Dankie vir die droom maar…

chinese-stad

‘n Uitsig oor Shanghai, China. Foto: Li Yang/Unsplash.com

Suid-Afrikaners het enersyds dele van president Cyril Ramaphosa se staatsrede verlede week al laggende as drome, en andersyds as visionêr en waardig vir die “nuwe” Suid-Afrika bestempel. Die rede vir die geamuseerdheid is dat Ramaphosa ʼn nuwe stad met skole, universiteite, hospitale, fabrieke en alle nodige infrastruktuur op ʼn tot dusver ongenoemde plek wil bou.

Ramaphosa het gesê hy het die idee vir ʼn nuwe stad by, onder andere, president Xi Jinping van China gekry. Xi, het hy gesê, is besig om ʼn splintenuwe stad sowat ʼn honderd kilometer van Beijing te bou. Die stad sal met sneltreine bereik kan word en miljoene mense kan huisves.

Maar hoe lyk die stad? Eerstens moet gesê word dit is deel van ʼn beplanning waarvoor die Chinese so bekend is. Daar is gedurig nuwe vyfjaar-, tienjaar- of selfs langer planne. Anders as Suid-Afrika hou die Chinese owerheid by sy spertye, selfs al moet daar dag en nag gewerk word.

China het in die laat tagtigerjare van die 20ste eeu besluit dat die land gemoderniseer moet word. Enorme bedrae geld word aan vervoer bestee. Nuwe paaie, spoorweë, brûe en moltreinstelsels is deurlopend in aanbou. Wat ook help, is dat feitlik al die lede van die topstruktuur van die Chinese Kommunisteparty ingenieurs is, insluittend Xi. Die hele Chinese skoolbevolking word verplig om wiskunde te studeer en saam met Mandaryns is dit die vak wat alle Chinese kinders in graad 12 moet slaag om vir tersiêre opleiding gekeur te word.

Kom ons kyk na Xi se stad. Stede soos Shenzhen in die Pêrelrivierdelta in die suide van China en Pudong oorkant Shanghai in die Yangtzerivierdelta word as die nalatenskap beskou van Deng Xiaoping wat China ná die Mao Zedong-era uit die duisternis na die lig gelei het. Daar was sowat tien jaar gelede letterlik duisende hyskrane wat koorsagtig aan Pudong gebou het om ʼn duisternis geboue te voltooi.

Xi wil sy eie stad (genaamd Xiong’an) hê, en daarom het hy twee dinge gedoen: Hy het begin met die beplanning daarvan en het veranderings aan die grondwet aangebring wat sal sorg dat hy tot in 2035, die beoogde voltooiingsdatum, aan die stuur van sake sal bly. Xiong’an is in die driehoek tussen Beijing, Tianjin en Shijiazhuang, die hoofstad van die Hebei-provinsie, geleë. Dit is ʼn relatief onontwikkelde gebied wat nogtans baie water het en naby Beijing se nuwe reusagtige lughawe in die suide geleë is.

Daar word ʼn groenstad beoog met 70% wat parke en groen gebiede sal beslaan, met die ander 30% wat vir ontwikkeling geoormerk is. Die plan is om skole, universiteite, hospitale, nywerhede, ensovoorts, van Beijing af daarheen te verskuif om die geraamde 5 miljoen inwoners in 2035 te bedien. Die klem gaan deurgaans op “optimale moderne dienste” val en ja, Huawei se 5G gaan daar wees.

ʼn Sneltrein sal inwoners binne 20 minute na die nuwe lughawe, binne 30 minute na Beijing en Tianjin en binne 60 minute na Shijiazhuang kan neem. Daar sal 90% groenvervoer wees, oral sal voorsiening vir rekenaargedrewe motors wees, en so meer. Terloops, Suid-Afrikaners is so trots op die Gautrein en sy hoogste spoed van 200 km/h, maar Chinese sneltreine het oral ʼn operasionele spoed van 350 km/h. Ek het al teen 400 km/h gery en die Maglev-trein, wat op magnetiese kussings van Sjanghai na die Pudong-lughawe ry, se spoed is 600 km/h.

Wat Xi se taak eintlik makliker maak, is dat alle grond aan die regering behoort en niks hoef onteien te word nie. Die huidige inwoners sal ook in die nuwe stad gehuisves word. Daar is geen vakbonde in China nie, stakings is onwettig en die gewone Chinees wil net sy lewensomstandighede verbeter, iets wat vandag binne feitlik elkeen se bereik is.

Eintlik is China lankal reeds besig met ʼn verstedelikingsprojek. Nywerhede word verskuif van die kusstede na die binneland en van die sogenaamde eersterangse na die tweederangse stede. Dis soos Apple wat in (naas Shenzhen) nou ook ʼn fabriek in Chengdu het, en Nissan in Zhengzhou in die Henan-provinsie. En, snaaks genoeg, is daar geen “informele nedersettings” oftewel plakkerskampe soos in Suid-Afrika nie.

Xi wil die nuwe stad na homself vernoem. Nou ja, as die regering sy voorbeeld volg, wat van Ramakhaia, Ramatoria of Cyrilphoria? ʼn Mens moet ook in gedagte hou dat daar reeds ʼn plan is vir ʼn Chinese stad êrens in Limpopo.

