Daar’s werk vir ons kerkleiers

kerk-gemeenskap

Foto: Thepalmerperspective.com

Gesonde gesinne is die noodsaaklikste, maar mees onderskatte bestanddeel van ’n gesonde land. Die laaste ruk het hierdie oortuiging by my opgekom toe ek weer ’n slag die Amerikaanse joernalis Robert Kaplan se boek The Coming Anarchy gelees het. Hierin beskryf hy hoe swak gesinstrukture grootliks verantwoordelik is vir die hoë bevolkingsaanwas en die ontploffing van die vigspandemie in Afrika. Hy waarsku dat die gesamentlike voorkoms van vinnige bevolkingsgroei, snelle verstedeliking en omgewingskrisisse die samelewing totaal onstabiel kan maak en in gewelddadige kriminaliteit kan laat verval.

Kaplan opper ook die skrikwekkende punt dat groot dele van die wêreld naderhand nie meer deur die normale politieke ideologieë geregeer sal kan word nie. Aldus Kaplan lê die rede hiervoor in die arm, jeugdige en swak opgeleide verstedelikte massa wat, vanweë hul getalle, mettertyd ’n bepalende invloed op die regering sal kry. Die probleem is dat die bevolkingsgetalle, omgewingsdruk en die omvang van die probleme die wiele van regerings in ’n moeras van ondoeltreffendheid laat vasval. Die probleme word gevolglik al groter, maar regerings kan al minder daaraan doen. Hoewel Kaplan van ’n oordrewe pessimisme beskuldig is, sien ʼn mens die tekens van sy voorspellings op talle plekke in die wêreld, en ongelukkig ook in Suid-Afrika.

Dit is interessant dat ’n bekende skrywer soos Kaplan soveel waarde aan die gesin heg. Alle aanduidings bestaan egter dat daar beslis ’n duidelike verband is tussen die land se grootste knelpunte en die grootskaalse verbrokkeling van gesinne in ons land. Net een derde van kinders in ons land word byvoorbeeld in ’n “normale” gesin, wat uit albei ouers bestaan, groot. Die Instituut vir Rassebetrekkinge het lankal gewaarsku dat hierdie verskynsel ’n verpletterende invloed op ons land se meer as 18 miljoen kinders het. Hulle is die grootste slagoffers van die gesinskrisis in ons land. Die belangrikste gevolg van hierdie krisis is waarskynlik geweldsmisdaad omdat die oordrag van gesonde waardes deur die geweldige omvang van die gesinskrisis gestrem word.

Kaplan is egter nie net negatief oor die megaplakkerskampe wat oral in die Derde Wêreld en selfs binne-in Westerse stede opskiet nie. Hy noem die voorbeeld van die misdaadvrye plakkerskampe in Turkye wat ligjare verwyderd is van dié in ander lande veral omdat gesinsbande daar baie sterker is. My voorspelling is dat hierdie plakkerskampe betreklik vinnig hulself sal omskep in ordentlike formele behuising.

Dit bring my weer by Suid-Afrika. ʼn Regering kan nie ons gesinskrisis met wette of beleid regmaak nie. Godsdiens is ’n baie sterker gedragskode en bindingskrag as enige ideologie. Gesaghebbende studies het ook al bewys dat die kerk as instelling onder die breë bevolking nog meer vertroue geniet as enige ander instelling in die land. Ons land se kerkleiers is die afgelope jare meermale uitgeskuif en deur die hoofstroommedia afgekraak. Ons sien egter nou die gevolge van ’n samelewing wat sy morele kompas verloor het. Die tyd het aangebreek dat ons kerkleiers hul selfvertroue terugkry en hul taak opneem. Daar’s werk!

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Flip Buys

Flip Buys is voorsitter van die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Ampie ·

Sonder twyfel is die verval van die gesin in SA die rede vir ons grootskaalse geweld en sosiale gemors. Die probleem is: daaar is geen lig in die tonnel nie. Heelwat is aal geskryf daaroor dat gesonde gesinne gesonde waardes en leefwyse veroorsaak. Met enersyds die verval van waardes wat ons moderne lewe bring en andersins die algehele gebrek aan respek vir gesinne van baie van ons landgenote gaan die kultuur van geweld en aanspraak net egter word.

kerneels ·

Absoluut waar! Ek het persoonlike ondervinding van emosionele verwaarlosing as kind nadat my pa oorlede is toe ek 11 was en my moeder verplig was om te gaan werk. Ons eens geborge gesin van warmte en versorging het geheel en al tot niet gegaan. Ek het bedags teruggekeer van die skool na ‘n koue, treurige huis. Die eens ‘gesonde’ gesin was vir altyd verlore. En dit het ‘n beslissende uitwerking op ons almal gehad.

