Die 10de Oktober is Krugerdag

Staatspresident Paul Kruger

Paul Kruger. Argieffoto.

Tot 1994 was 10 Oktober ʼn vakansiedag – eers Krugerdag en later Heldedag.

Paul Kruger self sou waarskynlik nie veel erg gehad het aan ’n vakansiedag in sy naam nie. Hy sou dit waarskynlik afgemaak het as “mensverheerliking” soos wat hy ook gedoen het met die tallose heildronke wat op hom ingestel is wanneer hy deur die elite van Europa tydens sy besoeke aan die vasteland onthaal is.

En wanneer die rykes van die wêreld sjampanjeglasies geklink het op die groot man uit Afrika – dan het hy net ’n glas melk of ’n glas water gevra.

Maar wat het Paul Kruger “groot” gemaak?

Was dit sy geleerdheid? Kan nie wees nie, want hy het nie formele skool- of universiteitsopleiding gehad nie.

Was dit sy militêre vernuf en mag, sy heldedade? Of is dit sy impak op die lewens van mense wat dekades ná sy tyd steeds gevoel kan word?

Groot mense is gewone mense, wat in ongewone tye buitengewone dinge doen.

Jong dae

As jong man was Paul Kruger deel van die Groot Trek en het hy eerstehands die avontuur en hartseer van die Voortrekker-era ervaar – dit was egter die norm vir al sy tydgenote.

In Oktober 1836 het hy die slag van Vegkop saam met die Potgietertrek beleef. In Februarie 1838 was hy nog ’n twaalfjarige seun. Hy het egter sy herinneringe aan die gebeure by Bloukrans en Moordspruit jare later soos volg verwoord:

“Ek was toe nog maar ’n seun van 12 jaar oud, maar ek herinner my die moord van Piet Retief nog goed. Elke gebeurtenis van daardie dae staan in my geheue gegraveer en ek sal dit nooit vergeet nie… dit was heeltemal in die vroegte, so omtrent dagbreek, toe ons skote gehoor het. Eers dag ons dit is saluutskote wat afgevuur word by die terugkeer van Piet Retief, maar toe dit ligter word, het ’n perderuiter by ons aangejaag gekom en die verskriklike tyding gebring dat een klompie mense byna heeltemal uitgemoor is deur die Zoeloes – behalwe vir ’n paar wat ontvlug het.

…God het ons gebede verhoor en uit die hande van die vyande verlos… maar watter verskriklike tonele het ons nie in die ander laer gesien nie. Daar het die lyke van ons mense gelê wat deur ‘n ander afdeling van die Zoeloe-leër vermoor is en in hulle bloed gebaai het. Die veld was wit van die vere wat die moordenaars uit die beddegoed van die waens geskud het. Daar was skape wat lewendig oopgesny is en manne, vroue en kinders op die gruwelikste wyse gefolter, vermoor, deursteek en keelaf gesny. Die aasvoëls wat – soos hulle vertel het – so ‘n Zoeloe-impi orals gevolg het, het reeds begin om die dooies te verskeur. Daar het moeders dood gelê asook sterwendes nog met die kleintjies aan die bors gedruk. Ander het met verstyfde arms hulle kinders, deurboor met assegaaie wat die lyke aanmekaar gehou het, omklem. Baie lyke is op die verskriklikste manier mishandel en geskend, en klein kindertjies het gelê waar die barbare hulle neergegooi het, nadat hulle die harsings teen die wawiele uitgeslaan het.”

Hoewel hierdie tonele in enige mens se wese ingegraveer sou word en dit vir Kruger sekerlik vir die res van sy lewe sou bybly, het hy nooit bang, moedeloos of haatdraend geraak nie.

Geloof en menseverhoudinge

Kruger was besiel met ʼn diep Christelike geloof en ’n passie vir die kerstening van inheemse bevolking van die ou Transvaal.

Sy medewerking in die stigting van die Gereformeerde Kerk was aanvanklik gesien as ʼn verdelende faktor. Sy kerkverband is gereeld deur sy politieke vyande teen hom gehou. Kruger het egter deur sy lewenswyse sy christelike lewensbeskouing gestand gedoen en sou dit bydra tot sy latere verenigende rol as leier van die Transvalers.

