Demokrasie wat werk

demokrasie

Foto: Davienjugunah.wordpress.com

Die huidige woelinge in die ANC is belangrik genoeg om nougeset op die voet te volg. Wat ons tans in en om die ANC aanskou, is demokrasie wat werk – onvolkome, onvoldoende en morsig, maar tog.

Winston Churchill, bekend vir sy pittige sêgoed, het op ʼn keer gesê demokrasie is die slegste van alle stelsels, “behalwe vir al die ander”. Wat hy bedoel het, is dat demokrasie ʼn klomp onbetwisbare nadele het, maar dat “al die ander” nog steeds aansienlik meer nadele het.

Waar mense werk, word foute – soms willens en wetens – gemaak. Die voordeel van demokrasie is dat hy die vermoë tot self-korreksie het.

Dit kan soms lank duur. Maar waar ʼn diktatuur (kyk maar na die ou Sowjetunie of Nazi-Duitsland) korrupsie onbepaald lank kan toesmeer, verseker die oop aard van ʼn demokratiese samelewing dat wantoestande vroeër of later oopgevlek word.

Dis waar dat die demokrasie meer hekkies moet oorkom in heterogene samelewings soos ons sʼn. Dit geld des te meer waar jy ʼn beduidende persentasie mense het wie se kultuur nie deur die Westerse Verligtingsdenke gevorm is nie, of ʼn party soos die ANC waarvan die politieke kultuur grotendeels deur die Marxisme-Leninisme bepaal is.

Maar dis hier waar die Grondwet inkom. Baie mense praat verkeerdelik minagtend oor die Grondwet. Hulle vra waar FW de Klerk se beloofde “wigte en teenwigte” is.

Wel, as jy nie kan sien hoe die howe die uitvoerende mag kortvat nie, as jy nie agtergekom het hoe adv. Thuli Madonsela, die Openbare Beskermer, die ANC vreesloos voor die bors vasvat nie, as jy nie weet hoe die media die regering se skandale oopvlek nie, het jy dalk ʼn probleem. Die “wigte en teenwigte” werk moontlik nie perfek nie, maar hulle wérk.

Die laaste tyd het ʼn nuwe ding kop uitgesteek. Tot my stomme verbasing moet ek erken dat ʼn deel van die ANC klaarblyklik tot die liberale demokrasie bekeer is.

Sedert sy bewindsoorname wek pres. Jacob Zuma, oor wie die swaard van korrupsiebewerings toe al gehang het, die indruk dat hy veral twee dinge gedoen het.

In die eerste plek het hy stelselmatig sy eie kornuite in sleutelposisies geplaas in sy eie poging om die staat te kaap.

Die tweede was om die staat aan die hoogste bieër te koop aan te bied. As ʼn mens die laaste tyd se tekens reg lees, was daardie hoogste bieër die gebroeders Gupta, wat optree asof Suid-Afrika aan hulle behoort, asof húlle die kitaar slaan en die regering maar net hul bevele uitvoer.

Alles dui nou daarop dat ʼn deel van die ANC hierteen in opstand kom. Die bewerings van senior mense, soos Vytjie Mentor en Mcebisi Jonas, dat die Guptas hulle ministersposte aangebied het, is – so lyk dit – maar die oortjies van die seekoei.

ʼn Klomp invloedryke ANC-leiers, met inbegrip van adj.pres. Cyril Ramaphosa en Gwede Mantashe, die party se magtige sekretaris-generaal, het hulle agter Mentor en Jonas geskaar. Die nuwe hoofsweep van die ANC in die parlement, Jackson Mthembu, het vandeesweek selfs by implikasie erken dat sy party “ʼn grap vir die nasie” is.

ʼn Groep MK-veterane, onder wie genl. Siphiwe Nyanda, het in ʼn memorandum hul kommer oor die “staatskaping” uitgespreek en ʼn beroep op die ANC gedoen om ʼn spesiale konferensie te hou om die saak te bespreek. Die drie dinkskrums wat die party se intellektuele elite bevat, die Oliver & Adelaide Tambo-Stigting, die Nelson Mandela-Stigting en die Ahmed Kathdrada-Stigting, het reguit gesê die ANC het weggedryf van die ideale wat sy stigters gehad het.

In City Press kla Mondli Makhanya die ANC aan dat hy toegelaat het dat iemand met Zuma se “uitgeputte morele karakter” president word en dit bly – terwyl die mense gewéét het hy is só.

