Dertig jaar ná die onderhandelinge

FW de Klerk en Nelson Mandela. (Bron: Onbekend)

Die media was die afgelope tyd vol artikels oor die begin van die grondwetlike onderhandelinge ná die ontbanning van die ANC. Die meeste ontledings het gefokus op die mooi bedoelings van ’n onderhandelde skikking om die destydse krisis in die land op te los. Die uitkoms van daardie skikking is egter nie genoegsaam ontleed nie.

Dit sal nie help om die verdeeldheid onder Afrikaners van drie dekades gelede weer te laat opvlam nie. Die groot vraag is nie hoe ons in die huidige krisis beland het nie, maar hoe ons hier gaan uitkom. Verwyte oor die destydse gebeure gaan dus net verdeeldheid oor die verlede aanmoedig, in plaas daarvan om mense te verenig rondom oplossings vir die toekoms. Daarom moet ons mekaar beoordeel volgens wat elkeen in 2020 doen, eerder as wat elkeen dertig jaar gelede gedoen het.

Daar het buitendien intussen ’n nuwe geslag grootgeword wat niks met die besluite van daardie tyd te doen gehad het nie. Hoewel die leiers van die Nasionale Party as die regering van daardie tyd die grootste verantwoordelikheid moet dra vir wat met die onderhandelinge verkeerd geloop het, moet ook erken word dat die regse opposisie van daardie tyd ook nie ’n behoorlik uitgewerkte alternatief gehad het nie.

Tog is dit nodig dat die uitkoms van die destydse skikking ontleed word omdat dit ’n belangrike rol speel in die krisis waarin die land nou weer beland het. Die beste ontleding van die uiteindelike skikking van 1996, was ’n opspraakwekkende hoofartikel in Die Burger wat op 6 Februarie 1997 verskyn het. Dit is geskryf deur die destydse redakteur, Ebbe Dommisse, onder die skokkende opskrif: “Oorgawe”.

Komende van ʼn koerant wat as ʼn dekade lange steunpilaar van die Nasionale Party gesien is, het hierdie hoofartikel saam met artikels deur die historikus Hermann Giliomee, die begin van die einde van daardie party ingelui.

Die volledige hoofartikel word hier publiseer:

Oorgawe

Die gerugmakende toespraak wat die leier van die Nasionale Party, FW de Klerk, pas in Londen gelewer het, is gister volledigheidshalwe in Die Burger gepubliseer.

Dit is, om dit sag te stel, ʼn onthutsende toespraak, sekerlik nog pynliker vir die volgelinge as vir die leier wat dit reeds so pynlik gevind het.

As De Klerk daardie toespraak, waarin hy erken het dat hy die Afrikaners se reg op nasionale soewereiniteit oftewel selfbeskikking opgeoffer het, tydens die onderhandelingsproses gelewer het, is dit te betwyfel of hy ’n mandaat sou gekry het om voort te gaan. Want hy het ’n mandaat gevra vir magsdeling nie vir oorgawe nie.

Die toespraak werp min lig op wat alles in die onderhandelingsproses verkeerd geloop het, nadat die politici allerlei wigte en teenwigte belowe het wat aan Suid-Afrika se vele minderhede voldoende beskerming sou bied.

Daarvan het weinig tereg gekom, en vandag sit die land met ’n gesentraliseerde Westminster-tipe van regering in ʼn eenparty-dominante staat. Dit kan kwalik beskou word as ’n behoorlik gedesentraliseerde stelsel wat op die beproefde federale lees geskoei is en wat mag sterk afwentel en versprei, soos in talle sukseslande. Boonop is daar maar ’n skrale hoop dat ʼn magsbehepte regering maklik deur die stembus uit die kussings gelig kan word.

Dit het gebeur juis terwyl die heersende internasionale tydsgees aan die buitengewone beveiliging van minderhede, soos aan die demokratiese kapitalisme, ’n hoë voorrang gee, dit bevorder en wetlik vaslê.

