Dertig verskille tussen SA en Zimbabwe

flip-buys-2017-11-02-featured

Flip Buys is die voorsitter van die Solidariteit Beweging. Foto: René Roux.

Daar is die afgelope tyd al meer kommer dat Suid-Afrika op ’n glybaan na “Zimbabwe” is. Grondonteiening, wetteloosheid en swak ekonomiese syfers versterk die vrese vir mislukking. Daar is boonop belangrike ooreenkomste tussen Suid-Afrika en Zimbabwe.

Nes Zanu PF, is die ANC ook ’n rasnasionalistiese rewolusionêre beweging met ’n Marxistiese grondslag. Vir sulke partye is die grondwet en die oppergesag van die reg ondergeskik aan hul nasionaal demokratiese rewolusie, en die verouderde Freedom Charter uit die vergete vyftigs. Dit raak ook ál duideliker dat die ANC die grondwetlike ooreenkoms van 1994 net as ’n tussentydse stap gesien het om die mag te kry, en dat hulle nou daardie mag gebruik om hul oorspronklike doelstellings te verwesenlik.

Kodewoord

Daar is dus wesenlike gronde vir die kommer dat die ANC nie van hul sosialistiese wortels vergeet het nie, en niks van die rampspoedige gevolge daarvan onthou nie. Gerusstellings dat die Grondwet gewysig sal word om onteiening wettig uit te voer, beteken niks. Om diefstal te probeer wettig, maak dit nog nie reg nie. Daarom is onteiening vir baie mense ’n kodewoord vir nog ’n Zimbabwe-mislukking. Dis ook belaglik om mense se vrese oor ’n Suid-Afrikaanse Zimbabwe af te maak as rassisme, omdat daardie selfde mense nie voorspel het dat lande soos Botswana, Namibië, Lesotho of Swaziland gaan verval nie.

Maar daar is steeds baie verskille tussen Suid-Afrika en Zimbabwe wat verreken moet word voordat mense nou aanvaar dat die enigste verskil net ’n paar jaar is. Inteendeel, hoewel daar ’n wesenlike gevaar van ’n al gladder glybaan na Zimbabwe bestaan, is daar tans nog baie meer verskille as ooreenkomste tussen die twee lande.

