Debat groter as die deelnemers

Ons was daar: Wenners van die oorlog om Suider-Afrika werp nie alleen deur die verhale van sy 62 deelnemers nuwe lig op die onderwerp nie, maar slaag daarin om ook kritiese perspektiewe uit ander oorde te ontlok. Na aanleiding van artikels wat die afgelope maand in Beeld verskyn het, het Dié Groot Debat besluit om ʼn spesiale gespreksruimte vir verdere bespreking oor hierdie boek te skep – sien gerus hier.

Juis omdat meer duidelikheid oor die grensoorlog se verloop en meriete so waardevol is, is dit belangrik dat die gesprek nie strand op die deelnemende persone nie. Die debat is immers groter as die deelnemers. Maar tot die gevaar van ʼn gestrande debat het Dié Groot Debat gister self bygedra deur te fokus op die persoon van Louis Bothma, een van die deelnemers, in stede van op die argument ter sprake.

Op 3 November het Louis Bothma in Beeld krities geskryf oor die boek, Ons was daar, met die strekking dat die oorleg eintlik onwenbaar was (Wenners? Ek sien net verloorders, Beeld, 3/11). Kraal Uitgewers – wat Ons was daar gepubliseer het – se bestuurder, Johan Kruger, het op 16 November gereageer met Die waarheid wat talle self beleef, waarna Louis Bothma repliek gelewer het in Die waarheid sneuwel (Beeld, 21/11). Met goedgunstiglike toestemming van Beeld het ons hierdie artikels in ʼn spesiale ruimte op Dié Groot Debat opgeneem en nooi ons nou graag enigiemand om verdere bydraes te lewer, wat ons ook hier sal publiseer.

Die eerste nuwe artikel het ons gister geplaas – dié van generaal-majoor Marius Oelschig – onder die titel “… en Louis Bothma is die grootste verloorder.”

Dié titelkeuse van ons was ʼn fout, aangesien dit daartoe bydra om die aandag op ʼn bepaalde persoon te vestig, in plaas van op die meriete van die eintlike onderwerp – naamlik: hoe behoort ons vandag terug te kyk op die grensoorlog. Ons het die kop intussen verander, maar uit die oorweging wat ons daaraan moes skenk het ʼn paar bykomende gedagtes gespruit.

Terwyl ons self die kop kies, is dit ons redaksionele beleid om nie aan deelnemers se artikels te verander nie. Ter wille van toekomstige deelname aan Dié Groot Debat oor dié onderwerp is daar ʼn aantal redaksionele opmerkings oor die aard daarvan te maak. Ek doen dit aan die hand van Oelschig se artikel, as eerste artikel wat Dié Groot Debat hieroor geplaas het.

Laat ek vanuit die staanspoor twee dinge beklemtoon: 1) ek het nóg die ervaring, nóg die kennis om veel tot die inhoud van die debat by te dra en dit is ook nie my bedoeling nie; en 2) by Dié Groot Debat het ons groot dankbaarheid vir die moeite en die dinkwerk wat elkeen van die persone wat al vir ons bydraes gelewer het in hulle artikels belê.

In Oelschig se artikel word twee benaderings gekombineer: beide Bothma se historiese ontleding en sy persoon kom ter sprake.

Oelschig se historiese kommentaar is veral prikkelend – en dit sal interessant wees om repliek daarop te kry, byvoorbeeld: “Waarom was die ‘gesoute’ Kubaanse generaal, Ochoa Sanchez, wat so heldhaftig die Suid-Afrikaners uitoorlê het, deur Fidel Castro gefusilleer?” Dis die soort ding wat ʼn mens nader aan begrip van die gebeure bring en verhelderend inwerk en ek stel nogal belang in die antwoord.

Die tweede benadering, waar die persoon van Bothma ter sprake kom, werk egter eintlik ten nadeel van die historiese kommentaar – in elk geval uit die perspektief van die leser. Die leser – of hy nou ‘daar was’ of nie – kan baie put uit wat skrywers in terme van feite en ontleding op die tafel plaas, maar eintlik baie min doen met heel spesifieke menings oor ʼn ander skrywer se gemoed en motivering. Of Bothma nou inderdaad “hartseer en bitterbek” is of saam met dr. Leopold Scholtz “arrogante smadelikheid” openbaar – soos Oelschig dit stel – of nie, die vermelding daarvan laat die leser onseker oor of dit die geskiedenisvertolking is wat ter sprake is, of Bothma en Scholtz.

Die belangrikste punt vir die deelnemers is sekerlik tog die onderwerp: begrip vir wat in die oorlog gebeur het en hoe ons vandag daaroor moet dink. Uit ʼn redaksionele oogpunt is dit duidelik dat die persoonlike benadering (geldig of ongeldig) die – veel belangriker – historiese benadering se trefkrag demp. Dié Groot Debat was self daaraan skuldig.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Piet le Roux

Piet le Roux is die uitvoerende hoof en direkteur van die sakeregte-organisasie Sakeliga.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

camilleburger ·

Bravo Piet! Soos jy hoop ek dat hierdie debat weer sal voortstoom.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.