‘n vorm op Afriforum se webblad vind waar boere kan registreer vir die projekte wat in die artikel genoem word. Waar kan verbruikers inskakel of meer inligting kry?

Megan Swart ·

Dagsê Henk
Dankie vir jou navraag. Kontak gerus Mariska Nanni by [email protected] dan sal sy jou navraag na die regte persoon by AfriForum verwys.
Dankie! Groetnis
Megan
nms Maroela Media

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.