30 Verskille

  1. Die eerste verskil is dat Zimbabwe ’n landelike hoofstadstaat met die presidentsgebou as enigste magsentrum is. In Suid-Afrika is daar vele magsentrums, soos groot stede, provinsies, en ’n groot ontwikkelde sektor;
  2. Die land het nog sterk politieke, ekonomiese, kulturele, grondwetlike, akademiese en openbare instellings, wat as skokbrekers vir swak regering dien;
  3. Suid-Afrika is steeds ’n ekonomiese reus, terwyl Zimbabwe se ekonomie op sy sterkste net met Durban en omstreke vergelyk kon word;
  4. Suid-Afrika se lewenskragtige privaat sektor trek tans swaar, maar speel ’n veel belangriker rol as in Zimbabwe. Hierdie sektor het die vermoë om vervallende staatsdienste te vervang, het sterk buitelandse bande en invloedryke oorsese aandeelhouers, en die regering besef dat hulle nodig is om al hul politieke beloftes na te kom;
  5. Hier is groot buitelandse belange in die land, en alle betekenisvolle lande het ambassades. Baie buitelanders werk hier, en talle maatskappye en internasionale organisasies se hoofkantore is in die land. Buitelandse beleggers en graderingsagentskappe bly baie invloedryk;
  6. Suid-Afrika se groot verskeidenheid skep soms spanning, maar maak terselfdertyd oorheersing moeiliker met al die rasse-, etniese- en klasseverskille, waar die meeste nog ook sterk instellings het om hul belange te bevorder;
  7. Hier is ook veel groter politieke pluralisme as in Zimbabwe, wat in die praktyk maar ’n eenpartystelsel was. Die meeste groot stede word deur opposisie geleide koalisies regeer, die ANC bestaan self uit ’n ongemaklike alliansie, die party word gekenmerk deur vegtende faksies, die linkse politiek verbrokkel al meer, en hier is nog gereelde verkiesings;
  8. Die getalleverhoudings in die twee lande verskil ook drasties. Zimbabwe het nooit veel meer as 200 000 wit mense gehad nie, teenoor die bykans 5 miljoen in Suid-Afrika. Daarby is hier ook 5 miljoen bruin mense en ’n miljoen Asiërs. Die swart bevolking bestaan uit talle onderskeibare swart groepe, en nie net twee hoofgroepe soos in Zimbabwe nie. Plaasmoorde het boere genoodsaak om hulself goed te organiseer, en onwettige besettings gaan nie soos in Zimbabwe net deur die betrokke boer op sy eie begroet word nie. Die stedelike wit bevolking is ook ’n aansienlik harder teiken as die klein groepie wit Zimbabwiërs;
  9. Die burgerlike samelewing is onmeetbaar sterker as in Zimbabwe, met talle kerke, partye, vakbonde, sterk tradisionele leiers, drukgroepe en organisasies, en talle sterk stigtings en institute met buitelandse bande;
  10. Die regstelsel staan nog baie sterker en is baie groter as in Zimbabwe, en hoewel regverdige kommer bestaan oor sommige politieke uitsprake, het die regbank ook al sterk standpunt teenoor die regering ingeneem;
  11. Demokrasie in Zimbabwe was maar altyd op ’n mespunt. Daarteenoor is dit baie sterker gevestig in Suid-Afrika, met partye wat verwoed meeding en ’n parlement waar in die openbaar skerp verskil word. Radikale partye soos die EFF se steun bly klein;
  12. Hoewel die regering onteiening sonder vergoeding voorstaan, word dit sterk gekwalifiseer met voorwaardes, anders as die blanko tjek wat in Zimbabwe gegeld het;
  13. In Suid-Afrika keer die howe, polisie, en privaat sekerheid onwettige grondbesettings, en is die polisie en die weermag nie blote verlengstukke van die regerende party nie.
  14. Die media het ’n deurslaggewende rol in die ontmaskering en val van Jacob Zuma gespeel, en swart joernaliste huiwer nie om die regering trompop te loop oor onteiening en korrupsie nie. Daarby het Suid-Afrika verteenwoordigers van feitlik alle groot buitelandse mediagroepe, anders as wat die geval in Zimbabwe was;
  15. Die groot swart middelklas in Suid-Afrika besef hul afhanklikheid van ’n gesonde ekonomie, en weet dat hul vryheid en veiligheid ook in gedrang sal kom as die land die Zimbabwe-roete loop;
  16. Die omliggende Afrikastate is grootliks afhanklik van die Suid-Afrikaanse ekonomie, en is reeds deur die verval in Zimbabwe benadeel. Lande soos Botswana het Zimbabwe openlik teengestaan, terwyl Namibië nou hulle BEE afgeskaf het. Selfs Swaziland het standpunt ingeneem teen bewerings dat Afrikaners die omliggende grond gesteel het. Daar kan verwag word dat Afrikalande uit selfbehoud die verval van Suid-Afrika sal teenstaan;
