Dáárom is ek geen Afrikaner nie

Afrikaner7Die konsep “Afrikaner” het waarskynlik lankal nie meer die nominale inhoud van ‘n etniese groep nie.

Ons weet Afrikanerskap en Afrikaans staan in geen noodwendige verhouding tot mekaar nie. Die mate waartoe Afrikanerskap ‘n duidelik identifiseerbare kulturele manifestasie verteenwoordig is ook relatief omdat nie alle wit, Afrikaanssprekendes noodwendig inkoop op die operasionele artefakte van Afrikanerskap nie.

Afrikaners wat hulself as polities regs (‘n veronderstelde ideologiese konsep) identifiseer, verskil in minstens een – of net een – belangrike opsig van hul mede taal-en kultuurgenote en dit is dat hulle kru rassisties is op ‘n wyse wat met lae intelligensie geassossieer kan word. Terwyl my eie politieke identiteit korrespondeer met ‘n liberale disposisie (regses maak selde intelligente onderskeid tussen ‘liberaal’ en ‘links’), het ek groot vrede met die ideologiese verskynsel van konserwatiewe Afrikaanssprekendes, selfs al verkies hulle om die mantel van Afrikanerskap te dra.

Om die waarheid te sê, ek glo steeds dat geen politieke party in Suid-Afrika daarin slaag om die konserwatiewe Afrikaners behoorlik te verteenwoordig nie en daarom is hulle uit politieke nood in die bed saam met die konserwatiewe vleuel van die DA. Die VF+, wat ‘n natuurlike politieke tuiste vir konserwatiewe Suid-Afrikaners moet wees, toon geen vasberadenheid om die regse elemente in hul geledere af te skud nie, en in die proses word die konserwatiewe Afrikaners vervreem en in die arms van die DA ingedryf. Polities-gesproke is dit ‘n groot jammerte, want die verskynsel van ideologies behoudend of konserwatief wees word in die proses gestigmatiseer.

By verre die meeste Afrikaners (as ek vir ‘n oomblik die konsep kan gebruik soos wanneer dit misbruik word) wat ek ken is konserwatief. Baie van hulle is ras-sensitief, maar die kru rassisme van Sunette Bridges (wat byna altyd na swart Suid-Afrikaners as “barbare” verwys) en Steve Hofmeyr (wat met met die ego van ‘n dinosaurus vir homself ‘n politieke identiteit probeer kerf op die lyding van mense wat werklik baie hard getref word deur misdaad) is vreemd aan die Afrikaners wat ek ken. Die pseudo-intellektuele voetwerk van Fransi Philips en Dan Roodt is eintlik minder skadelik omdat hulle staatmaak op die relatief beperkte skolastiese ervaring van hul volgelinge om ‘n persoonlike nydigheid jeens alles wat nie wit en Afrikaans is nie, te maak staan.

Die meeste regses se akademiese begrip van Roodt se intellektuele bedrog is genadiglik beperk tot ‘n soort “bewondering vir titels”. Vergelyk byvoorbeeld die genadelose opjaag van emosies waaraan Bridges, Hofmeyr en Roodt hulself skuldig maak met die beskaafde politieke opinies van die Boshoff-familie van Orania. Ek vind geen aanklank by die motiverings vir die bestaan van Orania nie, maar is steeds beïndruk met die beskaafdheid waarmee dit aangebied word.

Die regverdigings vir konserwatief-wees kan nie met vrees, paranoia, wanvoorstelling en haat bevlek word nie. Ek het groot deernis met konserwatiewe Afrikaners wat nie hul politieke disposisie motiveer met rassisme nie, en ek dink dit is baie moontlik om behoudend of konserwatief te wees sonder om rassisties of haatdraend te wees. Daar is nie ‘n enkele politieke identiteit wat soveel voordeel getrek het uit demokrasie as dít wat vir wit Suid-Afrikaners op hul tafels geland het nie. In 1994 was hulle soldate, kripvreters en polisiemanne/-vroue, vandag is hulle sakemense met enorme bates en skep hulle geleenthede vir hulself en ander Suid-Afrikaners op ‘n massiewe skaal. Niemand is meer bevry deur die afskaffing van apartheid as wit Suid-Afrikaners nie.