Die stemme wat hier aangehaal word, is nie sommer hier-jy-lede van die ANC nie. Hulle is invloedryk. Hul stemme dra aansienlike gewig.

Voeg daarby dat die ondersoek na “staatskaping” nou in die hande van ʼn Zuma-kritikus, Gwede Mantashe, is en dit word steeds duideliker die stutte wat Zuma in die president se stoel hou, val die een ná die ander weg.

Dis sekerlik gevaarlik om so iets te voorspel, maar (laat ʼn mens dit baie versigtig stel) daar is ʼn kans dat Zuma binne afsienbare tyd (dalk voor die einde van die jaar?) gedwing kan word om af te tree.

As dit gebeur – en dis ʼn baie groot ás – sal die ANC dit doen op ʼn manier wat nie alte vernederend voorkom nie. Zuma kan byvoorbeeld gedwing word om ʼn verklaring uit te reik dat sy gesondheid sodanig agteruit gegaan het dat hy nie meer dié veeleisende pos kan vervul nie. En dan trek hy hom, met die seën van die hele nasie, na Nkandla terug, waar hy sy lewe verder in weelde kan slyt.

Sou dit gebeur, is dit ook die demokrasie wat werk. Zuma se politieke en morele kapitaal begin opraak deur middel van ʼn kombinasie van die media wat sy skandes openbaar maak, die howe wat sy bedenklike karakter al twee keer oopgevlek het, die Openbare Beskermer wat nie doekies omdraai nie, die parlementêre opposisie, wat soos ʼn trop honde elke keer na sy hakskene hap en les bes, nou ook ʼn deel van die ANC, wat blykbaar nie meer die skande van Zuma se oneerlikheid kan verdra nie.

Soms is die demokrasie traag, ondoeltreffend en morsig, maar uiteindelik sal daar genoeg “wigte en teenwigte” om hom wees, al is dit ook hoe onvolkome, wat min of meer sal werk.

Dis in elk geval minder sleg as enige ander stelsel.

Daarom is dit ons almal se plig om die Grondwet in stand te hou. Om behoorlik toe te sien dat Zuma, Ramaphosa, Mantashe of wie ook al, nie ons vryheid wegneem nie.

Die Ierse filosoof John Philpott Curran het ʼn onsterflike waarheid kwytgeraak: “The price of freedom is eternal vigilance.”

Dit geld ook vir die moderne Suid-Afrika. Mense soos Ramaphosa en Mantashe kan dalk minder erg wees as Zuma, maar ook húlle moet deurgaans, elke dag, met arendsoë dopgehou word.

Dít is die demokrasie wat werk.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Christo ·

Ek sal net graag wil weet is hoe het Mr FW de Klerk en sy span besluit dat SA anders sal wees as die res van Afrika?
Demokrasie het nog nooit gewerk in afrika nie.Hoe het hulle tot die besluit gekom as die geskiedenis dan n ander storie vertel.Selfs die Engelse het moed opgegee en al die lande terug gegee want hulle het gesien met afrika gaan jy niks uitgerig kry nie.Hulle wil afrika se probleme met die weste se geld uitsorteer.Die ANC was nog altyd in alliansie met die SAKP so hulle grondslag was mos nou duidelik vir Mr de Klerk.

Henkst ·

Al demokrasie wat in Afrika werk is ‘n totalitere demokrasie!

Koos ·

Leipoldt noem Nazi duitsland as ‘n voorbeeld an diktatuur. Hitler se party het in 1933 deur ‘n demokratiese verkiesing aan bewind gekom. in 1936 was daar ‘n referendum of die duitsers die rynland militêr moet beset. Daars was ook ‘n verkiesing in 1938. Die Nazi’s was dus ‘n demokrasie , ‘n goeie voorbeeld hoe ‘n demokrasie kan skeefloop. Zimbabwe is nog ‘n voorbeeld van ‘n mislukte demokrasie. Of die ANC van Zuma gaan ontlsae raak is eintlik maar irrelevant. Die oorverligtes het hulself oortuig dat Zuma die oorsaak van die land se probleme is en fokus dus om elke artikel op Zuma se komende val. Ek sien uit na die volgende president se ampstermyn . Glo my, ons probleme is veel groter as Zuma. Strukturele werkloosheid en dalende beleggingsvertroue is die grootste probleme. Ons almal ken die oplossings maar die ANC sal dit nooit implimenteer nie. Ja die ANC, nie Zuma nie.

