Demoniese kunswerk in skole- ʼn Christelike reaksie

kruis_h07-cross_sunset-10.jpg

Argieffoto

Deur Mike Burnard

Oorspronklik gepubliseer deur InContext. Lees die oorspronklike artikel hier.

ʼn Video is op Maandag 21 Oktober op sosiale media gelaai deur ʼn ouer (Andrew Anderson van Richardsbaai, Suid-Afrika) oor “sataniese” kunswerke wat uitgestal is deur ʼn gr. 12-leerder van Grantleigh College, Richardsbaai. Een van die kunswerke beeld Jesus uit as ʼn nar (soortgelyk aan die McDonalds’-gelukbringer, Ronald McDonald) en ander is papier mâché-beelde van ʼn figuur met horings, gemaak van bladsye uit die Bybel wat opgeskeur is. Die video verskaf baie min konteks en bevat geen van die verduidelikings wat die leerder saam met elke kunswerk opgesit het nie.

Die video het soos ʼn veldbrand versprei en mense was woedend en het optrede geëis. Protesoptrede is gereël en gemeenskappe reg oor Suid-Afrika het hul woede uitgespreek oor die “godslasterlike” kuns van die jong leerder. Voor die einde van die dag het talle koerante ook die storie gepubliseer – met verskillende menings en verskillende interpretasies.

Berigte wat Maroela Media oor die aangeleentheid gepubliseer het, kan hier en hier besigtig word.

Die leerder het gereageer deur sy redes agter elke werk (wat opgesit is saam met die kunswerke wat uitgestal is – maar wat die videonemer op geen manier probeer insluit het nie) te herhaal. Dit het hy gedoen weens die “omvang van die polemiek wat daarop gevolg het”, nadat sy kunsuitstalling “uitgelek” is sonder sy toestemming.

Hy het verduidelik: “Die kunswerk in hierdie uitstalling ondersoek die kommersialisering van hedendaagse georganiseerde godsdiens, sowel as die geldelike uitbuiting van gelowiges deur gierige individue wat wegkruip agter die skyn van die kerk of soortgelyke godsdienstige instellings.

“Hulle [die kunswerke] vergestalt (deur middel van die gebruik van [bestaande] godsdienstige kunswerke) hoe hedendaagse godsdiens oppervlakkig geraak het. In plaas daarvan om hul geloof uit te leef op ʼn diep, oënskynlik betekenisvolle vlak en werklik die moed te hê om metafisiese vrae te vra, verbruik baie mense bloot hul godsdiens op dieselfde manier as enige ander produk,” het hy verduidelik.

Die leerder het gesê hy het die nar Ronald McDonald gebruik as ʼn simbool van “die besmetting van geloof deur die verbruikerskultuur”. “Ronald McDonald word nie gebuik as ʼn bespotting van enigiemand se persoonlike verlosser nie, maar as ʼn simbool van die mishandeling en misbruik daarvan,” het die leerder voortgegaan.

Hy het gesê hy gee nie om wat mense glo nie: “Ek wiI bloot die moontlike risiko’s beklemtoon in die manier waarop hulle [mense] dit glo. Vir ʼn gemeenskap wat oorheers word deur ʼn idee-gedrewe kultuur, is die inhoud van jou gedagtes miskien die belangrikste en uitbuitbaarste.”

Hy het die aannames wat oor sy kuns gemaak is op sosiale media veroordeel en gevra dat “voordat almal praat, hulle miskien dink “.

Die insident in Richardsbaai het ʼn soortgelyke reaksie veroorsaak as die kunsuitstalling in Israel in Januarie vanjaar toe ʼn standbeeld van ʼn “gekruisigde Ronald McDonald” protes uitgelok het van die land se Arabiese Christenminderheid.

Sulke gevalle laat ʼn mens jou afvra: Hoe behoort Christene te reageer op sulke gebeure en hoogs emosionele inskrywings op sosiale media? Watter doel dien dit om dit aan te stuur na soveel mense as moontlik en ʼn “heilige woede” in die harte van die ontvangers te veroorsaak, of behoort daar ʼn ander reaksie te wees? Vyf dinge moet oorweeg word voordat jy reageer:

  1. IN PLAAS DAARVAN om deur die oë van godsdiens te kyk, kyk deur die oë van Jesus. God is nie senuweeagtig oor hoe mense Hom beskou nie. En selfs al het die kunswerk aanstoot gegee, sal Christus uiteindelik bekommerd wees oor die hart van die kunstenaar en nie die werk self nie. Die kuns stel die kunstenaar se reis en verwarring voor (een van die werke stel die leerder se reis van “Christen na ateïs”) voor.

