De Kock, McBride, Strydom: Vergifnis kom moeilik

Robert McBride Foto: Werner Beukes/SAPA

Robert McBride Foto: Werner Beukes/SAPA

Suid-Afrika se onlangse geskiedenis is vol gruwelikhede. Die ANC en die Nasionale Party-regering het mekaar behoorlik wreed gegaffel en sekere individuele voetsoldate het in die proses die simbool van dié misdade geword.

Veral drie name spring in die oog, van wie die eerste twee tans in die nuus is: Eugène de Kock, Robert McBride en Barend Strydom. Wat veral interessant is, is hoe Suid-Afrika omgaan met dié name – en dus ook met sy verlede.

Eugène de Kock is die offisier in die veiligheidspolisie wat deur sommige “Prime Evil” gedoop is. Hy is die man wat destyds ANC-terroriste genadeloos gejag het, hom nie aan die (effense) beperkinge van die destydse reg gesteur het nie en die terroriste wreedaardig vermoor het.

Robert McBride weer was die jong bruin man, vol woede oor wat hy as die onreg van apartheid ervaar het, wat ʼn kragtige motorbom buite die Why Not- en Magoo’s-kroeg in Durban laat ontplof het. Drie jong vroue is in die ontploffing dood en nog 89 beseer, van wie sommige ernstig.

Die derde man, Barend Strydom, ook bekend as die Wit Wolf, het in November 1988 sewe swartmense koelbloedig op Strijdomplein in Pretoria afgemaai en nog 15 gewond. As oefenlopie het hy tevore ʼn vrou doodgeskiet en nog een gewond.

In sy hofsaak het Strydom verklaar hy was “ʼn soldaat vir my God, my volk en my land” en dat swartmense nie ménse is nie, want hulle is nie wit nie.

Sover ʼn mens kon vasstel, het Strydom heeltemal onder die kollektiewe Suid-Afrikaanse radarskerm verdwyn, maar De Kock en McBride duik kort-kort in die nuus op.

Volgens berigte was De Kock verlede week by die Franschoek-letterkundefees toe Annemarie Jansen, sy biograaf, voor ʼn gehoor oor haar boek gesels het. ʼn Skrywer, Lauren Beukes, het hom in die gehoor herken, vol afsku op hom afgestap en geëis hy moet padgee, wat hy onmiddellik gedoen het.

Robert McBride is nie in die nuus oor sy destydse bomplantery nie, maar omdat hy as hoof van Opod, die onafhanklike polisie-ondersoekdiens (wat polisie-oortredings moet ondersoek) geweier het om die Zuma-regering se politieke agenda te dien. ʼn Voorwendsel is gevind om hom te skors.

Hy het nou saam met Ivan Pillay, gewese adjunk-kommissaris van die SA Inkomstediens en genl. Anwa Dramat, gewese hoof van die Valke (albei eweneens om klaarblyklik politieke redes geskors), ʼn verklaring uitgereik waarin hulle hul skorsing toeskryf aan ANC-pogings om hul stryd teen korrupsie te kortwiek.

Wat die drie – De Kock, McBride en Strydom – verbind, is dat almal skuldig bevind is aan gruwelike misdade, twee ter verdediging van apartheid en een om dit uit die weg te ruim. Die verskil is hoe hulle met hul eie misdade omgegaan het.

De Kock het 20 jaar in die gevangenis deurgebring voordat hy vrygelaat is. Hy het herhaaldelik vergifnis gevra en sy samewerking gegee om naasbestaandes van sy slagoffers in staat te stel om die boek toe te maak.

In die afgelope Sondag se Rapport skryf Palesa Morudu, wie se broer – as ek dit reg verstaan – een van De Kock se slagoffers was, sy het in Franschoek tydens Jansen se optrede toevallig langs De Kock gesit. Sy skryf sy het volkome verstar. Maar toe …

Terwyl Jansen geantwoord het op ʼn vraag of De Kock ooit berou getoon het, het Morudu uit die hoek van haar oog opgemerk dat hy stilweg begin huil het. Sy het saamgehuil.

De Kock het sy skuld betaal. Hy sal altyd gebuk gaan onder wat hy gedoen het, maar hy is ver van die man wat hy destyds was.

Iets soortgelyk, ofskoon op die oog af in ʼn effens mindere mate, geld vir McBride. Ook McBride het berou getoon en sy slagoffers en hul naasbestaandes om verskoning gevra vir wat hy hulle aangedoen het.

McBride is destyds ter dood veroordeel, maar is toe deur die F.W. de Klerk-regering vrygelaat en het amnestie van die Waarheids-en-Versoeningskommissie ontvang. Hy was daarna nog by enkele bedenklike aktiwiteite betrokke, maar ook hy is duidelik nie meer die man wat hy was nie.

Nou is hy self ʼn slagoffer van ʼn korrupte regering wat wil keer dat hy korrupsie te doeltreffend beveg.

Wat van Barend Strydom geword het, weet ek nie. Ná sy vrylating – hy is saam met McBride vrygelaat en het amnestie van die WVK ontvang – het hy verklaar hy sal wéér ʼn klomp swartmense doodskiet as dit nodig is. Hy het ook gesê hy werk aan ʼn alternatiewe vertaling van die Bybel waarin die “apartheid wat wegvertaal is” (in die 1983-vertaling) teruggesit sou word.

Wat hy deesdae doen, weet ek nie. Dis onbekend of hy steeds ʼn rassis is en of hy dalk tot bekering gekom het.

