De Klerk, die NP en die onderhandelinge

Roelf Meyer en Cyril Ramaphosa tydens die onderhandelinge (Foto: Verskaf/Pieter Mulder)

Hoe nader ʼn mens aan ʼn historiese gebeurtenis is, hoe moeiliker is dit om die betekenis en gevolge daarvan te beoordeel. Vanjaar 27 April is dit presies 30 jaar ná die 1994-verkiesing. Met hierdie verkiesing het die Nasionale Party (NP) van mnr. FW de Klerk die politieke mag aan die ANC van mnr. Nelson Mandela oorgedra. Dertig jaar is genoeg tyd sodat daardie gebeure nou beoordeel kan word.

Waaraan meet jy die gebeure van daardie tyd om te bepaal of dit suksesvol was of nie? Een metode is om na die verskillende rolspelers van daardie tyd te kyk, en te beoordeel tot watter mate hulle in hulle doelwitte geslaag het?

Die ANC en die Suid-Afrikaanse Kommuniste Party (SAKP) was so ʼn rolspeler. Op die voorblad van die SAKP se Desember 1993-tydskrif The South African Communist is die hoofopskrif: “Negotiations – A mass victory”. Hulle het duidelik in hulle doelwitte geslaag.

Uit ʼn Afrikaner-oogpunt is die fokus op oud-president FW de Klerk en Roelf Meyer as Afrikaner-rolspelers in daardie tyd. In hoeverre het hulle in hulle doelwitte geslaag?

Volgens die SAKP het hulle die onderhandelinge gewen (Foto: Verskaf/Pieter Mulder)

Politieke verandering nodig

Ek was in die parlement as parlementslid toe FW de Klerk almal met sy 2 Februarie 1990-toespraak verras het. Dit het uitgeloop op die April 1994-verkiesing en die grondwetlike onderhandelinge daarna.

In die 1980’s was dit duidelik dat die NP se beleid om Suid-Afrika op te deel in verskillende state — net gedeeltelik geslaagd was. Die doel was om só vryheid vir almal te bring deur ʼn eie land en eie regering vir elke volk te skep. Daar was verskeie redes waarom dit nie geslaag het nie. Behalwe vir swak politieke leiding, was een van die belangrike redes die groot verstedeliking van swart mense.

Politieke verandering was dus nodig. In Suid-Afrika is heftig debat gevoer oor hoe presies hierdie verandering moet lyk.

Met die ontbanning van die ANC het die NP-leiers in die parlement se gange aan ons gesê: “Moenie bekommer nie. Ons gaan die ANC uitoorlê. Deur hulle te ontban gaan die wêreld en Suid-Afrika se mense sien hoe radikaal en ekstreem hulle eintlik is. Dan gaan die gematigde swart, bruin en wit mense bymekaar kom en so saam gaan ons as NP die ANC wen.”

Die 1994-VF-leierskap en -onderhandelingspan bestaande uit dr. Pieter Mulder, genl. Constand Viljoen en dr. Corné Mulder. (Foto: Verskaf/Pieter Mulder)

Ek het gedink die NP is hierin naïef en hulle onderskat die ANC. ʼn Moontlike rede vir die onderskatting was dat FW de Klerk as politikus nog nooit in die opposisie was nie. Na 42 jaar in regering het die NP-leiers nie een geweet hoe dit is om sonder mag te wees nie. Dit kan verklaar waarom hulle so maklik met politieke mag gedobbel het.

Drie politieke oplossings

Twee maande na die 2 Februarie 1990-toespraak verduidelik De Klerk in die parlement dat daar drie politieke oplossings vir Suid-Afrika is (Hansard 17 April 1990, kol 6604):

  1. Partisie – waar jy die land tussen die verskillende groepe verdeel en dan ʼn samewerkingsmodel kry;
  2. ʼn Simplistiese meerderheidsregering op die grondslag van een mens een stem of;
  3. Magsdeling met beskerming van minderhede waar die een nie oor die ander regeer nie.