ʼn Plaaslike pastoor, wat ʼn verbintenis met Grantleigh College het, Jason Currie, het sy pyn soos volg uitgespreek: “Dit bekommer my dat baie Christene meer besorg is oor ons simbole van heiligheid as heiligheid self. Dit is ʼn mens, iemand se kind. Hy is nie die vyand nie. Hy is geskape na God se beeld met ʼn briljante intellek op baie gebiede. Maar hy het ʼn kant van die kerk ervaar wat ons verag en oor skaam is. Tog tel ons klippe op om te gooi na iemand wat die kerk wat ons geskep het kritiseer. Ek wens hy het die liefdevolle, verlossende, vergewendgesinde almagtige God ervaar of gesien wat ek ervaar het in plaas van die hol bedrog en godsdienstigheid wat hy leer ken het. Terwyl ek saamstem met van sy kuns, is daar baie daarvan waarmee ek nie saamstem nie. Maar sy uitdrukking van sy persoonlike reis van godsdiens na ateïsme breek my hart, omdat wat hy ervaar het en uitbeeld as die waarheid, ver van die waarheid van God se Woord en die Here is wat ek in my hart ervaar het. Mense is woedend oor sy uitbeelding van Christus en die gebruik van Christelike items. Aan die klipgooiende Christene: oorweeg of Jesus jou sou gelukwens met jou verdediging van die Bybel wat opgeskeur word of met jou gebede om sy verlore seun terug te bring.”

Tydens ʼn besoek aan Egipte het een van die kerkleiers vertel hoe hy homself sien sit deur Jesus se oë en die wêreld en die mense dophou deur die oë van ʼn liefdevolle Verlosser. Hy het vertel hoe sy hele uitkyk verander het van veroordeling na liefde – vir terroriste, vir Moslems, vir sy vervolgers, vir sy vyande en vir almal wat hom te na gekom het en hom seergemaak het.

1 Timoteus 2:3-4 dui aan hoe die Here die kunstenaar sien: “So is dit goed en aanneemlik vir God, ons Verlosser, wat wil hê dat alle mense gered word en tot kennis van die waarheid kom.”

Ons kan nie reageer op enige ander manier as wat Christus sou nie. Ons moet nie aanstoot neem namens Christus wat meer bekommerd is oor die leerder as wat Hy is oor die kunswerk nie. Ja, daar is ʼn verantwoordelikheid om met die skoolhoof te praat oor die geval, maar ons het geen reg om die student te demoniseer of ʼn mandaat om boodskappe van woede en haat te versprei nie.

  1. IN PLAAS VAN WOEDE opstook, omarm DEERNIS

As Christene gee ons lewe of dreineer ons lewe, daar is geen neutrale gesprek nie. Deur ons inskrywings op sosiale media en ons informele kommunikasie met vriende word ons boodskappers van hoop of boodskappers van woede en vrees. Die Bybel onderhandel nie oor hoe en wat ons kommunikeer nie. Efesiërs 4:29 verskaf ʼn soliede platform vir hoe om te kommunikeer: “Vuil taal moet daar nooit uit julle mond kom nie; praat net wat goed en opbouend is volgens die eis van omstandighede, sodat dit julle hoorders ten goede kan kom.” Die Bybelse riglyne is ononderhandelbaar duidelik:

NET wat goed is en wat help om ander mense op te bou. Dit sou ʼn meer Bybelse benadering wees om na die kunswerk te verwys deur gebed vir die kunstenaar te vra en nie die kunswerk te veroordeel nie. Dit sou ook gehelp het om die rede agter die kunswerk te begryp en ʼn bietjie krities na te dink oor die kunstenaar se bekommernisse en motiverings – die kunstenaar se begrip en ervaring van geformaliseerde Christelikheid het sy kuns beïnvloed. Maar selfs ʼn versoek om gebed moes nie buite die plaaslike gemeenskap versprei wees nie.

