Dawie Roodt: Van A graad-krisis tot Zombie-apokalips

In afwagting op die silwer randjie om die donker wolk

dawie-roodt-begrotingsrede-2018

Dawie Roodt. (Argieffoto: Reint Dykema/AfriSake)

Ons was nie voorbereid op hierdie krisis nie. Ons het dan nog nie eens ’n kuur vir ons eie sieklike staatsbeheerde entiteite (SBE) gevind nie en nou is ’n virus met die naam korona hier. Nogal.

Sou jy die woord ’n paar maande gelede gesê het, sou ek gedink het jy praat van bier. Al wat ons nou weet, is dat ons hier van die ouboet van pandemies praat.

Wat ek ironies vind (en heel leersaam), is die definisie en betekenis van die woord. Korona, volgens een aanlynwoordeboek, is ’n lig- of stralekrans wat soms in die nag rondom die maan waargeneem kan word.

Nou moet ons seker sê: “Dankie, korona, dat jy oorgevat het waar Eskom ons gelos het – met nogal baie dieselfde effek: donkerte, net waar jy kyk.”

Verskeie nuusplatforms het hierdie totale virusaanslag reeds beskryf as êrens tussen die einde van die wêreld, maar darem nog nie ’n zombie-apokalips nie.

Hou vas, hierdie is ‘n A graad-krisis.

Wêreldwyd is markte aan die tuimel. Indekse fluktueer daagliks met honderde miljarde dollars. Beleggers raak paniekerig en beleidsmakers sit hande in die hare. En terwyl maatreëls getref word om die verspreiding van die virus te beperk, sal die domino-effek daarvan na alle waarskynlikheid ontsettend groot wees omdat daar geen sekerheid is ten opsigte van wat alles hieruit gaan vloei nie.

Van die vrou in die straat tot die handelaar in Wall Street: ons almal ervaar reeds die kumulatiewe impak op die wêreldekonomie en die wêreld se finansiële markte. En totdat ons meer duidelikheid het oor die uiteindelike uitkoms van hierdie pandemie en sy impak op ekonomiese bedrywighede, sal die finansiële markte onstabiel bly.

Globaal is nie goed nie. En ‘local’ is ook nie lekker nie.

Natuurlik is Suid-Afrika nie gespaar nie. Terwyl die virus teen die einde van 2019 nog ’n vae waarskynlikheid was, het dit nou ’n werklike, teenwoordige en groeiende gevaar geword – ’n monster wat geld, ’n normale bestaan en (dalk nog) die lewe van mense voor die voet insluk.

Voorsorgmaatreëls is en word steeds getref, gebeurlikhede is gekanselleer, reise is uitgestel en die markte wankel. Skole is gesluit, maar die lesse wat ons hiervoor en hieruit moet leer, mag dalk net die begin wees.

Lesse uit krisse van die verlede

So gepraat krisisse uit die verlede – terwyl dit onmoontlik is om akkuraat te voorspel wat die impak op die Suid-Afrikaanse ekonomie sal wees, was daar vorige krisissituasies in ons land waaruit ons wel kan leer.

Maar allereers moet ons erken dat die ekonomie lank voordat die virus sy verskyning gemaak het, reeds op pad na die hoësorgeenheid was, te wyte aan die disfunksionele en vernietigende regering. Jip, dit is wat dit is…

Gebaseer op wat ons oor ons ekonomie BC (Before Corona) weet en uit ons vorige ervaring van ander krisisse op ons skatting superponeer, kan ons ’n prentjie vorm van wat ons oor die volgende paar kwartale te wagte kan wees. Maar let wel daarop dat hierdie slegs ruwe skattings is wat deur verskeie veranderlikes beïnvloed sal word.

Hier is ’n paar punte

Korona of geen korona nie, ’n swak groeikoers vir die eerste kwartaal was beslis te wagte. Met korona wat nou ’n werklikheid is, gaan groei in die eerste kwartaal beslis ’n inkrimping toon. Die effek van die krisis het duideliker geword aan die einde van die kwartaal en ons verwag ’n moontlike -2%-groei.

