DF Malan-naamsverandering: Dink eers báie goed en onafhanklik na

Hoërskool D.F. Malan. (Foto: Facebook)

Die beheerliggaam van die Hoërskool DF Malan se besluit is blykbaar min of meer finaal: Die naam van die skool in Boston, Bellville, gaan verander word. Oor wat dit dan moet wees – daaroor word nog nagedink.

Dit is ’n saak wat vir sommige mense, veral Afrikaners, baie gevoelig is. Malan was immers die premier van Suid-Afrika en leier van die Nasionale Party in die jare 1948-1954, toe rassesegregasie onder die naam “apartheid” in die wetboek vasgelê is. Daardeur het die tweedeklasstatus van gekleurde mense – bruin mense, swart mense en Indiërs – wat in die praktyk gegeld het, ook die wet van die land geword.

Huwelike tussen rasse is nie meer erken nie; seks oor die kleurgrens was strafbaar. Bruin mense, wat eeue lank in ʼn groot mate tussen wit mense in die Kaap gewoon het, is gedwing om nou in aparte woonbuurte, bekend as groepsgebiede, te woon. Dit was die kroon op ’n geradikaliseerde Afrikanernasionalisme wat reeds vroeër in die eeu begin het.

’n Mens kan die skool se DF Malan-besluit op verskeie maniere bekyk. Die een is om begrip daarvoor te hê.

In die Oos-Kaap is daar ’n universiteit wat na Cecil John Rhodes vernoem is. Daaroor het die rektor, dr. Sizwe Mabizela, al in 2015 geskryf: “There are those who are of the view that, given the horrendous things that Cecil John Rhodes did to the black people in the Southern African region through his colonial and imperialist excesses, it is morally and ethically indefensible and completely unconscionable to have a university bearing his name.” Tog het dit steeds nie tot ’n naamsverandering gelei nie.

In Winnipeg, Kanada, is ’n heftige debat oor die naam van een van sy voorste skole, die Cecil Rhodes School, gevoer. Op foto’s kan gesien word hoe die naam in ’n deftige gewel bo die hoofingang ingemessel is, vlak bo ’n vlagpaal met die Kanadese vlag.

Op ’n webwerf waar daar vir die verandering van die skool se naam gepleit word, lees ’n mens egter dat Rhodes, ondanks sy goeie dade “…remembered for being extremely racist. Rhodes wanted Africa to be British and dominated by an Anglo-Saxon population.” Selfs Adolf Hitler het hom weens sy oortuigings insake rassuiwerheid hoog geag, aldus die webwerf.

In Settlers, Limpopo, is daar ’n laerskool met die naam Lord Milner School. Ek kon geen getuienis vind dat ’n debat daaroor gevoer word nie.

Die punt is dat dit op sigself begryplik is dat daar oor ’n naam nagedink word, veral as ’n instelling na ’n omstrede persoon vernoem is. Jy sal nie maklik ’n “Hoërskool Adolf Hitler” êrens in die wêreld vind nie, allermins in Duitsland.

Ek is geen filosoof of politieke wetenskaplike nie; ek is historikus. Dít is dus die bril waardeur ek na sake kyk. Op die keper beskou, is daar byna niks positiefs wat oor Hitler, een van die grootste massamoordenaars in wêreldgeskiedenis, gesê kan word nie. Oor Milner en Rhodes kan ’n mens darem nog sê dat hulle bekwame administrateurs was onder wie hul regeringsake oorwegend glad verloop het, en dat hulle baie gedoen het om die opvoeding van kinders te bevorder.

Maar selfs dié laaste punt het, gewoon objektief gesien, in diens van ’n ideologie gestaan, naamlik Britse imperialisme, wat die Britte se biologiese én kulturele status as die bokant van ’n piramide gesien het. Die res van die mensdom – gekleurdes, mense van ’n ander kultuur (soos die Afrikaners) – was óf effens, óf totaal minderwaardig.

Wat is die taak van die historikus? Dit is drieledig: Om die verlede so akkuraat moontlik te heropbou, te analiseer en dit te verklaar. Dit geld vir Hitler, Rhodes en Milner, maar ook vir DF Malan. Dit beteken dat jy mense nie blindweg volgens vandag se standaarde moet beoordeel nie. Hierdie standaarde het regdeur die geskiedenis weer en weer verander, en wat vandag as reg en goed gesien word, word dalk môre of oormôre as verwerplik gesien.

Kom ons pas dit op Malan toe. Malan, soos alle mense, was grotendeels die produk van sy tyd en omgewing. Hy is deur die oprukkende Britse politieke, ekonomiese en kulturele imperialisme gevorm, asook deur die yslike getalle-oorwig van die swart mense in Suid-Afrika.

Dit het by hom, soos by die meeste Afrikaners, die vrees gewek dat die Afrikanervolk se naakte oorlewing, sowel fisiek as kultureel, in die gedrang is. Dít, en nie noodwendig omdat die Afrikaners en hul leiers sodanig slegte, verwerplike mense was nie, was verantwoordelik vir die apartheidsbeleid wat onder Malan se premierskap ná 1948 ingevoer is.

