Dawie Roodt: Geen 20/20-visie vir 2020

dawie-roodt-begrotingsrede-2018

Dawie Roodt. (Argieffoto: Reint Dykema/AfriSake)

As daar van 20/20-visie gepraat word, beteken dit dat jou sig normaal is en jy helder kan sien tot op ’n afstand van 20 voet (net so ’n raps oor die ses meter). Hoewel ek geen helder visie het oor wat die jaar 2020 kan oplewer nie, is die prentjie wat ek geleidelik kan uitmaak, beslis nie ’n mooi een nie.

Kom ek begin met ’n tikkie goeie nuus.

Lesetja Kganyago, president van die Reserwebank (SARB), verdien na regte groot waardering aangesien hy verlede jaar daarin geslaag het om die SARB se onafhanklikheid teen politieke inmengery beskerm het. Die laer inflasiekoers teen die einde van 2019 is ook ’n bewys dat hy suksesvol was om die rand se waarde te beskerm en boonop inflasieverwagtinge laer te “bestuur”.

Hoewel die SARB se amptelike inflasieteikens steeds tussen 3% en 6% staan, het hulle onlangs aangedui dat 4,5% hulle gewenste mikpunt is. Die mark was aanvanklik skepties hieroor totdat inflasie verlede jaar tot die laagste in baie jare gedaal het en die moontlikheid bestaan nou dat dit selfs onder 3% kan val.

Hierdie streng benadering tot monetêre beleid het, onder meer, bygedra dat die rand die afgelope paar maande verstewig het met die moontlikheid dat dit vir ’n ruk so kan aanhou. Verder is die Suid-Afrikaanse finansiële markte besonder aantreklik ten opsigte van waardasies en selfs al word ons verder afgegradeer – wat ’n sterk moontlikheid is – mag die rand dalk net goed in 2020 presteer. Dit is alles goeie nuus omdat die SARB dan ruimte sal hê om rentekoerse selfs verder te verlaag.

Om die goeie nuus op te som: Die rand sal na alle waarskynlikheid sterker vertoon en ’n goeie lopie op ons aandele- (veral die finansiële sektor) en kapitaalmark word verwag.

Maar nou vir die slegte nuus…

Die wanbestuur van veral Eskom en die gevolglike beperkte verskaffing van elektrisiteit beteken dat die koers waarteen die Suid-Afrikaanse ekonomie kan groei, uiters beperk is. Ek verwag dus nie dat ekonomiese groei die 1%-kerf sal oorsteek indien beurtkrag voortduur nie – die moontlikheid bestaan dat dit selfs laer kan daal.

Nog is het einde niet… Die staat se finansies is ’n gemors. Die sentrale regering se snelgroeiende skuld staan op ’n rekordhoë vlak – Eskom alleen skuld ’n duiselingwekkende bedrag van meer as R500 miljard. Die meeste ander staatsbeheerde instellings (SBI) word wanbestuur terwyl die finansiële posisie van plaaslike owerhede ook besig is om in duie te sort.

Overgeset syne beteken dit die hele regering is aan’t vou.

Daar bly slegs twee opsies oor om die staat se finansies te stabiliseer: beperk staatsuitgawes drasties of verhoog die staatsinkomste (meer belasting). Of pas ’n kombinasie van die twee toe.

Die feit bly dat enige van hierdie opsies die huidige uitbreidende (stimulerende) fiskale beleid sal beperk beteken dat dit  ook ekonomiese groei op die kort termyn sal belemmer. Kan ons van Tito Mboweni, minister van finansies, verwag om met volgende maand se begroting te poog om sowel die staatsuitgawes te beperk as die inkomstebelasting te verhoog? Ek dink so.

Ek glo wel dat Mboweni die regte man vir die finansies portefeulje is. Daar moet egter onthou word dat die ANC se bestaansrede uitsluitlik gaan om die staat te besit en te gebruik vir eie begunstiging. Sonder deurlopende hoë staatsuitgawes verloor die ANC eenvoudig hul bestaansrede – daarom is dit onwaarskynlik dat daar ’n beduidende afname in staatsbesteding sal plaasvind. En om hierdie rede sal Mboweni seker nie lank as minister van finansies dien nie.