  17. Die buitelandse magsewewig is vinnig besig om te draai teen die regering se vryery met anti-Westerse groepe soos Brics. Waar Zimbabwe ’n klein landjie is wie se verval nie die belange van groot lande geraak het nie, word die gebeure in Suid-Afrika met ’n valkoog dopgehou. Die Suid-Afrikaanse diaspora word veral meer hoorbaar;
  18. Suid-Afrika is as die politieke en ekonomiese reus van Afrika deel van talle internasionale verdrae, wat die regering se mag ingrypend beperk;
  19. Zimbabwe se hiperinflasie en werkloosheidsrekord van meer as 80% het gebeur omdat die fiskale en monetêre beleid roekeloos was. Die regering het onbeheersd geld uitgegee, en hul Reserwebank het onbeheersd geld in die ekonomie ingepomp. Hoewel ons regering te veel geld uitgee, word dit aan bande gelê en is die Reserwebank steeds wêreldklas;
  20. Sowat 70% van die inkomste van maatskappye op die Suid-Afrikaanse aandelebeurs kom uit die buiteland, omdat die land talle multinasionale sakereuse het. Dit beteken Suid-Afrikaners se beleggings is baie beter verskans. Daarteenoor is die Zimbabwe aandelebeurs piepklein en bestaan meestal uit binnelandse maatskappye;
  21. Persoonlike rasseverhoudings in Suid-Afrika is steeds goed, al is politieke verhoudinge soms swak. Die radikale rassisme van die EFF kry nie veel aftrek by die swart kieserspubliek nie. Met opnames wat wys net 1% Suid-Afrikaners onteiening steun, is die klimaat totaal anders as in Zimbabwe;
  22. Daar is heelwat gesprekke oor politieke grense wat oor oplossings vir die land se probleme plaasvind. Hoewel dit nog nie genoeg praktiese resultate opgelewer het nie, beteken dit nietemin dat Suid-Afrikaners darem nog na mekaar luister;
  23. Staatsverswakking as gevolg van regeringsbeleid is ’n groot knelpunt, maar dit skep teenstellend genoeg meer ruimte vir die private- en die gemeenskapsektor om ongehinderd aan oplossings te werk. Anders as in Zimbabwe, is die regering se vermoë om hul onteieningsbeleid uit te voer, heelwat kleiner;
  24. Die swak ekonomiese syfers plaas groot druk op die regering om nie heeltemal roekeloos te raak nie omdat die staat se belastinginkomste afneem en werkloosheid toeneem. Selfs ’n skynbaar leierlose regering moet besef dat ekonomiese groei nou noodsaaklik is;
  25. Tegnologie vul baie leemtes van die swak staat. Anders as in Zimbabwe, beskik Suid-Afrika oor ’n groot tegnologiesektor, wat vir burgers baie dienste bied wat vroeër deur die staat gelewer is, soos telefone, posdiens, biblioteke tot sekerheid;
  26. Die hedendaagse “Groot Trek” van Afrikaners na streeksentrums en stede, skep weer die kritiese massa op baie plekke vir volhoubare dorpe, skole, ouetehuise, kerke en gemeenskappe;
  27. Die kulturele kapitaal van groot getalle Afrikaners bring mee dat ons gemeenskap ten spyte van drakoniese rassewette en staatsinmenging, steeds oorpresteer teenoor die nasionale gemiddeld. In Zimbabwe was daar net nie die getalle daarvoor nie, maar selfs daar het die antiwit-wette nog groter antiswart-gevolge gehad, omdat opgeleide minderhede vindingryke planne bly maak het;
  28. Bykans almal in die land weet dat en hoekom Zimbabwe klaaglik misluk het. Hierdie politieke “inenting” is sekerlik die beste teenmiddel teen ’n herhaling van nog ’n Zimbabwe-eksperiment;
  29. Die kanse op ’n “opvolgskikking” om ’n glybaan na Zimbabwe te keer, is nog nie groot genoeg nie. Maar in die praktyk kom daar talle oplossings na vore wat wel erken word, soos Solidariteit se Sol-Tech. Hoewel vooraf toestemming in die vorm van ’n omvattende skikking die ideaal bly, los erkenning daarna steeds probleme op; en
  30. Zimbabwe het baie min en swak gemeenskapsorganisasies. Die Solidariteit Beweging het oor die afgelope jare tot meer as 450 000 lede en 18 selfhelp-organisasies tot stand laat kom, wat op talle gebiede werk waar die staat nie wil of kan nie. As moderne helpmekaarbeweging groei ons nog steeds hand oor hand, maak ons gemeenskap meer staatsbestand, en is ’n belangrike verskaffer van noodsaaklike dienste en ’n teenwig teen verval.

