Danville en sy mense

Jaarlikse uitreikaksie wat by Danville se Liggiehuis voor Kersfees plaasvind. Foto: Facebook

Deur Merlyn van der Rheede

Armoede en wanhoop ken geen kleur, dit het ek besef ná ʼn onlangse besoek aan Danville, in die Weste van Pretoria. Wat ek ook opnuut besef het, is dat daar geen verskil is tussen Mitchells Plain of Hanoverpark op die Kaapse vlakte en Danville nie. Hulle almal ervaar dieselfde sosio-ekonomiese probleme en uitdagings.

Die Afrikaanse Taalraad in Junie verskeie voormalige wit Afrikaanse laerskole in Danville besoek. Dit was my eerste besoek daar. Met ons aankoms het die volgende gedagte my soos koue water getref: Hier is ʼn vergete gemeenskap, gemarginaliseer deur die samelewing en die regering.

Met die eerste oogopslag was dit duidelik dat werkloosheid hier hoogty vier. Talle inwoners sit verveeld rond. Die vervalle toestand van sommige huise en geboue tref mens. Die woongebied wat voorheen slegs vir wit inwoners was, het ʼn gedaanteverwisseling ondergaan met tot vier gesinne per huis. Welaf wit inwoners het reeds na groener weivelde getrek waar hul kinders in Afrikaans onderrig kan ontvang.

In ons gesprekke met leerkragte en skoolhoofde het dit duidelik geblyk dat die voormalige wit Afrikaanse skole, nou slegs een of twee Afrikaanse klasse per graad het. Ook het die Afrikaanse klasse nou ’n gemiddeld van 25 leerders per klas teenoor die Engelse klasse met tot 40 leerders per klas. Dit is nie volhoubaar nie. Sommige onderwysers voel moedeloos omdat hulle met die Engels sukkel en omdat nóg die leerkragte nóg die leerders se moedertaal Engels is. Ons kan net dink watter frustrasies dit veroorsaak.

Merlyn van der Rheede. Foto: Verskaf.

Wat gaan uiteindelik van hierdie Afrikaanssprekendes word wat nou in die minderheid is? Ook in die verlede het hulle dit nie breed gehad nie en trek nou nog swaarder. Watse toekoms het hulle? Dit is die vrae waarmee die ouers worstel, ʼn wanhopigheid wat hulle dan ook aan hul kinders oorgedra. Kan ons hulle verkwalik as hulle geen hoop op ’n beter toekoms het nie?

Wanneer gaan die owerheid besef dat daar na almal, ongeag hul velkleur en etnisiteit, se behoeftes omgesien moet word? Die marginalisering van enige gemeenskap is ʼn teelaarde vir rassepolarisering en -haat. Ons streef almal na ʼn nierassige, nieseksistiese, demokratiese en regverdige samelewing waarin almal dieselfde behandel word en die grondwetlike regte van almal deur die breë samelewing en regering eerbiedig moet word.

Daarom kan ons nie van Danville en sy mense vergeet en hulle agterweë laat nie. Hul reg en aanspraak op ʼn menswaardige bestaan is almal se verantwoordelikheid, onder meer, die regering van die dag.

  • Merlyn van der Rheede is die Afrikaanse Taalraad (ATR) se noordelike projekbestuurder.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Jimmy ·

Die regering sal niks doen nie. Hulle ontken dat dit ‘n probleem is. Bygesê, miljoene arm swarte mense is in dieselde situasie.

Nell ·

Jare gelede geproef by Genl Beyers L/S
Dr Barry Botha hoof. Pragtige kinders en ouers. Het altyd ‘n baie sagte plekkie vir hulle gehad. Omstandighede het net nie vir hulle almal reg uitgewerk nie. Tog weet ons van baie begaafde hoogs gekwalifiseerdes wat daarvandaan kom.
Hou asseblief op om enige mens wat arm is en in minder gegoede gebiede woon te etiketeer. Ek verafsku dit.
Dank die liewe Vader as jou omstandighede meer gunstig is. Verleen asseblief meer hulp aan al daardie mense.
Moed, blymoedigheid en kalmte van Gees.
Nell

lanie ·

Nell ek stem heelhartig met jou saam. Gun elke mens die son wat skyn, want hy is daar vir ons almal.

charmaine ·

En die armoede, werkloosheid en swaarkry is agv na 1994 vererger of veroorsaak.
Baie van die mense het jare en jare terug by YSKOR Staal gewerk en toe moes hulle pakkette vat of bedank of ander werk soek. En van hulle kry n YSKOR pension(my pa is een van die YSKOR pensionaris) werkers maar dit is nie genoeg om hom man alleen eers deur n maand te help, so ek my man help waar ons kan.

