Daar skuil meer agter EU as ideologie

europese-unie

Vlae van die Europese Unie. Foto: Pontzi/Pixabay.com

Dit is vandeesweek (7 Februarie) presies 25 jaar gelede dat die stigtingsverdrag van die Europese Unie (EU) onderteken is. Dit het gebeur in die pragtige Middeleeuse middestad van Maastricht in Nederland en het sedertdien ’n beslissende invloed op die Europese geskiedenis gehad.

Die herdenking sal op 25 Maart opgevolg word met dié van die Verdrag van Rome (1957).

Dis miskien goed om eers die aanloop tot die verdrae vlugtig te skets.

Dink jou in: Ná die Tweede Wêreldoorlog is Europa ’n ruïne. Die beelde wat ’n mens tans van verwoeste stede in Sirië sien – só lyk groot dele van Europa. Die vasteland is plat op sy rug.

’n Aantal versiende staatsmanne – mense soos Charles de Gaulle, Konrad Adenauer, Winston Churchill – kom ooreen: Dit mag nóóít weer gebeur nie. Europa moet ’n formule vind om ’n herhaling van oorlog ten beste onmoontlik te maak en op die allerminste buitengewoon moeilik. (Churchill praat in ’n toespraak selfs van ’n Verenigde State van Europa, wat egter nie Brittanje moet insluit nie.)

’n Eerste stap was die stigting van die Europese steenkool- en staalgemeenskap met die Verdrag van Parys (1951), waardeur die drie Benelux-lande, Wes-Duitsland, Frankryk en Italië, ’n gemeenskaplike mark vir steenkool en staal geskep het. Die oorkoepelende doel was om die ses se ekonomieë op die duur sodanig te integreer dat die prys van oorlog te hoog word.

Dis in 1957 opgevolg met die stigting van die Europese Ekonomiese Gemeenskap (EEG), waardeur die ses ’n doeane-unie aangegaan en ’n enkele mark vir goedere en dienste geskep het.

Sedert 1957 het baie verander. Nog ses Wes-Europese lande – Brittanje, Ierland, Spanje, Portugal, Denemarke en Griekeland – het intussen deel van die EEG geword. En in 1989-’91 het die Ystergordyn verkrummel en die Sowjetunie uiteengeval. Die Koue Oorlog is beëindig; Duitsland is herenig.

Dit alles het die breë internasionale situasie in veral twee opsigte dramaties verander.

Ten eerste het die gemeenskaplike bedreiging van die kommunistiese blok, wat die twee Westerse bondgenootskappe – die EEG en Navo – byeen gehou het, weggeval. Op die duur, so is gevrees, kan dit die Weste se samehang verswak.

Dit het gepaard gegaan met die hergeboorte van ’n Duitse reus in die sentrum van Europa, een wat in die verlede aanleiding help gee het tot voortdurende onrustigheid en twee wêreldoorloë. Die primêre doel waarmee die Verdrae van Parys en Rome opgestel is – die voorkoming van nog ’n oorlog – kon skipbreuk ly as die saak nie goed bestuur word nie, was die vrees by Europese leiers.

Afrikaners, wat geneig is om die wêreld te veel deur hul eie bril te bekyk, het dikwels geen flou benul van die enorme erfenis van die twee wêreldoorloë op Europa nie. Dít, en nie ’n liberaal-internasionalistiese ideologie nie, was die belangrikste dryfveer agter die destydse Europese integrasieproses.

Dus was die doel van die Verdrag van Maastricht van 1992 veral om die einde van die Koue Oorlog en die Duitse hereniging goed te hanteer. Duitsland moes as’t ware in Europa ondergedompel en geneutraliseer word, ’n strewe wat omhels is deur die destydse Duitse bondskanselier, Helmut Kohl. Die verdrag het ook bepaal dat daar beweeg moes word na ’n “ever closer union”.

Maastricht het die vasteland se ekonomiese integrasie nog verder gevoer deur ’n gemeenskaplike mark sonder grense en volkome vrye verkeer van goedere en mense te skep. Ook die totstandkoming van die euro was ’n gevolg hiervan. En intussen het die 12 lidlande wat Maastricht onderteken het, tot 28 aangegroei deurdat al die Sentraal-Europese lande wat vroeër agter die Ystergordyn was, by die EU aangesluit het.

Sedertdien het dit duidelik geword dat die EU aan ’n aantal ontwerpfoute ly.

Ten eerste was die invoering van die euro ’n politieke projek, veral bedoel om Duitsland polities te neutraliseer. Te min rekening is gehou met die groot verskille tussen die hoogs ontwikkelde lande soos Duitsland, Nederland en die Skandinawiese lande enersyds, en die aansienlik minder doeltreffende ekonomieë van byvoorbeeld Griekeland, Spanje en die Balkan-state andersyds.

Die gevolg was dat die bankkrisis van 2008 ’n veel groter omvang bereik het as wat werklik nodig was.

