Daar’s altyd ’n naam waarvoor iemand hom skaam

Hoërskool D.F. Malan. (Foto: Facebook)

Die Hoërskool D.F. Malan in Bellville wil sy naam verander, lees ek in die koerant.

In ’n verklaring het die voorsitter van die skool se beheerliggaam, André Roux, gesê die skool stel “Afrikaans en moedertaalonderrig hoog op prys”, maar wil ook die “meertalige kapasiteit van sy leerlinge bevorder op ’n manier wat hulle in staat stel om in ’n multikulturele wêreld sukses te behaal”. (Ek hoop dit beteken nie dat die skool nou tweetalig gaan word nie!)

Terselfdertyd wil die skool “deur die tradisionele grense van die Afrikaanse gemeenskap breek deur ’n insluitende skoolgemeenskap te wees waar alle Afrikaanssprekendes ewe welkom voel”. En dus moet die naam van D.F. Malan, die eerste apartheidspremier van ná 1948 (my woorde) waai.

Nou kan ’n mens skerp en emosioneel hierop reageer, maar dit sou fout wees. Kom ons bekyk die saak nugter en met die nodige nuanses. Verskeie nuanses, wat helaas in ’n verklaring soos dié van Roux verlore gaan, is nodig.

Ten eerste, dis waar dat Malan ’n groot voorstander was van apartheid, nie alleen tussen wit en swart nie, maar ook tussen wit en bruin Afrikaanssprekendes. Met vandag se kennis en insig was dit ’n foutiewe houding wat – as jy die Afrikaner se eksistensiële angs van destyds in ag neem – verkláár, maar nie góédgekeur kan word nie.

Tegelykertyd moet dit gestel word dat Malan in die Afrikaners se politieke spektrum van destyds glad nie so ekstremisties was nie.

Om mee te begin, het hy ’n klipharde stryd teen die openlik Nasionaal-Sosialistiese Ossewa-Brandwag gevoer, een wat al ’n stryd om die siel van die Afrikaner genoem is. Dit was ’n geveg waar sy oorwinning aanvanklik verreweg nie in die sterre geskryf was nie, en wat grotendeels moontlik gemaak is deur Nazi-Duitsland se nederlaag teen die Geallieerdes in 1945.

Bowendien het heelparty Afrikaners, veral in Transvaal, destyds skeef gekyk na Malan, wat weens sy Kaapse uitkyk van “liberalisme” verdink is. Hy was inderdaad ’n stuk gematigder as sy opvolger, die vurige Transvaler adv. J.G. Strijdom, wat apartheid openlik as “baasskap” beskryf het.

As ’n mens ’n sekere mate van simpatie vir die bruin mense by Malan aanvaar (in teenstelling met Strijdom), doen jy beslis die geskiedenis geen geweld aan nie.

Tog, feit bly staan, met Malan as premier en leier van die Nasionale Party is beslissende stappe gedoen om die bruin mense se stemreg (die Wet op Aparte Verteenwoordiging, 1956) te beperk. Taal het daar geen rol gespeel nie, wel velkleur. Ek kan my voorstel dat baie bruin ouers om dié rede ongemaklik voel om hul kinders by die Hoërskool D.F. Malan in te skryf.

’n Tweede noodsaaklike nuanse is dat Malan verreweg nie die enigste leidende politieke figuur in die Suid-Afrikaanse geskiedenis was by wie ’n mens – nogmaals, volgens vandag se standaarde – bedenklike houdings teenkom nie. Glo dit as jy wil, dit is ook die geval by die ANC-heiliges Nelson Mandela en OR Tambo.

Ek is op die oomblik besig met die skryf van ’n boek oor die ANC/SAKP in ballingskap, wat ek noem Terreur en Bevryding: Die ANC/SAKP in Ballingskap. Daarin gaan ek diep in op die houding wat Mandela en Tambo sedert die jare vyftig oor die kommunisme ingeneem het.

Dit blyk dat Mandela nog minstens tot diep in die jare sewentig ’n oortuigde gelowige Marxis-Leninis was. Hy was selfs ’n paar jaar lid van die SAKP.