Christo ·

Ek stem heelhartig met jou saam my grootste bekommernis is nie Zuma nie maar die feit dat almal so vir hom skerm en nie sy foute beaam nie.Dit sê net vir my een ding: niks gaan verander as Zuma weg is nie.

Veritas ·

Afrika demokrasie kan vergelyk word met ‘n wildsbok wat met ‘n trop honger leeus debatteer oor wat hulle vir aandete behoort te eet. Wat die bokkie nie aan gedink het nie is die feit dat ‘n honger leeu nooit by sy beloftes hou nie.

Hein ·

Ek sien ‘n geweldige agteruitgaan in die industrie en debate gaan op hierdie staduim nie meer help nie. Totale ingryping is nodig om S.A. se ekonomie te red. Ek sien futlose pogings om die ekonomie aan te gaan te hou deur aandelehouers en intepreneurs maar met die verskriklike werkloosheidssyfer en maatskappye wat ondergaan lyk die prentjie nie goed nie. Tyd om Plan B in werking te stel is baie nodig.

John ·

Leiers kan nog swak wees solank daar werk is vir die massas/afgestudeerdes en pap/brood op die tafel. Selfs die beste leier en regstelsel sal, soos Veritas se, geen beheer he oor die woede van honger mense met verwagtinge nie as net vrome woorde op hul lee borde geskep word nie. Ons groot arm bevolking is die probleem. Ons topbestuurder hanteer die probleem deur heeltyd vinger te wys na die paar miljoen witmense in die land. Hitler het ook die Jode die skuld gegee vir alles en kyk wat het daarop gevolg. Demokrasie beteken bloot die mag van die meeste mense wat ‘n saak/iemand ondersteun, se wil word afgedwing. Demokrasie is op sy beste steeds outokraties omdat die kultuur/behoeftes van minderhede onderdruk bly.

Hendrik ·

John my bekommernis is dat dit begin laat word voordat die hele S.A. verbrokkel. Ons sal moet plan maak om gou Plan B te implimenteer om die werkende SA’ers te red. Op die oomblik is die werkloosheid van die skaal af en volgens Prog Harrim (US) vewag hy onluste later in die jaar as die kos regtig begin skaars raak. Hoe red ons onsself in hierdie situasie. Die stembus gaan ons nie help nie en ons sal internationaal hulp moet soek om die werkende SA’ers te red. Hoe beskerm ons wat ons het? Trek laer en doen soos Frans Cronje voorstel en vra lande van herkoms assiel? Hoe beskerm ons onsself van kaping van die staat so huidige regeerder dit doen?

DMC de Koker ·

Eerstens, daar het niks van die wigte teenwigte gekom wat die NP regering glo sou implementeer nie; so moet nou kom beweer gewone beginsels van ‘n regstaat wat ”soms” werk is nou glo die wigte en teenwigte wat die NP belowe het nie.

Tweedens op universite is ek geleer moet nooit skroom om die reg te kritiseer nie. Die grondwet is nie perfek nie en ook nie onkritiseerbaar nie. As Christen het ek ook hewige kritiek teen hierdie huidige grondwet.

Derdens om die reg op selfbeskikking in die vorm van artikel 235 in die grondwet in te sluit is eintlik niksseggend aangesien dit ‘n internasionale reg is ongeag of jou grondwet dit noem of nie.

Die grondwet perk eerder die vryheid in van Christene as wat dit ons sogenaamde vryheid bevorder.

Om nie eers te noem artikel 9 die gelykheidsklousule netsowel die diskriminasie klousule genoem kan word aangesien dit diskriminerende wetgewing soos regtestellende aksie en SEB regverdig. Dis geensins “regstellend” nie; dis diskriminerend- reuse verskil tussen die twee.

Simon ·

Dit is effe van ‘n wan voorstelling om die “wigte en teenwigte” wortel wat FW destyds rond geswaai te vergelyk met dié verlepte weergawe wat jy nou in die artikel noem. Dit val in dieselfde klas van bedrog toe die NP aangevoer het dat die Nee stem tot een mens een stem sou lei en kyk waar het hul beloftes en FW se wigte en teenwigte ons gebring in die verband. Basta met die strooi!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.