Demografieverslag bied hoop op talle terreine

dr-leopold-scholtz-kruispaaie

Dr. Leopold Scholtz. Foto: Reint Dykema.

“Demografie is lotsbestemming.” Dié uitspraak, wat veral in sy Engelse weergawe – “Demography is destiny” – bekendheid verwerf het, word (moontlik verkeerdelik) toegeskryf aan die Franse sosioloog Auguste Comte (1798-1857).

Dis aan dié uitspraak dat ek moes dink by die lees van ’n interessante studie oor ’n toename in die Afrikaanse geboortekoers wat in die naweek deur Solidariteit bekend gemaak is.

Luidens Solidariteit se verklaring sal in hierdie dae ’n studie van die Solidariteit-Navorsingsinstituut (SNI) uitgereik word met die gevolgtrekking dat Afrikaanstalige mense die laaste jare weer meer kinders kry. Dit word hoofsaaklik op die statistieke van die 2011-sensus gebaseer, maar “sekondêre bronne” is gebruik om die tendens te bevestig.

So is die doopsyfers van kerke bekyk. Ofskoon kerklidmaatskap (dalk in ’n mindere mate as in byvoorbeeld Europa) as sodanig afneem, lui die SNI se verklaring, “het die doop-per-lidmaat-verhouding net so voor 2011 gestabiliseer en dit het selfs effens toegeneem”.

Dit word verder bevestig deur die behoefte aan nuwe kleuterskole in oorwegend Afrikaanse woonbuurte en Afrikaanse laerskole wat vol is.

Dis van belang om te vermeld dat dit hier gaan om álle Afrikaanssprekendes, nie slegs wit Afrikaners nie. Dit sou interessant wees as die verslag self op dié relevante onderskeid ook ingaan. Immers, bruines vorm, luidens die sensus van 2011, meer as die helfte van alle Afrikaanssprekendes.

As dit alles klop, is dit ’n fassinerende en buitengewoon belangrike verslag wat swanger gaan aan belofte vir die oorlewing van Afrikaans en die Afrikaners.

“Demografie is lotsbestemming” is weliswaar ’n ongenuanseerde stelling, maar dit bevat ’n kern van die waarheid.

Taalsosiologiese studies wat ingaan op die oorlewing en sterfte van tale kom sonder uitsondering tot die gevolgtrekking dat die getalsterkte van ’n taal se sprekers ’n baie groot faktor is. Hoe meer mense ’n taal praat, hoe groter is sy kans om te oorleef.

Nog ’n faktor wat hiermee saamhang, is die ouderdomsverspreiding van die taalsprekers. As die jong mense hulle van ’n taal afwend, as dit hoofsaaklik ouer mense is wat ’n taal nog praat, is daardie taal heel waarskynlik ten dode opgeskrewe.

Wat Afrikaans betref, die taal het deur die sterfte van tienduisende vroue en veral kinders in die Anglo-Boereoorlog ’n yslike knou gekry. In sy seminale studie Die Ontwikkeling van die Politieke Denke van die Afrikaner (deel V) wys die historikus G.D. Scholtz daarop dat die Afrikaners in die 19de eeu deur natuurlike aanwas van sowat 25 000 tot ’n halfmiljoen toegeneem het.

Maar toe kom die oorlog en die Britse konsentrasiekampe. Jare lank is aangeneem dat die Britte se eie statistiek oor die sterfte – sowat 26 000 vroue en kinders onder 16 jaar – akkuraat was. Maar die historikus Celesté Reynolds se nuutste berekening is dat dit eerder 34 000 moet wees (bo en behalwe minstens 20 000 swartes wat dood is).

In 1979 het die vermaarde demograaf prof. Jan Sadie bereken dat daar weens die konsentrasiekampsterftes teen 1980 324 000 (of 12,8%) minder Afrikaners was as wat daar sónder die kampe sou gewees het.

Daarby kom die kwessie van emigrasie. Talle Afrikaners sien – nie heeltemal sonder rede nie – dat die ANC/EFF hulle op sy beste slegs dúld en op sy slegste wegwéns, en emigreer ter wille van hul kinders se toekoms. Volgens die sosioloog prof. Lawrie Schlemmer het 750 000 Afrikaanstaliges (van wie die oorweldigende meerderheid waarskynlik wit is) tussen 1990 en 2010 geëmigreer.

(Hier moet ek my belange verklaar. Ek woon in Nederland. Maar dit is agter die liefde aan; dit het niks met politieke of ekonomiese faktore te make nie. Ek sal nooit iets anders as ’n Afrikaner en Suid-Afrikaner kan wees nie, al is ek meer as nét dit.)

As sake teen dié tempo voortgaan, so het nóg ’n demograaf, prof. Flip Smit, bereken, sal daar teen 2050 slegs 900 000 Afrikaners oor wees, oftewel minder as 1% van die Suid-Afrikaanse bevolking.

As jy dít lees, tref dit jou soos ’n hamerslag tussen die oë. Jou skouers hang heeltemal van die moedeloosheid.