Daar is goeie rede om te glo dat die tweede kwartaal die meeste geaffekteer sal word en ’n sterk inkrimping in groei van om en by 6% (of meer) word verwag.

Ná ’n ontstellende tweede kwartaal behoort die derde kwartaal heelwat beter te lyk, deels as gevolg van die basis effek in kwartaal twee. Ons verwag ’n 0%-groei in kwartaal drie. Kwartaal vier blyk beter te wees en ons model voorspel groei van ongeveer 0,5%.

Sou hierdie kwartaallikse beramings korrek wees, kan ons negatiewe groei van 1,8% of selfs swakker vir die jaar in geheel verwag.

Neem net weer kennis dat hierdie skattings gebaseer is op ons BC-skattings wat vir ons doeleindes gedurende vorige krisisse aangepas is. Onthou, die belangrike deel is nie soseer die werklike skattings nie, maar eerder die verwagte patroon.

Wat hieruit duidelik is, is dat dit absoluut geen doel gaan dien om oor die ekonomiese groei van 2020 te kla nie – daar sál geen groei wees nie. Boonop sal die swakker ekonomiese groeisyfers bydra tot die verslegting van verskeie ander ekonomiese veranderlikes, soos fiskale skuld-, fiskale tekort- en ʼn tekort op die lopende rekening as persentasie van die bruto binnelandse produk (BBP).

Skakel “MBO” vir monetêre beleid-ondersteuning

(Foto: Martin Meissner, AP)

’n Verswakking in hierdie veranderlikes sal uit die aard van die saak net die verwagte verdere afgradering versnel. Wat kan ons dus verwag ten opsigte van monetêre beleid-ondersteuning?

’n Logiese en waarskynlike reaksie sou ’n verlaging van korttermynrentekoerse wees. Trouens, dit is presies wat die Suid-Afrikaanse Reserwebank (SARB) gedoen het hierdie week toe rentekoerse met een persentasiepunt verminder is. En soos verwag was daar ook nie ’n noemenswaardige negatiewe reaksie, soos ’n skerp daling in die wisselkoers, nie.

Die feit dat monetêre beleid-ondersteuning beskikbaar is om die ekonomie gedurende tye soos hierdie te help, getuig van die verstandige manier waarop die monetêre beleid in die verlede uitgevoer is. Ten spyte van versoeke van alle kante het die SARB sy monetêre beleid redelik konserwatief gehou. En noudat ons die monetêre beleid ter ondersteuning nodig het, kan die SARB ons met laer rentekoerse help. Dog, dit is ongelukkig onwaarskynlik dat die monetêre beleid veel ondersteuning aan die ekonomie kan bied, hoewel sommige periferale voordele moontlik is.

Wat ons werklik nodig het, is beduidende fiskale beleid-ondersteuning. Hiervoor moet die staat belasting verminder en selfs uitgawes verhoog om so die ekonomie te ondersteun. Ongelukkig is hierdie opsie nie beskikbaar nie.

Die rede hiervoor is duidelik: Vir jare is die fiskale rekenings wanbestuur. Staatskuld het onvolhoubare vlakke bereik en selfs voor die nuwe koronavirus is die fiskale tekort beraam om bykans 7% van die BBP te bereik. Nou, met ’n swakker BBP, nóg laer belasting en meer druk op uitgawes, is ’n beduidende hoër fiskale tekort meer waarskynlik. Weens hierdie onvermydelike situasie sal staatskuld selfs verder toeneem, wat dit nóg moeiliker sal maak om toekomstige uitgawes in te perk.

