Demografie: Afrikaners kan getalleoorlog verloor

Afrikaner

Argieffoto.

Onlangse artikel uit die pen van die bekende demograaf, prof. Flip Smit, dui daarop dat Afrikaners in die jaar 2030 sal moet erken dat hulle die getalleoorlog verloor het. Teen 2050 gaan die situasie nog meer benard wees. Die middeljaarraming plaas Suid-Afrika se algehele bevolking op 56,5 miljoen. Die wit deel van daardie bevolking word op 4,5 miljoen gereken en die Afrikaanstalige deel van die wit bevolking word op 2,7 miljoen gereken.

Smit wys verder daarop dat Suid-Afrika se wit bevolking met 40 000 per jaar afneem, die Afrikaanssprekende deel van daardie groep met 24 000 per jaar. Hy reken dat daar teen 2030 slegs 1,8 miljoen Afrikaners in Suid-Afrika sal wees en teen 2050 slegs 900 000. Dit beteken dat die Afrikaner teen 2050 minder as 1% van die Suid-Afrikaanse bevolking sal uitmaak. Faktore soos emigrasie speel ʼn rol, maar daar word gereken dat daar tans 10 000 meer sterftes as geboortes in Afrikanergeledere is. Wat emigrasie betref, reken prof. Lawrence Schlemmer dat 750 000 Afrikaanstaliges tussen 1990 en 2010 geëmigreer het.

Smit skets in sy artikel ʼn somber prentjie oor die toekoms van die Afrikaner. Dit is ʼn artikel wat duidelik uitwys hoe daar anders gedink en beplan moet word in tye waar nóg getalle nóg politieke mag aan jou kant is. So uitstekend nagevors soos die artikel is, roep Smit tog halt kort voor ʼn daadwerklike oplossing.

In die laaste deel van sy artikel verwys hy na twee groepe Afrikaners. Die een groep onttrek hulle aan die samelewing en vestig hulle binne sekuriteitsgebiede en agter veiligheidsheinings. Dit is diegene wat die pad van politieke korrektheid of die minste weerstand volg. Dan, reken prof. Smit, is daar ook ʼn tweede groep. Dié groep maak bydraes tot die welstand van alle mense en lewer onbaatsugtige diens aan die breër gemeenskap. Sodoende, reken hy, sal hierdie groep hulself onmisbaar maak.

Smit is wel korrek dat bovermelde twee groepe bestaan. Daar is inderdaad die groep wat, ná die verlies van politieke mag, hulself aan die samelewing onttrek het. Hulle vestig hulle op gholflandgoedere en vermy politieke gesprekke uit vrees dat hulle geteiken kan word. Daar is inderdaad ook die tweede groep wat poog om hulself onmisbaar te maak. Die vraag is of hulle daarin slaag. Ongeag die harde werk wat sommige mense in die staatsdiens lewer, sal hulle steeds in die slag bly wanneer dit by regstellende aksie kom. Die gedagte dat jy kan hard werk en jouself sodoende onmisbaar maak, is verskeie kere sedert die instelling van die Wet op Gelyke Indiensneming in 1996 verkeerd bewys.

Afrikaners kan onttrek na hulle veiligheidskomplekse of hard daaraan werk om hulself onmisbaar te probeer maak, maar hulle sal nie met een van die opsies hulle politieke situasie verbeter nie. ʼn Ander alternatief is om selfbeskikking na te streef en te poog om deur middel van die politiek van konsentrasie ʼn meerderheid in ʼn bepaalde grondgebied te vorm. Slegs waar ʼn minderheid ʼn meerderheid in ʼn geografiese gebied vorm, kan hy besluit hoe munisipale belastinggeld bestee word, wat die taalbeleid in plaaslike skole is en wat die naam van die straat is waarin hy bly. Slegs dan sal Afrikaners werklik weer seggenskap hê oor dit wat hulle direk raak.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

James Kemp

Meer oor die skrywer: James Kemp

James is die hoofredakteur van Klankkoerant, ʼn nuus en aktualiteitsprogram wat ook op Pretoria FM uitgesaai word.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

33 Kommentare

Haan ·

Ons probleem is nie ons getalle nie, maar ons yl verspreiding oor hierdie reusagtige land. So kry julle manne daar by Orania soveel as moontlik infrastruktuur aan die gang en dan sal diegene wat in SA wil bly vanself soontoe verhuis. Soos hulle sê in die fliek ‘Field of dreams’… “If you build it, they will come”

Reinhardt ·

Die probleem met Orania is dis nie in die Kaap nie… my punt is niemand wil in n woestyn woon nie. Ek persoonlik is te lief vir die Kaap om ooit Orania te oorweeg. Hoekom kan ons nie Stellenbosch, die Paarl, Wellington en selfs dele van Durbanville ons eie klein staatjie maak nie?

