Dertig jaar van Duitse vereniging

Foto: Pixabay

Op 3 Oktober 1990 het die Duitse Parlement (Bundestag) die vereniging van die twee dele van Duitsland, die Wes-Duitse Bondsrepubliek van Duitsland (BRD) en die Oos-Duitse Duitse Demokratiese Republiek (DDR) voltrek. Dit het gevolg minder as ’n jaar ná die val van die Muur in November 1989 en was die afsluitingspunt van ’n dramatiese en opwindende tydperk.

Dit was egter geen vereniging van twee gelyke dele tot iets nuuts nie, maar ’n aansluiting van die kleiner DDR by die (in elke opsig) veel groter en sterker BRD. Daar is ook geen nuwe grondwet opgestel nie, maar die BRD se grondwet het nou ook vir die voormalige DDR gegeld. Die rede om die vereniging so vinnig te voltrek was, aldus die destydse kanselier Helmut Kohl, dat die eenmalige geleentheid wat die geskiedenis bied, nie gemis moes word nie.

Daar was ook heelwat internasionale onderhandelinge nodig om die oorwinnaarsmagte VSA, Brittanje, Frankryk en die Sowjetunie, wat nog steeds die laaste sê gehad het oor Duitsland, wat nie volledig soewerein was nie, te oortuig. Die internasionale toneel was baie vloeiend en in die voormalige Sowjetunie was die leier Michail Gorbatsjof onder druk en ’n regeringsverandering sou die kans op vereniging laat verbygaan het. Ook ’n linkse regering in Duitsland sou die vereniging uitgestel en dit laat verongeluk het.

Dit was ’n wyse besluit van Kohl om nie te talm nie, maar dit het ook beteken dat Wes-Duitsland ’n groot hap afgebyt het wat moeilik verteerbaar was. Immers was die DDR vir alle praktiese doeleindes bankrot en deur 40 jaar van sosialisme ten gronde gerig. Sowel die staat as die privaat sektor het miljarde Duitse mark in Oos-Duitsland ingepomp om die stukkende infrastruktuur, geboue en omgewing te herstel en om ’n nuwe administrasie en ekonomie op te bou. Op medium termyn het dit wel toenemende werkloosheid beteken omdat al die voormalige staatsmaatskappye, wat glad nie kompeterend op die internasionale markte was nie, moes sluit. Nuwe maatskappye het eers mettertyd ontstaan en kon ook nie vir almal werk bied nie. Dit het tot ’n groot bevolkingsverskuiwing van Oos na Wes gelei.

Hoe lyk die situasie vandag, 30 jaar later? Daar is nog steeds beduidende welvaartverskille tussen Oos en Wes, maar die verskille het teenoor die 1990’s verminder. Sekere stede in die Ooste kon as streeksentrums ontwikkel en het die funksie van ontwikkelingsenjin vervul, soos Leipzig, Dresden en Jena. Die verskuiwing van die hoofstad van Bonn na Berlyn was ook van groot betekenis vir die ontwikkeling. Selfs die bevolkingsafname kon weer omgekeer word in bevolkingsgroei in sekere stede. Die plattelandse gebiede, veral in die grensgebiede, sukkel egter en is van die armstes in Duitsland met die hoogste werkloosheidsyfer. Die gevoel om afgeskeep te word en om tweedeklasburgers te wees, het nog nie heeltemal verdwyn nie, maar is beslis minder as 30 jaar gelede. Ook die spesifieke Oos-Duitse mentaliteit en identiteit is vandag baie minder, soos wat al hoe meer mense geen herinneringe meer aan die DDR het nie.

Daar is wel nog duidelike verskille wat die struktuur betref. Oos-Duitsland het nog steeds heelwat minder migrante en is minder multikultureel as Wes-Duitsland. Ook neig die Oos-Duitsers meer tot uiterste politieke keuses, met aansienlik hoër steun vir sowel die regse AfD asook Die Linke-party, wat uit die voormalige kommunistiese party van die DDR ontstaan het.

As ’n mens terugkyk, dan is dit opvallend hoe kortstondig die destydse triomf van Westerse kapitalisme oor sosialisme was. ’n Mens sou dink dat sosialisme en sy partye op die ashoop van die geskiedenis beland het, maar nie net het die Oos-Duitse kommunistiese party die SED (Sozialistische Einheitspartei Deutschlands) oorleef en gevestig geraak onder sy nuwe naam nie (selfs in Wes-Duitsland), die besef dat die DDR ’n onderdrukkende bewind was en sosialisme ’n totaal en al verkeerde stelsel is, is vandag amper afwesig in die hoofstroom. Terwyl daagliks teen alles wat regs is, gewaarsku word en die Nazi-era beduidende ruimte in die opvoedkunde en die nasionale herinneringskultuur inneem, word die gruwels van Kommunisme net terloops genoem of selfs verswyg en het die jonger generasies geen besef meer wat die DDR en die skeiding van Duitsland was nie. Dit word ook skaars nog op skool geleer en min gedenkdae en monumente gee daaraan aandag. Selfs die hoofstroompartye se beleid het duidelik na links geskuif, met al hoe meer staatsbestuur en -inmenging op bykans elke terrein.

Van die eertydse verkiesingslagspreuk van die Christen-Demokrate, “Freiheit statt Sozialismus” (vryheid pleks van sosialisme) van die 1990-verkiesing is daar min oor. Vandag wil dit amper voorkom asof die nuwe leuse is: “Sosialisme verdien ’n tweede kans”.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Sebastiaan Biehl

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

4 Kommentare

jongste oudste gewildste
Therese

Baie insiggewend en interessant!
Sosialisme neem wêreldwyd toe en die Covid-19 waansin van 2020 versnel die treurmare.
Miljoene poste is permanent verlore en staatsondersteuning vier hoogty.
Te veel mense en te min werk voorspel niks goeds nie.

Vrijburger

Interessant.
Waarom o waarom wil die mensdom nie uit die geskiedenis leer nie. Foute word herhaal.

AJ

Op reis in Duitsland in 2013 merk ek op dat SA met 50 000 PRODUKTIEWE en hardwerkende jong Duitsers die hele land kan regruk.

Toe antwoord ‘n Duitser … ” ons in Duitsland soek ook na daardie 50 000 hardwerkende jong Duitsers”!

Die ouer geslag Duitsers het wonderwerke verrig en vorm die hoeksteen van Europa en die Westerse wêreld.

Maar die nuwe geslag Duitsers is maar lamlendig en rigtingloos?