Dis waar dat die ouderdom, gesonde verstand en ervaring by hom ’n kentering teweeg gebring het, met die gevolg dat die Mandela wat in 1990 by die Victor Verster-gevangenis in die Paarl na buite gestap het, ’n ander een was as die een wat in 1962 die eerste keer in hegtenis geneem is.

Tambo was aan die ander kant nooit lid van die SAKP nie. Maar as jy sy openbare uitsprake van die jare sestig tot tagtig ontleed, sien jy dat hy by wyse van spreke uit vyf monde tegelyk spreek: Voor Westerse gehore is hy vaagweg links, maar altyd binne die perke van die liberale veelparty-demokrasie. Voor Oosblok-gehore is hy by wyse van spreke kommunistieser as die Kremlin self.

Nou kan jy redeneer dat Tambo destyds grotendeels afhanklik was van die Kremlin en die ander Oos-blok-moondhede, en dat dit sy saak geensins sou help as hy ideologies agter die Withuis, Westminster en die Élyséepaleis sou gaan staan het nie. Maar tog, dit teken Tambo ook as ’n opportunis wat bereid was om met die duiwel te onderhandel, solank dit sy magspolitieke saak dien.

Die punt is dít: Op albei here kan jy, sy dit op ’n heel ander manier, ewe veel kritiek as op Malan uitoefen. Al drie het – opnuut, volgens vandág se kriteria – verkeerde dinge geglo en gedoen. En belangrike nuanses is in al drie gevalle nodig.

Maar dis net één van die drie wie se naam moet waai. Malan s’n. Mandela word, ook onder wittes, wyd bewonder; Tambo veral onder swartes.

Dat daar geen druk is om Mandela se naam by skole of ander instansies te laat waai nie, is een ding. Maar OR Tambo se naam by die groot lughawe buite Johannesburg staan so vas soos die Rots van Gibraltar – en tog was sy houding in die jare sestig tot tagtig dalk nog bedenkliker as dié van Malan.

Dis altyd die Afrikaners wat moet toegee; nooit die ander nie. Afrikaans (toegegee die taal behoort nie net aan die Afrikaners nie) moes waai by die ou RAU (nou die Universiteit van Johannesburg), die Universiteit van Pretoria, die Universiteit van die Vrystaat, die Universiteit van Port Elizabeth en die Universiteit van Wes-Kaapland – en tans ook by sy bakermat, Stellenbosch.

Hier bo-op kom nou die kwessie van die skool se naam ook.

Ek is nie prinsipieel teen ’n naamsverandering van die skool nie. My vraag is egter: Wanneer hou dit op? Eers wanneer die Afrikaners boedel oorgegee en massaal verengels het?

’n Behoorlike, genuanseerde debat is nodig hieroor, een waar ons mekaar nie gaan uitskel en verketter nie, maar waar ons wel grense kan bepaal – tot hiértoe en nie verder nie. Miskien moet ons dink aan ’n Afrikaner wat inklusief Afrikaans gedink het, maar ek moet beken ek kan nie so gou iemand voorstel nie.

Dít is dalk die rigting waar ons gesamentlik moet soek.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Leopold Scholtz

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

13 Kommentare

jongste oudste gewildste
Rian

Ek skaam my, op dié stadium, vir die naam Suid Afrika.

Annamarie

En hoeveel gaan dit kos?? Geld groei nie aan bome!!

MakersMark

Die bomplanters, terroriste en korruptes se name pryk nou oral. SA nou een van die wêreld se muishonde.

VaalDonkie

Dis vir my die seerste wanneer iemand genaamd ANDRE ROUX sulke goed kwytraak.

Andrew

Als is nie verlore nie ou Leopold. Die verkramptes bou al jare aan alternatiewe. Ons het nie almal europese passpoorte nie. Suid Afrika se geskiedenis is so onversoenbaar soos die Isreal Palistina verhouding. In elke land in Afrika behalwe SA is die pionier (of in ander se oe die settelaar) uitgewis of verjaag. Die mense dink om name te verander in die naam van versoening (soos wat alles al reeds veranders is noord van die Oranje) gaan die bloed dorstigheid keur. Maar soos tereg beskryf, die Kaapse uitkyk van “liberalism” het al lankal die multikultuur “embrace”, so die naams veranderinge… Lees meer »