Maar daar is nog iets. By Maastricht is die sogenaamde subsidiariteitsbeginsel afgespreek – besluite word op die laags moontlike vlak, so naby moontlik aan die burgers geneem, was die idee.

Dis egter nie wat gebeur het nie. Die EU-hoofkwartier in Brussel het in ’n logge Molog ontaard wat besluite oor die belaglikste klein dingetjies geneem het.

Dit het die bevolkings mettertyd behoorlik begin irriteer. ’n Eerste aanduiding van ’n opstand was toe die Franse en Nederlandse kiesers ’n voorgestelde enkele grondwet vir die EU in 2005 in referendums verwerp het.

Sedertdien het die verset steeds verder gegroei, tot dié mate dat die ideaal van ’n federale Verenigde State van Europa slegs by enkele bittereinders nog leef. Verreweg die meeste van alle Europese politici sien die EU slegs as ’n vrywillige bondgenootskap van onafhanklike state wat nou saamwerk. ’n Populistiese minderheid wil die organisasie heeltemal afskaf.

En die Britte het besluit om die organisasie te verlaat.

Vanjaar word verkiesings in drie lande – Nederland, Frankryk en Duitsland – gehou wat ’n aanduiding kan gee van hoe die Europeërs daaroor dink, want die toekoms van die EU is by al drie ’n tema.

Luidens peilings kan die Euro-skeptiese Partij voor de Vrijheid (PVV) van Geert Wilders in Nederland die grootste enkele party word. Die huidige verwagting (dit kan natuurlik verander) is dat hy 30 tot 35 van 150 setels gaan kry, veels te min om ’n regering te vorm.

Omdat geen enkele ander party táns gewillig is om in ’n koalisie met hom te sit nie, is die kans klein dat die PVV deel van die volgende regering gaan wees.

In Frankryk sal Marine le Pen van die regse Front Nationale in die eerste ronde eweneens die grootste – 25% – word, maar in ’n tweede ronde sleg uitsak teen die sentristiese Immanuel Macron.

In Duitsland wys die allerjongste peiling dat die gematig-linkse Sosiaal-Demokratiese Party weens die nuwe bloed van ’n vars leier, Martin Schulz, bondskanselier Angela Merkel se Christen-Demokrate vir die eerste keer in baie jare verbysteek (31 teenoor 30%). Die populisties-regse Alternative für Deutschland bly op sowat 12% vassteek.

Dit wys dat die meeste kiesers nie teen die EU is nie, solank hy die onafhanklikheid van hul eie staat nie te veel aantas nie.

Hoe ook al, die Europese projek bly interessant.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Leopold Scholtz

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

14 Kommentare

Jan ·

Wat ek oor wonder watter invloed die Moslem immigrasie tot gevolg gaan he, na my mening sal integrasie van so n groot groep nie moontlik wees nie. Dit gaan n kultuur verandering tot gevolg he wat die nasionale gevoel van die onderskeie state verder gaan verweer veral as die immigrante stemreg begin verkry.

Herman G ·

Ja, dit is ‘n interessante projek. Ek persoonlik voel hulle probleme is dat die elite wat die projek aangevoer het, vertrou die gewone mense min. Dalk voel hulle omdat die Duitsers vir Hitler ‘n groot getal parlementslede gegee het, kan nie vertrou word nie. Die integrasie word dus onder die dekmantel gedoen. Byvoorbeeld, in die artikel praat Leopold van die Franse & Nederlands referendums. Beide die referendums is verwerp, hulle verander die woorde effens, en siedaar! Die Franse & Nederlandse parlemente aanvaar die Lisbon verdrag!
Ek stem saam dat die EU met ‘n goeie doel gestig is, maar in die laaste paar dekades tree dit op soos ‘n koning of keiser, wat die mense ‘n effense stem gee, maar ‘n elite (voorheen die koning en adel stand, nou mense met die regte opleiding/ opvoeding en konneksies) regeer eintlik.
Voeg daarby erge skuldgevoel oor kolonialisme, liberalisme (nie die goeie tipe nie), sosialisme (vir sommige mense en sommige maatskappye), ‘n lae bevolkingsaanwas en groot immigrasie van areas wat nie hulle waardes deel nie (Afrika & die Midde Ooste) en jy sit met ‘n groot gemors.

Willie De bruin ·

Deur te wil voorgee dat dit net Afrikaners is wat die oorsprong van die Europese Unie “misverstaan”, ignoreer jy groeiende renons wat onder die behoudende gedeelte van die Europese lande en so ook die res van die wereld, bestaan. Die uitsondering van Afrikaners in hierdie geval, klink vir my na ‘n vinnige dwarsklap in die rigting van die behoudendes.

Peilings voor verkiesings is gevaarlik, soos nou algemeen bekend. Ek vermoed dat die neo-liberales na die komende Europese verkiesings, weereens soos ‘n klomp verwarde skape, doelloos gaan rondmaal!

