Deursigtigheid in politieke partyfinansiering nie noodwendig voordelig nie

martin-van-staden

Martin van Staden is regsnavorser by die Vryemarkstigting en werk aan ʼn meestersgraad in Regsgeleerdheid aan die Universiteit van Pretoria. Foto: Verskaf.

Deur Martin van Staden

Dat politieke partye deursigtig moet wees oor hul private finansiers sal andersins ʼn oorwinning vir demokrasie in Suid-Afrika wees. Die wet van onbedoelde gevolge moet egter altyd in gedagte gehou word. Die oënskynlike onvermoë van die parlement om die grondwetlike beginsel van die oppergesag van die reg te gehoorsaam kan die toekomstige finansiering van opposisiepartye in gevaar stel.

In ʼn saak wat by die hooggeregshof ingedien is, het die organisasie My Vote Counts aangevoer die Grondwet vereis dat politieke partye hul private finansiers moet openbaar. Hoewel die regerende party sowel as alle opposisiepartye, om verskillende redes, teen hierdie saak gekant was, het die hof met My Vote Counts saamgestem en besluit dat die parlement die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting moet wysig om deursigtigheid in partyfinansiering te verseker.

Dit is ʼn lofwaardige uitkoms, maar slegs wat die beginsel betref. In werklikheid sal dit egter lei tot ʼn uitkoms wat minder as ideaal is.

Artikel 1(c) van die Grondwet bepaal dat die hoogste reg in Suid-Afrika die Grondwet sowel as die oppergesag van die reg is. Die oppergesag van die reg beteken, soos algemeen aanvaar word, dat willekeurigheid in die regstelsel ideaal verbied word, en ten minste vermy word sover moontlik. Dus moet enige diskresionêre magte wat amptenare en politici in staat stel om besluite te grond op hul subjektiewe menings en vooroordele, wat onvermydelik deur hul eiebelang beïnvloed word, streng omskryf en beperk word.

Parlement kom normaalweg nie die oppergesag van die reg na nie. Navorsing deur die Vryemarkstigting toon dat wesenlik alle wetgewing, met min noemenswaardige uitsonderings, die een of ander beginsel van die oppergesag van die reg oortree. Feitlik alle wetgewing wat diskresionêre magte aan die regering verleen, doen dit sonder om daardie krag effektief te omskryf, wat beteken dat besluite onvoorspelbaar is en geheel en al onderhewig is aan die menings en passies van die bemagtigde amptenaar.

Hierdie gedagte-eksperiment illustreer die probleem:

ʼn Neoliberale Party is die regerende party. Blue Sky Nywerhede het egter miljoene rande aan die Sosialistiese Party, die opposisie, geskenk omdat die direkteure van die maatskappy saamstem met die sosialistiese ideologie. Blue Sky Nywerhede se hoofbesigheid is om ʼn sekere produk te produseer waarvoor hulle ʼn bedryfslisensie, wat deur die direkteur-generaal van nywerheid (ʼn lid van die Neoliberale Party) uitgereik word, benodig. Die direkteur-generaal het die diskresie om ʼn lisensie te herroep, of nie te verleng nie, as hy dit in die openbare belang beskou. Met die finansiering van politieke partye nie meer anoniem nie, wat is die kanse dat Blue Sky Nywerhede die Sosialistiese Party sal aanhou finansier wetende dat die direkteur-generaal, iemand van wie die maatskappy heeltemal afhanklik is vir ʼn bedryfslisensie, ʼn kanniedood-lid van die Neoliberale Party is?

In beginsel is die probleem nie dat die finansiering van politieke partye deursigtig moet wees nie. Dit moet sekerlik so wees. In volwasse demokrasieë, soos die Verenigde State van Amerika, is sakelui dikwels óóp oor watter politieke partye hulle ondersteun, en inderdaad is deursigtigheid in finansiering deur die wet verplig. Die probleem is dat buitensporige diskresionêre magte in die regering gevestig is en sodoende is ʼn deur oopgemaak vir allerlei soorte korrupsie. Dit is ongelukkig nie ʼn probleem wat tussen die Verenigde State en Suid-Afrika gedeel word nie. Dit is waarom die verpligte deursigtigheid in finansiering van politieke partye rampspoedig sal wees in SA, maar nie in die VSA nie.

Dit is nie ʼn probleem beperk tot die huidige regerende party nie. Dieselfde beginsel sou van toepassing wees indien enige ander party aan bewind was. Die probleem lê vierkant by die parlement se dwangregtelike verontagsaming van die oppergesag van die reg en sy neiging om buitensporige diskresionêre magte aan amptenare en politici te gee.

Met die finansiering van politieke partye wat nou deursigtig moet wees, gaan opposisiepartye ʼn baie moeilike tyd hê om finansiering te verseker. Maatskappye (of hul direkteurs in hul persoonlike hoedanigheid) wat afhanklik is van die een of ander soort lisensie, permit of kontrak, sal waarskynlik meer versigtig wees, tot op die punt van paranoia, wanneer hulle kies waar hulle hul geld gaan bestee.

Voordat ons daarop aandring dat daar deursigtigheid in private finansiers van politieke partye is, moet ons daarop aandring dat die parlement die oppergesag van die reg streng moet nakom en respekteer. Indien dit nié gebeur nie, is Suid-Afrika se demokrasie in groot gevaar.

  • Martin van Staden is regsnavorser by die Vryemarkstigting en werk aan ʼn meestersgraad in Regsgeleerdheid aan die Universiteit van Pretoria. Sedert 2015 dien Martin in die raad van African Students For Liberty en is tans die streeksdirekteur vir akademiese programme. Hy is ʼn passievolle skrywer, Young Voices Advocate en die hoofredakteur van Rational Standard en Being Libertarian, albei klassiek-liberale publikasies. Martin het saam met Neil Emerick die boek, The Real Digital Divide: South Africa’s Information and Communication Technologies Policy, geskryf, en was ook ʼn bydraer tot en redakteur van Fallism: One Year of Rational Commentary. Daar is ook met hom onderhoude gevoer op televisie en oor die radio oor openbare beleid, die reg en ekonomie in Suid-Afrika.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

3 Kommentare

Hendrik ·

Nee wat vir my is deursigtigheid belanrik in S.A. en omdat ons ekonomie so klein is en so oorheers word deur enkele groot maatskappye wat die ekonomie stuur waar dit hulle bevoordeel. Die guptas is een voorbeeld daarvan. Ek weet die die DA skop teen dat partyfinansiering bekend gemaak word want hulle wil met alle mag aan bewind kom. Sal hulle dan dieselde paatjie loop as die ANC?

Eish ·

Dis nou maar hul probleem om te hanteer. Hul is mooi groot en moet dit self aanspreek. Ons is in elk geval in n kleptokrasie. Hul moet soos Formule 1 renjaers baadjies te dra met hul borge se kentekens daarop sodat mens kan sien wie hul betaal.

Arak ·

Ek is van mening dat dit goed is dat party verklaar hoe hulle befonds word. Met die inmenging van buite organisasies, soos Open Society, in lande se politiek moet mens weet na wie se pype ‘n party nou eintlik dans. Verder, as jy die moed van jou oortuiging het om ‘n party finansiële te ondersteun, doen dit dan; weet net dat ander dit ook kan uitvind.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.