Let wel, hiermee word geen morele oordeel, nóg positief nóg negatief, gevel nie. Dis nie die taak van die historikus nie.

By ’n analise oor Malan hoort dus ook ’n oordeel tuis volgens die standaarde wat destyds algemeen gegeld het. En dan, dit moet die eerlike historikus erken, was Malan gematig – relatief …

In die jare van die oprukkende radikalisering van Afrikanernasionalisme, min of meer 1933-1948, het hy hom steeds teen die ergste ekstremisme verset. Hy het die Nazistiese Ossewa-Brandwag en Nuwe Orde met al sy energie beveg. Hy het die – kom ons noem dit maar regtervleuel – van die Nasionale Party so goed as wat hy kon in toom probeer hou.

Dat hy nie altyd ewe goed daarin geslaag het nie, beteken nie dat hy nie probeer het nie. As ’n mens terugkyk, kan jy nie anders as om te erken dat Malan minder erg, in vergelyking met die huidige politiek, van korrekte oortuigings afgewyk het as byvoorbeeld Hitler, Rhodes of Milner nie. Ook as jy destyds se politieke oortuigings as maatstaf neem, was hy maar gematig, en beslis geen ekstremis nie.

Wel, van Hoërskool of Universiteit Adolf Hitler is daar geen sprake nie. Maar, al word daar oor die naam van die Rhodes-Universiteit in Grahamstad en die Cecil Rhodes School in Winnipeg (maar blykbaar nie oor die Lord Milner School in Settlers nie) gepraat, bly die name tog staan.

Natuurlik wil die beheerliggaam van Hoërskool DF Malan nie aan rassisme gekoppel word nie. Maar jy kan netsowel die punt maak dat behoud van die naam sy destydse gematigheid in die herinnering roep. Al wat ek sê, is: Moenie soos ’n babahondjie agter elke dwarrelende blaartjie in die herfswind aanhardloop nie. Dink eers báie goed en onafhanklik na en moenie oorhaastig wees nie.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Johan ·

Die beheerliggaam buig sommer byvoorbaat die knie. Miskien kan hulle nou op die rug val en die skool na “Lesofie” vernoem. Daarna kan die leerders (voorheen kinders genoem) die skoolsaal afbrand (sien artikel hierbo) omdat hulle nie wil eksamen skryf nie.

Nici ·

Goed geskryf. Ek hoop dat die skool beheerliggaam bietjie sal nadink oor die vervreemding wat hul oorreaksie kan veroorsaak.

Prikkie ·

Soos altyd, baie goed beredeneer. Baie dankie, of soos die Nederlanders sê “dank je wel” Dr Scholtz.

Sandra ·

Dit sal ‘n ramp wees. Die skool kan sy geskiedenis dan afsluit en weer by jaar 0 begin. Kan op geen vorige prestasies aanspraak maak nie.

James ·

Besste Dr Scholtz: Los nou maar die “sagte” onderwerpe hier op Maroela. Ons almal (wat hier in SA woon) – verstaan die plaaslike politiek: Baie van ons verstaan ook die westerse geskiedenis – nie net in die 20ste eeu nie – maar sover terug as die Val van Rome aan die hand van ingelate barbare. Party van ons beoefen Geskiedenis as ‘n stokperdjie, na werk. Ek persoonlik spandeer my laasste maand se slaaptyd lees aan die vierde herlesing van Beevor se “Stalingrad.” Dit nou nadat ek sy boeke oor Normandie en Berlyn ook al 4 keer gelees het. STOKPERDJIE.

Kom skryf jy vir ons eerder met die drif wat jy oor die laasste vyf jaar ten toon gestel het – oor die Amerikaanse Presidensie. Wees ‘n moderne Historikus.

Nie meer nie?

Hoekom nie?

O-ja…

(Ek verstaan. My brein het ook al seer gekry.)

Louis ·

As jy name van skole, dorpe, strate of wat ook al, verander behoort dit minstens ‘n nagevorste en wetenskaplike begronding te bevat. Dit is dus ‘n intellektuele aktiwiteit en nie ‘n politieskorrekte poging wat van glasgemaak is nie. Elke geslag het maar sy eie produkte opgelewer en elke keer was politiek die wenner. Clen Vista het gebrand hou maar die beginsel van “oorsaak en gevolg” in gedagte by naamgewing en ook ander sake. By DF Malan behoort die opvoedkundigverant-woordbare beginsel die wenner te wees.

piet ·

Hoekom is die mens so lief om dinge na ander mense te vernoem? Heeltemal onlogies, mense kom en gaan. Vernoem dit na iets konstant wat nie gaan verander nie soos iets eie aan die betrokke omgewing byvoorbeeld.

sydney ·

Hoe pateties om ‘n naam te wil behou terwyl alles wat die naam verteenwoordig het, reeds vertrap is. Die naamsverandering moet og noodwendig volg! Dr DF Malan kan nie met ‘n rasgemengde skool vereenselwig word nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.