Kruger het nooit geskroom om die Woord te verkondig nie. Maak nie saak of dit nou aan Moshoeshoe of Rhodes of sy eie burgers was nie.

In sy biografie oor Paul Kruger vertel sy biograaf, D.W. Kruger, van Oom Paul se besondere verhouding met ’n swart evangelis, Dawid. Kruger het soos volg van Dawid, in sy gedenkskrifte vertel:

“Ek het hom leer ken as ’n Christen. Hy het onder die swart volkere gearbei deur die Evangelie te verkondig. Hier was nog geen sendeling nie en baie van die swart mense wou hom doodmaak en dan het hy na my gevlug vir beskerming. Ek was kommandant. Hy het gevra om by my te woon. Omtrent tien dae het hy by my gebly. Een môre vroeg het hy wenende by my gekom en gesê: ‘Meneer, ek sal tog maar loop’.

Ek vra hom, ‘Waarheen?’ en hy sê: ‘Om die boodskap van Jesus onder die swart mense te gaan vertel. Ek weet nie wanneer die Here sal kom nie, vanaand of môre, en hier lê ek. Wat sal ek sê as die Here môre kom?’ Toe hy dit gesê het, het hy bitterlik geween en haastig geword.  

Kruger het aan hom gesê die swart mense wil die Bybel nie hê nie. Hulle sal hulle nie bekeer nie en hom net doodmaak.

Maar hy het net gesê: Meneer dit is nie my werk om hulle te bekeer nie. Dis die Here se werk. Ek moet maar net vertel. En as ek dit nie doen nie, wat sal ek sê as Hy kom.

Ek weet nie hoe gou Hy sal kom nie.

My tyd is kort”.

Kruger vertel dan dat hy besonder verleë en skuldig gevoel het oor sy eie ongeloof. Hy het vir Dawid gegroet en gesê:

“Gaan heen in vrede, die Here sal jou help.”

Al was daar gereeld botsings met die stamhoofde, het hulle agting en respek vir Kruger gehad.

Mamelodi (die fluitende man), was sy noemnaam onder swart mense en die verwysing deur sommige swart mense na hom as hul “pa” bevestig Paul Kruger se houding dat hy ‘n verantwoordelikheid teenoor almal in Suid-Afrika gehad en aanvaar het. Ironies genoeg is die township Mamelodi, Oos van Pretoria, dus as‘t ware na Paul Kruger vernoem.

Politieke en militêre betrokkenheid

Paul Kruger was alreeds aktief in die Transvaalse politiek in sy middel twintigs, hy het sy politieke tande geslyp in die harwar van die 1850’s se broedertwis. Paul Kruger se toetrede tot die openbare lewe was nie uit ambisie of eie waan nie, maar hy het hom telkens beroep op die vestiging van wet en orde in die Republiek onder die veglustige burgers.

Kruger se vroegte bydrae was egter sy militêre rol. Die onstabiliteit in die ZAR het ʼn fisieke gevaar vir die Boere ingehou aangesien Tswana-stamme onder leiding van, onder andere Scehele en Gasibone, en die Pedi-stamme van Makapan en Sekoekoeni  telkens tydens die harwar onder Afrikaner geledere uitgebuit het.

Die plunder- en moordtogte het aan die jong luitenant (en latere kommandant van Rustenburg) die geleentheid gebied om naam te maak onder vriend en vyand deur sy dade.

Kruger se betrokkenheid by die regering was van so ʼn aard dat hy hom oor ʼn tydperk van twintig jaar dikwels van die een grensgebied na die ander van beide die ou Transvaal en Vrystaat moes haas om vrede te herstel.

In sy bekende ekspedisie in 1858 teen die Basotho-roofbendes, het hy die leidende rol gespeel om Moshoeshoe by die vredestafel te kry. Uiteindelik was dit hierdie diens wat daartoe gelei het dat hy in 1864 as kommandant-generaal lid van die Uitvoerende Raad van die ZAR aangewys is.

