Deregulering van die regstelsel is nodig

Deur Martin van Staden

Martin van Staden (Foto: Verskaf)

Dit is vir kleinsakeondernemings in Suid-Afrika besonder duur om toegang te kry tot die reg. Sonder toegang tot die reg kan dié ondernemings nie belangrike geskille oplos of hul regte en belange gehandhaaf kry op ʼn manier wat regtens erken word nie. Daar is sekere dinge wat die parlement kan doen om die howe vir kleinsakeondernemings meer toeganklik te maak.

Die hof vir klein eise behoort oopgestel te word vir geïnkorporeerde besighede (tans mag net ongeïnkorporeerde sake-entiteite – nie-maatskappye – die hof nader) en sy monetêre jurisdiksie moet aansienlik verhoog word (van R20 000 tot R150 000).

Litigante moet ook tot ʼn hoër monetêre jurisdiksie kan instem. Naamskending, kwaadwillige vervolging, onregmatige vryheidsontneming, en wederregtelike inhegtenisneming moet ook binne die hof se jurisdiksie val.

Verder is dit vir kleinsakeondernemings duur om die landdroshowe te nader, al is dit laer howe. Die prosedures en rompslomp waarmee dit gepaardgaan om dié howe te nader moet deur korter prosesse vervang word. Kortproseshowe is as noodsaaklik erken in 1991, maar nooit in werking gestel nie.

In ʼn kortproseshof kan die voorsittende beamptes, in oorleg met die partye wat voor hulle verskyn, bepaalde bewysreëls en prosedurele vereistes of formaliteite laat vaar. Die besparing aan hoftyd is noodwendig ʼn besparing aan geld, want die duurste uitgawe vir die partye in ʼn hofsaak is hul regsverteenwoordigers, wat ʼn tarief per uur hef.

Die staat, en daarom die belastingbetaler, kan ook baie bespaar deur in ʼn kortprosesbestel aan hofverrigtinge deel te neem.

Miskien ʼn meer omstrede gedagte, is dat ander persone as regspraktisyns toegelaat moet word om hul eweknieë in die hof te verteenwoordig. Die staat het lank as hekwagter opgetree om te verseker slegs dié wat ʼn LLB-graad op universiteit verwerf het, ʼn twee jaar lange klerkskap by ʼn regsfirma of ʼn jaar lange pupilskap onder ʼn advokaat deurloop het, as prokureurs mag praktiseer. Terwyl dit vir ons in die regsberoep baie gaaf is – dit gee ons ʼn monopolie – maak dit dinge vir dié buite die regsberoep onmoontlik duur.

Niks keer gewone Suid-Afrikaanse burgers om met die landswette vertroud te raak en op ʼn gegewe gebied ʼn deskundige te word nie, sonder ʼn LLB en sonder die langdradige proses om ʼn toegelate praktisyn te word. Sulke mense behoort toegelaat te word om hul gelykes in ʼn hof te verteenwoordig.

Dit sal ʼn enorme uitbreiding van die reg se toeganklikheid meebring, nie net vir kleinsakeondernemings wat moontlik onder hul interne personeel mense met regskennis maar sonder formele regskwalifikasies het nie, maar ook vir agtergeblewe burgers.

Daar is natuurlik die risiko van onbetroubare operateurs wat slegte diens of geen diens nie sal lewer, maar dis ook waar van regspraktisyns.

ʼn LLB-graad en ʼn bietjie ervaring het nog nooit gekeer dat regspraktisyns hulle wangedra nie. Met ander woorde, dit gaan nie oor die graad of die tyd wat dit vat om ʼn regslisensie te kry wat die publiek teen oneerlike prokureurs beskerm nie. Dit gaan eerder oor persoonlike integriteit en die publiek se vermoë om hul gesonde verstand te gebruik wanneer hulle die karakter moet beoordeel van iemand wat hulle kies om hulle te verteenwoordig.

Die LLB en regslisensie is ongelukkig niks meer nie as iets wat aan die publiek ʼn vals gevoel van veiligheid gee.

Die aanbevelings hierbo is dié van die skrywers van Laws Affecting Small Business: Justice, wat deel is van ʼn reeks boekies wat die Vryemarkstigting uitgee. Die navorsing in die LASB-boekies dek agt terreine van staatswetgewing en -regulering wat die vestiging en groei van kleinsakeondernemings in Suid-Afrika belemmer en benadeel.

Die skrywers beveel ook aan dat Suid-Afrika wetgewing behoort te aanvaar, soortgelyk aan dié in Amerika, wat die ekonomiese impak van wette en regulasies op kleinsakeondernemings beperk deur die aanvaarding van daardie wette aan geregtelike hersiening te onderwerp.

Dit sal verseker dat onafhanklike instellings of die howe sal kan keer dat die parlement of uitvoerende departemente die land se kleinsakeondernemings met oormatige rompslomp en uitgawes belas.

Dit sal veral in vandag se tye baie help, want besighede, groot en klein, sukkel om kop bo water te hou.

Die LASB-boekies maak ʼn derde uit van die Vryemarkstigting se boek Radical Economic Transformation: The Legal Route to Economic Freedom, wat ʼn omvattende hervormingspakket aan die hand doen om die Suid-Afrikaanse ekonomie te laat floreer.

Die boek bevat nog ʼn aanbeveling: die wetsontwerp op die bevordering van ekonomiese aktiwiteit, wat die president in staat sal stel om wette en regulasies wat ʼn te groot las op ekonomiese groei en werkskepping plaas, op te skort of bepaalde bedrywighede daarvan vry te stel. So ʼn ingryping is miskien juis wat die dokter voorgeskryf het vir die ekonomiese inkrimping in Suid-Afrika.

Liberalisering is vandag so belangrik soos dit in die 1990’s was, toe die ekonomiese ondoeltreffendheid van die apartheidstelsel burgers se sak geruk het. Die regering het dinge destyds radikaal geliberaliseer en dit het tot ʼn dekade van ekonomiese groei en werkskepping gelei.

Dit is tyd om weer te liberaliseer.

  • Martin van Staden is die redakteur van die Vryemarkstigting se boek, ‘Radical Economic Transformation: The Legal Route to Economic Freedom’. Besoek www.martinvanstaden.com.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.