Dag Zero vir voedselsekerheid

Theewaterskloof

Theewaterskloofdam. Foto: ANA.

Deur TLU SA

Groot gewag word gemaak van Kaapstad se sogenaamde Dag Zero. Dit is die dag waarop Kaapstad se krane gaan opdroog as gevolg van die droogte.

Dit is egter nie net die droogte wat verantwoordelik is vir die Kaapse watersituasie nie. Jare gelede is al gewaarsku dat as daar nie voorsiening gemaak word vir die groter wordende bevolking se vraag na water nie, daar ernstige probleme gaan ontstaan. Dit was leiers se wilsbesluit om hulle nie aan die waarskuwings te steur nie, met die rampspoedige gevolge wat die Moederstad nou in die gesig staar.

Dit wys hoe belangrik dit is dat leiers moet luister na waarskuwings deur mense met kundigheid van ʼn bepaalde onderwerp of situasie.

Die nuwe staatshoof sal ook hiervan moet kennis neem.

In sy staatsrede het hy weer beloof dat grond sonder vergoeding onteien gaan word. TLU SA het nou gewaarsku dat daardie proses gaan lei tot landbou se eie Dag Zero. Dit sal daardie dag wees dat daar geen voedsel meer op die tafel gaan wees nie, omdat die voedselvoorsieners van hulle plase verdryf is as gevolg van onteiening sonder vergoeding.

Volgens TLU SA moet daar besef word dat, as daar van onteiening van grond gepraat word, dit nie staatsgrond of trustgronde kan wees nie, want hulle besit dit reeds. Die huidige proses is in elk geval ʼn proses van nasionalisering wat uitloop op mislukkings. Met hierdie aftel na landbou se Dag Zero word gedink aan aspekte soos voedselsekerheid wat in gedrang kom, verdere beleidsonsekerheid met die gepaardgaande gebrek aan broodnodige beleggings, buitelandse beleggings wat onttrek en die ineenstorting van die bankwese.

Die ANC het ʼn regeringstyl ontwikkel oor die tydperk heen wat projekteer dat die ANC belangriker vir homself is as wat Suid-Afrika is. In sy eie Vryheidsmanifes sowel as die Grondwet word verklaar dat almal gelyk is, maar in praktyk word ervaar dat sommige mense meer gelyk is as ander. Mnr. Ramaposa het telkens verwys na “our people”. Hy moet verduidelik wie is die “our people”.

Die weersprekende standpunte wat gestel is, bring onsekerheid wat noodwendig vrae na vore bring waaroor daar duidelikheid moet kom.

Solank daar volhard word met radikale transformasie soos uiteengesit in die ANC se beleidsdokumente, stuur Suid-Afrika steeds af op totale ekonomiese verval desondanks mnr. Ramaphosa se mooi praatjies.

TLU SA het reeds in 2005 praktiese voorstelle aan die regering oorgedra wat van die tafel gevee was waarin nuwe toetreders op so wyse gehelp sou kon word dat hulle wel ʼn kans op sukses kon hê. Dis natuurlik heel anders as wat die regering nou doen met ʼn selferkende 90%-misluksyfer. Die regering moet besef dat al die mooi beloftes eensklaps onaanvaarbaar sal word vir beleggers indien hier enige eensydige onteiening sonder vergoeding sal plaasvind. Kapitaal volg nie onsekerheid nie.

Die belangrikheid van voedselproduksie in ons land met die geskiedenis van die regering se betrokkenheid tot nou toe om nuwe toetreders in die landbou-omgewing in te bring, verg dat daar nuut gedink moet word. Die regering se inmenging sover het grootliks uitgeloop op mislukkings. Laat die privaat sektor en spesifiek die kommersiële landbou hierdie planne maak, en laat die leiers luister na die kundiges se waarskuwings en raad, om ʼn volgende Dag Zero te voorkom.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Afrikaner se Dag Zero ·

Waarom hou mense hulle nog op met redekawel oor die goed, ons weet dit gaan gebeur. Maak eerder voorsiening vir wanneer dit gebeur eerder as om met jouself te argumenteer oor hoe groot gemors dit gaan wees. Die Kaders het nog nooit omgegee wat julle dink nie. Maak ‘n ander plan.

Miue ·

Want ons wil net vat en hê hê hê en vat en vat en alles verniet hê, ons vat reeds hulle tax maar ons soek nog, en as julle nie gee nie, gaan ons net vat. BELAGLIK. Versout jou grond, brand die huis af. Laat hulle suffer.

Jerry ·

Miue, die hulle wat jy van praat gaan wat jy wil doen sommer vir jou doen. En ja jy is reg, hulle gaan suffer en dit gaan hulle sommer ook self veroorsaak, want so se die bybel en ek glo die bybel!

Jerry ·

Hoe maak n anargis n plan. Hy vat jou kundige plan en pas presies die teenoorgestelde toe. In SA van vandag moet jy versigtig wees met wie jy jou kundigheid deel!

Eish ·

Eish!
Die onderwerp is al holrug gery.
Ons is gereduseer tot tweedeklas burgers, n gehate minderheid. Geen gekyf, gekerm, gekla of feitestelling gaan die meerderheid van siening laat verander nie. Maak vrede daarmee en maak ander planne.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.