Die beklemtoning van hierdie verskille met Zimbabwe beteken beslis nie dat dit nooit kan gebeur nie en dat almal gerus kan slaap nie. Dit punt is dat alles nog nie verlore is nie, en dat ons toekoms te belangrik is om net aan ’n onbekwame regering oor te laat. Kom ons gebruik hierdie 30 verskille om verdere agteruitgang te keer en aan voorspoed te help bou.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Flip Buys

Flip Buys is voorsitter van die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers, Sakenuus

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

39 Kommentare

marco polo ·

MAAR, die gemene deler is n swart meerderheidsregering wat die wiel wil herontwerp, nie wil leer uit die foute wat ander reeds gemaak het, en blankes verafsku.

Karmien ·

Wel hier sal ons dit nie toelaat nie. Ons sal enige onderdrukking heftig teenstaan.

Gemaskerde Sopbeen ·

Hierdie is soos ‘n troos-boodskap van jou onkoloog wat sê “die kanker het darem nog nie te ver versprei nie…”??

John ·

Mnr Buys jou toring is baie mooi, hoog en swaar, maar as beide lande se torings op sand staan en die leiers kleivoetig is, is ‘n val virseker… net ons gaan harder sloeg. In sielkunde word aangedui dat as vreeslik baie redes aangevoer moet word om iets te wil bewys, dan is daar groter probleme as gewoonlik. Vandaar dat die ondergang van SA ‘n groter ‘bang’ sal wees as neffens, maar solank dit ‘not in our backyards’ gebeur nie gaan die buiteland nie ‘worry’ nie, inteendeel. Dit mag dalk juis aangemoedig word deur sekeres om meer te gryp as wat sommiges in die regering oor droom om te doen.

Ester ·

Ek dink ook die Afrikaners se volkswording op Suid-Afrikaanse bodem en volkswil om oorlewing, was nie teenwoordig in die blanke gemeenskap in Zimbabwe en elders, wat ander lande van herkoms gehad het nie. Ek dink daarin lê ‘n sterk krag om uitdagings die hoof te bied in Suid-Afrika.

Room Piet ·

Aandag houdend breedvoeringe samevatting uitstekend gepen, insluitend wakker slaap opbeur saamstaan afsluitings paragraaf. Wel gedaan Flip.

Faan ·

Die heel grootste verskil is die feit dat ons ‘n Solidariteit en ‘n Afriforum het wat hulle lede saamsnoer en na hulle lede se belange omsien

Ferdi ·

Goeie artikel. As jy met swart mense gesels, sal jy agterkom dat ‘n groot deel van hulle glad nie ten gunste van ‘n grondgryp is nie. Die radikales kry heeltemaal te veel blootstelling. Dat die groot verskille tussen swart en wit verklein moet word is baie nodig, en daarvoor is ekonomiese groei nodig.

Staak ·

Ferdi ek gesels ook gereeld met swart klante en nog nooit het ek een gekry wat ANC stem nie.
Die looting by proteste wys weer die teendeel.

Anoniem ·

Staak, uit my ondervinding sal swart mense saam met jou praat uit beleefdheid en se hulle stem nie ANC nie, terwyl hulle wel ANC ondersteun – gaan kyk na die met wie jy gesels het se WhatsApp profile en ander sosiale media, hulle dra ANC t-hemde en celebrate ANC struggle- helde. Ek vind hierdie 30 punte oor optimisties. Die jong swart mense is mal oor die EFF. Dis nou mense by my werk wat spog daarmee en trots is om te se hulle Ken vir Malema. Ook praat die ouer swart mense van die jonges wat Eff ondersteun. Hulle lyk my stem nie almal nie

Staak ·

Flip wat jy nie noem nie is dat die grootste gros van Zim se bevolking plattelanders is en bestaansboere. Zim het n werksloosheid syfer van amper 90%.
SA se grootste deel van die bevolking is stedelinge en ons het maar n 27% werklooaheid syfer. Vergelyk ons proteste teen Zim sin, ons het daagliks geweldadige protes en Zim nie.
Zim burgers se onafhanklikheid van die staat het as buffer gedien teen die ekonomiese ineenstorting. Op die platteland het die bevolking nog sreeds sy mielies geplant en oes en sy water uit die put gaan trek, ook sy ontbyt eiers onder die hen gaan uithaal. In SA het die burgers nie daai gerief nie en dit maak SA 100% afhanklik van n goeie regering, wat ons nie het nie.
In SA wag ons net vir een van die staat se verantwoordelikhede om agrer wieete bly en ons hel oor die afgrlnd in anargie in.
Daar is baie groot verskille, SA is gevaarliker.