Regstellende aksie het op ‘n baie ironiese wyse witmense bevry van hul voorliefde vir die staat se spene. Vandag is net 5,7% wittes werkloos en waar ongeveer 40% van hulle in 1994 oor matriek beskik het, is die syfer nou ongeveer 60%. As daar ‘n beletsel moet wees vir wat ná 1994 gebeur het vir wit voortbestaan, is dit die hoë vlakke van misdaad wat boere op plase getref het. Ons weet plaasmoorde is nie polities nie; boere is uitgelewer aan die persepsie dat daar geld en wapens op plase is en die feit dat wonings geïsoleerd voorkom. Die feit van die saak is dat nie genoeg gedoen word om misdaad aan te spreek nie, en boere is meer vatbaar vir geweld om genoemde redes.

Afrikanerskap het konserwatief-wees gestigmatiseer, jammerlik so. Indien daar ‘n geregverdigbare teenwoordigheid vir Afrikanerskap kan ontstaan, sal dit wees indien ons ons kan bevry van Hofmeyr, Bridges, Roodt en Phillips. Dit is tragies om te sien hoe Hofmeyr data bekook om sy rassisme te regverdig, dit dan opdis as die emosionele afgematte psige van die Afrikaner en toe hy aan die kaak gestel word die argument voer dat dit nie werklik gaan oor die data nie. Hy skep sy eie Afrikaner-pasiënte deur hulle te bedrieg en dwing dan die bevreesdes om sy politieke moetie (oplossing) te koop.

Die Afrikanerskap waarmee ek vrede het is ingelig, interessant, intelligent en streef na gesonde oordeel. Haat, rassisme en die doelbewuste stook van emosies deur eenvoudig blatant te lieg oor data, is nie waarmee ek identifiseer nie. Ek hou ongeveer 30 toesprake jaarliks by landbou-unies of sakekamers, meer dikwels vir Afrikaanssprekendes en waarskynlik meer dikwels vir mense wat hulself gemaklik identifiseer met Afrikanerskap. Maar, ek moet nog onder hulle gekonfronteer word met die Hofmeyrs en Roodts. Dit is konserwatiewe mense wat soek na ‘n plek vir hulself en almal anders in die son van hierdie land.

Soos dit is, het Afrikanerskap ‘n baie lelike ideologiese konstruk geword; daarom is ek geen Afrikaner nie. Maar, al verskil my politiek van hulle s’n, het ek steeds my deernis met die konserwatiewe natuur van wit Afrikaanssprekendes; dit is die politiek-organiese oorsprong van my genepoel. Diegene wat haat en nyd koester as ‘n politieke identiteit is die skuim van die Afrikanerdom, die room ploeg die lande, skep werk en word burgers van ‘n baie groter en interessanter prentjie.

Lees ook:
Wie is die Afrikaner? Steve Hofmeyr lewer repliek deur Steve Hofmeyr
Kom ons herdefinieer Afrikanerdeur Wannie Carstens
Wie en wat is ‘n Afrikanerdeur Flip Buys

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Piet Croucamp

Meer oor die skrywer: Piet Croucamp

Piet Croucamp gee klas aan die Universiteit van Johannesburg en spesialiseer in navorsingsmetodes, die demokratisering van politieke stelsels en sy ‘eerste liefde’ politieke geweld. Hy het studeer aan die Stellenbosch Universiteit, die RAU en het ‘n doktoraal verwerf aan die Universiteit van die Vrystaat oor die oorsprong van geweld en konflik in die taxi-bedryf. Sy navorsing is in verskeie nasionale- sowel as internasionale joernale gepubliseer. Hy boer in die Namibiese Kalahari en bestuur ‘n Land Rover "omdat hy nie anders kan nie".

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae