Die 1994-bedeling is verby, die toekoms wag…

FW de Klerk en Nelson Mandela (Foto: WALTER DHLADHLA/AFP)

Baie mense is met reg moedeloos oor die staatsverval wat al groter afmetings aanneem. Daarom is daar soms ʼn heimwee na tye in die verlede toe dinge “nog gewerk” het. Dit sal egter nie help om na die “ou” óf die “nuwe” Suid-Afrika te verlang nie, die verlede is verby.

Ons sal moet werk aan ʼn “ander” Suid-Afrika waarin daar vir ons ook ʼn toekoms is. As ons kyk na die aannames van 1994 waarop die huidige bedeling gebou is, is dit duidelik dat daardie tyd verby is en nie gaan terugkom nie. Die huidige krisis is té diep om net weer “reggestem” of reggepraat te word. Ons is in ʼn nuwe tydvak en moet met die werklikhede in plaas van ons wense werk.

Die twaalf uitgediende aannames van 1994 was soos volg:

  1. Die ANC sal Suid-Afrika kan regeer

Die ANC kan nie ʼn moderne land regeer nie. Soos RW Johnson gesê het: “Suid-Afrika kan kies om óf ʼn ANC-regering te hê óf ʼn moderne, nywerheidsekonomie, maar nie albei nie.”

Die gehalte van staatsbestuur word weerspieël in die beroerde ekonomiese syfers, rekord werkloosheid en die staatsverval.

  1. Die 1994-ooreenkoms sal gerespekteer word

Die ANC het die wese van die 1994-ooreenkoms verbreek, naamlik die verruiling van meerderheidsregering vir minderheidsbeskerming. Hulle maak wette om onreg te “wettig”.

Daarby het die Grondwetlike gelykheid in die praktyk tot ʼn drakoniese rassebedeling gelei waar swart oorheersing met ʼn radikale 80:9:9:2-transformasie-rasseformule afgedwing word. Saam met ander rassewette, soos swart ekonomiese bemagtiging (SEB), het dit ʼn groot rol gespeel in die probleme by Eskom wat die hele land in ʼn krisis gedompel het.

  1. Kulturele vryheid en minderheidsregte is veilig

Die versekerings dat gemeenskappe se grondliggende regte beskerm sou word, is verbreek. Die beste voorbeeld is die onderwys- en taalbepalings in die Grondwet wat deur die wetgewende, uitvoerende en regterlike gesag onder die dekmantel van radikale “transformasie” verbreek is. Daarby het die grondwetlike instellings wat daaroor moes wag hou, soos die Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad (PanSAT) en die artikel 185-kommissie, hulself intussen net as nog ANC-instellings bewys.

  1. Die ANC is nie meer sosialiste nie

Die ANC het by die grondwetlike onderhandelinge toegewings gemaak om die mag te kry, en het stelselmatig daardie mag gebruik om hul oorspronklike doelstellings te verwerklik. Die ANC volg die ou marxistiese resep dat “demokrasie die kortste pad na sosialisme” is.

Daarvolgens word die politieke mag gebruik om die ekonomiese mag te bekom deur sosialistiese beleidsrigtings soos onteiening sonder vergoeding, gratis hoër onderwys, die beplanning van ʼn onbekostigbare en onwerkbare Nasionale Gesondheidsversekering (NGV), ʼn omvattende welsynstelsel en skerp herverdelende belasting.

  1. Kiesers stem volgens beleid in plaas van identiteit

Die val van kommunisme is beskou as die aanbreek van ʼn era waar mense nie volgens identiteit sou stem nie, maar volgens beleid. Die verwagting en belofte was dat daar regeringsveranderinge sou kom as die regerende party swak sou regeer, omdat dit as logies gesien is dat kiesers dan die opposisie sou instem.

Dit het nie gebeur nie, en die ANC is sedert 1994 al twaalf keer ingestem, waarvan ses keer in nasionale en ses keer in munisipale verkiesings was. Suid-Afrika is net nóg ʼn demografiese demokrasie waar verkiesings in die praktyk grootliks ʼn rassesensus is, ongeag die ANC se powere regeringsrekord.