Hy verwerp dan die eerste oplossing naamlik partisie as onprakties.

Hy verwerp ook die tweede voorstel van ʼn simplistiese meerderheidsregering. Sy argument is dat dit “vir kleiner groepe in ʼn ingewikkelde meervolkige land” soos Suid-Afrika onaanvaarbaar is weens die “werklike risiko van oorheersing en onderdrukking”.

Hy glo die derde oplossing is die antwoord – magsdeling. “Metodes om oorheersing te voorkom is geleë in die desentralisasie van mag… grondwetlike wigte en teëwigte en die vereiste van konsensus oor omstrede sake… Magsdeling is billik teenoor almal, want almal kry stemreg, maar niemand kan al die mag gryp en die ander oorheers nie” verduidelik De Klerk in die parlement (Hansard 17 April 1990, kolom 6603-6606).

Hy onderneem ook dat, wanneer die onderhandelinge afgehandel is en daar dalk van hierdie NP-beleid afgewyk is, die resultate in ʼn verkiesing of referendum aan die kiesers voorgelê sal word vir hulle goedkeuring.

Roelf Meyer saam met met dr. Pieter Mulder, dr. Corné Mulder en genl. Constand Viljoen wat is skepties oor ‘n artikel tydens onderhandelinge (Foto: Verskaf/Pieter Mulder)

Referendum oor metode, nie inhoud

In 1992 kondig De Klerk aan dat ʼn referendum nou gehou gaan word. Die onderhandelinge het sopas by Kodesa 1 begin en daar is nog geen duidelikheid oor hoe die finale Grondwet gaan lyk nie. Onthou die onderhandelinge is eers amper twee jaar na die referendum voltooi (November 1993).

“Steun jy voortgesette onderhandeling”, is die vraag waarop die kiesers “Ja” of “Nee” moet sê. Die vraag gaan oor die metode en nie oor die inhoud van die onderhandelinge nie. Hoe kan jy teen “voortgesette onderhandeling” gekant wees? 69% stem ja.

Die regte vraag wat oor die inhoud van die nuwe Grondwet behoort te handel, is egter nie gevra nie. Gaan die NP van sy magsdeling en konsensus-beleid afwyk en simplistiese meerderheidsregering aanvaar? So ʼn vraag is nie op die stembrief nie.

Tereg was die opposisie-plakkaat se bewoording: “Geen blanko tjek vir FW/ ANC.”

‘n Plakkaat wat aandui dat ‘n “Ja-stem” in die 1992-referendum ‘n blanko tjek is, omdat FW de Klerk nie detail uitspel nie. (Foto: Verskaf/Pieter Mulder)

Twee weke voor die referendum (2 Maart 1992) verduidelik FW de Klerk in ʼn toespraak in Kaapstad-stadsaal waarom ʼn mens “Ja” moet stem: “We say that black domination is as unacceptable as white domination. That precisely is why we say that power-sharing without domination is the answer. We reject unequivocally any ideas about a winner-takes-all dispensation. We think that is the worst possible system for a country like South Africa.”

Dit is sterk en duidelike taal. Tog is hierdie “worst possible system” presies wat kiesers twee jaar later gekry het as die eindresultaat van die onderhandeling. Pleks van opsie drie het hulle opsie twee gekry wat De Klerk aanvanklik verwerp het weens die “werklike risiko van oorheersing en onderdrukking”.

Die belofte dat kiesers weer geleentheid sal kry om te stem na die eindresultaat van die onderhandelinge bekend was, is nie nagekom nie. Hoewel die eindresultaat ernstig afgewyk het van die NP se aanvanklike oogmerke en beleid, het kiesers nie weer geleentheid gekry om daaroor te stem soos belowe is nie.

