‘Demokrasie staan tussen ons en ANC-diktatuur’

robert-mugabe-jacob-zumaRobert Mugabe, al ’n yslike 93 jaar oud, gaan hom weer as kandidaat vir Zimbabwe se presidentskap beskikbaar stel, lui ’n berig vandeesweek.

Die einde van die Koue Oorlog ’n kwarteeu gelede het ’n golf van optimisme oor die wêreld laat spoel. Nie alleen het die vyandskap tussen die USSR en die Weste tot die verlede behoort nie; die kapitalisme en die liberale Westerse veelparty-demokrasie het finaal oorwin, was die optimistiese verwagting. Dit is genoem die “Washington-konsensus”.

In Zambië het pres. Kenneth Kaunda – aan die hoof van een van Afrika se “eenparty-demokrasieë” – ’n vrye verkiesing toegelaat. Toe hy verloor, het hy so wrintiewaar die mag vreedsaam aan sy opponent oorgedra.

Soortgelyke dinge het ook in ander diktature in Afrika en Latyns-Amerika gebeur. En selfs in Zimbabwe het Mugabe planne om ’n eenparty-stelsel in te voer laat vaar.

In Suid-Afrika is die apartheidstelsel afgeskaf, die ANC het ’n verkiesing gewen. Toe pres. Nelson Mandela in 1999 meen hy word nou te oud vir die pos, het hy die mag vreedsaam aan Thabo Mbeki oorgedra.

Die toekoms het vir almal geglimlag.

Vandag weet ons daardie glimlag was eerder ’n grynslag. Talle diktature het weer teruggegly – nie heeltemal tot waar hulle was nie, maar op ’n ietwat bedekte manier. Die Amerikaanse politieke wetenskaplike Fareed Zakaria praat van “illiberale demokrasieë”.

’n Illiberale demokrasie is een wat, soos die wet vereis, elke vier of vyf jaar verkiesings hou. Soms hou die internasionale gemeenskap toesig oor sulke eleksies, en soms is daar nie veel negatiefs oor sulke verkiesings te sê nie.

Maar ’n demokrasie is veel meer as die hou van verkiesings en die wil van die meerderheid. ’n Tweede – dalk selfs belangriker – vraag is wat gebeur tússen die verkiesings?

In ’n gemiddelde volwasse demokrasie is die regering onderhewig aan die regstaat, nie aan sy eie politieke grille nie. Daar moet dus voldoende wetlike én praktiese ruimte wees vir opposisiepartye om regdeur die regeringstermyn vryelik vergaderings te hou en steun te werf, terwyl die burgerlike samelewing voldoende ruimte moet hê om – meestal deur die media – ingelig te word.

Natuurlik gaan die media ’n politieke rigting bevorder. Dis normaal. Dit was nog nooit anders nie en sal ook nooit vorentoe verander nie.

Die toets is of daar genoeg ruimte is vir media met uiteenlopende standpunte om op die vrye mark mee te ding. Dan kan lesers standpunt naas standpunt lê en self ’n oorwoë besluit neem.

In ’n illiberale demokrasie word die lewe vir enige onafhanklike koerant of aanlyn nuusdiens besonder moeilik gemaak. Dus word die burgers oorstroom met net een kant van ’n saak.

Dié soort illiberale demokrasieë neem die afgelope jare in aantal toe. Zimbabwe is een voorbeeld.

Die Suid-Afrikaanse ANC het telkens waarnemers na eleksies daar gestuur. Dit was mense wat luidens berigte hoofsaaklik in hul hotelsitkamers of kroeë rondgehang het, en dan gesertifiseer het dat die verkiesing vry en regverdig was.

Miskien wás dit. Maar wat tússen die verkiesings gebeur het – daaroor was daar slegs ’n dawerende stilte.

Rusland is nog ’n voorbeeld. Verkiesings word gereeld gehou, maar menseregte-organisasies soos Amnestie Internasionaal en Freedom House klassifiseer die land as “onvry”.

In laasgenoemde se verslag vir 2016 staan byvoorbeeld: “Die regering beheer, regstreeks of deur staatsmaatskappye en vriendelike sakemagnate, alle nasionale televisie-omroepers en die meeste radio- en gedrukte media, asook die grootste deel van die media-advertensiemark.”

’n Wet van 2014 dwing alle buitelandse eienaars van Russiese media om hul aandeel tot 20% te beperk. Vriende van pres. Wladimir Poetin het byna alles opgekoop.