En met “ons” bedoel ek Afrikaanssprekendes wat westerse waardes nastreef… nie “blankes” nie. Daardie eksperiment het mos nou nie gewerk nie, waarom vasklou aan dit?

DP ·

Ongelukkig sal ons as Afrikaners die op offering moet maak en verhuis na waar ons in die meerderheid is. Die Kaap was altyd n opsie maar ons sien al hoe meer mense wat toegelaat word in die naam van swak dienslewering te brand en vernietig. Dit sal toeneem aangesien hulle toegelaat word om dit te doen. Die oplossing sal wees om plekke te identifiseer waar ons demografies die meerderheid sal wees. Orania is op die stadium die antwoord vir die Afrikaner. Ons veiligheid gaan op doe ou einde swaarder weeg as die mooi Kaap provinsie. Gauteng voel al soos voor 1990 op die plase bo teen die Botswana grens waar die boere met hulle wapens moes rondloop. Oor hulle skouer moes loer elke oomblik van die dag. Ons kry daai gevoel in die aande in Gauteng as jy die hekke gaan sluit by jou eie huis. Dit is besig om na die res van die land te versprei. Die gevoel dat jy heeltyd oor jou skouer moet loer, dat jy jou vuurwapen moet saamvat om jou motor te gaan sluit in die aande.

Boerseun ·

Reinhard, hoekom gee jy om waar dit is? Bly maar eerder waar jy is, volkseie is nie vir jou bedoel nie.

Jordaan ·

Ek wonder of daar nog steeds wette gaannodig wees om ons te onderdruk as ons minder as 1% van die bevolking is! Teen die tempo wat die “sondes van die verlede” aan ons toegedig word, seker maar.

Valie ·

As Reinhardt die moeite doen om homself van feite te vergewis sal hy nie sulke onsinnige uitsprake maak nie. Google bietjie hoeveel ton mielies het plase rondom Orania per hektaar verlbou in die kompetisie wat die skool gehou het.

Henry ·

Is moeilik om slegs van mieliepap afhanklik te wees on Valie.

Eish ·

Berigte soos hierdie laat my antidepressante verorber soos Smarties. Ek stuur dus verby en bevraagteken die berekening van die syfers. Op n vorige geleentheid is juis kapsie gemaak teen n geleerde se doodstyding met syfers.

Gerhard ·

Daardie syfers maak min verskil. Wat maak dit saak,1 persent of 2 persent.

Reinhardt ·

En dit is wat die Kaapse party probeer doen. Self-beskikking deur middel van die Switserse Kanton-sisteem. Dit is die enigste uitweg.

As dit nie werk nie moet ons ernstig begin kyk om die pad van die Jode te loop. Gaan vestig jou waar ook al jy wil in die wereld, maar klou vas aan jou kultuur en tradisies.

Boerseun ·

Hoe gaan jy die Kaapse waterprobleem oplos? Mense tog wat nog dink die brittish empire sterk nog tot die suidpunt van Afrika

Eish ·

Dit Reinhardt, is n goeie voorstel. Ek kan nêrens heen gaan nie, dus sal laertrek vir my kan werk. Die Jode egter word onwrikbaar gebind deur die aanhang van n enkele godsdiens eerstens en tweedens die taal. Ons jafels het n swetterjoel denominasies, waardesisteme en standpunte net so wyd soos die Heer se genade. Dit kan dinge maar moeilik maak indien jy enigiets anders dan voorafgedefinieërde waardes in die stoompot gooi.

Ernst ·

Ek is Afrikaans en luister afrikaanse musiek en koop afrikaans. Ek lewe my kultuur trots uit tussen n mengelmoes van mense. Ek hoef nie soos hul te wees nie en andersom. Solank ons mekaar respekteer.