‘n Pamflet wat in 1992 vir ‘n “Nee-stem” argumenteer (Foto: Verskaf/Pieter Mulder)

Bloedbad of hierdie bedeling

In De Klerk se laaste jare het hy geargumenteer dat dit ʼn eenvoudige keuse in die negentigerjare was: Of die huidige bedeling of ʼn bloedbad. Daarmee het hy die huidige bedeling en sy destydse optrede probeer regverdig. Die fout in sy redenasie is dat daar nie net hierdie twee keuses was nie.

Al die partye wat by die onderhandelinge was, was daar omdat hulle geweet het verandering is nodig. Hulle het wel na die onderhandeling gekom met ander voorstelle as die van die NP en die ANC.

Dr. Buthelezi, leier van die Inkatha Vryheidsparty (IVP), was daar. By die 1994-verkiesing het die IVP nog meer as twee miljoen stemme gekry. Dit het die IVP ʼn belangrike rolspeler gemaak.

Mnr. Mangope, oudpresident van Bophuthatswana, was daar met eie voorstelle. Hy het nog verkiesings in Bophuthatswana gewen met meer as 1,5 miljoen mense wat deelgeneem het.

Die Volksfront het 800 000 na ʼn miljoen mense verteenwoordig en het alternatiewe voorstelle gemaak.

Die IVP, Volksfront en Mangope kon saam met die NP ʼn sterk blok teenoor die ANC vorm. Daardie “gematigde swart, bruin en wit blok” waarvan die NP-leiers saggies in die gange gepraat het.

Die 19 partye wat aan die onderhandelinge by Kodesa deelgeneem het (Foto: Verskaf/Pieter Mulder)

Wat verder kon help is dat Buthelezi “die desentralisasie van mag” en meer magte vir provinsies soos KwaZulu-Natal voorgestel het. Dit was presies wat De Klerk in sy vroeër toesprake as deel van die oplossing uiteengesit het om ʼn sentrale regering se mag te beperk.

Die destydse kritiek van die Naspers-koerante en die NP teen partye soos die Volksfront en KP was dat hulle teen enige verandering gekant was. Dit was soos meeste politieke propaganda nie waar nie en ʼn oorvereenvoudiging.

In die parlement sê Koos van der Merwe van die KP: (Hansard 6 Februarie 1991, kol 324) “Wat die nuwe Suid-Afrika betref, sê ons ja, natuurlik moet daar ʼn nuwe orde kom. Natuurlik moet daar ʼn nuwe Suid-Afrika kom. Ek weet van niemand wat enige erg meer het aan die huidige verminkte, bebloede, bankrot en wanordelike Suid-Afrika nie. Hierop sê die KP die nuwe Suid-Afrika sal voorsiening moet maak vir die selfbeskikkingsreg van volke, sodat daardie volke wat die selfbeskikkingsreg in die nuwe Suid-Afrika wil hê, dit sal kry.”

Record of Understanding

Na die “Record of Understanding” het die NP hierdie Volksfront-, IVP- en enige ander voorstelle van die tafel gevee. Die “Record of Understanding” is in die geheim alleen tussen Roelf Meyer en Cyril Ramaphosa onderhandel met FW de Klerk se stempel van goedkeuring later daarop.

Die NP se Roelf Meyer het Buthelezi hierna berekend vervreem. Die NP het ook uit hulle pad gegaan om Mangope te vernietig en die Volksfront belaglik te maak. Die gevolg was dat hierdie groepe saamgekom het in die Concerned South African Group (Cosag) en later die Vryheidsalliansie gevorm het. As groep het hulle afsonderlik met die ANC begin onderhandel, druk op die ANC uitgeoefen en sekere kleiner suksesse behaal.

Die Cosag-onderhandelingsgroep swart en wit leiers (Foto: Verskaf/Pieter Mulder)

Dit bly ʼn vraag dat as die NP oor sake soos die desentralisasie van mag met meer magte aan provinsies (dit wat tans vir die Weskaap gevra word) saam met Cosag kon onderhandel, hoe die eindresultate sou lyk?