Maar kan Suid-Afrika dit bekostig? In ag genome dat Ramaphosa na Xi verwys het, moet ʼn mens seker aanvaar dat dit met Chinese geld sal wees, maar dié begin nou ook suinig raak met hul hulp vir megaprojekte. Fase drie van die treinprojek tussen Kenia en Uganda is byvoorbeeld nou gestop omdat die Chinese nie daarvan oortuig is dat die twee lande kan betaal nie.

Chinese ingenieurs sal daaraan moet werk, maar sal hulle kan klaarkom met die Suid-Afrikaanse vakbonde wat by die geringste provokasie staak? Dit is nie onbekend dat spanne werkers in China sewe dae per week, 24 uur lank, aan ʼn dringende projek bou nie. Die Suid-Afrikaanse werker gaan nie daarvoor te vinde wees nie. Om die waarheid te sê, China loof homself steeds dat hy, toe die gevreesde voëlgriep aan die begin van die eeu in Hongkong uitgebeek het, binne 24 uur ʼn afsonderingshospitaal gebou het. Hoe? Met voorafvervaardigde panele.

Vir die gewone Suid-Afrikaner is dit sekerlik nie moontlik om China se boumanie te verstaan nie. Die meeste Chinese glo egter dat hulle hulself die beste help deur vooruitgang aan te gryp, want daar is ʼn sterk patriotisme in die land ná die vernederings van die 19de eeu en die politieke katastrofes van die 20ste eeu. Almal bou aan die ideaal om China die sterkste land ter wêreld te maak.

President Ramaphosa, dankie vir die droom. Dis minstens iets positiefs, maar ons woon in Afrika, en daar is Julius en Andile wat nie wil bou nie, maar afbreek. Al is dit drome.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Tienie Fourie

Tienie Fourie is ʼn oud-joernalis wat Suid-Afrika ook as diplomaat in Londen, New York en Wene verteenwoordig het. Hy het ook in Zimbabwe en China gewerk.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

marco polo ·

Dankie Tienie vir n interessante artikel. Maar jy het vergeet om te noem van al die baie woonstelle in elke stad in China wat leeg staan. Dit is so dat daar geweldige ontwikkeling is, maar eiendomme het so duur geraak, terwyl die gemiddelde salaris maar laag is, dat net die rykes dit kan bekostig. Mens hoef net snags in enige stad in China rond te ry om donker wolkekrabbers te sien. Dieselfde vraag wat ek vir Chinese vra, kan vir Ramaphosa en sy ander dromers gevra word: wie gaan dit koop, en hoe gaan hulle dit bekostig?

Kallie ·

So ‘n paar jaar gelede was daar ‘n HBO Vice program waar nuwe stede besoek is wat verlate is. Woonstelle, skole, hospitale en winkelsentrums staan leeg. Geen mense. Die hoofrede is dat markkragte geignoreer is, want owerheidsbeplanners sit in ivoortorings en doen die beplanning en reken inwoners is zombies wat by alles sal en kan inval. Êrens in die toekoms gaan hierdie bevelsekonomie China groot skade berokken. Al die ingenieurs in die topstruktuur gaan nie help nie.

Onnie MP ·

Dankie vir die artikel. Ons was self vir 3 weke in China en het verskeie stede besoek. Alles werk en hulle is tegnologies ligjare voor ons. Ek dink net daar het ‘n tikfout ingesluip. Die Maglev trein tussen Shanghai en die lughawe in Pudong ry teen ‘n topspoed van 430km/uur en nie 600 nie. Die afstand is ongeveer 30km en dit neem 7-8 minute. Ons het dit self gaan ry. Was nogal ‘n ervaring.

Jerry ·

Dankie vir die inligting. CR en Patricia se droom is eenvoudig te “GOOD” om waar te wees. Dit is eers wanneer daar klaar gedroom is dat die nagmerrie gaan begin, dan wanneer almal wakker skrik sal hulle besef dat dit alles eintlik maar net staatskaping fase 2 was wat niemand sien kom het nie, net soos staatskaping fase 1! Ek wens almal wat droom baie sterkte toe, want julle gaan sterkte nodig he wanneer die droom verby is! Julle kan mos sien wat gebeur by SOE’s en munisipaliteite waar die kaders aan bewind is! SA se skuldlas is reeds “beyond repair”!

Chris ·

Jerry, jy slaan die spyker sekuur op sy kop!!! So waar, wat jy praat!!!!

Andreas ·

Die nuwe Superstad waarvan Cyril droom se naam kan ook seker Brulpaddastad wees, dis nou doer entweg in die see, suid van Plettenbergbaai, waar ‘n nuwe gasveld ontdek is, want kyk Skaliestad in die Karoo, het toe mos nou nooit realiseer nie.

Andreas ·

Aha, en in Cyril se stad sal daar geen parke of groen oop ruimtes wees nie, want Patricia de Lille sal die gebiede wat daarvoor opsy gesit is met laekoste behuising vul.

Stephan de S ·

Goeie artikel met goeie en pittige kommentare. Lekker. Ek hou van Ramakaia…kan sommer met Nkandla meeding.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.