Demokratisering van die media bedreig tradisionele monopolie

skootrekenaar-slimfoon-tik-skryf

Foto: Stanley Dai/Unsplash.com

Die onlangse debat by Aardklop oor die afsit van die kommentaarfunksie op die elektroniese media het wye reaksie uitgelok. Aan die een kant raak sekere mediakringe se geduld op met hul lesers wat meermale hewig met hul standpunte verskil. Aan die ander kant wil lesers hulle nie meer laat voorskryf wat hul standpunte moet wees nie omdat hulle volwasse mense is wat vir hulself wil dink en besluit. Dan is dit ook so dat sekere lesers misbruik maak van die kommentaarfunksie en só wild en wakker lostrek dat die publikasie ook by lastersake ingesleep kan word. Die ervaring het boonop geleer dat die meerderheid lesers hulself nie met platvloerse taalgebruik of venynige gevegte kan vereenselwig nie. Indien die kommentaar nie gemodereer word nie, skakel die meerderheid na ander media oor waar gesprekke in ’n beter gees plaasvind. Dit bly egter belangrik dat lesers hulle sê kan sê, omdat berigte tweerigtingkommunikasie is, waar die gesprek in die kommentaar onderaan voortgesit word.

Vryheid

Die vrye en lewenskragtige media in die land is een van die belangrikste ligpunte in ʼn toekomspad wat soms maar donker lyk. Thomas Jefferson het immers gesê dat die burgery se vryheid van mediavryheid afhang. ʼn Mediakorps wat die burgery met akkurate, gebalanseerde en deurdagte mediadekking inlig oor wat gebeur, bly die beste skans teen tirannie. Daarom het Solidariteit in die verlede nie gehuiwer om joernaliste by te staan soos in die geval van die suksesvolle hofsaak wat namens geskorste joernaliste teen Hlaudi Motsoeneng gebring is nie.

As openbare meningsvormers, beskik die media oor geweldige mag omdat die publiek staatmaak op die akkuraatheid van hul nuus en die ewewigtigheid van hul menings. Abraham Lincoln het selfs gesê dat die media gewoonlik meer mag as regeerders het omdat hul invloed op die openbare mening regeringsbesluite in ʼn bepaalde rigting kan stuur. Hierdie mediamag strek verder omdat die gemiddelde mens sy of haar menings grond op wat hulle in die media hoor, lees of sien. Juis daarom het die media ʼn geweldige verantwoordelikheid om waarheidsgetrou te berig omdat miljoene mense se besluite afhang van die inligting wat hulle uit die media kry.

Demokratisering

Die media het in die verlede ʼn monopolie op inligting gehad en het bepaal watter inligting aan hul gebruikers deurgegee gaan word. Dit was grootliks ʼn eenrigtingverkeer van bo af na onder. Die opkoms van die internet en sosiale media het die mediawêreld egter gedemokratiseer en die media het sy beheer oor inligting verloor. Daar was skielik ʼn veel vryer vloei van aansienlik meer inligting. Wat net so ʼn belangrike ontwikkeling was, was dat die moderne leser en luisteraar ʼn stem gekry het en daardie stem wou laat hoor!

Eenrigtingverkeer het nou tweerigtingverkeer geword. Van Wyk Louw het immers gesê die “vrye meningswisseling is die lug waarsonder ons nie kan lewe nie.” Hierdie tweerigting-kommunikasie is natuurlik nie sonder sy uitdagings nie. Die gewaande gesigloosheid van die elektroniese media laat sommige mense dink hulle kan enige iets vir enige iemand sê. Niemand het ooit gesê dat demokrasie volmaak is nie! Talle publikasies het nie hierdie tweespraak van hul lesers geduld nie en het hulle soos stout kinders stilgemaak deur die kommentaarfunksies feodaal af te skakel. Hulle wil streng alleen afpraat en hul lesers moet eerbiedig opkyk, soet luister en doen wat vir hulle gesê word.

Magsmisbruik

Die oorgrote meerderheid Afrikaanse joernaliste het soomloos by die nuwe era van vrye inligtingsvloei en vrye meningswisseling aangepas. Hul rol was nou dié van meningsleiers en nie voorskrywers nie. Hulle het nuusgebeure gedek as dit nuuswaardig was en hul kommentaar was soms skerp, maar billik en gebalanseerd.