27 April 1994

Ek onthou hoe Olaus van Zyl as NP-parlementslid voorspel het dat die NP die grootste party in die land gaan wees na die verkiesing (Hansard, 13 Desember 1993, kol. 15355.)

FW de Klerk het in toesprake dieselfde gesê: “Die NP glo hy kan die grootste party word. Ons veg nie om ʼn goeie tweede plek te kry nie. Ons veg om te wen. Ons sien nie met bewerasie na die verkiesing uit nie, maar met groot opgewondenheid.” (FW de Klerk, Beeld 22 Des 1993, p.1)

Rapport se opskrif die Sondag voor die verkiesing was: “Hier kom ʼn ding,” want Izak de Villiers as redakteur het geglo die NP kan wen. Hy sou later sy fout erken.

Met die 27 April 1994-verkiesing kom die NP tweede en kry net 20% van die stemme. Dit is nie naby die oorwinning wat NP-lede voorspel het of die meer as 33% wat die NP-binnekring geglo het hulle sal kry nie. Die NP het tydens die onderhandeling by sekere grondwetartikels twee derde meerderhede vir verandering onderhandel omdat hulle geglo het dat hulle baie meer as 33% gaan kry en so enige ANC-misbruik sal kan veto.

Sewe-en-twintig partye het in die negentigerjare aan die Veelparty-onderhandelinge deelgeneem. Negentien van hierdie partye het aan die 1994-verkiesing deelgeneem en slegs sewe is tot die parlement verkies. Na die ANC en die NP, het die IVP derde gekom en die Vryheidsfront, na net een maand se veldtog, vierde. Dit bevestig dat hierdie Cosag-partye ʼn belangrike magsfaktor was wat die NP teen die ANC in sy onderhandelinge kon versterk as die NP-onderhandelaars hulle nie berekend vervreem het nie.

Dr. Pieter en dr. Corné Mulder hou die uitslae dop by die uitslagsentrum (Foto: Verskaf/Pieter Mulder)

ʼn Week na die verkiesing van 1994 vra Hanlie Retief in ʼn onderhoud met mnr. De Klerk in Rapport (8 Mei 1994) aan hom: “Waar sien u uself oor vyf jaar?”.

De Klerk antwoord: “As my party nie foute maak nie, is ek oor vyf jaar weer president”. Drie jaar later, in 1997, onttrek hy uit die politiek.

In 1996 spel mnr. Roelf Meyer by ʼn NP-vrouekongres die NP se visie vir die toekoms so uit: “Ons visie in die Nasionale Party is om in 2004 weer aan die bewind te wees”. (Beeld 2/8/1996 p.2.)

In die 2004-verkiesing kom die NP nie aan bewind soos Roelf Meyer voorspel het nie. Die teendeel gebeur. In hierdie verkiesing het die NP van 82 setels in 1994 na sewe setels in 2004 gedaal. ʼn Jaar daarna is die NP ontbind en het NP-leiers soos Roelf Meyer, Pik Botha en Marthinus van Schalkwyk later by die ANC aangesluit.

Het FW de Klerk en die NP-leiers oor die politieke bult gesien of het hulle die ANC en die toekoms mis gelees? As ek na die feite hierbo kyk is die antwoord beslis dat hulle die toekoms mis gelees het.

Regering van nasionale eenheid

Die NP het wel met die tussentydse Grondwet ʼn tydelike sukses behaal met die ANC se belofte van ʼn regering van nasionale eenheid vir vyf jaar in die oorgangsperiode. Die NP was dus aanvanklik in die kabinet verteenwoordig gewees.

