Dawie Roodt: Armoede wêreldwyd die grootste rede vir sterftes

dawie-roodt-afrisake-2018-06-05

Dawie Roodt, hoofekonoom van die Efficient Group. Foto: Reint Dykema.

Daar bestaan geen twyfel nie; armoede is die grootste oorsaak van sterftes as alle ander gruwels en ellende saam. Die huidige staat van afsondering sal dus, sonder twyfel, tot groter armoede en meer sterftes lei. Dit bring ons by die vraag of die huidige inperking die lewe van meer mense gaan spaar as die massas wat van armoede gaan sterf?

Finansiële voorspoed is goed, armoede ellendig. Dit is ’n feit dat alles wat die meeste mense as goed ervaar, met rykdom geassosieer word: goeie opvoeding, goeie gesondheidstelsels, lae misdaad, ’n lang lewensverwagting, ensovoorts. Ooreenstemmend word alles wat sleg en negatief ervaar word, aan armoede toegeskryf – van werkloosheid en ’n lae lewensverwagting tot korrupsie – die lys is eindeloos.

Teen hierdie agtergrond wil ek ’n redelike opbouende stuk data voorhou: Europeërs is ongeveer drie keer so welaf as Suid-Afrikaners en hul lewensverwagting is gemiddeld tot die ryp ouderdom van 80 jaar. Aan die ander kant is ons lewensverwagting ’n skrale 60 jaar, wat beteken dat ons lewe met gemiddeld 20 jaar kortgeknip word en dit deur niks anders nie as armoede.

Aangesien ons nou vir byna drie weke (met nog twee wat voorlê) in ’n staat van afsondering is, is dit logies dat armoede die hoogte sal inskiet. Onder volg ’n paar van ons (voortdurend veranderende) skattings:

  • ’n inkrimping van die bruto binnelandse produk (BBP) met ongeveer 7%;
  • ’n fiskale tekort: BBP 12%;
  • staatsinkomste wat met ongeveer R200 tot R300 miljard onder begroting verhaal word;
  • staatskuld wat met meer as 80% toeneem: BBP in twee jaar;
  • meer as een miljoen mense wat hul werk verloor;
  • groter sosiale- en politieke spanning; en
  • ’n afname in lewensverwagting.

Die lys gaan voort…

Al hierdie statistieke wys na een sekerheid, naamlik dat die inkomste van die gemiddelde Suid-Afrikaner sal verminder – waarskynlik met soveel as 10%. Sommige sal hul hele inkomste verloor, ander slegs ’n gedeelte – met ’n paar gelukkiges wat sal voortgaan om steeds te baat. Stel jou ’n begroting wat reeds onder druk is voor. Verbeel jou jou inkomste verminder drasties. Of erger, verdwyn heeltemal…

Ten spyte van hierdie werklike en nypende moontlikhede sal sommige steeds redeneer dat hartelose ekonome “geld” bo die lewe van mense kies. Dit is onwaar. ’n Gesonde ekonomie huisves gesonde burgers. Die gesondheid van ’n land is gelykstaande aan die welvaart van ’n nasionale ekonomie.

Wat die afsonderingstydperk tans bereik, is om doelbewus die ekonomie te ondermyn, klaarblyklik in die geloof dat dit die aantal sterftes weens Covid-19 sal verlaag in teenstelling met die lewensverlies as gevolg van toenemende armoede.

Maar is dit waar? Presiese modellering is ongelukkig nie moontlik nie, veral gegewe die huidige graad van onsekerheid. Hoe dit ook al sy, gebaseer op ’n redelike skatting, is dit seker dat armoede tesame met ’n inkrimping van die BBP sal toeneem.

Indien meer mense aan Covid-19 sal omkom, as weens ’n toename in armoede, sal die afsonderingstydperk sy doel dien. Nietemin, ons moet in gedagte hou dat die siekte ná die opheffing van die inperkingstydperk steeds sal versprei en ons ’n toename in sterftes weens armoede sál ervaar. Indien “te veel” mense sterf as gevolg van die ekonomiese impak wat die inperking op alle terreine sal hê, is die oplossing so helder soos daglig: hef die inperking op!

Ek erken ek is geen gesondheidskundige of viroloog nie, maar soos ek dit verstaan, kan die nuwe koronavirus, in uitsonderlike gevalle, tot soveel as 10% van diegene wat daarmee besmet is, se dood veroorsaak. Sonder om by hierdie debat betrek te word, blyk dit waarskynliker te wees dat die sterftesyfer onder dié wat besmet word , meer as 1% is. Laat ons, argumentshalwe, ’n 1%-sterftesyfer aanvaar en aanneem dat alle Suid-Afrikaners hierdie jaar met die virus besmet sal word.