Salome Malherbe ·

Jesus sê ons sal àltyd armes en armoede by ons hê. Ek glo dis n Gods teenvoeter om materialisme geld en snobisme uit te balanseer. So…. wat ons met armes moet dòen sê Hy is : Eerstens : Help hulle met kos klere geld en geleenthede soos beurse en werkskepping … dws fisiese onderskraging
Tweedens : Help armes : Psigiese Geestelik. .. Help hulle om SKOON en met VREUGDE te LEWE.. Leer hulle ‘n Bybelse LEEFSTYL. Die veelbesproke PROTESTANTSE ETIEK waar ons besèf die wat laaste is sal eendag in die hemel as eerste getel word en mìn rykes maak dit tot in die Hemelse Jerusalem !!!
Laat die wat kàn, nàby is en wìl… huise verf.. tuinmaak .. kunsvlytklasse gee om produkte te maak vir markte bv.. brei -hekel- laslappiewerk .. liefdevolle betrokkenheid by ons eie mense . Ek weet die dinge is dalk vanselfsprekend maar opheffing is opvoeding.

Pieterd ·

Mooi antwoord, dankie Salome.
So dikwels word die Bybel vrylik, maar selektief, aangehaal dat armes altyd met ons sal wees, maar die tweede deel weglaat dat daar ‘n meegaande opdrag is om hulle te help. Soos in jou antwoord blyk, sê Jesus in Markus ons sal altyd die armes by ons hê, en “kan aan hulle goed doen.” In Deuteronomeum 15 staan dit, “Want die arme sal in die land nie ontbreek nie; daarom gee ek jou bevel en sê: Jy moet jou hand wyd oopmaak vir jou broer, vir die ellendige en die arme in jou land. ”
Jou voorstel is ‘n positiewe een, en anders as al die toelaes, neem nie die waardigheid van die arme weg nie, en ook nie die verantwoordelikheid om te werk nie, vir die wat kan werk nie.

A ·

Wat vir my hartseerste is, ek het goed by die sentrale uitdeel “tannie” gaan aflaai, en sy sê vir my dat sy, alles wat sy vir kindertjies gee, terugneem in die middae, want as hulle met dit huistoe gaan, is dit more verkoop. ook so die warm baadjies en skoene wat hulle ontvang. Geen mens kan die omvang van swaarkry in jou geestes oog voorstel as jy nie self daar was en gesien het nie.

Jerry ·

Miskien moet Afriforum minder in die howe vir geregtigheid “Veg” en eerder geregtigheid vir die behoeftiges laat geskied sonder n “Geveg” deur die arme mense bloot by selfbeskikking in te skakel. Al wat meeste mense wie nie sommer deur hulle eie toedoen behoeftig geraak het nie en wie hulle omstandighede wil verbeter benodig, is n “kick start” met gereelde opvolg totdat die “kick start” inskop! Ek sou, om die minste te se, eintlik uiters teleurgesteld wees indien Afriforum/solidariteit se selfbeskikking strewe nie ook die behoeftiges in gemeenskappe van die minderheidsgroepe, insluit nie. Ek hoop ek is verkeerd, want na dit wat ek hier gelees het, is ek alles behalwe lus vir verskonings vanuit die Afrikaner sakeryk!

Pop ·

Ek hoop jy skenk elke maand mildelik vir afriforum. En tussen hakies, afriforum help baie.

Veldblom ·

Ek bly in Danville. Ja, dit gaan baie swaar. Het al vir ‘n paar mense gehelp om werk te kry (alle kleure), glo my hulle wou dit nie gehad het nie. Miskien ‘n dag of twee gewerk en dan gelos. Die mense wat op die stoepe slaap is daar al wendy’s gegee en net die volgende dag is hulle terug om te slaap op die stoep. Dis baie erg. Dit is te gemaklik om maar in daai groef te bly en ja, dit is moeilik om daaruit te kom veral as jy nie ‘n uitkoms sien nie. Ons bly waar almal winkels toe gaan. Gereeld sien jy dat die ouers met die kindertjies loop en die kinders is nie versorg nie. Dan na ‘n rukkie kom hulle terug geloop met die bottels drank. Julle dit is regtig baie hartseer. Het al kos en klere uitgedeel, maar kan nie heeltyd help as die mense nie self ook ‘n poging aanwend nie. Weet ook van ‘n tannie wat goed verniet kry om uit te deel. In plaas daarvan verkoop sy dit of hou dit vir haarself. Dit is regtig nie reg nie. Bly glo in Danville en sy mense, want die meeste het al hoop opgegee.

Petrus Heigers ·

Die ANC behoort ‘n toekenning te gee. Hulle se mos altyd hoe sleg die blankes is!