8 Mei 1996 forseer die ANC die finale Grondwet deur die Parlement. Die volgende dag onttrek die NP uit die regering van nasionale eenheid. Dit is na slegs twee jaar van die vyf jaar wat belowe is. In mnr. De Klerk se verduideliking waarom hulle onttrek, verduidelik hy dat die ANC geen ag geslaan het op die klem wat hy en ander NP-leiers gelê het op die noodsaak van magsdeling en gesamentlike besluitneming nie.

Mnr. De Klerk kla by daardie geleentheid dat die ANC nie gehou het by die “gees” waarin die ooreenkoms tussen die NP en die ANC gesluit is nie. Hierin is hy korrek. Maar hierdie “goeie gees” is nooit deur die NP op skrif in die Grondwet of in een van die 34 grondwetlike beginsels vasgevang nie. Die resultaat is dat in die finale Grondwet van 1996 daar geen verdere verwysing na ʼn regering van nasionale eenheid, magsdeling of konsensus-besluite is nie.

FW de Klerk het sy stembrief uitgebring terwyl sy vrou Marike op 27 April 1994 in Pretoria haar beurt afwag by die stemlokaal. (Foto: PHILIP LITTLETON / AFP)

Die NP het die onderhandelinge binne gegaan met ʼn sterk weermag, bekwame polisie, totale beheer oor die land se finansies en tyd aan sy kant omdat hy die land nog regeer het.

Chris Hani, SAKP-leier, het toegegee dat die ANC nooit die Suid-Afrikaanse weermag of polisie se “rug kon breek nie”. Die Suid-Afrikaanse weermag en polisie het ook die versekering gegee dat hulle vir nog tien jaar die beheer kon behou. ʼn Belangrike onderhandelingstaktiek van ʼn regering in beheer, is om van die onderhandelinge te onttrek of om dit uit te rek totdat die opponent, in hierdie geval die ANC, sekere toegewings maak. Die NP het dit nooit gebruik nie en alles afgejaag.

Die Sunday Times, wat as ʼn Engelse liberale koerant altyd baie krities oor die NP was en druk uitgeoefen het vir onderhandelinge met die ANC skryf in daardie tyd: “So they (NP) rush everything, at a mad, reckless pace. They accepted an election date before they had a constitution, and they are fashioning a transitional executive before they have consensus. Now they want to surrender power before they have secured democracy.” (Ken Owen in die Sunday Times, 1/8/1993, p.22)

Na sy aftrede het De Klerk dit betreur dat hy nie die ANC kon oorreed tot ʼn konsensussoekende model nie (Rapport Weekliks, 2/2/2020. p.9). Die feite is dat die NP hulleself aan die einde van die onderhandelinge in so ʼn swak posisie in onderhandel het, met onder andere ʼn oorgangsregering saam met die ANC, dat hulle afhanklik was van die ANC se goedgesindheid en niks meer kon eis of afdwing nie.

FW de Klerk en Roelf Meyer

In ʼn BBC TV-program wat ná die onderhandeling gemaak is, vra die kommentator Cyril Ramaphosa se mening oor mnr. De Klerk. Ramaphosa antwoord:

In his speech on the second February 1990 he thought that by unbanning the ANC, he would be able to control political events in our country. I don’t believe that he knew that he was actually unleashing a force, which he would find far, far, far beyond his own political imagination and control.

Oudpresidente Nelson Mandela en FW de Klerk tydens vredesamesprekings op 6 Augustus 1990 (Bron: AlJazeera)

Toe mnr. Ramaphosa in dieselfde program oor sy onderhandelingsvennoot mnr. Roelf Meyer uitgevra is, het hy verwys na die informele partytjie wat die ANC en die NP gehou het na die finale onderhandelinge afgehandel is:

I was able to see Roelf Meyer for the first-time dancing on the floor where we were having this party, he was quite happy, he was quite jovial – and I kept wondering whether I would have been as happy as he was if I was in his position – having finally given in, in the way that they had.