Hierdie skattings is egter onrealisties hoog en ’n waarskynliker nagmerrie-scenario is dat minder as 1% mense sal sterf terwyl die infeksiekoers onwaarskynlik 100% sal bereik. Hospitale en ander mediese fasiliteite sal ook nie die massa mense wat mediese sorg nodig het, kan hanteer nie – wat die volle implikasies van so ’n gebeurtenis sal wees, weet ek nie. Hoe dit ook al sy, ’n eenvoudige berekening toon dat ’n 1%-sterftesyfer uit, sê byvoorbeeld, 60 miljoen mense (indien elkeen in Suid-Afrika Covid-19 opdoen) tot die dood van 600 000 mense sal lei. Trouens, ’n meer realistiese nagmerrie-scenario kom op ongeveer 300 000, of minder, sterftes neer.

Dus, wat ook al ons doen ten opsigte van die inperking van die ekonomie, moet die prys met betrekking tot sterftes weens ’n toename in armoede, minder as 600 000 wees om die inperking te regverdig – of 300 000 en selfs baie minder (om meer realisties te wees).

Natuurlik moet daar buite die boks gedink word om te bepaal hoeveel mense sal sterf weens ’n toename in armoede en dit is wat ek gedoen het: Ek het besluit om ’n land te vind wat ’n geweldige ineenstorting van ekonomiese aktiwiteit ondervind het ten einde te bepaal hoe die gepaardgaande styging in armoede die dodetal beïnvloed het en hierdie dan op plaaslike data toe te pas. Om hierdie oefening effektief te maak, was dit belangrik om ’n land te kies waar die data so geloofwaardig as moontlik is.

By wyse van illustrasie: dit maak geen sin om die ekonomiese ineenstorting(s) van, byvoorbeeld, Argentinië, te gebruik nie aangesien baie mense ook deur hul eie weermag gedood is. So ook maak dit nie sin om na lande te kyk wat in ’n oorlog gewikkel was of ander rampe ondervind het nie – nog ’n rede hoekom ek nie data van Suid-Afrika gebruik het nie, omrede ons ’n geweldige styging in sterftes ondervind het sedert die begin van die millennium terwyl die ekonomie gegroei en armoede gedaal het, grotendeels te danke aan die idiotiese Vigs-beleide van ons destydse regering.

Ná die deurwerk van vele inligting op soek na ’n land wat ekonomiese swaarkry, maar nie oorlog of ander rampe nie, beleef het, het ek uiteindelik op Griekeland as ideale voorbeeld besluit.

Nadat Griekeland by die Europese Unie (EU) aangesluit het, het die land ongekende ekonomiese groei beleef met ’n relatief stabiele sterftesyfer per 1 000 van tussen 9,6 in 1999 en 9,7 in 2008. Dus ’n gemiddeld van 9,6 per jaar vir die tien jaar tot 2008. Ons almal onthou hoe veral Griekeland baie swaar getref is deur die wêreldwye finansiële krisis in 2008 en, soos die meeste ander lande, het die Griekse ekonomie ’n yslike knou gekry en geweldige inkrimping ondervind met die gepaardgaande toename in armoede.

In 1999 was die Griekse per capita-BBP (volgens konstante 2010-dollar) $22 489 wat gestyg het tot ’n maksimum van $30 055 in 2007. Sedert 2009 het hierdie syfer egter gedaal tot ’n laagtepunt van $22 251 in 2013, waarna dit geleidelik weer gestyg het. Teen 2018 was Griekeland se BBP egter steeds laer as in 2008.

Gedurende die tien jaar vanaf 2009 tot 2018 was die gemiddelde Griekse BBP $23 947 – ’n daling van meer as 20% sedert die hoogtepunt in 2007. Ons sien ’n soortgelyke, maar teenoorgestelde patroon wanneer ons kyk na die sterftes per 1 000. Die tydperk tussen 1999 en 2008 toon ’n stabiele gemiddelde van 9,6 sterftes per 1 000. Hierdie syfer het egter toegeneem tot 11,6 in 2017 met ’n gemiddeld van 10,6 vir die tydperk tussen 2009 tot 2018 – ’n toename van 1 per 1 000 vergeleke met die vorige tien jaar.

In 2017 ondervind die land twee meer sterftes per 1 000 vergeleke met die gemiddelde sterftesyfer van 1999 tot 2008.

Verwerking van die relevante syfers van hierdie tydperke dui aan dat die gemiddelde BBP per capita gedaal het met 20,3% vergeleke met die vorige tien jaar ná die krisis van 2008, terwyl die dodetal per 1 000 met een toegeneem het gedurende dieselfde tydperk. Dus, vir elke 20%-daling in inkomste het die sterftes per 1 000 met ongeveer een toegeneem. Sou hierdie verhouding dieselfde bly, sal ’n 10%-daling in inkomste ’n toename in sterftes van 0,5 persone per 1 000 tot gevolg hê.

