Dawie Roodt: Die goeie en slegte van die R500-miljard-stimuluspakket

President Ramaphosa het ’n klaarblyklike enorme ekonomiese stimuluspakket van R500 miljard aangekondig – gelykstaande aan ongeveer 10% van ons krimpende ekonomie. Ek wil graag my eerste indrukke van hierdie rampgedrewe aalmoes met die lesers deel.

Direk nadat Ramaphosa sy plan uitgelê en beloof het dat ons, sy mede-Suid-Afrikaners, sal herstel, die krisis sal oorkom en voorspoed sal geniet, het ek daaroor gepeins: Is hierdie pakket ’n goeie of slegte ding? Aanvanklik was dit nie vir my moontlik om die vraag te beantwoord nie, maar toe besef ek dat die onderwerp nie soseer die inhoud as die konteks is nie.

Maar kom ons kyk eers na ’n kort samevatting van die hoofaankondigings terwyl ons in gedagte hou dat Ramaphosa gefokus het op die beheer van die gesondheidsituasie, hulpverlening aan behoeftiges, ondersteuning van die ekonomie deur spesifieke maatreëls en, laastens, om ons ’n idee te gee van wat die toekoms inhou.

Gesondheidskwessies
Gesondheidsuitgawes sal ’n groot hap van die stimiluskoek kry, met aanduidings van aansoeke van  internasionale befondsing vir die verligting hiervan. Meer spesifiek is dit die moontlikheid van ’n lening van R20 miljard van instellings soos die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) of Wêreldbank om mediese voorrade uit die buiteland in te voer.

Twee belangrike punte in hierdie geval is, eerstens, dat dit waarskynlik “sagte” lenings sonder baie voorwaardes sal wees. Tweedens sal hierdie lenings aangewend word om vir die invoer van medies verwante produkte te betaal en nié om algemene ondersteuning aan die ekonomie te verskaf nie.

Hulp aan die behoeftiges
Maatskaplike toelaes sal tydelik, dog beduidend verhoog word. Oor ’n ses maande-tydperk sal hierdie verhoging ongeveer R50 miljard beloop. Bo en behalwe bestaande toelaes, sal spesiale hulp aan diegene wat nie ondersteuning deur ander maniere of programme kry nie, verskaf en verleng word.

Verdere hulp sal die aankondiging van ’n R20 miljard-ondersteuningspakket vir munisipaliteite om uitgawes soos voedsel, skuiling, water en vervoer te dek, insluit. Die Sassa-netwerk, wat gebruik sal word om voedselbewyse uit te reik, sal ook finansieel ondersteun word.

Hulp aan die ekonomie
’n Bedrag van R100 miljard sal “opsy gesit word” om poste te beskerm en werk te “skep”. Hoewel daar nie baie inligting hieroor verskaf is nie, veronderstel ek dat dit waarskynlik aangewend sal word om besighede in nood te help om voort te gaan om salarisse te betaal. Die Suid-Afrikaanse Reserwebank (SARB), Tesourie en banke sal saamwerk aan ’n skema om lenings aan besighede in nood te gee, gewaarborg deur die staat. ’n Bedrag van R200 miljard sal hiervoor beskikbaar gestel word.

Verdere aankondigings betreffende die administrasie en uitstel van belasting en ander maatreëls is gemaak, met die belastingverligtingsteiken wat op R70 miljard gestel word.

Befondsing
Om alles te befonds, is natuurlik die R500 miljard-vraag. Daar word van die minister van finansies verwag om ’n aanpassingsbegroting oor die volgende paar dae/weke bekend te maak waarin hy, hopelik, presies sal verduidelik wie vir wat sal moet betaal.

Tot dan is die volgende duidelik (of ten minste blyk te wees): Dit is in die vooruitsig dat die bestaande planne vir uitgawes ter waarde van R100 miljard geherprioritiseer sal word, terwyl van die geld om invoerkostes te dek, waarskynlik uit internasionale bronne verkry sal word.