Skep ʼn eie toekoms

Maar dit is die verlede. Nou moet ons ʼn toekoms skep met die werklikhede van vandag. Waar die staat misluk, is ons reeds besig om eie alternatiewe te skep.

Ons het reeds privaat veiligheidsdienste – waar die polisie misluk.

Ons maak self die slaggate in ons dorpe reg – waar stadsrade dit nie meer doen nie.

Ons het reeds privaat afleweringsdienste – waar die poskantoor misluk.

Afrikaners is besig om ʼn privaat Universiteit en skole te skep. Hoekom? Omdat mnr. Roelf Meyer se 1996 onderhandelde Grondwet en die “belangrike onafhanklike grondwethof” waarna mnr. De Klerk so trots in toesprake verwys het, nie meer Afrikaanse onderrig waarborg nie.

Toespraak in die parlement deur dr. Pieter Mulder (Foto: Verskaf/Pieter Mulder)

In artikels en politieke debatte argumenteer ons steeds oor minderheidsregte en verduidelik hoe selfbeskikking, federasie, outonomie, kultuurrade en soortgelyke metodes minderhede se probleme op internasionaal erkende maniere kan oplos. Voorstelle wat destyds by die onderhandelinge van die tafel gevee is.

Staatsman of kortermyn politikus?

ʼn Populistiese stelling is dat ʼn staatsman gemeet word aan hoe ver hy oor die simboliese bult die toekoms in kan sien. Hy kry erkenning vir sy suksesvolle beplanning vir toekomstige geslagte. ʼn Politikus daarteenoor dink kort termyn en kan net tot by die volgende verkiesing sien.

Mnr. FW de Klerk moet hieraan getoets word. Mnr. De Klerk was ʼn dapper politikus met sy 2 Februarie 1990-aankondiging toe verandering nodig was. Hiervoor verdien hy erkenning. Met die inhoud van die onderhandelinge het hy egter misluk.

As doelwit met die onderhandeling het hy die desentralisering van politieke mag en magsdeling gestel. Magsdeling wat sal keer dat daar nie wit of swart dominasie sal wees nie. Die slegste stelsel vir Suid-Afrika is ʼn “winner-takes-all dispensation” argumenteer hy in 1992. (Kyk die toesprake hierbo aangehaal.) Tog is dit presies wat gebeur het. Ons sit vandag met ʼn wenner neem alles-situasie; met sterk gesentraliseerde politieke mag en swart dominasie sonder enige magsdeling.

Mnr. De Klerk en sy span het met swak onderhandeling nie die eenmalige geleentheid benut om ʼn werklike wen-wen-oplossing vir almal in Suid-Afrika te kry nie. So ʼn geleentheid kom eenkeer in ʼn leeftyd. Hierin was hy geen versiende staatsman nie.

  • Hou Maroela Media gedurende Aprilmaand dop vir meer artikels oor Suid-Afrika 30 jaar sedert bedelingsverandering. Waarom het dit wat in 1994 in die vooruitsig gestel is nié gerealiseer vir die man op die straat nie? Hoe beoordeel ʼn mens ʼn steierende bedeling in dit wat beloof om ʼn waterskeidingsverkiesingsjaar te wees? Wat maak ʼn mens met die gewig van ʼn mislukkende regering en bedeling terwyl die werklikheid onverpoosd voortstoom? Hoe stel jy ʼn beter toekoms in die vooruitsig sonder om terug te gryp na die verlede?

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Pieter Mulder

Dr Pieter Mulder is ’n voormalige VF Plus-leier, voormalige parlementslid en professor.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

21 Kommentare

Nici ·

Ek gaan hierdie baie lang artikel lees. As ek vandag dink aan Roelf en die chaos van daai tyd, kry ek nou nog nagmerries.