Reinhardt ·

100%. Ek woon in die suidelike voorstede van Kaapstad, die wat die Kaap ken sal weet dis erg Engels hier. Maak dit my anti-Afrikaans? Inteendeel, ek blêr my kar se speakers met Afrikaanse musiek sodat die klomp ingelses kan hoor ons is nog hier.

Paul ·

James, die artikel deur prof. Flip Smit bevat foute. Ek vermoed dat dit deels gebaseer is op syfers wat foutiewelik aan Clem Sunter toegedig word. In werklikheid kom die syfers vanaf News24 se “MyNews24”-portaal waarop enigiemand enige nonsens kan publiseer. In hierdie geval was dit “MarkH” in ‘n artikel getiteld “SA’s youth a time bomb” op MyNews24 in Februarie 2015.
Daardie artikel is later deur iemand per e-pos rondgestuur met Clem Sunter se naam daarby. Dis ‘n klassieke geval van “fopnuus”.

Die artikel van MarkH maak growwe wiskundige foute en bevat demografiese onmoontlikhede.
Prof. Smit het ongelukkig vroeër daarvoor geval en verdere legitimiteit aan die bogstories verleen. (Onthou, hy het meeste van sy akademiese lewe voor die internet gehad.)
In sy jongste artikel skryf prof. Smit dat 1,8 miljoen wit Afrikaanssprekendes in 2030 1,8% van die totale bevolking sal wees. Dit plaas die totale bevolking in 2030 dan op 100 miljoen. So hy sê basies die bevolking sal van 2017 tot 2030 van 56,5 miljoen tot 100 miljoen groei. Dis nie moontlik nie. Daar is 13 miljoen vroue in Suid-Afrika van ouderdomme wat geboorte kan skenk. Om Smit se 100 miljoen te behaal in 13 jaar, moet elkeen vier ADDISIONELE kinders kry tussen nou en 2030. Die gemiddelde getal kinders wat vroue in SA kry in hul hele leeftyd is tans 2.4 en dit DAAL. Smit se 100 miljoen teen 2030 kan nie behaal word nie. Hy maak (gelukkig) ‘n fout. Afrikaners verminder persentasiegewys, maar glad nie so vinnig nie!

Fanie ·

Paul, jy is in die kol. Die ergste is dat Frans Cronjé ook die verkeerde syfers gebruik.

Gerhard ·

So m.a.w dit maak nou op een of ander manier ‘n verskil aan die uitslag? Maak dit regtig ‘n verskil of jy verloor 57 teen 2.7 of 100 teen 1?

Disselboom ·

Die Afrikaner se geskiedenis was nog nooit een van meerderhede nie, maar wel van vernuf, dapperheid en veral, deurslaggewend geloof, kerkwees en beskaafd bly te midde van onbeskaafdheid, bv in die 19de eeu, van grensboere tot Voortrekkers en hoe die land getem is; en die Afrikaner se geskiedenis bepaal Suid-Afrika se geskiedenis: desnieteenstaande (is dit nou nie ‘n lekker Afrikaanse woord nie?) sy getalleminderheid. Terwyl Disselboom saamstem dat daar hard en duidelik, prakties en vrolik gepraat moet word daaroor dat ‘n volk vreugde daarin moet vind om kinders te hê, en die materialisme weer met geloofslewe en kerkwees vervang moet word, is die getalleminderheid nie die deurslaggewende probleem nie: die verslapping en on-dapperheid en on-selfstandige denke is die probleem. En veral die on-geloof is die probleem.

Jan ·

Die wêreld gaan ver vooruit en SA stagneer. Ek sal bly by my 2 kinders. China en India elkeen het klaar meer mense as die hele Afrika. Hongersnoot is beslis Afrika se voorland. Ek sien baie meer Chinese in die toekoms. Ons het darem Namibia wat baie lae bevolking het. Onthou net, dinge werk nooit uit soos mens beplan nie. Ons sal beslis nooit wêreld vrede sien nie. Die volgende wêreld oorlog gaan oor kos en water gaan. Afrika staan nie ñ kans teen die meer gevorderde wêreld nie. “We demand” gaan nog Afrika se ondergang wees.