Anoniem ·

Hierdie is mense net soos ek en jy. Die lewe het hulle hard geslaan, maar nog steeds is hulle mense wat ook liefde soek. Ja van hulle het verkeerde keuses gemaak, maar maak ek en jy nie ook verkeede keuses nie. Hoe sal jy as rykman vandag en more arm man graag wil behandel wees as die lewe jou n taai klap gee. Daar is vandag soveel mense wat nie die einde van hul skate ken nie wat hul rue draai op hierdie mense maar onthou die storie van Lasarus. My liewe mensies van arm moed ken julle. Van nat wange waar daar al soveel trane geloop het ken julle. Julle word openlik gevloek net vir die naam Danville. Julle word gesien as die rubbish van Pretoria. Maar weet een ding God slaap nie. Hulle wat julle klippe gee wanneer julle n brood vra se tande sal nog eendag stomp afgevreet word aan daai einste klip. Wee die een wat neersien op die minder bevoorregtes. Ek het nie veel nie en my pad vorentoe lyk nie rooskleurig nie maar wat ek wel weet is dat ek wel n brood kan gee. Weet dat julle mense is wat geskape is volgens die beeld van God.Ek salueer jul mense van Danville want die lewe gee julle suurlemoene maar sterk staan julle saam en oorleef ongeag wat julle deur maak.

Stigma ·

Ek het daar grootgeword, vandag kan jy nie dit vir iemand noem nie. Daar klou so lelike ou stigma aan die plek dat jy skaam geword het vir die plek en sy mense. 40 Jaar gelede het ons nog lekker daar gebly. Kon in die parke speel en tot my ma se ergenis, skelm by die openbare swembad gaan swem. Dankie Vader ons almal het ‘n kans gehad om daar uit tekom en bo ons omstandighede uit te styg. Ongelukkig is dit nie vir almal beskore. My hart gaan uit na die mense maar ja, van hulle bring dit oor hulself ook maar. Ek kry net die ou kindertjies bitter jammer want hulle gaan dalk dieselfde ou paadjie as die ouers loop. So hartseer

Trots ·

Ek stem saam “stigma”. Ek kom van daar af, en dis slegs om te voel mense kyk neer op jou as jy sê jy kom van Danville af. Daai plek het my gedryf en motiveer. Armoede is Ooral maar hoekom word dat net n “label” geplaas om die mense van Danville, daar is arm mense Ooral.

Spook ·

Ek het nog nooit neergekyk op Danville nie, wat daar aangaan gaan by “ryk huise” ook aan behalwe daar gebeur dit agter toe deure. In Danville gee niemand voor nie … Ek dit is juis wat ek vervrissend vind.

Marius ·

Baie sterkte – jul is nie vergete nie. Jare gelede by Tukkies het ek ‘n navorsingstudie gedoen, was Danville deel van my studie-area wat baie wyd oor die hele Pretoria gestrek het. En nee dit het niks te doen gehad met demografie nie, maar wel oor restaurante.
Mens kan nie finansieel gee nie, omrede die getalle jou doodeenvoudig sal oorweldig, maar wat jy en ons almal wel kan doen is om te bid vir alle mense in behoefte, ook vir almal in Danville. Hoop is een van die dinge wat ons het, dit kom van God af en gee aanleiding tot geloof [Markus 9:23). Moenie moed verloor nie, bly jul oe gerig op God en soos Hy belowe het, die prys is baie groot in die hemel, daar waar daar geen armoede of verdriet is nie.

Jerry ·

Die anc het belowe dat hulle met transformasie beoog om die onreg van die verlede reg te stel deur regstellende aksie (diskriminasie teen witmense) te implementeer. Afriforum was in die lewe geroep om vir die Afrikaner se regte te veg en dus onbillike regstellende aksie te verhoed. Kyk ek so na die mense in Danville wie danksy regstellende aksie en blatante diskriminasie van aalmoese moet lewe, dan laat dit my wonder waarvoor Afriforum nou eintlik regtig gestig was, want duidelik kon die ANC hulle belofte gestand doen, maar nie Afriforum/solidariteit/VF nie, inteendeel kon of het geen opposisieparty iets daaromtrent gedoen nie en nou sit gewone mense met die gebakte pere van wie daar verwag word om vir die behoeftiges te sorg, dit terwyl Afriforum/solidariteit reeds n Afrikaner sakeryk tot stand gebring het. Hierdie stand van sake is om die minste te se erg kommerwekkend. Dit is onaanvaarbaar dat Afriforum/solidariteit se slimjanne nog nie selfbeskikking in aksie geplaas het vir behoeftige mense nie en dat daar net aangehou word om geld in te samel om hulle te kan voed terwyl hulle in getalle aanhou vermeerder. Dit is mos nou alles behalwe n lewensvatbare oplossing! Die organisasies het gefaal om regstellende aksie te stop voordat die skade berokken is, nou lyk dit of hulle ook faal om met hulp vir selfbeskikking, lewensvatbare werk vir die mense te help skep. Nou wat nou? Hoe kan daar hoop wees vir die behoeftiges as dit so gaan aangaan!

Gerrit ·

Ou Jerry jy kla en kerm onverpoost oor Afriforum en Soladariteit wat wel bedrywig is vir die blanke Afrikaner se behoud . Jou onderrok hang uit , nooit iets goeds gedoen of te sê nie .

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.