Werner ·

Nadat ek die hele artikel gelees het, moet ek nou gaan stort, miskien kan ek die walging van my lyf afskrop. Met leiers soos Paul Kruger en HF Verwoerd, moet Afrikaners seker maar ook leiers soos FW de Klerk en Roelf Meyer hê om die balans terug te bring. Mag ons nooit weer met sulke leiers gestraf word nie. Dankie prof. Mulder vir die artikel, hopelik sal die vroeë 90’s fiasko nog lank onthou word sodat ons in die toekoms sal onthou dat ons wen wanneer on laer trek en veg, en verloor wanneer ons onbeholpe onderhandelaars aanstel.

houopkruip ·

Briljant verwoord dr M.
Die paar imbisiele wat hier hoofsaaklik bespreek word (en hulle party) sedert 1980 (ja, 1980) maak mens steeds naar.
Ek het ongelukkig nie tyd om verder kommentaar te lewer nie – ook goed so, want dit sal laster wees, wat in elk geval nie gepubliseer sal word nie.
Tragies dat dieselfde naiwiteit steeds onder ons volkie is, en baie van die 80’s en 90’s se mislukte wesens ongelukkig nog steeds leef.

Michael ·

De klerk en sy bende leuenaars het die mense belieg om hulle ondeurdagte plan te ondersteun. Apartheid was verkeerd en moes sneuwel maar nie soos die klomp dit gedoen het nie en dit is die grootste rede waarom sa is waar hy vandag is.de klerk het sy nalatenskap beleef maar nooit die mense wie se kinders onnodig gesterf het op die grense verskoning gevra nie want hy en sy bende het veilig agter hoë mure gesit met die beste sekuriteit.My geskiedenis boek sal daar na hulle verwys word as leuenaars, moordenaars en gewetenlose goed.

gatgogga ·

Dat de Klerk ‘n naiewe, kortsigtige politiekus was, word nie meer betwyvel nie. Ek onthou nog hoe hy vermakerig met daardie smalende grynslag op sy gesig rondgeloop het.
Maar die groot vraag bly nog steeds: wat het hom eintlik gemotiveer om die land te verkoop?

Republikein in die Wes Kaap ·

Die ironie is dat die land in elk geval gaan opbreek. SA was nog nooit lewensvatbaar nie. Net jammer ons het reeds dekades verspil. Net té veel Afrikaners het verarm.

skurweberg ·

Elkeen moet maar vir hom/haarself die saak uitmaak. Die feit is egter dat ons min keuses in SA oor het. Ons visie vir die toekoms moet NOU sterker wees as ons geheue oor die verlede. anders stuur ons op ‘n ramp af. Die verval in SA, Zim en baie ander Afrika lande is tans vars in die geheue. Everyone has to decide for themselves. However, the fact is that we have few choices left in SA. Our vision for the future NOW must be stronger than our memory about the past. otherwise we are headed for disaster. The decline in Zim and many other African countries is currently fresh in the memory..

Sokrates ·

Daar word nou gevra “Wat het die onderhandelaars gemotiveer om die land op n skinkbord weg te gee?” Die antwoord lê klinkklaar in Flip Buys se artikel van gister. Die DENKFOUT het ingeskop. Naanlik, die opgewondenheid oor die val vd Berlynse Muur, die idee dat kommunisme “vir altyd” gesneuwel het, dat almal eintlik graag “westers”wil wees, met klassieke westerse liberale waardes vorentoe wil gaan….. Vandag weet ons dat dit n groot en naiëwe en goedgelowige oordeelsfout was…….Hierdie selfde denkfout onderlê tans die westerse beskawing se selfgekose selfmoord en ondergang…….

OW ·

@ gatgogga.Om jou vraag te beantwoord moet mens na my mening, kyk in water toestande SA was voor 1994.Die lyn om die nek is net al hoe stywer getrek agv die apartheidsbeleid en SA is so te sê op alle politieke fronte geboikot van sport tot ekonomie noem maar op.Ons kon eenvoudig nie so aangaan nie,dit was nie volhoubaar nie.Ek dink die onderhande-
lings was te vinnig afgehandel en daar is nie na alle demokratiese modelle en prosesse gekyk en oorweeg nie.