  1. IN PLAAS VAN ‘openbaar maak’, hanteer ‘private sake’ privaat

Mnr. Currie het, toe hy mnr. Anderson se kommer oor die kunswerk hanteer het, voorgestel dat hy “formeel met die skool praat”, net om vas te stel dat die video opgelaai is kort na hul gesprek. Selfs al was hierdie geval algemene kennis in Richardsbaai, was dit steeds privaat vir die plaaslike gemeenskap. Daar was geen rede om dit nasionaal, of selfs wêreldwyd, openbaar te maak nie deur kwessies (en mense) bloot te stel wat deur die plaaslike gemeenskap opgelos kon word nie. Dit het byna geen waarde vir die gemeenskap buite Richardsbaai om berou en optrede te eis vir ʼn geval waarby hulle glad nie betrokke is nie.

Deur gevalle van hierdie aard op sosiale media te plaas deur, in sy eie woorde, ʼn “ontstelde” ouer, word dit ‘n bron van skindernuus wat lei tot woede wat geen doel dien in die koninkryk nie. Albei partye, mnr. Anderson en die skool, leer uit hierdie voorval. Die Christelike gemeenskap moet altyd waaksaam wees wanneer ons in gesprek tree met die wêreld. Die vraag is nie of ons moet opstaan waarvoor ons glo nie, maar HOE ons opstaan wat belangrik is.

  1. IN PLAAS VAN die donker vervloek, steek ʼn kers op

Dit bly ʼn beginsel wat die moeite werd is om na te streef in alle omstandighede. Christus het sy volgelinge opgestel (Matteus 5:14-16) in ʼn donker en sondige wêreld as bakens van lig, nie optiese waarnemers nie: “Laat julle lig so voor die mense skyn, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemel is, verheerlik.”

Die 2017-rolprent, The Music of Silence (Italiaans: La musica del silenzio), gegrond op die 1999-roman met dieselfde naam geskryf deur die tenoor Andrea Bocelli, sluit af met hierdie woorde: “Liewe Veronica, my liewe kinders, elke lewe is ʼn wonderlike storie wat werd is om vertel te word. Elke lewe is ʼn kunswerk en as dit nie so lyk nie, is dit dalk net nodig om die kamer te verlig waarin dit is. Die geheim is om nooit op te hou glo nie, om te vertrou in God se plan vir ons, blootgelê in die tekens waarmee Hy ons die weg wys. As jy leer om te luister, sal jy vind dat elke vorm van lewe met ons praat oor liefde.”

As ons net kon leer om die “kamers” te verlig waarin die harte van mense is wat ons aanstoot gee. As ons net die liefde van ʼn God wat verby die aanstoot, die slae, die houe, die beledigings, die spottery en die skinderpraatjies gekyk het, en vergewe het met alles wat Hy gehad het, kon begryp.

  1. IN PLAAS VAN oordeel, ween

Ons het geen ander keuse as om met Christus se woorde saam te stem wanneer Hy sê: “Vader, vergewe hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie” (Lukas 23:34). Wanneer ʼn mens inskrywings op sosiale media lees wat – doelbewus of onopsetlik – ʼn siel demoniseer vir wie Christus gesterf het, moet die resultaat nooit oordeel wees nie, maar smart.

Die volgende woorde is van toepassing en behoort ons geestelike kompas te wees wanneer ons Christus volg: “Moenie wraak neem nie, geliefdes, maar laat dit oor aan die oordeel van God. Daar staan immers geskrywe: ‘Dit is my reg om te straf; Ek sal vergeld,’ sê die Here. As jou vyand honger is, gee hom iets om te eet; as hy dors is, gee hom iets om te drink; want deur dit te doen, maak jy hom vuurrooi van skaamte.” Moet jou nie deur die kwaad laat oorwin nie, maar oorwin die kwaad deur die goeie” (Romeine 12:19-21).

BRONNE

https://www.timeslive.co.za/news/south-africa/2019-10-22-watch-pastor-slates-matric-pupils-satanic-artwork-at-kzn-school/

https://www.timeslive.co.za/news/south-africa/2019-10-23-my-art-is-not-satanic-its-about-greed-in-organised-religion-saysmatric-pupil/

https://www.facebook.com/jason.currie.585/posts/10157332341780861

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

26 Kommentare

Andre ·

Ek dink die reaksie is erger as die uitstalling. Die ongehoorde bepleiting om dit te aanvaar wat teenstrydig met jou opvoeding is met aanhalings uit die Bybel. Indien die “kunstenaar” n werklike probleem het wat hy wil oordra en bekend maak aan die wereld, hoekom nie dit op skrif sit sodat almal dit verstaan nie. Sy idee is ook nie eens oorspronklik nie maar n namaaksel.

