Dan kyk ek eerder Wimbledon as rugby…

Die (flou) Bulle doen dit toe weer. Plaas dat hulle die Sharks met toewyding aandurf, speel hulle soos manne met ʼn slaappil of twee agter die blad.

Net soos ʼn paar weke gelede toe hulle teen ʼn verswakte Stormers-span verloor het, doen hulle dit weer… Ja-nee, die Bulle het besluit ons wil nie in 2012 die Super 15-titel verower nie en staan op strategiese tye terug om aan die ander Suid-Afrikaanse spanne die geleentheid te bied om die titel te verower.

Oorwinnings oor die Stormers op Loftus so ʼn paar weke gelede en Saterdag op Kingspark kon hulle nou die onbetwiste voorlopers vir die Suid- Afrikaanse been gemaak het. Dit dryf hulle ondersteuners teen die mure uit as die konsekwentheid ontbreek.

Dit is ʼn feit dat die Bulle met ʼn spanboupoging besig is ná die verlies van ʼn klomp groot name wat uitgetree het, maar om so min belangstelling in ʼn wedstryd te toon, soos verlede Vrydag teen die Sharks, het ʼn mens maar eerder na die semi-finaal op Wimbledon laat kyk. Selfs die stywelip Murray was meer aanvaarbaar as die spel wat die Bulle opgedis het.

Dit het nie veel beter met die Stormers gegaan nie, want dit was ook maar ʼn gesukkel om die Cheetahs in Bloemfontein tot oorgawe te dwing. Die wedstryd is wel gewen, maar die reën het dit onmoontlik gemaak om enigsins aanskoulike rugby te speel. Die Stormers het uiteindelik neusie voor gekry toe die Cheetah Willie le Roux die trekpas gekry het vir ʼn blatante onkantspel, nadat die Cheetahs ʼn algemene waarskuwing vir veelvoudige onkantspel binne die rooi sone gekry het.

Die aanvanklike skopspel van die Cheetahs het die Stormers vir ʼn rukkie onkant betrap, maar hulle het gou genoeg hulle ritme gevind. Daarna was dit net ʼn kwessie van hoe ver hulle sou wen. Goeie verdediging bly nog steeds die Stormers se sterkpunt. Of dit genoeg is om die titel omhoog te hou, moet nog gesien word.

Die Lions het na ʼn briljante eerste helfte soos gewoonlik weer in ʼn rondgeploeter verval wat hulle ondersteuners moedeloos het (of dalk is hulle al gewoond daaraan!). Gelukkig het die Lions met ʼn laaste regruk-poging hulle ondersteuners iets gegee om oor opgewonde te raak… ʼn Tuisoorwinning.

Waar laat dit die rugby ondersteuners? Die Stormers kan met ʼn bonuspunt-oorwinning teen die swakkerige Rebels bo-aan die punteleer eindig, wat beteken dat al hulle wedstryde van nou af op Nuweland kan plaasvind. Bonuspunt-seges vir die Sharks en die Bulle onderskeidelik teen die Cheetahs en die Lions, sal beteken dat hulle ook deurgaan na die uitspeelrondtes toe.

Pasop vir die Crusaders. Die wyse waarop hulle die veelgeroemde pak van die Chiefs ore aangesit het, spreek boekdele. Hulle is ook nie verniet die span wat die Superreeks die meeste kere verower het nie. Hulle is besig om op die regte tyd hulle topvorm te bereik en dit voorspel niks goeds vir die res van die spanne nie, Stormers ingesluit.

Nou wag ons vir die laaste rondtes en alhoewel verrassings nie uitgesluit is nie, moet ons maar wag en sien watter spanne die bonuspunte gaan behaal of nie. Net soos die July-perdewedren op Greyville hoop ons dat ʼn buiteperd nie die beker voor die gunstelinge sal wegraap nie.

Rugbygroete tot volgende week

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Polla Roux

Polla Roux is 'n oud-Westransvaler. Na draaie in die onderwys en korporatiewe wêreld, het hy vroeër vanjaar as Organisasiesekretaris by Solidariteit uitgetree.Hy het net meer as honderd Carlton-wedstryde agter die blad (1966-1976), het vir Noord-Transvaal gespeel en is na Springbokproewe genooi, maar sy loopbaan is deur 'n skouerbesering kortgeknip. Hy het gereeld as eerste liga-skeidsregter opgetree en was vanaf 1995 tot 1998 senior bestuurder by die Noordtransvaalse Rugby-unie en betrokke by die skep van die Bloubul-lied saam met Steve Hofmeyr.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.