Demokrate vertrap mekaar op die lawaaiwa

Amerikaanse president Donald Trump. (Foto: File Photo/IANS)

“Terwyl Amerika in droomland is, maak Trump al weer geskiedenis”, het Fox News verkondig toe pres. Donald Trump op 30 Junie die grens na Noord-Korea oorgesteek het. Die Demokratiese Party-kandidate het natuurlik (en oudergewoonte) weer op die lawaaiwa gespring om die president vir sy suksesvolle kordaatstuk te beswadder – iets wat hulle nie te wagte was nie. Hulle kan pres. Trump, hulle bette noire (ʼn boosdoener), nie uitstaan nie  wat nou hul kollig gesteel het.

Maar ʼn kollig-affêre was dit nou ook nie. Inteendeel. Nadat ek op TV na die presidensiële debat geluister het, het ek dit berou. Dit was allermins ’n debat, meer ’n toekenning vir deugde en identiteitspolitiek in die oortreffende trap!

Kortom, vier dinge in die veldtoggeskenkpak was gratis: kollege-onderrig, kindersorg, gesondheidsorg vir landsburgers en ook gesondheidsorg vir onwettige immigrante. Daarbenewens was oop grense, welvaartbelasting, vergoeding vir slawerny en die groen nuwe ooreenkoms (Green New Deal), ook in die pakkie – alles pragtig toegedraai en met strikkies van sosialisme versier.

Maar niks hiervan was aanvaarbaar nie. Voeg daarby laatterm-aborsies, afskaffing van die kieskollege, konfiskering van vuurwapens en die skep van toevlugstede, dan word dit duidelik dat die Demokrate se beroep op die ekstremiste in hul party – eerder as die publiek – die dryfveer agter hul ambisies is om die septer te swaai.

Met ’n bloeiende ekonomie en ’n president wat vooruitgang baan op menige front, het die Demokrate niks nuuts om by te voeg nie, behalwe ’n anti-Trump-haatagenda, identiteitspolitiek en ’n tamaai dosis selfgeregtigdheid.

Daarby maak Beto O’Rourke, Demokratiese presidensiële kandidaat, groot geraas met sy bangmaaktaktiek ten opsigte van klimaatsverandering en reken hy ons het nog slegs tien jaar op hierdie aarde oor indien ons voortgaan met ons huidige onverskilligheid ten opsigte van ons omgewing. O’Rourke is boonop oor die grens om met potensiële asielsoekers in Mexiko oor hul behoeftes te praat. En moenie van Cory Booker vergeet wat vyf asielsoekers oor die grens tot in Amerika vergesel het nie. Hieruit is dit baie duidelik dat onwettige immigrante, eerder as Amerikaanse burgers, beslis top-prioriteit geniet.

Die kandidate self laat veel te wense oor. Die voorlopers Joe Biden, Bernie Sanders, Elizabeth Warren, Kamala Harris, Cory Booker en Pete Buttigieg is so net gewild soos wat hulle oninspirerend is.

Visepresident Joe Biden, wat die trop gelei het totdat Kamala Harris hom ontbloot het vir sy teenkanting teen die aanry van swart kinders in die sewentigerjare, en later vir sy assosiasie met segregasioniste, het hom onkant betrap, ten spyte van die feit dat die aanry met busse reeds 45 jaar gelede heftig teengestaan is deur swart én wit mense.

Hy het wel agterna om verskoning gevra, maar dit was effens te laat. Hy het homself ’n gematigde kandidaat in vergelyking met sy mededingers beskou en hom van byna al die beleidsrigtings wat hy eens op ’n tyd ondersteun het, onttrek, onder meer die Hyde-wysiging wat die federale befondsing van aborsies onwettig verklaar. Hy het ook die konfiskering van vuurwapens voorgestel, die beëindiging van deportasie van onwettige immigrante ondersteun, sowel as die Green New Deal. Dog, sy geneigdheid om sy mond verby te praat, het hom die bynaam van “Gaffe-Machine on the verge of imploding” besorg.