Andrea van Vuren ·

Die kunstenaar is nog ‘n skoolkind. Ek wil dit waag om te sê daardie kunswerke is te gevorderd en is moontlik deur ‘n ouer meer ervare rolmodel geïnspireer.

Wat nou ·

Mike verduidelik gou vir my wat die derde gebod sê? As God so voel oor sy naam (wat hy verwag ons moet nakom) Hoe voel Hy oor sy Seun se beeld? Moenie God se heiligheid by die venster uitgooi nie. Baie mense het dit al vergeet en sleg tweede gekom. Daar is heelwat voorbeelde in die Bybel. Jy maak ‘n stelling dat Christus nie bekommerd is oor die kunswer nie maar oor die hart van die kunstenaar…dit impliseer ons dade is verwyderd van ons hart…so Jesus gee nie om ad ons sondig nie want ons harte bly rein…dis ‘n eerste??

Ek kan ook nie verstaan hoekom die kunstemaar nie sy werk publiek wil maak nie. As die werk so goed en wonderlik is met die aangrypende boodskap hoef hy/sy vir niks skaam te wees nie. Ek wonder regtig wat Christus van die kunswerk sou së?

Annalize ·

Ek stem 100% saam.
As die kunstenaar sy opinie of visie wou uitbeeld kon hy dit op n manier gedoen het wat nie op die oog af godslasterlik, skokkend of “hurtful” voorkom vir ons as christene nie. God se beeld is heilig en om die tipe ” kunswerk” uit te stal onder die dekmantel van kuns is verregaande. Die feit dat ons als probeer regverdig is presies wat fout is met ons samelewing. Kom ons vergeet nie dat die n skoolkind is nie en sy train of thought is hoogs kommerwekkend. Daar is geen grys area in christenskap nie. En die artikel voel ek is hoogs misleidend.

Feite ·

Mike Burnard, jy mag maar oor Christenskap skryf, enige tyd en ek sal elke keer saamstem na aanleiding van hierdie puik ontleding. Ek hoop alle gelowiges lees dit.

JP ·

Jammer vir die Engels, maar dalk help die volgende Skrif…
Philippians 2:
9 Therefore also God highly exalted Him and bestowed on Him the name which is above every name,
10 That in the name of Jesus every knee should bow, of those who are in heaven and on earth and under the earth,
11 And every tongue should openly confess that Jesus Christ is Lord to the glory of God the Father.

Romans  14:11 For it is written, “As I live, says the Lord, every knee shall bow to Me, and every tongue shall openly confess to God.”

Dereck Le Roux ·

Dit maak nie saak van watter denkrigtigtings of bedoelings hierdie godslasterlike “kunsuitstalling” was nie of watter reaksie dit verondrrstel was om te ontlok nie, die feit van die saak is dat daar wel uitbuiting in alle gelowe gevind word, selfs kultusse buit mense uit, die vraag is hoekom die “kunstenaar” nou juis die Christelike Godsdiens uitgesonder het onder die dekmantel van “kuns” nog vrae is sou die “kunstenaar” toestemming self gegee het, sou die skool toestemming gegee het en alhoewel die skool nadat die kat in die duiwehok ingegooi is om verskoning gevra het, wat gaan die skool doen met die jong Godslasterlike kunstenaar se godslasterlike toekennings? Gaan hy dit behou of gaan die skool dit ontrek?

Paul ·

Die stroop wat Mike om mense se monde probeer smeer, smaak soos Belhar!

Leonard van der Dussen ·

Ten eerste mag God nie uitgebeeld word nie. En daarby word is die heilige God van hemel en aarde van ewigheid heilig en op geen wyse onderhewig aan “kuns” of “kommentaar” nie. Dit is teleurstellend dat hierdie verwronge beeld van Jesus-liefde soos in die mening hierbo gepubliseer word. God se heiligheid, die majesteit van die Lam wat ewig leef en regeer (Openbaring) is nie die onderwerp van bespiegeling nie. Of geen manier nie,

AndreB ·

Puik artikel. Dit was hartseer om te sien hoe maklik “om te veroordeel” gebeur.