Pietman ·

Lyk of die verregse partye die grootste in beide Frankryk en Nederland is maar weens die politieke stelsels nogsteeds nie sal kan regeer nie. Wat ‘n jammerte.

chris ·

Nederland het ‘n proporsionele stelsel, wat beteken dat as ‘n party 10% van die stemme kry, ook 10% van die setels in die parlement kry – anders as byvoorbeeld in die VK of in die ou Suid-Afrika wat met distriktestelsels (ge)werk het.

Dus hoe dink jy dat die Nederlandse stelsel die PVV benadeel? Is dit die feit dat ander partye geen koalisie met die PVV wil vorm nie? Mwah, die PVV wil self ook nie met ander partye in ‘n koalisie nie…

Pietman ·

Dis reg Chris. Niemand gaan ‘n koalisie vorm met die PVV nie. Soos in Frankryk se geval, links ondersteun middel regs en dan verloor verregs .

Nico K ·

Ek dink die probleme van die EU was voorspelbaar. So samewerkinsooreenkoms werk net so lank dit goed gaan. Toe die ekonomie begin sukkel, was dit logies dat die mense nie wil deel nie en glo dat die ander een se sukkelende ekonomie die probleem is. Ek dink, met die uitsondering van Brittanje, dat die Moslem probleem nie die groot rede agter die agteruitgang van die EU is nie.

John ·

… Jy het dit so reg, Herman… ‘n groot gemors. En dit is net die punt van steeds groeiende ysberg. Misdrywe en magspel floreer reeds. Indien dit die idee was om die Duitsers sodoende in te perk, was dit ‘n totale flop. Die teenoorgestelde is bereik. Duitsland is besig om onder die leiding van die ‘mensliewende’ engel weereens in ‘n magstaat te ontwikkel. Uiteindelik sal dieselfde asielsoekers, sodra kulturele botsings opvlam, holderstebolder na buurlande probeer ontvlug in ‘n poging om te ontkom aan die stoomrollende menslike robotte waarin die Duitse volk verander sodra sy rigiede bloudruk teenstand kry. Godsdiensoorloe was aan die orde van die dag in ons lang verlede. Ons het nog nie die einde daarvan gesien nie.

Santie ·

Die geskiedenis is altyd interessant maar die mense wat in verkiesings en referendums stem, stel net belang in hier en nou. Die teenstand teen die EU gaan oor die koste vir lidlande van ‘n yslike parlement van burokrate in Brussel, die koste vir besighede om via die EU te werk, die koste vir vooruitstrewende lande wat eintlik die luies soos Griekeland onderhou, en natuurlik die groot klip in almal se skoen nl. die oop grense en die instroming van mense waarvan baie min ekonomies bruikbaar is. Leopold het, soos Max, die idee dat Afrikaners (of enigiemand anders) konserwatief is omdat hulle nie van beter weet nie. Hulle is bv. so venynig oor Trump dat mens lag kry. Die liberale venyn is al oral hulle kenmerk en in die VSA is dit reeds oral in die liberale ruimtes soos kampusse en die paar stede waar Demokrate gewen het stompsinnige geweld. Ek twyfel of die konserwatiewe golf in Europa gestuit kan word.

Flippie ·

Leopold Scholtz jy kan dit maar net nie weerstaan nie né. Iewers moet jy ‘n steek inkry teen Afrikaners, of dit nou relevant of gevraagd is, of nie.

Dié neerhalende opmerking het ‘n andersins goeie en interesante stuk werk bederf. Ons word van so baie kante af verneder, bespot, verkleineer en veragterlik, Ons het dit regtigwaar nie van een van ons nodig nie.

leopold Scholtz ·

Ai, Flippie tog, man, jy lees dinge in die artikel wat nie eens by verre daar staan of selfs geimpliseer word nie. As jy my ken, sal jy weet ek is ‘n trotse Afrikaner. Dit was bedoel bloot as ‘n feitelike stelling, niks meer nie. In alle liefde, moenie so vinnig op jou perdjie klim nie, jong.

Nico K ·

Ek dink die groot rede hoekom die EU begin ongewild raak in Europa is omdat dit gewerk het toe dit goed gegaan het. Nou dat die ekonomie druk, veral in die suidelike state, is dit logies dat die samewerking nou nie meer so sterk is nie. Met die uitsondering van Brittanje dink ek nie die invloei van Moslems is die groot rede nie. (Hoekom sal Frankryk nou wil wegbreek van Duitsland oor die Moslem instroming. Beide lande het ewe veel.)

Flippie ·

Leopold Scholtz. Jou opmerking oor Afrikaners is ongevraagd. As jy jou kon weerhou om aanmerkings of memes met die strekking sou meer van ons dalk jou rubrieke waardeer.

Ek is nie op my perdjie nie, ek is net eerlikheid met jou, hoe ek daaroor voel, net sodat jy nie eendag sal sê “maar ek het nie geweet nie”.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.