De Klerk se dood, die reaksie daarop en goeie maniere

FW de Klerk (Foto: RODGER BOSCH/AFP)

Ek wil vandag oor ’n ongewone onderwerp skryf – die politieke implikasies van goeie maniere. Glo my maar, goeie maniere het wel deeglik ingrypende politieke implikasies.

Die onderwerp is gekies na aanleiding van alle reaksies op oudpresident FW de Klerk se sterfte.

In verskeie publikasies het dese en gene (ook die uwe) ’n eiertjie gelê oor die rol wat die oorledene in ons land se geskiedenis gespeel het. En, soos die gewoonte mos maar deesdae is, het elkeen met ’n mening onderaan die stukke op die internet gereageer.

Sommige van die reaksies was deurdag, genuanseerd en gematig-positief of -negatief. Ek het hulle nie getel nie, maar my indruk was dat tussen twee-derdes en driekwart egter op ’n woedende geskel en verwensings neergekom het dat De Klerk asseblief lekker in die hel moet brand. En dit alte dikwels onder skuilname.

Van die woorde en begrippe wat weer en weer gebruik is, was onder andere “verraad”, “uitverkoop” en “oorgawe”. Dit het met die uitvoerige gebruik van byvoeglike naamwoorde gepaard gegaan.

Laat ek sommer met die intrapslag misverstande voorkom. Dis nie vir my om te besluit of mense De Klerk se rol in ons geskiedenis positief of negatief moet beoordeel nie.

My eie beoordeling was genuanseerd positief, met inagneming daarvan dat hy na my mening ook belangrike foute begaan het. Maar dit daar gelaat.

Synde ’n oortuigde aanhanger van die Westerse liberale demokrasie, sal ek nóóit iemand se reg om ’n mening vryelik te verkondig wil beperk nie. Vrye denke en vrye menings is immers die hoeksteen van enige demokratiese stelsel; daarsonder is dit ’n leë begrip.

Dit gaan dus vir my nie daaroor dat talle mense meen De Klerk se rol was negatief nie. Dis hul rég, en daardie reg mag nie bevraagteken word nie.

Dit gaan vir my oor die geskel en verwensings wat daarmee gepaard gegaan het. Die gebrek aan goeie maniere.

Baie mense maak die fout om die ekstreme in die politiek as twee uiteindes van ’n reguit lyn tussen links en regs te sien. Dat dit ’n fout is, blyk al as jy byvoorbeeld die regimes van Josef Stalin en Adolf Hitler met mekaar vergelyk.

Die Stalin-regime – is die geykte siening – was ekstremisties links, en dié van Hitler ekstremisties regs. Verder uit mekaar as dit kan jy hulle dus nie plaas nie. Of hoe?

Verkeerd. Dis waar dat daar duidelike verskille betreffende die inhoud van hul ideologieë was – by Stalin was klas die deurslaggewende faktor; by Hitler was dit ras.

Die mentaliteit waarmee hulle egter die politiek benader het, was identies. Albei was só onverdraagsaam dat hulle álle afwykende menings met groot geweld bestry het – tronkstraf, konsentrasiekampe, moord, noem maar op.

Albei het die openbare mening op ongekende skaal bepaal – die monddoodmaak van alternatiewe menings, die inspan van alle openbare media (koerante, tydskrifte, radio) om net húl waarheid te verkondig. Albei het hul eie oortuigings tot die enigste denkbare (en dus toegelate) waarheid verhef, en alle ánder menings was ’n misdaad.

Met ander woorde, in plaas daarvan dat Stalin en Hitler ideologies aan die twee uiteindes van ’n reguit lyn geplaas word, is dit eerder aan die uiteindes van ’n hoefyster, waar die uiteindes dus behoorlik naby aan mekaar is. Die égte teenstelling is dus nie tussen línkse en régse ekstremisme nie, maar tussen ekstremisme en gematigdheid.

Terug by die slegte maniere na aanleiding van De Klerk se dood. Wat jy by ’n ontstellende groot deel van die reaksies gesien het, was ’n mentaliteit wat aan die ekstremisme van Stalin en Hitler herinner.

Let wel, ek sê nie die betrokkenes is kommuniste of Nazi’s nie. Ek sê die geskree en geskel waarmee hulle De Klerk se dood begroet het, herinner aan die denkwyse van dié twee rigtings.

Dit geld dus vir sowel die EFF as die regse ekstremiste se gifspuitery. Daar is geen essensiële verskil nie.

Gelukkig het Suid-Afrika ’n liberaal-demokratiese grondwet wat dit moeilik maak om dergelike haatvervulde houdings tot regeringsbeleid te verhef. Let wel, nie onmóóntlik nie, maar moeilik.

In beginsel beperk ons grondwetlike stelsel die regering se mag – deur die verspreiding van mag, en die feit dat opposisiepartye en die vrye media wantoestande gereeld aan die kaak stel. En uiteindelik manifesteer dit hom, soos ons die laaste weke met die plaaslike verkiesing kon gesien het, in ’n sigbare agteruitgang van die regerende party (wat met sy eie kommunistiese en Afrikanistiese agtergrond ook maar ’n dubbelsinnige verhouding met die liberale demokrasie het).