Sandra ·

Ek bly ook in die suidelike voorstede van Kaapstad. Hier was altyd skole wat Afrikaans was soos Groote Skuur Hoër en Laer, Voortrekker Hoër Skool. Nou is dit heeltemal Engels ên geen wittes gaan meer daar skool nie. Selfs die NG Kerke in Rondebosch en Wynberg sukkel want hier is bitter min Afrikaanssprekendes. Weet nie waar almal nou is nie.

John ·

?.. baie, baie dinge kan en gaan nog gebeur. Nie dat mens jou naaste dit toewens nie, maar waar mense saamdrom in onhigieniese toestande breek pesiektes uit. In erge gevalle is mediese personeel ook sku. Ons regering gebruik die mense-massas om simpatie te wen vir sy ewige stryd teen die glo onderdrukkende minderheid. Hy moet net oppas die’ skerpioen het ‘n giftige angel en hy steek enigeen wat voorkom, ook sy maker. Slaap maar rustig, die aarde sal beslis nie die naweek vergaan nie.

Jaco Fourie ·

Gedurende die begin van die 20st eeu, was die bruinman 80% in getalle kleiner as die wit bevolking. Vandag is die bruinman die tweede grootste bevolkingsgroep, die witman nou derde gereken. Indien die blanke aanwas die huidige tempo handhaaf, gaan die Asiatiese bevolking van die land hom teen die einde van hierdie eeu in getalle verbygesteek. Indien die huidige blank en bruin aanwas tempo gehandhaaf word, gaan Kaaps-dialek eerder as Standaard Afrikaans als Afrikanertaal gereken word.

Indien die Afrikaner buite die laager mentaliteit wat hierbo voorgestel word wil uitbeweeg, sal daar deur organisasies soos AfriForum beplan moet word hoe om Afrikaner emigrasie te stuit, en hoe om vir groter Afrikaner families te beplan en te begroot.

leeu van pretoria ·

Die “geografiese gebiede” in die wereld waar die witman die meerderheid is, word elke dag kleiner. Ons moet dus nie trek na n laaste geografiese gebied, wat in elk geval krimp nie – ons moet bloot beter voortplant waar ons reeds is.

bgj van der westhuizen ·

eerste sal die wit man meer kinders moet kry en dit kan hy nie doen nie wand hy kan dit nie bekostig nie en mense se hulle wil in die kaap bly ons sal maar moet gaan bly waar die swart man en nie wil nie soos in die karoo dit is te harde lewe en warm en wat mense vergeet jy kan aan pas al is dit swaar

rassie ·

Dit gaan nie bloot om hoeveel Afrikaners daar fisies is nie. Dit gaan in werklikheid oor hoeveel Afrikaners ‘n spesifieke toekomsvisie deel en ondersteun. Dan lyk die getalle meer betroubaar as demograwe se inskattings en vooruitskattings.

Te midde van kleinerwordende getalle as gevolg van minder kinders, emigrasie, verengelsing as gevolg van pragmatisme, vrywillige afwysing van kulturele aanhorigheid en bloot gewone traak my nie agtigheid, is die wat oorbly nadat al bogenoemde Afrikaners van die totaal afgetrek word nog baie minder.

Hierdie baie kleiner oorblywende groep moet dan nog weer verder verdeel word as gevolg van hul uiteenlopende en dikwels heeltemaal onversoenbare houdings, standpunte en toekomsvisies. Dan kyk mens na werklike getalle van Afrikaners wat een of ander Afrikaner toekomsvisie deel en ondersteun.

Ongelukkig lyk dit dan nog meer beroerd as die getalle wat demograwe aandui.
Ongeveer iets soos 1000 in Orania, 40 000 ondersteuners van die Boere Volksraad, 200 000 vir Afriforum en 165, 715 vir die VF+ in 2014 en 115 00 in 2016. Dit vergelyk nie baie goed met byvoorbeeld 7,977,723 vir slegs die ANC in 2016 nie.

Dit dui op ‘n maksimum steunbasis vir ‘n praktiese en wettige toekomsvisie van 250 000 volwassenes met ‘n dalende aanwas tendens. Afrikaner spesifieke toekomsvisies sal hiermee moet rekening hou.