Thinus Erasmus ·

Staak ek stem saam, die groter magtiger SA gaan net harder val. Die situasie is beslis baie meer plofbaar. Rede: die boere/wit bevolking van Zim, is daar geplant deur Britse kolonialisme, en hul het dit so aanvaar om mag en boedel oor te gee.
In SA het ‘n nuwe volk tot stand gekom, ja a.g.v. aanvanklike multi-nasionale kolonialisasie, maar die volk het organies gegroei en terrotoriaal uitgebrei met gekoopte/ geruilde/verwerfde grond.
Nou word die nuwe volk sonder ontsnaproete as “misdadige vyand” behandel – hoe lank nog en ons word so skuldig bevind?

Leon Lucas ·

Wat die pot in Zim aan die kook hou is die geld wat 4 miljoen werkers in Suid Afrika maandeliks na hul afhanklikes stuur. Zim se grootste bron van inkomste. Daarsonder was daar lankal totale hongersnood.

Celtis Africana ·

Puik artikel.
Selfs te midde van die grypende kleptokrasie wat die hele landsbestuur op elke vlak verrot het, is dit belangrik om steeds die hoop te behou. Hoop is die geboorteplek van n nuwe môre. Wat is hoop dan anders as geloof?
Hebreërs 11:1
” Die geloof dan is n vaste vertroue op die dinge wat ons hoop, n bewys van die dinge wat ons nie sien nie.”

Kalahari Kind ·

Dankie. Dis so waar en iets waaraan ons kan vashou.

Emma Lotriet ·

Baie dankie vir ‘n puik artikel. Goeie feite en, baie belangrik, ‘n positiewe aanslag en uitkyk. Met hierdie soort benadering sal Suid-Afrika en al haar mense die toekoms kan ingaan. Ons het ‘n keuse.

Jan ·

Nee jy het geen keuse nie die anc en eff werk saam en hulle sal jou iutroei sonder dat jy iets sal kan doen

Sic Semper Tyrannis ·

Dankie Flip

Ewewigtige beskouing van die situasie.

Ons moet niks hiervan egter as ‘n gegewe aanvaar, of selfs aanvaar dat die heersende party rasionele besluite gaan neem gegrond op ‘n logiese assessering van politieke faktore nie. Alle aanduidings is dat hulle besig is om uit desperaatheid besluite te neem oter wille van oorlewing (vir die party self maar ook maghebbendes binne en buite die party), en dat die nasionale belang baie laag op hulle prioriteitslys is.

Hulle het nie van die gesprek gehou nie, so hulle het eenvoudig die onderwerp verander. Wie praat deesdae nog van Zuma? Die Guptas? Die Shaiks? Die E-tol skandaal? Die wapenskandaal? Enige van die ander massakorrupsie onderwerpe waarby die ANC betrokke was? Hierdie sake het kritiese massa bereik tot die punt dat ANC-steun drasties geval het in die laaste rondte munisipale verkiesings (spesifiek in die metropole).

Die ANC, onder druk van die EFF, het die sneller getrek op hulle laaste troefkaart. Hulle kan dit net een keer gebruik, en hulle kan dit nie halfhartig doen nie. Die uitkoms van ‘n mislukte of halfhartige poging sal wees dat hulle hul mag sal verloor, en dit (soos ons reeds gesien het), is hulle nie onder enige omstandighede bereid om te aanvaar nie.

Jan ·

Nee wat jy droom die anc en eff werk nog altyd saam hulle het jou gebluf.hulle kan maak wat hulle wil en hulle sal julle ou toppies uitroei kyk maar…

OnteieningsLysZimbabeAfrikaNasionalisme RandVerswakkingTurkeyKalkoen ·

“Willing Buyer, Willing Seller”, is gevolg deur “Compulsory acquisition” (met verminderde kompensasie), en dan later “Fast-track land reform and violence” (onteiening sonder vergoeding) in Zimbabwe. Suid-Afrika is nou by die onteiening sonder vergoeding kruispad, en sou ‘n ekonomiese verdedigings posisie, of verskansing vir Zimbabwe in terugskoue kon gehelp het, mag bit.ly/2Bd5IdD se verduideliking dalk van hulp wees.

Aberts ·

Selfbeskikking sal ook, dalk in kombinasie met jou waarneming.

Oom Piet ·

Oorlog tussen wie? Waarskynlikste herverdeling.

Amper 50% Nguni’s insluitend Ndebeles gaan die hele ooste helfde vanaf die Groot Visrivier noord tot by die Limpopo en wyd tot die wesgrens van die Hoëveld oorvat en volk suiwer (Mfekane), om as verenigde tradisionele Nguni Koningkryk voort te bestaan. Miskien met Mozambiek ingekopteer.