ʼn Klein groepie het egter hardhandig gereageer en hul magsposisie probeer handhaaf. Met die oog op die nuwe magsbalans in die land het hierdie groepie ʼn loopbaan probeer maak deur ʼn anti-Afrikaanse en ʼn anti-Afrikaner-agenda te dryf. In die proses het ʼn paar hulself van joernaliste na politieke aktiviste verander. Hulle wou nie meer nuus skryf nie; hulle wou nuus maak. Die deurgee van inligting sodat volwasse lesers self besluite neem, was nie vir hulle genoeg nie. Hulle wil self die besluite neem en dit klaarvoorberei aan hul “onnosele” lesers voer.

In hierdie konteks gebruik ek Tim du Plessis se term “Seunse Weenkoor” om hierdie handvol aktiviste te beskryf. Dit verwys na hul luidrugtige vendetta teen Afrikaans en sy sprekers in die algemeen, en teen Solidariteit en AfriForum in die besonder. Voorbeelde hiervan was die Nazi-teerkwas teen die Potchefstroom-kampus en venynige aanvalle in die oortreffende trap op enige iets wat Solidariteit en AfriForum doen. Steeds wil hulle egter alleen praat en duld nie terugpraat nie. Met enige teenspraak word hierdie aktiviste skielik weer joernaliste en skuil agter die veilige skerm van mediavryheid. Só word enige poging om onsself te verweer, as ʼn kamstige aanval op mediavryheid te beskryf.

Fopnuus

Die ergste fopnuus is nie die ooglopend valse inligting op duidelik verdagte sosiale mediablaaie van amateurs nie. Die grootste gevaar vir vrye joernalistiek lê eerder in die doelbewuste verdraaiing van die feite en die berekende misleiding van die publiek op geloofwaardige mediaplatforms deur enkele bekende, aktivistiese joernaliste. En só het ʼn groot publikasie die afgelope tyd weer ʼn platform gebied vir ʼn joernalis wat ʼn lang vete teen AfriForum voer en die organisasie met rassistiese Nazigroepe in die VSA probeer vergelyk.

Solidariteit en AfriForum is beslis nie bo kritiek verhewe nie, maar ons sal ons demokratiese reg gebruik om onsself te verdedig teen boelies wat hul magsposisies misbruik om fopnuus en valse propaganda te verkondig.

Demokratiese mediavryheid verdien beter.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Flip Buys

Meer oor die skrywer: Flip Buys

Flip Buys is voorsitter van die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

12 Kommentare

jongste oudste gewildste
Francois vRvO

Ek hoop ek praat vir baie mense as ek se ons is dankbaar vir die komentaar funksie en moet dit as ‘n voorreg sien , nie ‘n reg nie.
Dit dien as ‘n dubel doel deur inlinting van die media te verifier as waar of onwaar , maar ook ‘n maatstaf vir die wat hulle propagandas wil dryf om te sien hoe suksesvol hulle oortuiging was.
Ons kan dit verder vat deur ‘n “hou van” duimpie sisteem by te voeg wat dit ‘n presiese wetenskap sal maak.

Sam

Weereens in die kol, Mnr Buys. Goed beredeneerd. Ons soek verkieslik akkurate goedgestaafde nuusdekking en nie opinies nie. Laasgenoemde kan meeste van ons self vorm. Indien joernaliste hul persoonlike opinies wil gee, moet dit duidelik geskei word van nuus.

Jerry

Dit is waar wat Flip skryf teenoor die anti Afrikaners en anti Afrikaans. Dit is egter ook waar dat dit op ons ook van toepassing is. Ons trek maklik die skoen aan wanneer dit ons pas of nie pas nie, of die kritiek teenoor ons geregverdig is of nie. Dit bring mee dat ons somtyds so meegevoer word dat ons onsself in ontkenning bly staan wanneer ons n verkeerde standpunt ingeneem het en domastrant weier om dit aan te pas. Nou ja, dit is so dat jy jou jabroers het wat gaan saamstem, reg of verkeerd. Gelukkig is dit egter… Lees meer »

Judge Dredd

Stem 100% saam met die skrywe.

Jerry

Vervolg. Dit is ook so dat Solidariteit sal optree teen boelies wat hulle magsposisies misbruik. Weereens het Solidariteit hulself ook reeds daaraan skuldig gemaak deur self hulle magsposisie te misbruik en te boelie wanneer dit hulle pas soos ons gesien het met Spur, Miway ens. Wanneer die skoen dus pas dan boelie ons ook maar lekker! Wanneer dit n oor en weer geboelie raak dan is dit tekenend van n span wat kwaad met kwaad vergeld en dit dan verskans as kwansuis geregtigheid. Die hooffokus moet gerig bly op onsself, op selfbeskikking, op werkskepping deur versoenende optrede, maar ook deur… Lees meer »