Hermann ·

die KERK moet hom self vind – wil hy werelds wees of is hy GOD/ BYBELS gerig , hierdie vervalle mannier van geloof uitleef is die oorsaak dat ons mensdom so agteruitgaan – die predikant moet uit die BYBEL preek, die ouderling moet sy plek begin inneem as toesighouer van die gemeente en die diaken moet sy huis besoek doen sodat die sosiale probleme, raak gesien word – dan allen sal daar weer gesonde leef wyse wees – maar ja, “menseregte” is van meer belang as DIE WOORD VAN GOD

Johannes Meintjes ·

Na mening moer die volle evangelie bedien word. Nie net ‘n geslote roetine van kerk-toe gaan, werk-toe gaan, huis-toe gaan en “hemel-toe” gaan nie, of net lofprysing, aanbidding, prediking, lering en tiende nie, maar ook geloof in aksie, goeie werke en vrugte wat hou met alle gemeentelede wat in volwassenheid vanuit hegte gesin en opregte gemeente lig, sout en suurdeeg in alle strukture en sfere van die samelewing-in. Hierin faal die kerk en geredde lidmate al vir geruime tyd, met die toenemende swak vrugte wat ons daagliks as gevolg daarvan in ons samelewings beleef.

Otter ·

Die burgers moet ophou om hulle aan die neus te laat lei deur goddelose media. Ons moet na die (Protestante) kerk terugkeer want dit is hoe God sy koninkryk bestuur. DIE KERK MOENIE AANPAS BY DIE MENSE NIE, maar ons moet eie ek begrawe en na God se kerk gaan, ons sondes bely en smerk om sy genade. Hy gee dit asn sondaars wat ONVOORWAARDELIK in Hom glo.

Josef du Toit ·

Helaas het meeste kerke hul weg van God se Woord gekeer, en is Openbaring 2:4 ook van ons waar: “Maar Ek het teen jou dat jy jou eerste liefde verlaat het.” As die grootste kerkverband onder ons volk nie eers ondubbelsinniglik oor die huwelik, die Woord kan napraat nie, is dit enige wonder dat die gesin oral aan’t verbrokkel is? Daadwerklike bekering is nodig.

Johan II ·

Josef ek dink hul was redelik duidelik in 2016, en ek dink baie EU en VSA kerke het ons mooi dopgehou omdat hul dieselfde klaarheid moet kry en lyn moet trek. Onthou ASB dat dit na altwee kante n probleem veroorsaak en dat dit lynreg teen die hoofstroom media is, daarom is dit so belangrik om n sterk uitspraak te maak, maar die regte een daarby (en ek dink ons is nou daar in 2016). Wat is volgende, want daar sal altyd nog n kwessie wees.

Barbara ·

Ouers is nie vandag toegerus om kinders op te voed soos voorgeskryf deur God se Woord nie. Mense volg wêreldse norme, jaag rykdom en sukses na en belê nie in hul kinders se opvoeding nie. Gehoorsame ouers maak bedorwe brokkies groot wat soos vrot appels hulle tydgenote aansteek. Baie gesinne het nie n lewende verhouding met hulle Skepper nie en besef nie dat God die Beskikker is van ons deel en lot nie.

John ·

Etiek se ontstaan is te danke aan die riglyne wat die ou Israeliete van die Hemelvader ontvang het. Sonder die Bybel as handleiding is die gang van sake onderhewig aan basiese menslike drange. Die Russiese Ortodokse kerkleier het onlangs dieselfde waarskuwing gerig as mnr Buys. Liefde, aandag en verantwoordelikheid teenoor die naaste word deesdae a la post-waarheid as onbelangrik afgemaak. Interessant ook dat daar nou van ‘post-waarheid’ ipv van leuen/verkeerd/gevaarlik/sleg gepraat word…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.