Ander aankondigings
Die ekonomie sal geleidelik “geopen” word, aldus die president, en ek vermoed daar sal meer aankondigings in hierdie verband later die week wees. Laastens het hy dit duidelik gestel dat beduidende en omvattende veranderings in die land te wagte kan wees – van ’n nuwe sosiale pakt, ’n nuwe ekonomiese strategie en ekonomiese hervorming tot infrastrukturele besteding, transformasie, inklusiewe groei en sekere veranderinge ten opsigte van staatsbeheerde entiteite (SBE’s)

Kommentaar

dawie-roodt-begrotingsrede-2018

Die ekonoom Dawie Roodt. (Argieffoto: Reint Dykema/AfriSake)

Dus, terug na waar ons begin het: Is die pakket goed of sleg?

Onthou, ons moenie vergeet dat ons staatsmasjinerie deur korrupsie en ondoeltreffendheid gekenmerk word nie. Die maatreëls wat aangekondig is, sal onvermydelik lei na meer staatsingrypings en meer mag aan politici en burokrate; mag wat nie sommer herroep sal kan word nie en dus ’n radikale vermindering in die kans dat enige ondersteuningspakket suksesvol geïmplementeer sal word. Nie ’n goeie vooruitsig nie.

Ons is almal bewus van die feit dat die ekonomie reeds kniediep in die moeilikheid was lank voordat die ellende uit Wuhan oor ons grense gespoel het. Natuurlik, en weer eens, te danke aan die burokratiese elite se wanbestuur en plundering van ons staatsbronne. Hierdie grootskaalse langtermynplundering het bitter min ruimte gelaat om ’n krisis van hierdie omvang te hanteer. Dit beteken dat die finansiële maatreëls wat Dinsdagaand aangekondig is, vir baie jare nog ’n langdurige en meestal negatiewe impak op die staat se finansies sal hê. Die onvermydelike gevolg hiervan sal een van twee dinge beteken: óf ’n aansienlike verhoging in toekomstige belasting óf ’n verlaging in staatsuitgawes wat – in ’n omgewing van toenemende nood – polities gesproke selfs meer onsmaaklik sal wees.

Alhoewel die hulpmaatreëls vir die behoeftiges baie sal help, is die gevare voor die hand liggend. Eerstens, daar is min dinge in die lewe wat so permanent is soos ’n tydelike verhoging in hulpverlening. Dit is onvermydelik dat hierdie verhogings permanent sal word. Tweedens, die ondersteuning vir diegene wat nié deur ander projekte gedek is nie, mag heel moontlik die begin van ’n basiese inkomstetoelae wees.

Laastens, maar allermins die minste, is daar een ding wat my bang maak: Ramaphosa se gebruik van gelaaide terme soos “sosiale pakt” en “herstrukturering”. Dit sal verander moet word – ’n ander benadering tot die SBE’s en groei is ’n gegewe. Die volgende bekommer my egter: sal dit die soort verandering wees wat deur ’n intervensionistiese ideologie – wat ondoeltreffend bestuur word – gedryf word? Of sal dit ’n verandering wees wat sal lei tot individuele vryheid, die beskerming van eiendomsreg en die einde van wanbestuur en plundering?

Nodeloos dus om hierdie R500 miljard-vraag te beantwoord.

Slotreël
Dus, wat beteken dit alles vir die ekonomie, beleggings, die randwaarde, inflasie en alle ander dinge wat ekonome volg?

Ek is bevrees om te sê dat ons, na alle waarskynlikheid, nou ’n periode van uitgerekte ekonomiese swaarkry, voortdurende verswakking van ons geldeenheid , hoër belasting en meer staatsingryping binnegaan – gekenmerk en vererger deur die ondermyning van ons vryheid en veiligheid.

By nabetragting moes ons lankal begin het om reg te maak wat reg te make was. Nou sit ons met ’n president wat aanhou grawe aan sy eie graf, want daar bly bitter min ander opsies vir hom oor.