Nie oortuig ·

Mike, ek sien jy haal graag verses uit die Bybel aan maar los heel gerieflik die gedeelte uit dat die student n Bybel in stukkies geskeur het.

Hoeveel Christene was gemartel en op n brandstapel gesit sodat ek en jy n Bybel kan he? In lande soos China en Pakistan bars die Christene in trane uit wanneer hulle vir die eerste keer n Bybel vashou en jy wil Christene wat ontsteld is probeer oortuig dat ons verkeerd reageer?!

Regs! ·

Was die klippilare wat Israel by die altaar gebou het ook kunswerke? Die klippilare wat God hulle VERBIED het om te bou! Dieselfde klippilare (torings) wat vandag nog by die kerke staan!

Berdéhan Brand ·

Die artikel hét meriete, maar 3 is loodreg in lyn met die Skrif. Die feit dat mense (en kinders) aan die uitbeeldings blootgestel is, ontneem die meriete van “privaatheid” wat hier genoem is. Dat dit dus in die openbaar aangespreek is, is aanvaarbaar.
Dalk was die hele gedoente ook nodig om “gelowiges” wakker te laat skrik uit ñ baie trae “comfort zone”.

Frieda ·

Ek dink daar is ‘n verskoning verskuldig aan die kind. Na die verduideliking kan ek sien wat hy wou uitspel.

Feite ·

Mike se ontleding is puik! Die kunswerk bevestig dat Christenskap gekaap word deur verskillende groepe met motiewe wat strek van besigheid en geldmaak, humanisme en links liberale denke om kerkgeboue met getalle oor te neem, tot by die ondenkbare van satanisme. Die dinge gebeur omrede Christene se goedgelowigheid van hulle n maklike teiken gemaak het en bewys dat Christene nie sterk genoeg staan in die geloof nie! Deesdae se Christene is dus nie meer te vertrou nie en Christen groepies en kerke se motiewe is onder verdenking en gelowiges gaan die kat goed uit die boom moet uitkyk om nie ingetrek te word deur bymotiewe wat anti-bybels is nie. Wanneer Christene toelaat dat mensgemaakte denke/ideologiee gebruik word om die bybel te verander, dan is dit die begin van die einde van die Christelike Woord van God. Christenskap is onder beleg en inderwaarheid by n kruispad wat dreig om Christene verder te vervreem van die kruis!

Julia ·

Humanisme, verdraagsaamheid (met alles en almal) en aanvaarding ter wille van sogenaamde “vrede” is vandag almal se god. God Almagtig vra heiligheid, gehoorsaamheid, reinheid, en getrouheid aan Hom, maak nie saak wat na ons kant toe gegooi word nie. Of dit nou “kuns”, “humanisme” of watter “sugar coating” ook al het, ek as wedergebore Christen mag nie my knie daarvoor buig of dit stilswyend aanvaar as dit nie aan God se standaard voldoen nie. NIEMAND van ons as mense sal toelaat ons man, vrou of kind wie ons met ons wese liefhet verneder, verguis en bespot word en dit stilswyend aanvaar nie. Hoekom moet ek as kind dit aanvaar dat my Vader en Verlosser wat ek liefhet, die teiken is? Ek bid vir elkeen wat nog nie Sy wonderlike Liefde en Genade ervaar en aanvaar het nie. Om nie met iets saam te stem of te aanvaar nie, beteken nie noodwendig veroordeling nie. Jy is veroordeel as jou gewete jou aanklae en jyself skuldig voel oor jou dade – dis veroordeling. Selfs God veroordeel niemand .Inteendeel Hy het almal lief en wil he elkeen moet Sy Liefde ervaar. Elke mens op aarde sal hom/haarself veroordeel.

My mening ·

Sou daar soveel “begrip”, regverdiging en aanvaarding gewees het as die kind swart mense, gays, Mohammed of vroue so uitgebeeld het? Hierdie en vele meer is heilig en onaantasbaar, maar dis vir baie geen probleem om Jesus so te verag nie.

Welma ·

Dankie, Mike. Die deurdagte besadigte benadering lê vir my baie nader aan die Nuwe Testamentiese opdrag, as die veroordeling, kwaad stokery en soms haat, waarmee sommige mense reageer het. Dis eintlik so eenvoudig: ons moet God en ons naaste lief hê, nie veroordeel nie en soms uit die pad staan, sodat God self met die worstelende jong man in gesprek kan tree.