Spesifiek vir die Afrikaanssprekendes was daar allerlei beloftes oor taal- en kulturele regte. De Klerk self het in Tuynhuys aan ’n versameling verteenwoordigers van Afrikaanse instellings gesê dat hy oor Afrikaans “oorlog sal maak.” Daarvan het niks gekom nie, en nou word selfs vertel dat die ANC tot “toegewings” bereid was, maar die NP het nie daarvoor gevra nie. Blykbaar was talle waarskuwings nie genoeg om ruggrate styf te maak nie.

Die uiteinde is te sien in die ANC-Kommunistiese alliansie se aanslag aan ’n verskeidenheid van fronte teen die taal, wat blykbaar binne ’n dekade uitgeroei moet word. Dit gebeur in die staatsdiens en die SABC, en dis ook gerig teen opvoedkundige instellings.

Die gevolg is sorgwekkende vervreemding onder potensieel nuttige, welvaartskeppende landsburgers; mense wat begin voel dat hulle nie veel meer as bywoners in die land van hul geboorte geword het nie.

Vermoedelik het sake werklik verkeerd begin loop met die berugte Notule van Verstandhouding van 1992, waar die NP onbegryplike toegewings teenoor die ANC gedoen het sonder om iets van blywende waarde in ruil te kry. Dit was destyds die primêre oorsaak van die vervreemding tussen die NP en die hele aantal onderhandelings-bondgenote wat hy tot in daardie stadium gehad het.

Teen daardie tyd was die kanse vir ’n algemene amnestie ook reeds daarmee heen weens die dwase ingryping van Kobie Coetsee.

Uiteindelik het dit daartoe gelei dat die veiligheidsmagte, waaronder Afrika se gedugste weermag wat ’n belangrik deel van De Klerk se magsbasis uitgemaak het, vandag dag vir dag voor die gelaaide Waarheidskommissie verneder word – terwyl die sogenaamde bevrydingsbewegings se honderde terroriste, halsbandmoordenaars en impimpi’s straffeloos rondpronk.

Hoe dankbaar die meeste Suid-Afrikaners ook al kan wees dat die transformasie in die land betreklik vreedsaam verloop het, dit kan nie verbloem nie dat daar in die onderhandelingsproses ernstige gebreke was wat aan die afwesigheid van fundamentele strategiese doelwitte gewyt moet word.

Daar is inderdaad heelwat waarvoor die onderhandelaars van die Nasionale Party wat tot hierdie situasie bygedra het, verantwoording moet doen. Sulke politici sal bra moeilik ’n betekenisvolle bydrae kan lewer tot die heropbouproses wat nou vir Afrikaanssprekendes voorlê, een wat net so veeleisend soos ná die nederlaag van die Tweede Vryheidsoorlog sal wees. Van staatskant kan in elk geval ook niks verwag word nie; die burgerlike samelewing sal die leiding met ’n nuwe Reddingsdaadbond of ’n Helpmekaar moet neem.”

NP se ondergang

flip-buys-tweede-groot-trek-02

Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging. (Foto: Reint Dykema)

Hierdie hoofartikel het die gevoel onder baie van die destydse ondersteuners van die Nasionale Party verwoord, wat begin voel het dat wat hulle in die praktyk beleef, nie is waarvoor hulle in die 1992-referendum of die 1994-verkiesing gestem het nie.

Hulle het in groeiende getalle die NP verlaat en opposisiepartye begin ondersteun, totdat die party roemloos ontbind en onder leiding van Marthinus van Schalkwyk by die ANC aangesluit het.

Voormalige leiersfigure soos mnr. FW de Klerk het sterk hierteen beswaar gemaak terwyl ander, soos mnr. Roelf Meyer, ook die ANC begin steun het. Die NP se ondergang weens die ontnugtering van sy ondersteuners oor die uitkoms van die onderhandelinge, was veral aan twee faktore te wyte. Die eerste is dat die NP nie ’n deurdagte federale plan gehad het om te onderhandel nie, en ook nie die magsbronne tot hul beskikking gebruik het om hul bedingingsmag te versterk nie.