  1. Die vryemarkstelsel en privaat sektor as ekonomiese enjin

Die aanname dat kommunisme geval en die ANC sosialisme afgesweer het, en die markekonomie nou veilig is, is in die praktyk in gevaar. Die ANC is wel nie meer outydse kommuniste nie, maar sien die staat se rol steeds eerder as Broodwinner in plaas van Huishoudster.

Hoewel die privaat sektor nie genasionaliseer is nie, word die meeste sektore so sterk gereguleer dat dit nie meer nodig is nie. Staatsinmenging in die ekonomie en die regering se vasklou aan mislukte staatsondernemings soos Eskom en die SAL, het saam met grootskaalse korrupsie en wanbestuur die ekonomie tot op die rand van die afgrond gedryf.

  1. Suid-Afrika is ʼn reënboognasie sonder rassewette

Die ANC het sy (rasse-) Afrika-nasionalisme gekamoefleer as “nierassig” en ʼn reënboognasie totdat die magsewewig in die land genoeg verander het vir die herinstelling van ʼn omvattende rassebedeling. Waar gevalle van wit rassisme met staatsmag verpletter word, geld dubbele standaarde met betrekking tot gevalle van swart rassisme. Boonop misbruik die ANC sy staatsmag om sy eie rasse onreg te “wettig” en af te dwing.

  1. Wonderwerkskikking

Die wonderwerkskikking is ná dertig jaar maar net nog ʼn gewone meerderheidsregering wat dreig om in meerderheidsoorheersing te ontaard.

  1. Wigte en teenwigte

Daar het min tereggekom van die beloofde “wigte en teenwigte”. Die ANC het die grondwetlike instellings wat oor die demokrasie moes waak feitlik almal gekoöpteer deur kaders daar te ontplooi wat hul beleid uitvoer.

Hoewel die howe al sterk teen korrupsie in regeringskringe opgetree het, deel die Konstitusionele Hof uitdruklik die regering se siening oor radikale transformasie.

  1. Kundige wit mense is onmisbaar

Die wit gesagsorde het wyd aanvaar dat hul kundigheid in die staatsdiens, openbare ondernemings en groot maatskappye hulle onmisbaar maak – dit was hulle inderdaad. Desondanks is derduisende van hulle uitgetransformeer en het selfs hoogs opgeleide wit mense ʼn bitter klein kans op ʼn senior pos.

Die verval van die meeste kleiner dorpe buite die Wes-Kaap is tekenend van die feit dat die ANC eerder die munisipale dienste ten gronde sal laat gaan as om gekwalifiseerde wit mense aan te stel.

  1. Suid-Afrika sal nie dieselfde foute as ander Afrikalande maak nie

Kommer dat die ANC dieselfde foute as ander Afrikalande ná onafhanklikheid sal maak, is begroet met beskuldigende uitsprake dat sulke kommer suiwer rassisme is.

Dit word al duideliker dat die ANC niks van sy sosialistiese wortels vergeet het nie, en niks van die gevolge daarvan onthou nie.

  1. Apartheid is die oorsaak van al die probleme

Die ANC se meesterverhaal oor die verlede het die meesterverhaal van die land geword wat as grondslag vir beleidsbepaling vir die toekoms dien. Die kern hiervan is dat al die grootste probleme van die land deur apartheid veroorsaak is, en dat ʼn omvattende omgekeerde regstelling moet plaasvind om die gevolge daarvan reg te stel.

Hierdie meesterverhaal hou nie rekening met die lang lys redes vir die ontwikkelingsuitdagings in Afrika wat vir Suid-Afrika ook geld nie.

Dit help nie om krampagtig vas te klou aan die mooi bedoelings van 1994 nie. ʼn Bedeling word nie aan sy bedoelings gemeet nie, maar aan sy uitkomste.