Bernie Sanders, Biden se mededinger, is ’n sosialistiese bittereinder wat glo dat deur Trump herhaaldelik ’n patologiese leuenaar, rassis, seksis, homofoob en godsdienstige dweper uit te wys, dit sal realiseer. Hy belowe weer wetgewing wat $1,6 triljoen studenteskuld (van ongeveer 45 miljoen studente) sal delg. Hierdie skuld sal deur aandeelbelasting, verbande en afgeleide markte op Wall Street betaal word. Hoe goed hy ook al is met sy aanbod van “alles gratis”, is hy beslis nie goed met kosteontleding nie.

Elisabet Warren, alombekend as die Fake Indian, is ’n ekonomiese populis van formaat. Sy het menige beleidsrigting en planne opgestel wat daarop gemik is om die rykes te belas om vir haar vergesogte herverdelingsbelasting te betaal. Haar agenda sluit, onder meer, die volgende in: Die afskaffing van alle private mediese versekering; die gedwonge verwydering van Google, Amazon en Facebook (tog vra sy meer polisiëring vir haatspraak); ʼn opdrag dat ’n moratorium op alle nuwe fossielbrandstofooreenkomste – buite die VSA én op openbare eiendom – geplaas word en dat die federale regering getaak word om ’n nuwe herwinbare energieplan te implementeer.

Die vraag is hoe daar vir al hierdie planne betaal gaan word. Eenvoudig. Laat die rykes belasting betaal (2% op meer as $50 m sal sowat $2,7 triljoen oor ’n tydperk van tien jaar genereer) en gebruik dit vir die gratis dagsorg vir elke nuwe baba in die land, gratis universele kleutersorg, gratis onderrig aan tegniese kolleges en die afskryf van studenteskuld.

Kamala Harris, ’n voormalige distriksprokureur van San Francisco, voormalige assistent prokureur-generaal van Kalifornië en tans verteenwoordigende senator van Kalifornië, het ’n allesinsluitende forum wat die volgende voorstaan: die opheffing van Trump se belastingbesnoeiing, sy universele gesondheidsorg, die salarisgaping tussen verskillende geslagte en die penalisering van maatskappye wat dit nie nakom nie; die LIFT-wetgewing (Livable Incomes for Families Today) wat aan middelklashuishoudings ’n kontantinspuiting van $3 000 per jaar vir enkellopendes en $6 000 vir getroude pare; werkopleiding – ’n toegewing van $8 000 vir werkloses en onderbenutte werkers; oop grense en die gebruik van uitvoerende aksie om ’n weg vir burgerskap vir die Dromers te baan; $100 miljard in federale toelaes om aandag aan “historiese diskriminasie in huiseienaarskap teen swart gesinne” (soos sy dit noem) te gee. Alles hierbo genoem, glo sy, sal die welvaartgaping met 31% vernou.

Cory Booker, die senator vir New Jersey, het weer ʼn plan om veilige en bekostigbare behuising vir alle Amerikaners te verskaf met huur wat beperk is tot 30% van die huurder se inkomste – enige verskil sal deur die regering betaal word. Daarbenewens reken hy dat 57 miljoen Amerikaners uit die mediaangesinsbelasting wat $4 800 beloop, baat sal vind. Verder beloof hy toelaes om die haweloses te help; toelaes om behuising vir plattelandse en Amerikaanse inboorlinge op te rig; en selfs berading vir diegene wat uitsetting moet  trotseer.