Ná die onsuksesvolle presidentskap van M.W. Pretorius (1860’s) was Kruger aanvanklik nie geag as presidentmateriaal nie, en het die Transvaalse burgers hul gewend na die verligte gentleman, T.F. Burgers. Burgers se presidentskap sou uiteindelik eindig met die anneksasie van die ZAR.

Ironies was dit die anneksasie van die Transvaal deur Shepstone op 12 April 1877 wat Paul Kruger as onbetwiste leier onder die Boere-geledere gelaat het.

Politieke nalatenskap

Kruger het nie weggeskram van die moedelose situasie ná anneksasie nie en het in die volgende vier jaar met groot moeite en leierskap die Transvaalse Afrikaners georganiseer en de facto-beheer oor die ZAR geneem.

Hiervan is die gebeure ná die Paardekraal-byeenkoms van 1880 ʼn duidelike voorbeeld. Dat die Eerste Vryheidsoorlog die republiek herstel het, is ʼn feit, maar dit was Kruger se voortreflike politieke vernuf teenoor die Britse imperialiste wat daardie onafhanklikheid in stand gehou het oor die volgende 18 jaar.

Dit was nie net sy onbaatsugtige diens teenoor die Transvaalse republiek wat hom laat uitstaan nie, maar ook die christelike waardegedrewe wyse waarop hy die ZAR se onafhanklikheid verkry en verdedig het. Die wyse waarop Kruger vriend en vyand hanteer het, getuig hiervan.

Die ZAR se versoenende reaksie op die lede van die Jameson-inval, deur hulle nie ter dood te veroordeel nie, maar te begenadig, is ’n duidelike voorbeeld.

Inmenging in die regbank

Kritiek dat Kruger onbeskaamd in die regbank ingemeng het met sy destydse afdanking van regter Kotze, is kwaadwillig. Wat onthou moet word, is dat regter Kotze (wat teen Kruger in ʼn vorige presidentsverkiesing gestaan het en dus ʼn voor die hand liggende belangebotsing gehad het) destyds ʼn uitspraak gelewer het wat effektief die 1881-Grondwet nietig verklaar het.

Die uitspraak het die ZAR-regering sonder ’n grondwet en sonder ’n volksraad gelaat. Kruger het by Kotze gepleit om die volksraad geleentheid te gee om gebreke in die wetgewing reg te stel. Hierdie versoek is nie ongewoon nie indien in ag geneem word dat die hedendaagse Suid-Afrikaanse grondwet ook ’n bepaling het wat dit moontlik maak vir die konstitusionele hof om aan die parlement geleentheid te gee om ongrondwetlike bepalings in wetgewing reg te stel ten einde krisisse te vermy.

Eers maande later en ná onsuksesvolle oorlegplegings is Kotze ontslaan. Nogtans was dit te laat aangesien Kotze se uitspraak stukrag aan Brittanje se veldtog teen Kruger gegee het.

Daar is verskeie menings oor Paul Kruger se rol as president, maar dit is baie duidelik dat hy ‘n enorme bydrae gelewer het vir die latere ekonomiese ontwikkeling van Suid Afrika. Hiervan is die bosboubedryf in Mpumalanga, die Kruger Nasionale Park wat vandag sy naam dra, die Delagoabaai-spoorlyn asook die vindingryke wyse waarop hy industrialiste na die ZAR gelok het, sprekende voorbeelde.

Vir 50 jaar het Pres. Kruger ononderbroke sy mense gedien, sy land gebou en die fondament gelê van wat later die Republiek van Suid-Afrika sou word.

As staatsman het hy die Boeresaak op die internasionale agenda geplaas en deur sy politieke vernuf, gedryf deur sy christelike waardebeskouing het hy menigmaal spanning tussen die Republieke en Brittanje ontlont, soveel so dat hy meer as een keer die wêreld aan sy voete gehad het.

Niks getuig meer hiervan as die triomfantlike verwelkoming wat hy in Europa ontvang het toe hy uit Afrika moes vlug nie.