Die Nuwe Suid-Afrika is verby, en die Ou Suid-Afrika gaan nie terugkom nie. Ons enigste keuse is om te help bou aan ʼn “ander’ Suidelike Afrika. Ons verlang nie na die verlede onder die NP nie, maar ons sien nie uit na die toekoms onder die ANC nie. Ons gaan die toekoms hê wat ons self skep.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Flip Buys

Flip Buys is voorsitter van die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Piet ·

Kyk ne oom Flip, Hoe kan mens die ANC oorwin as hulle seker maak armoede heers? Daardie armoede word omskep in “gyselaarsdrama” omdat daardie mense afhanklik is van die ANC regering tov “grants” Die ANC het ook immers in 1994 belowe dat dit ‘n land sal wees waarin almal voorspoed sal geniet. Nou hoe werk mens met leuenaars wat nie eers hulle beloftes kan nakom nie? As daardie belofte behoue gebly het is ek oortuig daarvan dat ons oor snert sou gekla het, want dit sou goed gegaan het, of ten minste baie beter as nou.
Ons kan allerhande planne uitdink oor hoe dit moet verbeter of verander maar die probleem is dat die in beheer geen belange het in ‘n Suid Afrika wat goed doen nie, dan is hulle hulle ondersteuning kwyt, want die meerderheid middel klas persoon sal nie vir hulle stem nie, en Suid Afrika se middel klas is hopeloos te klein.

Truman Burbank ·

Jy weet die ANC is op n ander payroll? En word betaal om aan te jaag?

Truman Burbank ·

Die ou SA het verbygegaan jare voor mense dink dit het. Alles na 1966 was voorbereiding vir wat beplan was. Stadig maar seker. Die padda in die pot het dekades voor ogies dit gese het, begin.

Republikein in die Wes Kaap ·

Die land is oor die afgrond. Trek af, plak toe. Dis tyd om te ontbondel.

Republikein in die Wes Kaap ·

Wat is “Suidelike Afrika?” Flip maak my nou bang.

Fluisterwind ·

Daar is ‘n paar organisasies/mense wat die Suid-Afrika “Damwal” probeer keer voordat dit totaal meegee, en dit sekerlik die grootste politieke ramp in die geskiedenis van die wêreld gaan word. Daar is wel ‘n ander opsie, moenie meer energie mors op die onomkeerbared gegewe, plaas eerder al ons energie, entoesiasme en inspirasie in Sesering! Ons kan stem vir Sesering. Dit is vervang in ons grondwet en dit is volgens internasionale reg toelaatbaar. Waarvoor wag ons?

Republikein in die Wes Kaap ·

Jip, nes Eskom sal gom, pleisters en drade nie help nie.

Deon ·

Die bang harte van destyds het n groot toets gedop teen slinkse onderhanelaars maar met geen benul van hoe om n land suksesvol te bestuur nie. Die boedel is oorgegee aan n terroriste organisasie. Van toe af was dit net afdraande en al vinniger tot die land waarin ons nou begewe. Dit help nie om tot vervelens oor die oorsaak te praat nie. Daar moet oplossings vir groot probleme in hierdie land gesoek en gevind word. Ons moet in hemelsnaam tog ook nie net die oplossings by die stembus gaan soek nie.

Republikein in die Wes Kaap ·

Reeds op Dag Een van Kodesa was die destydse regering en NP al teen die planke. Hulle het ingestorm om die ANC plat te slaan, maar het vasgeloop teen ‘n gedugte teenstander wat hul huiswerk gedoen het.

KaRoOkWaGgA ·

Lang storie kort – DIE ANC HET ONS LAND VERWOES.
Die trots is weg om te sê jy is’n Suid-Afrikaner.
Ek sien in my huidige werks omstandighede hoe die wit mense misbruik word om die minder bevoorregtes met hul werk te help sodat hulle kan goed lyk, en indien mens jou misnoë uitspreek, is jy negatief en word jy gesê om te F-of as jy nie gelukkig is nie, en dit is ‘n maatskappy wat een van die groot groepe in die land is……….

Republikein in die Wes Kaap ·

Diens in die privaatsektor gaan agteruit.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.