Burgemeester Pete Buttigieg van South Bend, Indiana, is ʼn Harvard-gegradueerde, Rhodes-student, lid van die vlootreserwe en het vir sewe maande as inligtingsoffisier in Afganistan gedien. ‘n Gay getroude man, word hy beskou as ’n ideale en uitstekende voorbeeld van identiteitspolitiek, ongeag sy problematiese verhouding met swart mense in sy gemeenskap. Hy is ʼn voorstander vir vergoeding van slawerny en glo dit sal welstand en toegang tot kapitaal in swart gemeenskappe bring. Hy is ook ten gunste van die afskaffing van die kieskollege, die Green New Deal en universele gesondheidsorg, hoewel hy teen die wegdoen van private versekeringsmaatskappye is. Hy ondersteun ook ’n weg tot burgerskap vir ongedokumenteerde immigrante en die Dromers; daarby stel hy ʼn wysiging aan die Gelykheidswet voor wat LBGTQ-mense teen federale niediskriminering sal beskerm. Hy ondersteun transseksuele persone in die weermag asook enige geslagveranderingsoperasie indien hulle dit wil laat doen.

Vir al hierdie kandidate blyk dit dat Venezuela en Kuba “te ver is” om dit aan die verstand te bring dat sosialisme allermins aanvaarbaar is. Politici wat volgens die hoogste standaarde leef, ignoreer dikwels wat reg onder hul oë aangaan. Binne die wêreld se superkrag van oorvloed en innovasie preek die Demokratiese presidensiële hoopvolles sosialisme, maar suiwer dit deur “demokraties” by te las. Maar die verstandiges onder ons weet immer daar is nie so iets soos demokratiese sosialisme nie. Deur aanhoudend na Skandinawiese lande as voorbeelde te verwys hang die Demokrate hul onkunde net aan die groot klok. Sosiale demokrasieë soos Noorweë, Denemarke en Swede is nie sosialistiese lande nie. En hoe langer ek na hul luister, hoe meer is ek daarvan oortuig dat dit nodig is om hulle in die Demokratiese Republiek van die Kongo, Angola of Ethiopië los te laat sodat hulle die werklike implikasie van sosialisme kan ervaar. Maar hul teiken is die stemme van die universiteitstudente wat deeglik deur die linkervleuelprofessors wat sosialisme met ʼn apokaliptiese dringendheid verkondig gebreinspoel is.

Vreemd genoeg dat hul groeiende haat vir Trump nie hul begeerlike leefstyl wat met die beste ter wêreld vergelyk kan word, beïnvloed of pla nie.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Rhoda Kadalie

Die rubriekskrywer Rhoda Kadalie is afgetree en woon tans in die VSA. Sy is die voormalige direkteur van Impumelelo Sosiale Innovasiesentrum, menseregtekommissaris en akademikus.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

30 Kommentare

Charles ·

Dis die einde van die demokratiese party Rhoda- hul dubbele standaarde en skynheiligheid is onlangse aan die groot klok gehang deur Pres. Trump met sy “gaan dan terug as jy nie van die VSA en die geleenthede wat dit bied hou nie, en probeer aldaar eers regmaak voordat jy Amerika beswadder” kommentaar. Die man is ‘n uitstekende politikus, want “The Squad”- Cortez en Kie met hul verbysterende onkunde – se goedkeuringsvlakke is onderdeur! SO wys hy die kiesers ook op die “Demokrate” (Sosialiste) se linkse swaai! Selfs die Latynse bevolking ondersteun Pres. Trump.
Ek se weer: Pres. Trump se herverkiesing gaan ‘n “cakewalk” wees, en met goeie rede!
Wil wil nie in so ‘n ekonomie leef nie? Wie wil nie in so ‘n trotste en patriotiese land (ten spyte van die dimms se uiterste pogings tot ID-politiek en skeuring) woon nie! Trump se Amerika is die “Amerikaanse Droom” in aksie! Keep America Great Always!

Ben Esterhuizen ·

Baie goeie artikel! Hoekom kry ons nie meer sulke ewewigtige artikels nie?