Republikein in die Wes Kaap ·

Werner, Afrikaners is tropwolwe en sal hulle leiers altyd blindelings volg. Dit was nog altyd so en sal so bly. Afrikaner leiers is nog nooit verkies nie. Hulle is selfaangestel óf word deur hul onmiddellike kliek aangewys om namens ‘n klein groepie te praat.

skurweberg ·

Die sondige begeertes van die mens en hy wat die mens mislei en daartoe verlei en aanmoedig sit agter alles wat in SA maar ook wereldwyd gebeur.

piet ·

Wensdenkery met “billike verdeling van grond”. Nee wat, die meerderheid sal oorheers al staan jy ook op jou kop. Veral met SA se verlede van onderdrukking en ‘n uiters ontstoke meerderheid swartes wat 90% van die bevolking uitmaak en elke dag in hulle duisendtalle betoog het, kon hierdie onderhandelinge net een pad gaan anders was dit burgeroorlog en ‘n totale gemors.

Jacques ·

Ek onthou nog die Referendum plakkaat hierbo. Merkwaardig hoe al daardie waarskuwings goed gegrond was, alles het waar geword. Ek onthou ook baie goed hoe “verligtes” geskree het “Dit sal NOOIT gebeur!” nie. Ek wonder wat sê die verligtes nou? Meeste seker in die buiteland. As ek so na Afrikaners se argumente luister oor waar hulle dié keer gaan stem in 2024, glo ek vas dat Afrikaners nie veel geleer het uit hulle 1992 boggerop nie. Tragies.

Hendrik ·

Wel die oplossings is voorhandliggend. Kanton / federale stelsel is die antwoord om die Massa oorheersing in die demokrasie te stop. Hoe doen ons dit? Daar is al reeds gemeenskappe wat totaal onafhanklik is en alreeds kantonne is en met die #CapeExit en moontlike #KZNexit begin die land alreeds verdeel in kanton/federale stelsel. Die kans om die regering te dwing om hierdie pad te volg is baie skraal en gemeenskappe moet eenvoudig begin #exit deur eie dienste te verskaf. Wel die regering kan nie meer die dienste lewer nie.

kragaap ·

Al wat dit nou is is ‘n lae intensiteit burgeroorlog met al die vergrype en gruwels wat saam met dit gaan. Weggegee op ‘n skinkbord. Mzansi is nou nog ‘n gefaalde Afrika sirkus.

piet ·

Dalk as ons 90% van die bevolking nie onderdruk het nie en van totale mag ontneem het nie was ons in ‘n beter posisie om te onderhandel. Hierdie beleid moes een of ander tyd ge-backfire het, kon nie anders nie en 90% van die bevolking sou dit ook nie toelaat en verder verduur het nie.

kragaap ·

Ongelukkig toe 90% van die bevolking nie meer “onderdruk” is nie toe verander dit in die gemors wat dit nou is. Binne baie minder jare as wat die “onderdrukking” geduur het. Wat sê dit vir jou ?

piet ·

Soek die fout by die Apartheidmanne met hulle kortsigtigheid (eintlik verwaandheid) wat die lewe nou vir hulle afstammelinge moeilik maak. Eintlik lafaards gewees wat die lekker lewe geniet het en nou moet ons as afstammelinge met die nagevolge sit van hulle soustrein. Gedink jy kan meer as 90% van die bevolking soos gemors behandel en dink jy gaan daarmee ongeerg wegkom? Aikonna, vat jou pakslae.

Walter ·

Korrek, FW en die NP sal aan die uitkoms van besluite gemeet word. Mag hy, met al sy foute en tekortkominge, in vrede rus.

CR se kommentaar oor Roelf se als. “He is a modest man with a great deal to be modest about”.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.