Wat kan ons dan ten opsigte van belasting verwag? Ek het geen twyfel dat sommige belastings verhoog sal word nie. Waaroor ek egter onseker is, is of BTW ook sal verhoog en met hoeveel persoonlike inkomstebelasting sal toeneem. ’n BTW-styging (wat die minste skade sal aanrig), is polities gesproke byna onmoontlik, terwyl ’n hoër persoonlike inkomstebelasting veel makliker sal wees om te implementeer.

Maar aangesien ’n afname in uitgawes of ’n toename in belasting, druk op ekonomiese groei in die korttermyn sal plaas, sal die 1%-groeiplafon (met komplimente van Eskom) selfs laer wees.

Maar daar is ook ander stommiteite wat kan kop uitsteek… Verdere dom stappe om die beplande Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) – wat in elk geval gedoem is om te misluk – te implementeer, sal heel moontlik gedoen word; so ook ten opsigte van voorgeskrewe bates (vir pensioenfondse) en ’n verskerping in valutabeheermaatreëls.

Dit alles sal die graderingsagentskappe net meer rede gee om ons verder af te gradeer. Nie dat dit juis veel van ’n verskil sal maak nie – die meeste van die slegte nuus is reeds deur die markte verreken.

Om terug te kom na die 1%-groeiplafon: Dit lyk of ons gelukkig sal wees indien ons wel 1%-groei kan haal – in ’n omgewing waar die bevolkingsgroei meer as 1,6% is, is dit onvermydelik dat werkloosheid en armoede verder sal toeneem.

Ons president gaan geskok en teleurgesteld wees.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Dawie Roodt

Dawie Roodt is direkteur en hoofekonoom van die Efficient Groep en lewer gereeld ekonomiese kommentaar.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Johan Venter ·

Dan kan ek seker hier herhaal wat ek vanoggend elders genoem het, naamlik, in Ramaphosa se nuusbrief dié week het hy die volgende visie wat uiteindelik tot hom deurgedring het en waarin hy sê hy wil wegdoen met kaderontplooiing. (Hy sal natuurlik by die NUK en die ANC se alliansievennote moet verbykom, ook David Mabuza en die ander vier.) Ek haal aan:

As part of his plans for building what he calls a capable state, President Cyril Ramaphosa has vowed to end cadre deployment – a culture of people being appointed to positions because of political afliations without proper skills and qualications.

In his weekly letter to the nation, Ramaphosa said that his administration would prioritise building a capable state but such plans would be undermined by weak implementation, poor coordination among departments and lack of effective oversight which are a result of cadre deployment.

“A capable state starts with the people who work in it. Ofcials and managers must possess the right nancial and technical skills and other expertise,” writes Ramaphosa.

“We are committed to end the practice of poorly qualied individuals being parachuted into positions of authority through political patronage. There should be consequences for all those in the public service who do not do their work.”

Maar dan vra ek, wat van hul historiese ideologie, wil hy nie ook daarmee wegdoen nie?

Johan Venter ·

Suid-Afrika onder die ANC se beheer is gedoem om as ‘n rommelstatusland voort te bestaan, tensy die ANC werklik wegdoen met hul beleid van kaderontplooiing. En wat van in hul strukture, daar waar die besluite geneem word, in die provinsies, sal hul NUK en besluitnemers hiertoe instem? Hul ideologie, sal hulle dit vaarwel toeroep, want dit sal in effek beteken dat die ANC heeltemal hervorm moet word?

Indien Ramaphosa ooit hierdie deurgedruk kry, sal ek graag wil sien hoeveel dekades dit sal neem om op regeringsvlak, provinsiale vlak en in die munisipaliteite die kaders met opgeleide en kundige mense te vervang.

Elizabeth ·

Ek sien dat “dit blyk of/asof …” al hoe gemakliker in die joernalistiek gebruik word. Die korrekte vorm is: “Dit lyk of/asof …” en “Dit blyk dat …” “Lyk” druk ‘n onsekerheid uit, terwyl “blyk” ‘n sekerheid uitdruk, soos wanneer iets uit navorsing blyk.

Lukas vd Merwe ·

Die balans verteuring in die SA ekonomie kan nie meer herstel word nie. Dit kantel nou vinnig na die jooz se kristalbal wat werkloosheid, politieke onrus, rigtingloosheid, onbekwame werksmag mafia top struktuur is die anc, natuurlik die kommunistiese ideologie wat gevestig is onder die 85% van SA se laer inkomste groep en die 29%werlose groep. Die students maak absoluut staat op hierdie vernietigende ideologie want hulle weet hulle studeer maar gaan geen werk kry nie. Jammer SA is vatbaar vir dit maar dit is n realiteit dat die orus in die land die ekonomie gaan kelder.