My kommer is dat die geskel en geskree na aanleiding van De Klerk se dood ’n mentaliteit openbaar wat my soms laat skrik. Dis juis dié soort mentaliteit wat Stalin en Hitler se totalitêre diktature vergemaklik het.

In ’n egte demokrasie is dit, alles in ag genome, relatief minder belangrik presies hoe jy oor De Klerk of enige ander vraagstuk dink. Wat op die keper beskou wél van deurslaggewende belang is, is die goeie maniere waarvan ek in die begin geskryf het.

Goeie maniere, en die liberale demokrasie, vereis dat jy die reg van mense wat anders as jy oor sake dink, moet erken en respekteer. Jy hoef nie met hulle saam te stem nie. Jy kan sterk en selfs skerp met hulle verskil, want dis net deur figuurlik koppe te stamp dat ons as samelewing vordering kan maak.

Ek is byvoorbeeld absoluut géén aanhanger van die ANC/SAKP nie; daarvoor weet ek te veel van hulle. My volgende boek, Terreur en Bevryding: Die ANC/SAKP, Geweld en Kommunisme 1961-1989, waarin ek hul houdings in die jare van ballingskap uitlig, verskyn teen Maart of April aanstaande jaar.

Juis omdat ek te veel weet, begryp ek dat die ANC/SAKP nie regtig ’n vriend van die liberale demokrasie is nie. Die Grondwet lê hom egter aan bande.

Daarom is ook die onbeskofte geeste wat woorde soos “uitverkoop” en “verraad” so kwistig rondstrooi ’n gevaar vir die demokrasie. Die antwoord, sou ek sê, lê in ’n baie eenvoudige begrip: Goeie maniere. Dis altans die vertrekpunt.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Petrus Albertus ·

Alhoewel die kern van hierdie argument ooglopend waar is – ek is persoonlik van mening dat Trump heel moontlik nou nog in die withuis sou gesit het as hy beter maniere gehad het – dink ek tog mens moet versigtig wees om alle heftige reaksie oor dieselfde kam te skeer nie. Die reaksie op oud pres. De Klerk se dood moet geoordeel word aan die impak wat sy leierskap en besluite op die lewens van Suid-Afrikaners gehad het en die werklike aard van sy naletenskap. Die grondwet is ‘n wonderlike ideaal en, so word daar vir ons vertel, ‘n model van wat dit behoort te wees. As die grondwet egter nie beslag vind in die alledaagse lewe nie, soos dit toenemend in Suid-Afrika die geval blyk te wees, beteken dit eintlik niks. Om mense tot die hel te verdoem is onanvaarbaar en gevaarlik – dit kom net die Here toe. Maar om geregverdigd woedend te wees oor die stiksienige besluite van politici, wat nie enige erkentlikheid toon vir die gevolge van hulle besluite nie, is nie moreel verkeerd nie.

Schalk ·

Daar is ‘n ou gesegde , as jy nie iets positief of goeds kan se nie, bly net stil.

AW ·

Waarom een persoon se Dood, nou soveel stof laat op skiet , maak net nie sin nie!!

Daar is vandag, mense, en ons weet wie hulle is wat met Blou Moord en met wat nog, weg kom , behoord daar nie eerder tyd gespandeer word aan daardie Korrupte spul nie!?

Wicus ·

Destyds toe de Klerk oorgevat het by PW het ek verwagtinge gehad siende dat hy as konserwatief voorgekom het. Ek wonder waar was die draaipunt.

Die geskiedenis is ‘n moeilike ding, wie weet wat die uitkoms sou wees met ander besluite. Was dit goed vir die Boere om aan te hou veg na Pretoria geval het, ons sou aansienlik sterker in getal gewees het sonder die konsentrasiekamp volksmoord, moes ons nie liewer uit die WWII gebly het nie, hoe sou die gesk verloop het as Verwoerd buitelandse kapitaal in die Tuislande toegelaat het, wat sou gebeur het as Afr nie afgedwing was as onderrig taal nie (Soweto onluste), sou ons nie beter af gewees het sonder TV nie, vrae, vrae.

Persoonlik hou ek nie van de Klerk nie, sy aandag was nie by die onderhandelinge nie en Meyer en Wessels is ore aangesit. Ook is ons wys gemaak daar kom ‘n 2de referendum en ene Hernus Kriel het plegtig verklaar die NP sal ons nooit in die steek laat nie.

DK se opsies was egter min, hy kon wel vir beter beding he

Marthinus W ·

Wicus, dalk het FW se broer, Willem, wat die begrippe “verkramp” en “verlig” geskep het, hom bearbei. Toe PW vervang is, is daar gestem vir FW of Barend du Plessis; laasgenoemde het met n paar stemme teen FW verloor. Hoe sou die geskiedenis verloop het indien Barend die prez was?n Paar dae voor 16 Junie 1976, het munisipale werkers in Soweto (familie van my) `n valskerm ontdek. Iemand het dus van buite af ingespring om die opstande aan die gang te kry.
FW het vir my as arrogant voorgekom, maar as president het ek van hom gehou. Ek stem saam met jou dat Roelf Meyer-hulle deur Cyril-hulle ore aangesit is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.