Antoon ·

Rhoda Kadalie is die enigste balans teen ‘n magdom linkse “cut and paste” artikels.
Ek reis gereeld na die VSA en, volgens my ondervindinge daar, sou dit my glad nie verbaas as Trump maklik die volgende verkiesing wen nie

Stephan de S ·

n Pragtige artikel wat die denk-verdelingslyne in die moderne westerse samelewing uitstekend saamvat.
Ek sou net een byvoeging wou maak: waar sy praat v “n tamaai dosis v selfgeregtigheid”sou ek byvoeg……: en n massiewe dosis v skynheiligheid.

Jan ·

Die Demokrate het vir dekades lank nog nooit ń probleem met die “electorale college” gehad nie, behalwe natuurlik nou toe dit in Trump se guns geswaai het.

Charles ·

Presies Jan, net soos jy se! Daar’s niks fout met die Kieskollege nie, inteendeel – daar kan met goeie rede aangevoer word dat JUIS DIT die rede is waarom daar nie reeds meer skeuring in die VSA plaasgevind het as nou tussen die konserwatiewes en die “holderstebolder van hul sinne beroof” “liberales” (lees:fasciste) nie, te wete dat die kustelike elites daardeur verhoed word om hul oorheersende, voorskriftelike en VERSTIKKENDE Orwelliaanse visie op Middel-Amerika (die “fly-over States”) af te dwing. (om so te doen sal NATUURLIK GROOT marakkas VEROORSAAK en derhalwe dat ek se dat dit die VSA eintlik red van geweld en ondergang en BALANS bied tussen die oorweldigend globalistiese en “sosialisme-omhelsende” westelike Kalifornië, Oregon, Washington staat [na dese sluit die “liberal trap” ook vir Colorado en Nevada in dink ek] en die Oostelike “kommunistiese deelstate [dink aan NY, NJ – moet ek meer se! – Maryland, Connecticut, Maine ens.] aan die een kant en NORMALE AMERIKA in die middel wat nog nie van hul sinne beroof is nie ;)
Groete,

m.d.r. ·

Rhoda…wil jy nie maar huistoe kom nie….as jy dit met die Sosialiste daar kan doen–dink net wat kan jy met hierdie lot hier plaaslik doen..1

‘Sblief Rhoda. ons het jou denke hier baie nodig..!

Bleek Willem ·

Hygend. Hoe lekker is dit nie om ‘n artikel van Rhoda Khadali se kaliber te lees nie.

Jan ·

Trump is ook maar ten gunste van onwettige immigrasie.hy keer n paar onwettige immigrante by die voordeur en laar n paar miljoen by die agterdeaur in…trump mislei die tepublikeine heerlik…

Yankee, ·

Jan, vee tog die slaap uit jou oog uit. Jy het vir seker geen benul wat hier aangaan nie.

aj ·

Rhoda ‘mince’ nie met woorde nie! Sy noem ‘n ding by die naam!

ha…. ha….

Skerp !

Gert ·

Dankie Rhoda, uitstekend opgesom.
Die voordeel wat Amerikaners darem nog het, is dat daar een groot party is wat nie sosialisties is nie, anders as Suid -Afrika waar die Groot Drie almal sosialisties is.

Annie Webb ·

Eintlik méér ontstellend dat sosialisme so ‘n stewige vastrapplek in die VSA gekry het. Dit is veronderstel om die grootste suksesvolle kapitalistiese Westerse moondheid op ons planeet te wees. Nou is dit op ‘n plek waar ‘n kundige soos Newt Gingrich sê as Trump nie ‘n tweede termyn wen nie, verval die VSA in sosialisme waaruit dit waarskynlik nooit weer gaan kom nie en word China die grootste wêreldmoondheid. Ons is Afrika; eintlik onvermydelik sosialisties. Ek dink nie Afrika was in wese al ooit enigiets anders nie.

Andreas ·

Annie, maar is sosialisme nie die maklike uitweg met tonnelvisie en sonder om ander ruimte tot kreatiwiteit en eie denke te gee nie? Stagnasie en met die oog op die staat vir jou voortbestaan. Hulle weet nie van kennis wat jou soos die ruimte vasvang nie, ‘n verskietende ster, en dan sukkel dit om ‘n mier se beweging te volg.