Dit kon so anders gewees het…

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Dawie Roodt

Dawie Roodt is direkteur en hoofekonoom van die Efficient Groep en lewer gereeld ekonomiese kommentaar.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Maria ·

Briljant Dawie. Ek is ook bang. Ek wens net iemand kan aan die president sê om al die registrasie wette en drakoniese maatreels onmiddelik onwettig re verklaar. Dit absoluut siek om mense te dwing om skielik ‘n spaza winkel of straatstalletjes te registreer . Ons weet mos die polisie konfiskeer hierdie hulpbehoewende mense se voorraad.

Kobus ·

Dawie,ek respekteer jou en so ook baie ander ekonome.My vraag is,indien ons gewone burgers en geleerde mense soos u, Prof Jannie Rossouw en Dr Roelof Botha al hierdie gevaartekens voorspel,waarom ignoreer ons president dit?

J ·

Kobus

Die antwoord op jou vraag is ‘MAG’!
Politieke MAG is ALLES vir politici … hulle sal hul eie ma’s opoffer in ruil vir MAG!
Wat hulle doen en sê … sal vir hulle MAG bring. Altans dis wat hulle hoop!

MAGSDRONK is die virus wat Afrika vernietig!

Belisarius ·

Kobus, Thomas Sowell het tereg gesê feite spreek nie vir hulself nie, maar vir of teen bestaande ideologiese raamwerke. Daarom glo ons dat die vrye mark nou die enigste oplossing is, en glo die ANC president dat Sosialisme nou die enigste uitweg is, maar wil dit net eerliker en ‘beter’ toepas.

J ·

Armoede (en grondloosheid) word veroorsaak deur OORBEVOLKING!

Alle probleme in SA moet opgelos word met geboortebeperking as eerste prioriteit.

Daarna moet vryemark beleid en kapitalisme aangeneem word as tweede prioriteit.

Daarna moet korrupsie en onproduktiwiteit uitgeroei word.

As bg. 3 REWOLUSIONÊRE stappe geneem is … sal SA FLOREER!

Dis al!

Frans ·

Gauteng word beskou as die 7de grootste ekonomie en dra ongeveer 35% by tot die BBP.Die nadeel hiervan is dat Gauteng steeds die grootste trekpleister bly vir mense wat werk en ‘n inkomste soek.
Daar is tans ongeveer 14,4 miljoen mense in die kleinste provinsie en dit skep enorme probleme vir behuising,dienste ens.

‘n Oplossing sal dus wees om die ekonomie in die dele van die land waaruit die mense stroom te ontwikkel deur bv ‘n ekonomiese ontwikkelingsplan daar te stel in samewerking met privaat ondernemings om die toestroming te verminder en ‘n meer gelyke bydrae tot die BBP te bewerkstellig.

Word dit nie gedoen nie gaan die R500 miljard wat tot R800 miljard volgens minister Mboweni gaan styg ‘n groter probleem as Covid 19 vir Suid Afrika skep.

Frans ·

Laat ek byvoeg Gauteng word beskou as die 7de grootste ekonomie in Afrika.

Willem ·

Pragtig Dawie wens jy was 1 van die raadgewers. Hoop van ons eie mense lees die berig

JJ ·

Is dit nie verbasend dat dit slegs die privaatsektor is wat die pyne moet dra vir die ekonomie nie? Is dit nie verbasend dat dit slegs werknemers in die privaatsektor is wat deur die plandemie beinvloed word nie. Ek kon nog geen planne vind hoe die staat van voorneme is om die personeel met helfte te verminder nie, of staatsamptenare se salarisse te sny met 50% nie. Die paar ministers wat salarisse gesny het is simbolies.
Besnoei die groote van die staat se salarisrekening, en ons sal baie vinnig uit hierdie PLANDEMIE kom

Erik ·

Dankie Dawie, ek stem saam. Ek sal graag ‘n artikel wil sien oor opsies oor hoe om onself teen hierdie onvermydelike, toekomstige ekonomiese swaarkry te probeer beskerm?

Miskien ‘n tweeledige artikel:

1. Emigrasie en jou opinie daaroor vir die wat wel kan emigreer en dit as ‘n uitweg beskou.

2. Raad aan die wat hier sal moet of wil bly en hoe hul hulself kan voorberei.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.