Demokrasie deur regspraak

grondwethof2

Die konstitusionele hof. Foto: Reint Dykema

Deur Peet Bothma

Suid-Afrika is op binneaarse voeding. Die daaglikse stapelvoedsel wat ʼn staat nodig het om te oorleef, die brood en botter van ʼn werkende demokrasie, is die land en sy mense ontneem.

In die plek daarvan lewe ons in ʼn oorgereguleerde bestel wat deur ʼn warboel wette en subartikels, soos geïnterpreteer deur die land se howe, die daaglikse werking van die staat reguleer.

Dit het ʼn vaste patroon begin word.

Eers word die staatsrede omvergewerp, dan tree die veiligheidsmagte buite jurisdiksie op parlementêre grond op en dan word die grondwetlikheid van die proses deur een of ander opposisieparty in die hof getoets.

Uitspraak word gelewer en reëls word neergelê – net om tydens die volgende jaar se staatsrede deur die speaker geminag te word. Die gevolg? Die howe word van vooraf genader en die hele proses word ʼn karousel van geregtelike rompslomp.

In die jongste bedryf van dié makabere teater gaan die leier van die EFF, Julius Malema, hom opnuut wend tot die grondwethof om pligte wat deur die land se parlement nagekom moes word oor te neem.

Nie alleen word die proses om die parlementêre reëls te verander weer eens na die howe geneem nie: Die plig van die parlement om in terme van ʼn opdrag van die grondwethof op te tree, word nogmaals getoets.

Die EFF wil hê dat die hof die parlement moet verplig om pres. Jacob Zuma te dissiplineer, nadat laasgenoemde ingevolge ʼn vroeëre uitspraak deur dieselfde hof aangedui het dat hy sy plig as staatshoof in terme van die grondwet versuim het. Die hof het bevind dat Zuma nie die grondwet gehandhaaf, verdedig en gerespekteer het nie.

Regskenners is van mening dat die EFF se aansoek nie suksesvol gaan wees nie.

Die direkteur van die Sentrum vir Grondwetlike Regte, Phephelaphi Dube, sê indien die grondwethof uitspraak in die Zuma-aangeleentheid lewer, ʼn gevaarlike presedent geskep sal word. Dit sal die skeiding van magte tussen die wetgewende gesag, uitvoerende gesag en die regbank laat vervaag. Dit beteken dat as die hof die parlement se werk doen, die parlement die hof se werk sal kan begin doen.

En dít wil ons nie hê nie.

Nog ʼn voorbeeld van die oorregulering van die samelewing is die voorgestelde Wetsontwerp op die Voorkoming en Bestryding van Haatmisdade. Kenners is dit eens dat dié wet net so min voordeel vir harmonieuse rasseverhoudinge in die land gaan inhou as wat die doodstraf as afskrikmiddel vir moord dien.

Dié wet is net nog ʼn stok in die hande van ʼn bang regering.

Soos by talle vorige geleenthede is die konsepwet nie goed deurdink nie en dit blyk nou byvoorbeeld dat die dominee wat teen selfde-geslag huwelike predik, maklik vir tien jaar agter die tralies kan gaan sit.

Dit is te verstane dat die ANC bang is. Die party is besig om stadig maar seker in duie te stort.

ʼn Regering deur die howe is ongesond, maar tans is dit die land se enigste redding. Laat ons maar net hoop dit bly so en dat geregtigheid op die lang duur sal seëvier.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Verwonderd ·

‘n Korupte Regering soos wat ons vandag het, kan nie verder bekostig om so deur die gereg getemper te word nie. Om hulle eie alies uit die tronk te hou, sal hulle verplig wees om ‘n totalitêre staat daar te stel. One for all and all for one… Hulle is deur hulle mag van die laer ordes van die ANC geisoleer. Sal hulle bereid wees om van hull mag af te sien en die regbank te gemoed gaan…? Ek wonder of ons selfs ‘n verkiesing in 2019 sal sien…?

Vryheidsvegter ·

Een van die grootste leuens wat ooit aan die Afrikaner verkoop is, is dat Suid Afrika tans ‘n demokratiese bestel het. Dit lyk amper soos dit, maar in werklikheid is dit meer soos ‘n Afrika koningkryk, met die ANC wat die koninklike familie is. Daar is absoluut geen nagevolge vir die regime nie, selfs waar hulle doelbewus die hooggeregshof uitsprake minag. Ons gryp na grashalms as ons dink dat die grondwet ons regte kan beskerm, want die skrywers van ons grondwet het nooit gedink dat die ANC so korrup sou word nie. Jy mag dalk ‘n hofsaak wen as jou regte geskend word, maar die regime sal die uitspraak net in elk geval minag. Die groot vraag is net, waar is die hele wêreld se sanksies nou? Hulle het ons in hierdie posisie in “gehelp”, maar nou kyk hulle anderpad of pleit onkunde.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.