Dit hang alles saam met die Afrikaanse taalregte op skool en universiteit wat die Grondwet in teorie waarborg. Die jurisprudensie van die howe oor die saak kom – reg of verkeerd – daarop neer dat wanneer daar plek is in Afrikaanse skole, hulle gedwing kan word om anderstalige kinders op te neem en hul taalbeleid te wysig.

Dit is dikwels die eerste stap onderweg na die totale afskaffing van Afrikaans in daardie skole en hul transformasie tot eentalige Engelse skole. Dít is wat – só kan jy met ’n stok aanvoel – sit agter die Gautengse ANC-politikus Panyaza Lesufi se kruistog teen Afrikaanse skole.

As die SNI se studie korrek is, behoort dit moedeloosheid geneigde mense regop te laat sit. Dit bied op talle terreine hoop.

Volgens dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, het die eerste kinders van die nuwe geboortegolf laerskool vanjaar bereik. Oor ’n paar jaar gaan dit oorspoel na die hoërskole en oor ’n dekade en meer na universiteite en ander tersiêre onderwysinrigtings.

Die ekskuus van die Engelsdrywers op Stellenbosch, Pretoria en Bloemfontein was altyd dat daar geen vraag na Afrikaanse klasse is nie. Nou hang dit van die Afrikaanse ouers af om moed te skep, hul taalbewustheid te herstel en op Afrikaanse onderwys vir hul kinders aan te dring.

’n Mens moet hier ’n lewensbelangrike nuanse maak. Afrikaans behoort pertinent nie slegs aan die wit Afrikaners nie; dit is eweseer die eiendom van die bruin Afrikaanssprekendes.

Dis waar, omdat hulle deur ander historiese faktore gevorm is, is die bruines se taalbewustheid nie so sterk as wat dié van die Afrikaners tradisioneel was nie. Maar dit beteken nie dat die Afrikaners moet maak asof die bruines nie bestaan of slegs ’n figurant op die taalverhoog is nie.

Een van die redes waarom die bruines minder sterk oor taal voel, is omdat die Afrikaners die taal eksklusief vir hulself geannekseer en die bruines uitgeskuif het. Die Engelssprekendes het handig daarvan gebruik gemaak om ’n wig tussen wit en bruin Afrikaanssprekendes in te dryf.

As Afrikaans se oorlewing ons erns is, moet ons nie verder op daardie pad loop nie.

En intussen: Met die goeie nuus oor die demografie het ons ’n uitstekende wapen in die hand. Gebruik dit!

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Leopold Scholtz

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

13 Kommentare

jongste oudste gewildste
B-man

Kruistogte was geweldadige veldtogte wat “verkeerdelik” in die naam van die Here uitgevoer was… ek wens dat ‘n mens Panyaza se planne ten minste daardie heilige etiket kon gee, maar sy planne is boos.

Kreool Afrikaner Vlakvark

Beste Mede-Afrikaner Leopold,
Baie dankie vir jou hoë kwaliteit sinvolle en insiggewende artikels. Gaan asseblief voort daarmee.
En gaan maak nou vir jou geliefde ‘n lekker koppie koffie in ons stamland Nederland.

John

Die afgelope 25 jaar het die Afro-burgers regeer, nou wil ons asb onder die Kleurlinge dien en beloof om onderdanig te wees soos ‘n vrou teenoor haar egggenoot… Solidariteit en die prof in die letterlik verhewe stamland van meniges in SA sal die tydperk uitstippel en dan sal die Indiers en na hulle die Sjinese hul beurt kry. Lank lewe al die slimjanne, vlakvarke en unies… en hopelik jul beursies ook vir die weldeurdagte planne… soos ware gee-ers en hande-vatters van formaat en saam-saam sal jul die hemelpoorte nader… al toitrumpende… Ons hoop die engel by die poort het ‘n… Lees meer »

Gerhard

Tensy Afrikaner organisasies begin om ‘n ware antwoord vir Afrikaners te skep en ophou met bog, gaan daar verseker nie meer Afrikaners in SA wees ‘n generasie of twee van nou nie. Daar sal geen Afrikaanse skole en universiteite wees nie, die ANC kan die grondwet verander as hulle moet en daar sal min of geen hulp van oorsee kom daarvoor. Hou op met bog redenasies om eie instelling ens. ‘n Afrikanerstaat is die enigste antwoord en was nog altyd die enigste antwoord. Hoe langer julle aanhou met bog en nie werk maak van ‘n Afrikanerstaat nie, hoe gouer kom… Lees meer »

Ella

Ek lees altyd die rubriek en stem meestal saam maar vandag verskil ek van jou.
Afrikaans is my taal, so gebore, getoe en oud geword en ek het nog nooit gevoel: Afrikaans is NET my taal nie, niemand anders mag dit praat.
Ek is altyd bly om in Afrikaans bedien te word in n winkel en komplimenteer altyd daardie persoon. As jy genoeg van “my” taal dink om dit praat, is jy meer as welkom om dit te gebruik.
Andersin, Leipoldt, baie dankie vir jou positiewe bydraes. Maak my beter voe, meestal.