18% Sothos/Tswanas in Noordwes, of wat oorbly na Nguni suiwering, sal waarskynlik by Botswana ingelyf word, miskien hergenaamd na Sotswana.

Die oorblywende Oos, Wes en Noord Kaap plus (wes) Vrystaat verenig as KoiSan sal deur die KoiSan gedeel en/of verdeel moet word met al die Invaders vanaf toeka tot hede wat in die klimaats-veranderde meestal semi-woestyn gebied sal moet oorleef. Baie sal voortydig noord terug-vlug.

My sonder doekies omdraai uiteinde voorspeling.

Frans C ·

In enige land ongeag waar,is dit voete by die stembus wat deurslaggewend is.
Volgens die 2017 middeljaar statistiek vrygestel on PO302 vrygestel op 31 Julie 2017,was die bevolking samestelling soos volg: (STATS SA)
Black African 45 656 400 80.8%
Coloured 4 962 900 8.8%
Indian/Asian 1 409 100 2.5%
White 4 493 500 8.0%
Total 56 521 900 100.0%

Dit is opmerklik dat slegs na swart mense as ‘African’ verwys word.Wat ook opmerklik is
dat Blankes teruggesak het na die 3de plek en dus nou en in die toekoms ‘n steeds kleiner % van die totale bevolking sal word.Dit is ver van die 5 miljoen in die berig.
Wat die statistieke nie vertel nie en eers verder duidelik word dat 2 751 015, ‘n ontstellende 61% van die blanke bevolking ouer as 55 is.
in vergelyking daarmee is 4 300 955 of 9.42% van die swart bevolking ouer as 55!.
‘n Mens wil geensins die berig afbreek nie, maar die statistieke vertel ‘n somber verhaal
tov die blanke bevolking se toekoms.

SP ·

Nou wat nou?

Ons mense oorleef geloofsverdrukking in Europa. Stoei in die kolonies. Trek. Bou eie republieke. Pak die magtige Britanje, Verloor. Rebellie. Staan stadig weer op, deur geloof en nasionalisme. Ekonomiese hoogstevlak gedurende die 60’s. Hartoorplanting. Maak oorlog in Afrka, bou atoom bomme. Beleef sanksies. Versoen. Maak vrede. Sterf stadig uit. Verdwyn.

Ek kan nie toelaat dat my Viljoen’s 347 jaar van hulle bloed en sweet in Afrika gemors het nie. Hierdie prentjie moet ‘n ander uitkom he.

Willem ·

SP, en my stamvader was al 364 jaar gelede hier, dus het hy binne 2 jaar na JvR hier geland.

Richard ·

Frans C, jy bak mos nou sommer GROOT kluitjies hier. Uit daai statistieke wat jy aanhaal is slegs 1.46 miljoen van die wit mense 55 en ouer is. Dis 32.2% van die totaal, nie 61% nie.
Jou 2.7 miljoen kry mens eers as jy alle wit mense 35 en ouer bymekaartel.

Jou syfer vir swart mense is wel korrek.

Lourens Benade ·

Die liberaliste (lees fariseërs) sal dalk nog 30 verskille kan of wil byvoeg sodat hulle ANC onderrokke net nog ‘n bietjie verder kan uithang. Probleem is egter die skade is klaar gedoen en die regering beskik nie oor die kapasiteit om reg te maak wat hulle verbrou het nie. Ja, die hoop beskaam nie, maar sedert die ANC aan bewind gekom het, is daar bitter weinig, indien enigiets, waarop hulle kan roem as synde iets wat die land tot voordeel strek. Hoe en waarom hulle dan juis nou van hierdie onsinnige grond-gryp idee ‘n sukses sal maak is vir alle praktiese doeleindes niks meer as net nog ‘n verkiesings droom nie. So, miskien moet ons maar eerder begin fokus op die ou beproefde resep om ‘n probleem op te los: Verwyder die oorsaak daarvan.

Johan ·

Dankie hiervoor. Ek en n vriend het vnoggend vir mekaar gese dat ons gebalanseerde gesprekke en deurdagte leiwrskap nodig het.
Die groot Chistelike middelgrond sal ontwikjel moet word!