Poetin probeer ook die geskiedenis “kaap”. Josef Stalin word in skoolhandboeke weer as held voorgestel. Die organisasie Memorial, wat die herinnering aan die kommunisme se misdade wil laat voortleef, is deur die departement van justisie in kennis gestel dat hy die land se “grondwetlike regering” probeer ondermyn, en dat hy ’n “buitelandse agent” is. Formele aanklagte gaan waarskynlik vanjaar teen die organisasie se leiers ingestel word.

En dan het ’n mens nog nie eens by Turkye, Pole en Hongarye uitgekom nie.

Talle van dié soort dinge kan ’n mens, sy dit in embrionale vorm, ook in Suid-Afrika sien.

In sy toespraak op Versoeningsdag het pres. Jacob Zuma byvoorbeeld – op sigself korrek – daarop gewys dat minstens 130 politieke gevangenes tussen 1960 en 1990 gehang is. Wat hy nagelaat het, is om te wys op die minstens 20 000 Ndebeles wat in die sogenaamde Gukurahundi-volksmoord deur Mugabe se Vyfde Brigade afgeslag is.

Hy het nie vertel van die duisende mense wat sy eie ANC in die jare 1977-’94 (van wie verreweg die meeste in 1990-’94) afgemaai het nie. Nog minder van die tallose pogings wat hy en sy party aangewend het om demokratiese instellings te (laat) kaap of te ondermyn nie (Guptagate!).

Dat Mandela 27 jaar in die tronk aangehou is, pleit sekerlik nie vir die destydse regering nie. Maar in hoeveel Afrika-lande sou iemand soos hy lewend en in blakende gesondheid uit die tronk gestap het?

Ja, Suid-Afrika hou al om die vyf jaar ’n verkiesing wat, sover ’n mens kan agterkom, voldoende vry en regverdig verloop. Ook tússen die verkiesings is daar voldoende ruimte vir opposisiepartye en die burgerlike samelewing om vryheid van spraak en organisasie te geniet.

Dit maak Suid-Afrika anders as byvoorbeeld Rusland en Zimbabwe. Maar dan moet ’n mens onmiddellik twee belangrike nuanses hieraan toevoeg.

In die eerste plek is die vraag hóékom dit só is? Dis nie as gevolg van die ANC-regering nie; dis ondanks die regering.

Elke dan en wan hoor ’n mens van Zuma dat die meerderheid (lees: die ANC) meer regte as die minderheid het, dat die ANC sal regeer “tot Jesus kom”, dat die regbank te veel mag het, ensovoorts. Dis duidelik dat as Zuma en die ANC hul sin kry, Suid-Afrika ’n tipiese illiberale demokrasie sal word.

Dat dit nog nie gebeur het nie, bring ons by die tweede punt. In Suid-Afrika kry ’n mens ’n kombinasie van ’n goeie grondwet (verreweg nie perfek nie, maar goed) en ’n lewendige burgerlike samelewing wat sy ruimte met hand en tand verdedig.

Organisasies soos Solidariteit, maar ook die onafhanklike media, is onlosmaaklik ʼn onderdeel hiervan.

Die demokrasie was nog nooit ’n perfekte stelsel nie. Maar soos Winston Churchill dit skitterend gestel het, die demokrasie is die slegste van alle stelsels – behalwe vir al die ander.

Dis dié stelsel wat tussen ons en ’n ANC-diktatuur staan. Moet dit nooit vergeet nie.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Leopold Scholtz

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Henry ·

Sedert Ghana iewers gedurende 1957 as eerste Subsahara staat onafhanklikheid verwerf het, het hierdie groep Afrikastate ‘n verskeidenheid politieke stelsels bedryf.
“Een-party demokrasieë” – wat vir ‘n ding dit ookal mag wees – Marxistiese diktature, tradisionele stelsels, veelparty demokrasieë, diktature en allerlei ander mooi-klinkende titels wat aan verskillende vorme van tipiese Afrika diktature toegedig word.

Wat egter soos ‘n streep strooi* deur al die oulike ‘stelsels’ loop of drup, is dat een ou en sy bende die kitaar slaan en geldkaste leeg skep, terwyl die res van die inwoners dans dat die stof staan.

Dat hierdie ‘unieke’ stelsel reeds sedert Nkrumah se bewind, in ‘n verskeidenheid vorme deel van Subsahara Afrika se politieke stelsels geword het, is ‘n feit soos wat enige een van oorle’ Oom Daantjie se koeie is.

Naas Liberië, is ons droewe land natuurlik een van die heel eerste Afrikastate wat solank gelede as 1910, onafhanklikheid verwerf het. Wat egter koddig is, is hoe sommige siele altoos wil vertel dat Subsahara Afrika se Eenparty “demokrasieë” eintlik vye is, wat later in vye sal/gaan verander.