Ockie ·

Volgens my is daar net een logiese oplossing wat sin maak as dit kom by “eie gebied”. Die hele Wes Kaap, ons moet krag kan genereer, ons moet hawens hê en ons moet kan brandstof vervaardig. Al die nodige landbou produkte kan ook hier gekweek word.

Frans C ·

Die akrif was aan die muur toe die NP hulself in een van die domste onderhandelinge in enige volk se geskiedenis laat van ‘n inboelie het,met gewaande onweerswolke van ‘n burgeroorlog oor die land. wat
Moes daar dan nie onferhandel word nie? Natuurlik maar jy onderhandel nie met terroriste nie.
Die tyd was ryp om met volksleiers te onderhandel om tot ‘n vergelyk te kom oor hoe hulle,die toekoms sien.Indien volke verteenwoordig was met ‘n vetoreg oor dit wat eg hul eie is op duidelik
geindentifiseerde gebied,was daar van dominasie soos tans geen sprake nie.

Helaas mosterd na die maal. As ‘n mens kyk na die toenemende huwelike oor die kleurgrens
sal die kleurlingbevolking mi ‘n al groter groep voem.

jaco ·

Frans, ek was NA die ANC al in 1990 gewettig is op vergaderings van die regse HNP en Konserwatiewe Party en daar is ‘n sterk punt deur jou sogenaamde “volksleiers” gemaak dat hulle NIE in ‘n volkstaat belangstel nie; by name AP Treurnicht en Ferdi Hartzenberg. Tereurnicht is oorlede voor die nonsens van 1994 begin het. Ferdi Harzenberg lewe lekker op sy pensioen van jare as parlementslid. Moenie die beskuldigings van uitverkoop en verraai dus net voor FW de Klerk en Roelf Meyer gaan gooi nie.

jaco ·

toe die ou Nasionale Party regering in die 1970s gepraat het van latere magsdeling met kleurlinge en indiers, het klein verregse groepies soos Aksie Eie Toekoms en die Oranjewerkers reeds besef dit gaan lei tot meer toegewings, hervormings en uiteindelike “Afrika-demokrasie” met die gapaardgaande chaos. hulle het n volkstaat voorgestel. Die Nasionale Party het dit afgeskiet as rassisme. Die regse Herstigte Nasionale Party en die regse Konserwatiewe Party het dit afgeskiet as “dit kan nie werk nie”. Daar was dus maar 60 volkstaters wat in 1991 Orania gestig het. Alhoewel die ANC al toe gewettig was en met die NPregering “onderhandel” het, het die Konserwatiewe Party steeds geglo “‘n volkstaat kan nie werk nie” en steeds gedink hulle kan n blanke verkiesing wen en so die regering van die land word. Dit het toe ook nooit gebeur nie. Mandela was bereid om na n volkstaatplan te kyk as die Vryheidsfront darem 5% van die stemme kry, maar die 1 miljoen nee stemme van 1992 het in 1994 verminder na net meer as 420 000 vir die Vryheidsfront. In 2 jaar se tyd is 600 000 regse wit kiesers natuurlik almal dood of het die land verlaat of het skielik die “lig” gesien en vir die Nasionale Party gestem. Elke verkiesing na 1994 VERMINDER die VF-Plus se stemme. dit was in 2014 op skaars 160 000. Kortom, ons eie mense se apatie en negatiwiteit van “dit gaan nie werk nie” beteken ons help al jare om ons eie graf te grawe

Brian ·

In die kol, Jaco. Ek kan bevestig dat dit wat jy oor die KP en HNP gesê het 100% waar is. Ek stem ook volkome saam met die res van jou kommentaar.

Pieter K. ·

Die Afrikaner moet eerstens leer om saam te staan.
Verder moet die Afrikaner wees trots ontwikkel.
Dit beteken dan ook dat Afrikaners weer die waarde van respek en dissipline moet leer. Dit geld veral vir die suiwering van ons taal, Afrikaans.
Daar is heelwat organisasies wat roem dat hulle “opstaan”/”daar is” vir die Afrikaner, terwyl hulle in der waarheid ook slegs na hul eie belange omsien, en vrede het met die Afrikaner se beginsels/norme/mense.
Sonder hierdie basiese konsepte gaan die Afrikaner ‘n steil opdraende tegemoet.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.