Kom ons veronderstel dat hierdie verhouding op Suid-Afrika van toepassing is, hoeveel mense sal weens armoede sterf? (Hier moet ons in ag neem dat talle ander faktore ook ’n rol sal speel, soos die feit dat ons steeds besig is om terug te keer tot ons pre-Vigs-dae ten opsigte van sterftes per 1 000.) Boonop, en met geen dank aan ons destruktiewe regering nie, het ons per capita armer geword sedert 2014.

Ook tersaaklik is die feit dat die Griekse bevolking gemiddeld ouer was as die huidige Suid-Afrikaanse bevolking. Daarbenewens ly ons bevolking aan meer onderliggende siektetoestande, soos tuberkulose (TB) en Vigs wat ons spesifiek meer vatbaar kan maak vir die virus.

Alles in ag genome was daar bestaande en goed gevestigde onderliggende tendense, onder meer die feit dat ons sterftesyfer per 1 000 die afgelope jare afgeneem het, wat grootliks te danke is aan die wyse waarop Vigs tans behandel word. Maar laat ons vir ’n oomblik hierdie tendense ignoreer en aanneem dat die effek van armoede en sterftes – as gevolg van dalende inkomste – dieselfde sal wees as in Griekeland. Dus, weer die vraag: Hoeveel Suid-Afrikaners sal sterf as gevolg van die toename in armoede wat deur die afsonderingstydperk veroorsaak is?

Indien die gemiddelde inkomste in 2020 met 10% daal, is ’n baie waarskynlike scenario dat die sterftes per 1 000 met 0,5 mense sal toeneem. Ons huidige sterftes per 1 000 (2018) is 9,4 wat na alle waarskynlikheid sal styg tot tien per 1 000 – ’n styging van sowat 30 000 per jaar.

Dit is seker veilig om te aanvaar dat dit ten minste tien jaar sal neem om ons BBP te herstel tot op die vlak voor die huidige krisis – vermoedelik langer gegewe die kwaliteit van ons bestaande politieke leierskap. Teen hierdie agtergrond kan ons aanneem dat meer as 300 000 mense oor die volgende tien jaar sal sterf as gevolg van ’n styging in armoede.

Die opsies lyk nie goed nie: om die ekonomie in te perk met 300 000 sterftes weens die styging in armoede; of om nie in te perk nie met ’n maksimum van 600 000 mense wat moontlik kan sterf indien alle Suid-Afrikaners binne ’n kort tydsbestek met die Covid-19-virus besmet word (met ’n sterftekoers van 1% so vroeër genoem) – nie ’n mooi berekening nie.

Ongelukkig is hierdie nie ’n glashelder keuse nie; mense sál van die Covid-19-virus sterf, of ons nou ingeperk word of nie. Trouens, daar is ontleders wat glo dat almal uiteindelik die virus sal opdoen en sommiges sal sterf.

Die somtotaal van hierdie vooruitskattings is nie bemoedigend nie. Die totale aantal Suid-Afrikaners wat oor die volgende tien jaar van armoede kan sterf, kan meer as 300 000 wees, plus die getal wat as gevolg van die virus gesterf het, ten spyte van al die pogings om die verspreiding van die virus te beperk of te stuit.

Dat baie mense van die virus sal omkom, is ’n gegewe. Om die ekonomie in te perk, sal eenvoudig beteken dat armoede-verwante sterftes sal toeneem.

Om by hierdie punt uit te kom, was nogal ’n tameletjie, en ek is seker dat die patrone wat die volgende paar jaar te voorskyn sal kom, sal verskil van die skattings wat ek hier gemaak het. Ek is ewe seker dat ander ontleders met ander gevolgtrekkings vorendag sal kom. Om die waarheid te sê, sien ek daarna uit om die wye verskeidenheid van benaderings onder oog te kry.

Ter afsluiting is ek veral daarvan oortuig dat die armoede wat deur die inperking veroorsaak word, ook tot sterftes sal lei. Waarvan ek nie seker is nie, is hoeveel mense sal sterf.

Moet ons nie maar ’n alternatiewe benadering oorweeg nie?