*self gesensor

Theuns ·

Dr. Leopold, dankie vir jou uitstekende kommentaar die afgelope jaar. Jy maak dit moeilik vir my en ander om kommentaar te lewer op die waarheid soos jy dit vertolk en ons in ons gees weet jy is alweer in die kol! Daarom wens ek jou en jou familie n fantastiese Christusfees en Nuwejaar toe! Nogmaals dankie. Theuns

Leopold Scholtz ·

Beste Theuns, baie dankie vir die mooi wense. Dieselfde geld vir jou en jou familie ook!

chrisp ·

Wonder net hoeveel Afrika “demokrasie” lande het al van party verander sedert “onafhanklikheid”.
Dalk een?

Johan II ·

Whiston Churchill, die Rothchild, wat die oorlog solank moontlik uitgerek het net om na die tyd met n reuse kommunistiese rooi Rusland te sit wat duisende vermoor het, is hy regtig een om aan te haal? Van al die stelsels is Switserland se “direkte demokrasie” die beste, ons kon dit dalk vermag het as dit nie vir die liberaliste se onuitputbare drang na selfvernietiging was nie…so de hel met jou demokrasie soos dit hier en elders toegepas word, dit verteer alles want die meerderheid regeer en die meerderheid is massamedia beheerbare morone. Wat van die Sjinese stelse, hul bestaan al vir >2000jaar, is daar n westerse beskawing wat so lank al bestaan…nee.

Johan II ·

Ek twyfel sterk dat Stalin as held in Rusland uitgebeeld word, of praat jy van die weste wat Stalin se bas gered het teen die Duitsers? Putin is n Wit rus, Stalin was n rooi rus wat baie aktief jag gemaak het op die Christendom (die deel van geskiedenis wat die weste nie graag vertel van hul ou vriend nie) hulle is aards vyande, prof moet dalk minder westerse “bronne” lees voor jy sulke goed kwyt raak, of kom jou MENING van CNN af.

Henry ·

Dat Rusland se bas deur die Weste gered is, is loutere onsin.

Hoogstens het die VSA hulle van militêre voorraad voorsien. Die ‘Weste’ was bitter bly en verlig dat Hitler twee fronte geskep het wat tot groot voordeel van die Westerse magte gestrek het. Die Russe het oa met die hulp van hul woeste winter, bekwame en patriotiese gevegsmagte, asook Stalin se tirannie, die Duitsers terug gedryf.

Trouens, as dit nie vir die Russe en die Amerikaners se bydraes was nie, het die Britte en die grootste gedeelte van Wes Europa vandag vlot Duits gepraat en die knie voor hul Duitse oorwinnaars gebuig. Die Britte en die res van Europa was binne enkele maande deur die Duitsers plat geloop. Die Duitsers het egter hul moses en ‘n hele spul ander figure teë gekom toe hulle Rusland binne geval het. Hitler en sy generaals het hul nie aan die dure lesse wat Napoleon laaaank voor hulle geleer het, gesteur nie en uiteindelik die dure prys betaal.

Churchill was die enigste lid van die Alliansie wat Rusland as ‘n toekomstige gevaar gesien het. Die VSA was te besig met Japan om hulle veel aan sy waarskuwinge te steur.

lewies ·

Wat van ‘n meer “teokratiesebeoordeling” van die verlede, hede en die toekoms van die politiek in Suid-Afrika. Besluit dan hoe die toekoms moet lyk. Ons kan nie aanhou diagnoseer en nooit by ‘n prognose kom nie. Demokrasie is ‘n humanistiese stelstelsel wat ‘n tydelike oplossing bied.

“Kerke moet hulle neus uit die politiek hou”, so lui ‘n opmerking deur Pres. Zuma by geleent-heid. Die Rooms Katolieke Kerk is die enigste wat die durf gehad het om in die openbaar te se “dat hulle hierdie opmerking van die President sal verontagsaam.

Ek is van oordeel dat die sogenaamde tradisionele “wit kerke” bang is dat hulle van rassisme beskuldig sal word as hulle opstaan en hulle priesterlike en profetiese amp teenoor die rege-ring van die dag in die openbaar uitleef.

Vir kerke en organisasies wat agter die skerm of in binnekringe, kristies teenoor die ANC-regering is, mors tyd en geld. Dit dui op vrees vir die mens en ‘n politieke korrektheid wat ‘n afgod geword het en wat ons gebring het waar ons vandag is ” ‘n warboel van onsekerheid, korrupsie, leuens en moontlik op die rand van ‘n burgeroorlog “.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.