Vintcent ·

Rhoda het destyds baie objektief geskryf toe Die Burger nog ‘n leesbare koerant was en voor hul links-liberale oorname. Dankie vir hierdié bydrae. Ek sien uit om nog meer van haar hier raak te lees.

Annie Webb ·

Goeie opsomming van gebeure in die VSA-politiek. En uit die oogpunt van Rhoda se stewige konneksies met die voorste konserwatiewe media in die VSA. Pres. Trump veg vooraan in die huidige stryd om die Westerse kultuur van kapitalisme weer op sy voete te kry/hou ná dekades van globalisme, waartydens sosialisme stewig vastrapplek gekry het in Europa en die VSA. Die onbegrip van SAners oor politiek in die VSA as gevolg van voortdurende linkse propaganda uit die VSA via nuusagentskappe, is ontstellend. Soos ook die wanbegrip dat daar hoegenaamd ooreenkomste is tussen SA en die VSA se politiek en/of politici. Baie SAners glo bv die linkse propaganda dat pres. Trump rassisties is, tesame met ‘n klomp ander -ismes en -fobies. Dis totale snert. Pres. Trump werk vir alle Amerikaners van alle rasse, genders en seksuele voorkeure. Hy gaan op geen wyse “wittes” in SA kom beskerm/red nie. Minderheidsregte word in internasionale reg beskerm en daarvoor kan minderhede hulle op die VN beroep. Maar praatjies oor Trump as “redder” van wit SA is ewe belaglik as linkses se geliefkoosde vergelykings van Trump met Zuma of Malema.

Rhoda Kadalie ·

Annie Webb jou komentaar is insiggewend, jy kort n rubriek! Ek geniet jou bydrae deeglik.

Andreas ·

As Cyril en die komp hier maar die insig kon hê oor die situasie in Suid-Afrika, as wat Rhoda insig het in die Amerikaanse politiek. Wat ‘n versugting en nou hou Rhoda se kleinkinders haar daar oorkant vas, maar ek verbeel my ek het al van ‘n president ‘in exile’ gehoor…..

Sy laat my aan Jan Smuts dink waarvan gesê is, Suid-Afrika was te klein vir hom.

Human ·

Lees die boek, American Carnage van Tim Alberta, hoe Trump die GOPe onder beheer het en hoe hulle na sy pype dans.

Annie Webb ·

Tim Alberta werk vir Politico, bekend as redelik links. Mens moet dit in gedagte hou by die lees van die boek. Die “ou” GOP was net soos die Dems in die sakke van groot donateurs en het dié se belange ondersteun eerder as gewone Amerikaners s’n. Trump moes veral Paul Ryan uitdaag omdat dié nie die suidgrens wou sluit nie. Waarskynlik omdat sy donateurs goedkoop arbeid soek.

Human ·

Verskonings, verskonings vir Tantrum Trump. Ek het nie ‘n probleem met die GOPe se beleid nie net met hulle keuse van President. Hy mag ‘n biljoener wees, maar dit maak nie van hom ‘n beter mens nie en enige iemand wat hom bewonder en aanbid moet hulle dokter gaan sien, want daar is definitief fout met hulle gehoor en sig.

Jan ·

Ramaposa weet presies wat hy doen hy gaan julle oukies verarm en hom en al die werwldleiers ryk maak heheh

Johan Swart ·

Die Demokrate huil vir n demokratiese verkiesing,die meerderheid publiek stem vir Trump in die 2016 verkiesing deur hul demokratiese reg te gebruik, nou dat Trump demokraties verkies is deur die meerderheid mense, nou huil die Demokrate dit was nie n demokratiese verkiesing nie….tipies narsisisties liberaal.
Julle tjank en neul nou al vir 4 jaar…get over it….Hollywood is dood..julle fairytales ook.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.