Frans C ·

Behoort ‘n mens ‘n leerder in ‘n sg skool met Christelike beginsels toe te laat om ‘n ‘reis van Christen na ateïs’ te onderneem.Die skrywer is mi ‘n bietjie naief in sy benadering,want so’n reis is ‘n verloëning van en verraad van Christus en die wat Hom gestuur het.

Jesus sou Hom dus gedistansieer het en vir kind gesê het, na aanleiding van sy woorde aan Judas:Johannes 13:’27

En nadat Judas die stukkie brood gevat het, het die Satan in hom ingevaar. Toe sê Jesus vir hom: “Wat jy wil doen, moet jy baie gou doen!” Jy kan nie agter artistieke vryheid wegkruip om ‘n stanspunt daar te stel nie.Judas was dalk teleurgesteld dat Jesus nie aan al sy verwagtinge voldoen het nie.

Ons moet dus as Christene nie aarsel om ‘n ding op sy naam te noem nie,nl verraad van Jesus en dus ‘n bespotting van die wat Hom gestuur het.Om dus agter Bybelversies
weg te kruip kan dit nie ongedaan maak nie.

Om dus so’n leerling toe te laat om dit te doen in ‘n skool wat hom op Christelike beginsels beroep is nie aanvaarbaar nie. Laat ons eerder bid dat daar soos met Paulus skille van die leerling en diegene wat hom ondersteun se oë sal afval,want soos in
Paulus se geval het die doel nie die middelle geheilig nie.

Wilma ·

Van wanneer af verdedig n Christen Satanisme- dit is die kern van hierdie “kuns”? -Dit gee nie om hoe slim dit probeer regverdig word nie, dit is wat dit is. Wat ek nou wel sal doen, is vergewe. Die pa wat die video gemaak het, het vandag gevra dat mense die saak as afgehandel sal beskou. Geen kompromie nie – maar vergewe.

Karien Veldsman ·

Dis onatvaarbaar, watse leiding gee die skool en die onderwysers dan aan kindreds? Ek sal verseker nie my kindreds na n skool toe stuur waar hulle nie eers self weet waarvoor hulle staan nie. Of toelaat dat sulke geweldadige prente van n man wat sê oë uit gestrek is en sy derms uitgetrek word vertoon mag word?

Wat die kustenaar se motief betref glo ek nie vir een dag dat sy agenda was nie om Jesus te verspot of te vervolg nie. Daars baie mense wat moord pleeg en sê dat hulle die persoon regtig lief gehad het wat hulle vermoor het. My gevoel is hy probeer sy kuns werk net ‘justify’. En ongelukig vir hom word die Regter van die heelal nie gevlous deur kastige motief nie.

His opinion might be that Christianity is commercialized, maybe he should ask Jesus what he thinks?

Fran ·

Ek will net die jongman wat die kunstewerke gedoen hey vra hoekom her Hy Dan n Bybel gevat en in stukkies geskeur en dit orals tussen die beelde verstrooi! Dit is regtig uit die boosheid om dit te doen, so jou verduideliking is nie eerlik nie just gebruik dit as verskoning. Fran

Me ·

Dit is hartseer as ek sien hoe ons as mens mekaar aanval oor wat die media te se het oor wat verkeerd is nou reg is en reg verkeerd is. Almal het n opinie..my vraag is aan almal. As jy witter as sneeu is gooi die 1ste klip….maar ons is nie ..die sogenaamde geleerdes wil alles analiseer maar niemand vra wat kan ek doen om n LIG te wees..maak nie saak watter geloof jy is nie..kom ons vat hande saam mense die media en ander speel op ons gevoelens en ons almal val daarvoor..laat ons respek he vir mekaar. Ons hoef nie saam te stem nie wat gese word nie maar moenie verswelg word deur die media en mense se opinies nie.

InGedagte ·

Ek voel net dat die meerderheid van die ‘bewusmaking en reaksie’ beoog het om God te beskerm, soos n klein kind weg te stoot as ‘n gevaar aankom. En dalk is dit die probleem van vandag se samelewing. Dat ons onsself,(meestal onbewustelik) hoër ag, en dat dit nodig is om God te red,ipv anders om

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.