Die tweede rede is dat die ANC tydens die onderhandelinge toegewings gemaak het om die mag te kry, maar nadat hulle stewig in die saal was, die mag begin gebruik het om hul oorspronklike sosialistiese doelstellings deur te druk.

Dit het ook intussen duidelik geword dat die ANC nie in staat is om die land suksesvol te bestuur nie omdat hul sosialistiese beleid onder die vaandel van “Transformasie” nie kan werk nie.

Toekoms

Die keuse van 1990 was nie een tussen ’n bloedige burgeroorlog en ’n vreedsame skikking nie. Die werklike vraagstuk was hoe daardie skikking moet lyk. Daarom help dit nie om vas te haak by die bittere verdeeldheid van daardie jare nie omdat dit niks gaan help om die huidige krisis op te los nie. Die antwoord is eerder om te fokus op dit waarmee ons saamstem, as op dit waaroor ons verskil.

Dit is die werklike les van die gebeure van daardie tyd vir Afrikaners vandag.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Flip Buys

Flip Buys is voorsitter van die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Therese ·

Sjoe! Daar staan dit toe al die tyd in dié destydse hoofartikel, swart op wit en in geen onduidelike taal nie.

Plus, die feit dat NP-lede, en o.a. die hoof-onderhandelaar by Kodesa, doodluiters by die ANC aangesluit het, spreek behoorlik boekdele.

Suid-Afrikaners se enigste hoop lê in Solidariteit en AfriForum.

Michiel ·

Die enige strukturele oplossing is ons eie klein fysieke landje, so klein soos Swaziland is al genoeg. Nie alle Afrikaners hoef in Zuydland te woon. Wel die meeste. Welvarend. Eéntalig Afrikaans. Verlos van ANC-terreur.

Jaco ·

Baie Goeie artikel wat al my gevoelens verwoord. Dankie Flip Buys!

marius ·

Het de klerk beswaar gemaak ? Nee, dit was PW Botha. Aan welke party behoort hy vandag ?

Jan ·

Soos Dommisse op gemerk het sal die politici wat droog gemaak het kwalik ñ bydrae kan maak om die saak te beredder omdat hulle deur die meerderheid kiesers of dan Afrikaners uitgevang is en so alle geloofwaardigheid verloor het.

Ek stem saam Flip dat ons nie by die verdeeldheid van 94 moet vashaak nie. Maar Dommisse se opmerking moet tog ernstig geneem word deur Solidariteit omdat ń Theuns Eloff of FW se geloofwaardigheid so geskend is dat hulle ń verleentheid en selfs albatros om die nek van Solidariteit kan word.

Michael ·

Het of is dit te laat om te onderhandel oor selfbeskikking en n onafhanklike tuisland ,my pa het gesê dat de klerk en sy bende vir die mense gelieg het en so die ja stem gekry het en n ie n duit omgegee het vir wat na 20 of 30 jaar sou gebeur met die minderhede nie .Ek hoor fw praat glo op 2 februarie elke jaar maar ek het hom nog nooit sien iets positief doen soos bv Solidariteit en Afriforum nie.

Henk ·

Jy verwoord my mening en gevoelens oor die saak goed, Flip. Baie dankie vir die positiewe optrede en leiding van die Solidariteit Beweging. Of dit egter diegene gaan oortuig wat vashaak by die verwyte oor die verlede, twyfel ek. Die hede en toekoms is in die hande van die wat, ons benarde situasie ten spyt, doen wat hul kan om te bou eerder as om te breek en te verwyt.

Phil ·

Dertig jaar ná die onderhandelinge..
is alles in sy glory in

Frik ·

Flip, n baie goeie artikel wat jy geskryf het. Dis ook tyd dat ons ernstig begin aandag gee aan selfbeskikking en hoe, waar en wanneer ons dit gaan toepas. Artikel 235 van die grondwet maak voorsiening vir selfbeskikking en ons moet dit gebruik en ons reg op selfbeskikking opeis.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.