Hoe dit ookal sy, dis interessant om te sien hoe die gemeenskap veral met De Kock en McBride omgaan (aangesien Strydom heeltemal onder die radarskerm verdwyn het, kan ʼn mens nie veel meer oor sy geval sê nie).

Die punt wat hier gemaak moet word, is dat vergewe (let wel, ek praat nie van vergeet nie!) iets is wat moeilik kom.

Baie witmense kan McBride maar nie vergewe nie. En inderdaad, as ʼn mens McBride se kwasterige persoonlikheid in ag neem, maak hy dit dikwels nie maklik vir mense om hom te vergewe nie.

Maar feit bly staan: hy hét berou getoon. Hy hét ʼn verantwoordelike posisie verkry wat hy na eer en gewete probeer uitoefen het.

Toe hy met die korrupsie van die ANC – sy eie politieke beweging – gekonfronteer word, het hy verkies om sy gewete te volg, eerder as om die knie te buig.

Ook De Kock, volgens alle getuienis ʼn gemartelde siel, het sy bes gedoen om sy lewe in ʼn ander rigting te stuur. Hy verdien dit nie dat iemand soos Lauren Beukes, wat in ʼn blog op die internet (http://laurenbeukes.com/on-asking-eugene-de-kock-to-leave-the-sunday-times-prize-cocktail-party/) agter haar swart skrywersvriende se beledigde gevoelens skuil, so hoogheilig optree nie.

Met alle respek: Niks wat enigiemand hier op die aarde doen, kan die geskiedenis verander nie. Wat gebeur het, het onherroeplik gebeur.

Maar ons kan wel die toekoms verander. Ons kan dit doen deur ʼn greintjie medemenslikheid te toon aan mense wat berou oor hul verlede het.

Helaas, iemand met Lauren Beukes se sondelose aard is klaarblyklik nie daartoe in staat nie.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Adoons ·

Gerugte van wapensmokkelary in die pers en die dronkbestuurdebakel en klagtes van inmenging met die gereg maak dit nou ook nie juis geloofwaardig dat McBride se bekering so eg was soos wat die skrywer aanvoer nie.

Flippie ·

Lauren Beukes is een van daai wat wat finansieële gewin uit anti-witheid verdien. Dit het tyd geword dat ons vir mense soos Beukes en Schutte nie die geleentheid of platform gee om hulle platvloerse mentaliteit aan ons af te smeer nie.

Wat vir my die ergste is van die twee (daar is nog ‘n spul ander ook) is die feit dat hulle die vermetelheid het om hulleself aan te stel as beskermers van swart mense so asof hulle dink dat swartmense nie instaat is om vir hulleself te dink en te praat nie. As ‘n mens mooi daaraan din, kan ‘n saak uitgemaak word dat hulle die eintlike rassiste is.

Frans C ·

As die NP onderhandellaars net eerlik met die publiek was en die gruweldade van die ANC
in ballingskap van moord, korrupsie,smokkel ens geopenbaar het sou die geskiedenis dalk ‘n ander loop geneem het en terroriste nie so deur misplastes tuis en oorsee opgehemel gewees het.

Hoeveel mense weet dat die ANC in ballingskap hul eie opstandelinge met RPG’s aan flarde geskiet het en die veiligheidsmagte van ander lande gebruik het om opstande deur opstandelinge te onderdruk.

Henry ·

Ek weet nie waarom Strydom ingesleep word by De Kock en Mc Bride se aktiwiteite wat onderskeidelik as lede van die SAP en ANC, hul dade gepleeg het nie. ‘Wit Wolf’ Strydom was vir seker nie ‘n voetsoldaat van die ‘Apaarthaait ridjiem’ nie. Hy het uit eie beweging die moorde gepleeg. Dit is om verskeie redes verkeerd om Strydom se wandade op die brood van die ou NP te smeer.

Veel erger isdie moorde en aanrandings wat daagliks op plase en in die stede en dorpe van hierdie droewe land plaasvind. Wreedhede waarvoor daar kwalik vergifnis kan wees en wat mynsinsiens veel meer aandag verdien. Trouens, wanneer die wreedhede wat ons daagliks in die gesig staar eendag end kry, sal ek en my huis almiskie met meer empatie na skryfsels soos hierbo kyk.

hans ·

Oor watter bevoegdheid het Lauren Beukes beskik om iemand aan te se om n bykoms te verlaat,dink nie sy die gasheer was of ook nie n polisiebeampte of gemagtigde veiligheidsbeampte.

Oom Kalahari ·

@hans, ek stem volkome met jou skrywe en stelling. Lauren Beukes het probeer gesig koop om ander te verkleineineer in die openbaar en op uitnodiging daar teenwoordig was. Hy het soos andere alreeds geboet vir wat hy gedoen het en dit met berou deur-deur betoon. Sy en haar maatjie Gilian Shutte is van dieselfde waters, swak selfbeeld wat iets wil bereik om ander grond toe te bring met swak handelings vermoëns. Ek vermy sulke tipes met ‘n passie.

Rupert Ashford ·

Dankie Leopold. Weereens nugter en gebalanseer soos ek jou ken. Daar is baie Beukesse en Schuttes deesdae wat produkte is van die sosiale media era en hulleself “joernaliste” noem maar wat eintlik net sensasiesoekertjies en losers is wat smag na een oomblik van roem om op die mep te kom. Ons kitskultuur sterk ongelukkig daardie neiging en ons sal meer soos hulle sien in die toekoms.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.