Patat ·

Dankie Elizabeth, vir die taalkundige kommentaar. Maroela behoort vir jou werk aan te bied!

Piet parys ·

Ek het ook slegte nuus vir die regering . Die mandjie goedere wat inflasie bepaal is beslis nie die gemiddelde man in die straat se aanwysing van sy besteebare vermoé nie . So die mandjie word gemanupileer om die inflasie af te dwing en dan salaris verhogings dan te verminder behalwe as jy vir staats instansies werk dan het die gepeupel die regering aan die kort hare beet

Kerneels ·

Maar dit kos ‘n fortuin om die produk op die rakke te kry. Dus sal produsente minder produseer wat pryse die hoogte inskiet.

Feite ·

Dit blyk na my mening dat die ANC as n kollektief kop in een mus is en dat die ANC se meesterlike toneelspel van ek kul jou hier en ek kul jou daar terwyl ek jou paai en mislei met lippetaal, sal voortduur totdat alle beskikbare fondse gekaap is en die koei leeg gemelk is. Suid Afrikaners gaan met visie 2020 met n skok besef dat die skade wat aangerig word met die herstel van staatskaping veel groter skade gaan veroorsaak, indien dit nie alreeds daardie merk verbygesteek het nie. Die herstel van die SOE’s gaan baie meer kos as die vernietigende effek wat staatskaping gehad het en die ANC weet dit, want dit is die ANC se strategiese plan om aan te hou vat en al hoe meer te vat totdat Suid Afrikaners gelyk is en totdat SA n volwaardige sosialistiese welsynstaat is waar die staat alles besit en beheer. Die strategiese proses van skade en die herstel van skade is n proses wat ditself aanhou herhaal. Wanneer die Suid Afrikaanse koei leeg gemelk is, dan sal die ANC geld leen by die IMF vir die ANC en terselftertyd kan China geld voorskiet, alles natuurlik dan streng volgens voorwaardes, waar daar tans geen voorwaardes aan spandering gekoppel is nie!

skurweberg ·

My kristalbal impliseer dat daar ‘n groter mag agter die toestande in SA is. Die beeld is nog nie duidelik genoem om enige voorspelling te maak nie, maar modderwater neem tyd om helder te word. Kort om: Die politiekewiel daai stadig.

Anoniem ·

Dawie Roodt, dis nie lekker om sulke donker waarhede te hoor nie, maar ek sê nogtans dankie dat jy dit so eenvoudig en verstaanbaar uiteen gesit het.

Kwagga ·

Wat my bekommerd is die staats instellings wat blykbaar swak of geen beheer het oor hulle debiteure nie. By elke instelling wat swaarkry sien jy jaarliks hoe die skuld net styg. Kyk net na die nuutste syfers van telkom. Dit gaan nie help almal spring op die staatskaping bus maar die instellings bloei verder dood deur middel van opgehoopte en verhoogte skuld nie.n Skuldboek is net n sagte manier om geld uit n onderneming te laat verdwyn.

Julius ·

Rommel status kan net tot ashoop status gradeer word. Hoekom bekommer daaroor?

Petrus ·

Die ANC sal vinnig moet besluit wat is die land se DNA. Indien ons Marxisties wil word is dit goed so. Nasionaliseer alles en ons werk almal vir die staat. Almal is dan gelyk. Geen fancy huise en groot salarisse nie. Net soos in Kuba. Die wat wil emigreer moet dit dan doen. Indien ons kapitalisties word, ook goed. Ons kan nie so tussen die twee stoele beweeg nie. Dit gaan lei tot meer verwarring en vernietiging.

Carin Boshoff ·

As ons kyk na die afgelope jaar se tendens wat eiendom aanbetref, vind persone wat aftree ouderdom bereik en wil verhuis na ‘n Aftree Landgoed, dit al hoe moeiliker om hulle primêre wonings te verkoop. Hul wonings, wat hulle as ‘n neseier beskou het, het in die laaste paar jaar gedevalueer. Wat kan ons van die eiendomsmark verwag in die jaar 2020? In ag geneem die grondkwessie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.