Slotsom

Daar was ‘n tyd, veral gedurende die Anglo-Boereoorlog, toe Paul Kruger van Kaapland tot by die Soutpansberge as die onbetwiste van die Afrikanervolk geag is.

As ‘n mens sy lewe beoordeel en sy opleiding en die konteks waarin hy geleef het, sien teenoor die uiteindelike roem wat hy internasionaal verwerf het, kan mens net bewondering vir hom hê.

In Julie 1904 het die eensame Kruger in ’n huis langs die Clarens-meer in Switserland met sy eie hand ’n laaste boodskap aan sy mense geskryf – aan die inhoud van die boodskap kan mens aflei dat hierdie groot man gewéét het dit is sy laaste boodskap:

“…van ganser harte dank ek almal wat bymekaar gekom het om te beraadslaag oor die hede en die toekoms, en aan hul ou Staatspresident gedink het en daardeur getoon het dat hulle die verlede nie vergeet het nie. Want wie vir hom ‘n toekoms wil skep, mag die verlede nie uit die oog verloor nie.

Daarom: Soek in die verlede al die goeie en skone wat daarin te ontdek is, vorm daarna u ideaal en probeer om daardie ideaal vir die toekoms te verwesenlik.

Dit is waar: veel van wat opgebou was, is nou vernietig, verniel en het geval.

Maar met eenheid van sin en eenheid van kragte kan weer opgerig word wat nou daar plat lê. Dit stem my eweneens tot dankbaarheid om te sien dat daardie eenheid, daardie eendrag by u heers.

Vergeet nooit die ernstige waarskuwing wat lê in die woorde: “Verdeel en heers” nie, en sorg dat hierdie woorde nooit op die Afrikanervolk van toepassing sal wees nie.

Dan sal ons nasie en ons taal bly staan en bloei.

Wat ek self nog daarvan sal sien of belewe, lê in die Hand van God. Gebore onder die Engelse vlag, wens ek nie daaronder te sterwe nie.

Ek het geleer om te berus op die bittere gedagte dat ek my oë in die vreemde as ‘n balling sal sluit, byna heeltemal alleen, ver van bloedverwante en vriende wat ek waarskynlik nooit weer sal sien nie, ver van die Afrikaanse grond wat ek seker nooit weer sal betree nie, ver van die land waaraan ek my lewe gewy het om dit oop te maak vir die beskawing en waar ek ‘n eie nasie sien ontwikkel het.

Maar daardie bitterheid sal versag word solank ek die oortuiging mag bly koester dat die werk wat eenmaal begin is, voortgesit word.

Want dit hou my staande: die hoop en die verwagting dat die einde van daardie werk goed sal wees. Mag dit so wees!

Uit die diepte van my hart groet ek u en die hele volk.”

Geteken: S.J.P. Kruger

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Willie Spies

Meer oor die skrywer: Willie Spies

Willie Spies is prokureur by Hurter Spies Ing en betrokke by verskeie regsaksies van Afriforum.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

31 Kommentare

jongste oudste gewildste
waarheid

Moenie ‘n pakt saam met die Zulu’s maak nie.

Eish

“Vergeet nooit die ernstige waarskuwing wat lê in die woorde :” Verdeel en heers” nie, en sorg dat hierdie woorde nooit op die Afrikanervolk van toepassing sal wees nie.”
Ek het sommer n knop in die keel!
Juis oor ons veronagsaming van hierdie waarskuwing.
Dan ook sy bittere bittere eensaamheid in die buiteland, ver van familie en vriende.
Hoe ervaar ons nie nou self die Israelsonde se gevolg nie!

Patat

Dankie Willie, dit was nou lekker om te lees en gee ‘n mens ‘n knop in die
keel. Voorwaar ‘n pragstuk oor ‘n pragtige mens!!!!!

Dankie

Eish – jy is so reg.
Dankie dat jy dit be- aam het.

leser

baie mooi, willie, gee met elke heldedag vir ons n rukriek oor ons helde, te dem met die anders kleuriges of hulle dit wil lees of nie, vir ons gaan dit “ONS VIR JOU SUID AFRIKA”