Dalk moet die Bart Nel in elkeen van ons weer opstaan

bart-nel

Bart Nel is ‘n klassieke werk van die Afrikaanse letterkunde (Foto: Bidorbuy.co.za)

Ek het onlangs weer na die video Die 1914 Rebellie en Bart Nel gekyk. Hoe aangrypend is die verhaal nie vandag nog van ʼn boer wie se onblusbare gees hom in staat gestel het om die verwoesting en verlies van sy plaas ná die oorlog en die verlating deur sy vrou en familie te verwerk nie?

Bart rebelleer teen die “verkeerde”. Hy staan op teen die besluit van die Louis Botha-regering om burgers op te roep om Duits-Suidwes-Afrika binne te val nadat Groot Brittanje oorlog teen Duitsland verklaar het. Baie van die burgers het nie kans gesien om aan die kant van die Geallieerdes te veg nie. Die verdrukking onder die Britte en die lyding tydens die Anglo-Boereoorlog (1899–1902) was immers nog in baie se geheue vasgebrand.

Bart verklaar: “As ek nie hierteen rebelleer nie, dan wil ek nie meer my naam hê nie. Dan wil ek nie Bart Nel wees nie…”

Ja, ek dink dit is hoe baie Afrikaners en ander landsburgers vandag oor die ANC-regering voel en die chaos en duisternis waarin hulle die land gedompel het…

Die Rebelle het bitter swaar gekry. Bart sê in ʼn stadium dat die manne maar moet huis toe gaan: “Sê vir hulle dis verby…”

Hy bring vyf jaar in die gevangenis deur. Maar deur dit alles bly hy staande en bly hy die hardkoppige, eiesinnige realis en doener. Hy bly sterk in sy oortuigings en leef dit uit. Daarom ag, respekteer en bewonder só baie mense hom.

Dit is ook Bart wat as ʼn vry man verklaar: “Ons gees van vryheid en onafhanklikheid is nie dood nie…”

Bart begin van voor af om ʼn plaas op te bou. Hoeveel van ons voorouers moes nie telkens weer oor begin nie? Weliswaar is Bart alleen, maar onverskrokke verklaar hy: “My kry hulle nooit nie. Ek is Bart Nel van toe af en ek is nog hy.”

Byna 110 jaar later sien ek elke dag baie Bart Nelle in aksie. Baie van hulle woeker as vrywilligers in AfriForum se takke en buurtwagte en ons is trots op wat hulle vermag. Ander Bart Nelle werk agter die skerms en bou aan Afrikaner-instellings wat ons mense hoop, vooruitsigte en ʼn toekomsvisie bied.

Die werklikheid vandag is dat ons, soos Bart Nel, in “opstand” teen die swak regering en geen dienslewering gekom het. Nie “opstand” in die ware sin van die woord nie. Nee, ons mense se uitgangspunt is net dat dit nie help om vir die ANC te wag nie én dat ons nie hul toestemming nodig het om dinge vir onsself te maak werk nie.

Ons gebruik grondwetlike ruimtes en wetgewing tot ons beskikking om staatsverval te keer en ʼn nuwe werklikheid op die grond neer te sit.

Daarom berus die Solidariteit Beweging se Federale Plan op sewe bene wat ontwikkel en uitgebou moet word om by groter selfstandigheid, outonomie en vryheid uit te kom. Dit is die bou van eie instellings, die versterking van ankergemeenskappe, Pretoria as kulturele kanton en die ontwikkeling van Orania van dorp tot stad. Groeiende outonomie vir die Wes-Kaap en groter samewerking met Afrikaners in die buiteland en ander kulturele gemeenskappe in die land is ook belangrik.

Maar, soos Flip Buys sê: Die sukses van dié plan sal egter deur Afrikaners se eie doelgerigtheid en energie bepaal word. Net soos Bart Nel destyds doelgerig ʼn nuwe toekoms tegemoet gestap het.

Hierdie nuuskommentaar is deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Casper ·

Hierdie boek roep
47 jaar terug se herinneringe by my op.Dit was een van my voorgeskrewe boeke in matriek en dit was uitstekende leerstof,tesame met Die son struikel.

Lynne ·

Perhaps its time that Afriforum and Soladarity step in as the new parties and get the votes that’s needed. We need people who know how to make this country whole again

De Bok ·

No, they’ll just take half of the current FF+ votes. Maybe it is best if they give more open support to the political parties that are aligned with their goals.

Republikein in die Wes Kaap ·

Pretoria is besig is om te sink. ‘n Nuwe kulture kanton moet gevind word. Wat van Malmesbury, Hermanus of Swellendam?

Hendrik ·

Die kulturele kanton is naby Pretoria , as die Afrikaners net maar wil..

Kokkie ·

Hermanus ??? Waar die DA besluite neem sonder konsultasie en dan van almal verwag om dit te steun . Hokaai !

Hendrik ·

Ontwikkeling gaan in gemeenskap kantons plaasvind en veiligheid, elektrisiteit, water, riool , sosiale dienste, werksverskaffing vir die gemeenskap deur lede in hierdie gemeenskap plaasvind. Dit gebeur alreeds in die ooste van Pretoria ,Kleinfontein, waar al hierdie dienste alreeds beskikbaar is. Ons het eie water, krag, riool, sosiale dienste, veiligheid en vrede in ons harte. Gemeenskapgerigte politieke party (daar is nie meer as 1 in ZA nie) speel ‘n kommunikasierol met die Metro.

Soos ek se : As die Afrikaners net wil.. en ons kry al klaar vlugtelinge van die estates agv die mengelmoes van kulture.

Hendrik ·

Hoop en bid is uiters nootsaaklik maar nie genoeg nie. Ons sal self ook die boodtjie moet roei.Die privaatsektor sal moet ontwaak en nie maar net teen Solidariteit Afri Forum oprank nie. Ek besef terdee dat baie mense vandag wurg om kos op die tafel te kry, maar daar is baie ook wat in die greep van materialisme beland het. Ons sal moet betrokke raak.

Schalk ·

Ongelukkig is Bart Nel in die meeste mans nie meer teenwoordig nie. Met respek is daar meer dames deesdae wat opstaan en veg, Dalk is dit die rede hoekom die Voortrekkers so hard en gevrees was en dit is die dames wat die rugmurg was.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.