Ekonome en ontleders het die regering by herhaling gewaarsku om hul ondeurdagte optredes te staak en hul huis in orde te kry. Die regering moes die moeilike besluite om die agteruitgang op die fiskale rekenings die hoof te bied, geneem het terwyl die kans nog daar was. Maar in plaas daarvan om verantwoordelik op te tree, het die regerende party voortgestruikel – voortgedryf deur idiotiese ideologieë, wanbestuur, kaderontplooiing en die bestuur van die staatsfinansies tot in die afgrond.

En nou het ons geen fiskale skietgoed meer oor nie.

Op julle merke, ongereed…

Hoe individue en besighede hulself posisioneer is belangrik. Wees bewus van ontwikkelings, identifiseer jou risiko’s en bestuur jou risiko’s. Een manier waarop ons ons risiko’s kan bestuur, is om  seker te maak dat jou portefeulje behoorlik gediversifiseer, wat ook ’n groot  diversifikasie in die buiteland insluit.

Ter afsluiting: daar is nog baie aantreklike beleggingsgeleenthede in Suid-Afrika. Die swak wisselkoers, goeie opbrengste en ’n likiede mark is alles aantreklike kenmerke van die Suid-Afrikaanse finansiële markte.

Maar moenie ’n fout maak nie. Ons was reeds diep in die moeilikheid voor hierdie krisis. Die virus gaan dinge net erger maak en daar is nie veel wat ons daaraan kan doen nie. In plaas daarvan dat ons ons land eerste gestel het toe ons die geleentheid gehad het, was ons politieke leiers meer besorg oor hul eie politieke agendas.

Dít is die eintlike rede waarom ons nie gereed is vir hierdie gemors nie.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Dawie Roodt

Dawie Roodt is direkteur en hoofekonoom van die Efficient Groep en lewer gereeld ekonomiese kommentaar.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Johan Venter ·

Dankie Dawie, ten minste draai jy nie doekies om nie en vertel ons reguit wat ons voorland gaan wees. Liewers dit as mooi broodjies bak soos die regering jaarliks doen in hul oorgretigheid om ons van hul suksesse en pragtige doelwitte van vooruitgang vir die volgende jaar te vertel. Lywe vetsmeer gaan nie help nie, ons sal op ons knieë hierdie ding moet deur worstel, dit is nou die moeilikheid waarin die regering ons voor einde verlede jaar, vir der jare, in bestuur het, én die effek van die virus nou daarna.

Terloops, ek kon die invloed van die regering se swak bestuur van die land se ekonomie die afgelope vyf/ses jaar of so aan my beleggings se resultate sien. Ek kon net magteloos toekyk en kwartaalliks die statistiek in frustrasie byhou, wat ‘n ramp.

Johan Venter ·

Ek het toe gister ook vir onse president ‘n e-pos gestuur en hom uitgenooi om my te kom besoek, dan kan ek hom al die goed wys wat ek hier vir jare ervaar, maar my probleme is nie vir hom ‘n prioriteit nie, so toe beland ek nie op sy doenlysie nie.

Michael ·

Dankie Dawie,lanklaas iets gelees wat sin maak en waarmee ek 100% saamstem in n eerste wêreld land sou n persoon met jou kennis van die ekonomie die minister gewees het en sou gewone burgers rustig kon slaap met die wete dat die ekonomie in goeie hande is maar ongelukkig bepaal die unies en Letuli huis nou ons toekoms

Suid-Afrika Eerste - Vrydenker Vlakvark ·

Uitstekende artikel Dawie.

Ek kan met alle respek nie die logika van die ANC/EFF stemvee verstaan nie.

Baie erger as die koronavirus is die Gierigheidskanker wat SA sedert 1994 verteer en die SA-nasie uitmergel.

Frans ·

Dit is so goed of kies na willekeur motorbestuurders,wat glo hul kan goed bestuur, om aan Formule 1 wedrenne deel te neem.99.9 % gaan nie eers om die eerste draai kom,dws as hul die motor aan die gang kan kry en nie met die wegspringslag laat stol nie.Kyk hul lê die wrakke op alle gebiede in Suid Afrika

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.