 

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Dawie Roodt

Dawie Roodt is direkteur en hoofekonoom van die Efficient Groep en lewer gereeld ekonomiese kommentaar.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Boerkind ·

Dankie Dawie! Ek het groot respek vir jou. Dit is duidelik dat die inperking reuse skade gedoen het en nog gaan doen – hef dit dus op! Hier waar ek woon, lyk dit nie juis of die mense vir wie die regering nou skielik so skerm hulle veel steur aan inperkings nie! Ek vind dit ook vreemd dat “lewe” nou vir die huidige bestel belangrik geword het… vergelyk hulle koue skouer tov jaarlikse moord- en misdaadsyfers, plaasmoorde en kriminele dade in die algemeen – voeg hierby staatskaping (deur dieselfde bestel!) en die vasbeslote patetiese beleide van grondonteiening, NGV, die verpletterde staatsinstellings – semi-staatsinstellings…. die lys gaan aan. Ek kan dus nie anders as om te twyfel aan die vermoë, intelligensie en motief van die huidige bestel se agenda tov inperking ens. nie… Iets maak nie sin nie…. Hier kom donker dae – verseker!

Martie Smartie ·

Dawie, dis alles goed en wel, maar ek dink jy gaan nie baie wetenskapilk te werk nie. Kan jy vir ons betroubare bronne verskaf wat aandui dat armoede die grootste oorsaak is van sterftes wereldwyd of in Griekeland of in SA? Wat is die oorsaak van dood as jy verwys na armoede – waaraan sterf mense klinies? Hongersnood? Of wat? Jy koppel Griekeland se toename in sterftekoers per 1000 direk aan ‘n daling in BBP tussen 2008 en 2018. Is daar nie dalk ander oorsake vir die styging nie? Soos die algemene ouderdom vd bevolking wat meer sterftes v bejaardes agv natuurlike oorsake beteken? Of ander oorsake dalk? Wat is die grootste oorsake v sterftes in Griekeland in daardie tyd – is daar bronne hieroor? Hier is ‘n paar lukrake veralgemenings en aannames in jou uiteensetting wat ek dink gestaaf moet word om meer gewig aan jou afleidings te gee. Ten spyte daarvan hou ek van jou reguit laterale manier van dink en die kaf van die koring skei.

Die Wolf ·

My beskeie mening moet dwelm misbruik ook n baie groot rol speel. VSA sal dit nie erken nie. in NY is dwelm misbruik ook n groot faktor met hulle Covid sterftes. Dit begin nou stadig maar seker deurskemer.

Michael 1 ·

Dit is regtig verblydend dat ons so nou en dan n artikel kan lees wat geskryf is deur iemand wat weet waarvan hy praat ,in n regte land sou n persoon soos Dawie minister van finansies gewees het en die ekonomieë sal definitief beter gelyk het as nou.

Erik ·

Ek luister en lees baie gereeld artikels van Dawie Roodt, veral aangesien ek oor ‘n graad in besigheid beskik en belangstel in die Ekonomie.

Ek geniet meestal die artikels en vind dit insiggewend, maar het al gesien die voorspellings is dikwels nie korrek nie. My bloeddruk was al baie die hoogte in weens die negatiewe voorspellings, maar op die ou end is dinge nie so erg soos wat voorspel word nie.

Nietemin, hoe Suid-Afrika ooit ekonomies gaan opstaan na hierdie pandemie weet ek nie. Ek begin dit te oorweeg om die rentekoers verlaging tot my voordeel te gebruik om geld te bekom sodat ek kan emigreer… Ek weet dit gaan oral swaar, maar jinne, dit was hier al nag voor die pandemie so ek wil nie weet wat kom nie!

Ben ·

Insiggewende ontledings – dankie! Ter wille van beskerming van die ekonomie is ek oortuig opheffing van die afsondering is uiters noodsaaklik – waar ookal moontlik (met laer risiko) – ten einde die ekonomiese ratte aan die gang te hou – al is dit stadig. Besmettingskoerse is dalk nie so betroubaar as wat ons mag dink nie – veral geografies beskou. Dit verstom my dat Weskaap se koers rofweg 50% meer is as die van Gauteng (besmettingskoers per miljoen). Ek vermoed daar is nog BAIE insigte wat sal volg soos tyd verloop en ons agterkom dat dit wat ons nou weet, totaal ontoereikend was….

voor ek vergeet ... ·

Ek is onrustig. Voeg hierby die ANC wat steeds aan sy politieke ideologie bly kleef, die skewe beeld wat hy vir die wêreld en sy eie mense voorhou en die kultuur van geweld wat hyself geskep het, wat voor die pandemie steeds geheers het en beslis nie in my leeftyd gaan verdwyn nie. Ons land het te veel gebroke mense wat by die dag meer desperaat raak…

Ek kan nie help om te wonder hoe anders ons land se ekonomie en Covid-19 statistiek sou gelyk het, indien ons regering van dag 1 af die dra van gesigmaskers verpligtend vir almal buite hul huise gemaak het nie (selfs al was dit net ’n stuk lap of serp).

Dankie, Dawie. Ek het groot waardering vir jou insette.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.