Vasgekeer ·

Nog n groot verskil is dat ons vasgekeer is, ons kan oor geen grens na n groot sterk ekonomie stap soos die zimbabwe swartmense nie, en sal nie net ingeneem word deur ander westerse lande nie. So as ons vasgekeer is sal ons baie harder saamstaan.

Wens Ook Maar Net... ·

Tussen 1976 en 1980 het Australië die Rhodesiërs gehelp om hulself daar te gaan vestig… Met staat Victoria se 1981 sensus was daar 609 Rhodesiërs.
Ek twyfel sterk of Australië wéér so ‘n offer sal maak, want 20% van die land sal nie twyfel om te gaan nie – en dit is sluit ALLE rasse in.
So ja, ons het basies nêrens heen om te gaan nie, behalwe as mens desperaat genoeg is om behoorlike navorsing te doen oor lande wat niemand eers oorweeg het nie.

PS: As ek die R145M Lotto gewen het, sou ek in Nauru gaan aftree het ;-)

Chris ·

Ek sien partymense dring daarop aan dat n graaf eintlik n vurk is.

Paul ·

As Cyril Ramaphosa hierdie lys sien, sal hy nuwe moed skep, besef daar is nog baie ruimte en die gas ‘n bietjie op stel dat die padda effe vinniger kook, petrol gee, spesifiek wat grondhervolming aan betref.

Frans C ·

Wat moet ‘n mens agter die statistieke lees.Die mees skokkende is dat in die jaar 2043,dws
oor 25 jaar wanneer mense wat tans tussen 20 en 25 is,middeljarig is, daar bitter min van die mense wat nou bo 55 is,sal oor wees.
As jy nou 55 is is,is jy oor 25 jaar verder 80.Dit is baie duidelik uit die huidige blanke bevolkingsgroei dat die verlies nie deur bevolkingsaanwas ge-ewenaar sal word nie.
Hoe lyk dit met die ander oorblywende bevolkingsgroepe.
Die Kleuringbevolking is,veel beter daar aan toe.13.81% of 685 316 mense is bo 55 uit ‘n bevolking van 4 962 922.
Uit die Asian/Indian groep is 251 139 mense 55 jaar en ouer uit ‘n bevolking van 1 409 103 of 17.82%.
Omdat die verskil tussen blank en ander bevolkingsgroepe so groot is het ek ‘n ander statistiek geraadpleeg en daarvolgens is 1 364 254 blankes oor die ouderdom 55 en vorm gevolglik 30.36% van die blanke bevolking.Indien dit korrek is,is dit goeie nuus,maar nogtans veel hoër as die ander bevolkingsgroepe en ‘n bron van bekommernis.
Jammer as jy groot geskrik het.,iewers is die getal verdubbel en kan ons effens beter voel oor die saak,maar dit doen nie afbreuk aan die feit dat die Blanke bevolking in verhouding met ander veel ouer mense het.

Wonder Maar Net ·

Is hierdie 30 verskille met die huidige Zimbabwe, of die Zimbabwe in die laat ’80s tot mid ’90’s?
Ek voel dat die ZA van 2010 vergelyk kan word met ZW van 1990…
En van daar af kyk mens wat nou gaan gebeur…
Help nie mens vergelyk vandag se ZW wat nog struikel om weer op te staan, met ZA wat besig is om dieselfde pad te stap as ZW amper 20jr gelede nie…

Jerry ·

Met Zuma en sy radikale lojaliste aan die stuur was SA met die 30 verskille en al vinnig oppad na n tweede Zimbabwe en niemand behalwe die gematigdes in die ANC kon Zuma kort van n tweede Zimbabwe stuit. Dit beteken in wese dat dit van die ANC afhang of ons n tweede Zimbabwe tegemoet sal gaan of nie. Dit hang nie af van die 30 verskille, die grondwet, howe of die opposisie nie, veral nie as die ANC dit gaan regkry om te regeer met n volslae meerderheid.

Marlien van der westhuizen ·

Baie dankie vir die briljante artikel! Dit is ongetwyfeld van die beste nuus wat ek die afgelope paar maande gelees het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.