Die 2019-verkiesing: voorspel tot ’n kritieke moment

Foto: Maroela Media

Die verkiesing van 2019 gaan die mees kritieke een sedert 1994 wees, op provinsiale vlak vir die Demokratiese Alliansie en op nasionale vlak vir die hele land.

In die Wes-Kaap verswak die DA se kanse daagliks om vas te klou aan sy 22% van die stemme en sy beheer oor die Wes-Kaap – met al sy gebreke, steeds die bes geregeerde van die nege provinsies.

Sterk gevoelens is besig om onder Jan Alleman op te laai oor die wyse waarop die DA van die een mislukking na die ander strompel:

  • Sy hantering van die waterkrisis, waarin belastingbetalers nou belas word op infrastruktuur wat in die meeste woongebiede al dekades lank belas is. Die gevolg is dat die party nou met R1 miljard se ekstra inkomste sit.
  • Miljoene rand is bestee aan voorstelle vir die onvoltooide snelweë by die Kaapse hawe, maar die projek is as onhaalbaar afgeskryf.
  • Nuwe parkeertariewe word met groot geskal aangekondig, maar kort daarna word alles teruggetrek weens die openbare teenreaksie.
  • Onheilige binnegevegte en verdelings het binne die party ontstaan oor die manier waarop gepoog is om van Patricia de Lille as burgemeester ontslae te raak. Hierdie saak ploeter nog voort.
  • Helen Zille, premier en seker die knapste politieke leier in die land, se stem word selde nog gehoor nadat sy in ‘n twiet die aartsonde begaan het om te sê dat kolonialisme ook voordele gehad het. Almal met ‘n basiese kennis van kolonialisme weet tog dat daar nie net nadele was nie, soos ek in hierdie artikel uiteengesit het.

Zille is die leier wat die party van sy 7%-steun tot 22% gelig en die gemors opgeruim het wat die ANC tydens sy beheer oor die Wes-Kaap geskep het. Hierdie lys is lank, en een van die klassieke voorbeelde was hoe sy die stad se grassnykontrak van ‘n BEE-instansie opgesê het omdat hy geen enkele grassnyer op sy boeke gehad het nie! Weke daarna het jy dag en nag grassnyers in aksie gehoor.

Zille het ook ‘n groot positiewe bydrae tot die grondonteieningsdebat gelewer toe sy – ongelukkig eers onlangs – die regering gewys het op die derduisende hektaar ongebruikte staats- en weermaggrond wat onbenut is. Vir die Wes-Kaap het sy die voorbeelde genoem van vyf groot gebiede (Culemborg, Ysterplaat, Youngsfield, Wingfield en Denel) waarop digby 100 000 bekostigbare behuisingseenhede opgerig kan word. Dit sal ‘n omwenteling bring vir stedelike behuising aan byna helfte van die 200 000 gesinne op Kaapstad se databasis vir behuising – mense wat te veel verdien vir gratis wonings, maar kwalifiseer vir bekostigbare behuising.

‘n Mens sou verwag dat sulke feite deur die DA-leier, Mmusi Maimane, onder pres. Ramaphosa se aandag gebring sou gewees het.

Dit lyk in hierdie vroeë stadium moontlik dat die DA die provinsie en die Stad Kaapstad sal kan behou, maar met kleiner en selfs bedreigde meerderhede. ‘n Hele paar plattelandse munisipaliteite het reeds in tussenverkiesings hul steun na die ANC en sy populistiese, maar onhaalbare agendas verskuif. Die DA het pas ook sy beheer oor die Nelson Mandela metropool verloor.

In die laaste verkiesing het die DA net minder as 60% van die stemme getrek teenoor die ANC se 33%. Die kanse vir alliansievorming is ook bitter skraal: die EFF het 2,11% en die ACDP 1,02% van die stemme gekry.

“Suid-Afrika is ‘n nasionale ramp”

Einde Julie het die minister van arbeid, Mildred Oliphant, gespog dat die openbare sektor nou “verteenwoordigend in terme van ras” is. In die proses kyk sy die olifant op die solder heeltemal mis: Eskom is terug by beurtkrag, die SAL se vlerk bly vere verloor, die Inkomstediens is ‘n gruwelkamer – soos die staat se intelligensiedienste, die poskantoor, hospitale, klinieke, ‘n paar honderd rioolstelsels en sowat 66% van die munisipaliteite. En hierdie lys is nie eers naastenby volledig nie, want die ANC het die omgekeerde Midas-aanraking: Alles wat hy aanpak, eindig in ‘n ellendige gemors . . .

Armoede, werkloosheid en korrupsie op alle vlakke en die feit dat beleggers nou die Botswana-opsie begin verkies is die grootste redes vir die krisis wat ons in die gesig staar. Is daar ‘n party of alliansie van partye wat dit kan omkeer?

Ongelukkig sien al meer kenners en ontleders – wit en swart – al minder hoop vir die toekoms.

Die nuwe Mfecane

Nicolas Woode-Smith praat van ‘n nuwe Mfecane, toe ongekende getalle in brutaliteit vermoor is.

“Suid-Afrika is ‘n land wat regeer word deur chaos, geweld, stakings en haatdraendheid,” skryf hy, en lewer van die kwaaiste uitsprake wat ek al teengekom het.

“Betogers is verby die stadium waar hulle kla; deesdae vernietig, plunder en stroop hulle alles en die regering kyk magteloos toe. Na oral word hulle skynbaar met busse aangery en in die stede is bendes die de facto-regeerders van stadsblokke.

“Hulle kla hulle soek na die dinge wat die ANC belowe het. Maar watter bydrae lewer die afbrand van skole en biblioteke en hoe kan dit die diefstal, aanranding en moorde regverdig?

“Ek het een keer voorspel ons is op pad na ‘n burgeroorlog of ‘n Sowjet-diktatorskap. Ek voeg nou by dat ons sal voortgaan op die Afrika-pad van mislukte state. Nie die onmiddellikheid van ‘n burgeroorlog of die lang, grys dood van ‘n diktatorskap nie, maar die verrotting van ‘n land sonder bestaansreg.”

Prof. Hussein Solomon van die Vrystaatse departement van politieke wetenskap se uitsprake is ewe sterk. Hy sê die land moet tot nasionale ramp verklaar word. Tegnokrate met topvaardighede moet nou beheer neem in die plek van politici. Die verkeerde mense bestuur staatsposte, terwyl ‘n see van misdaadgolwe oor die land spoel.

“Ons het tegnokrate soos in Kanada nodig, waar die beste soldaat die minister van verdediging word en die heel beste ingenieur die minister van waterwese en sanitasie.” Hy verwys ook na die Vaalrivier, waar 80% van die water rioolvuil is.

Die politieke ontleder dr. Pieter Croucamp sê Maimane is in die DA in ‘n (verlammende) ideologiese stryd gewikkel met die liberale vleuel van sy party terwyl die ANC in minstens drie denkskole verdeel is.

Dalk is die grootste rede vir die dilemma die onbekwaamheid en grypsug van die regeerders en die oorgrote deel van die bevolking se gebrek aan die begrip van demokrasie. Hulle hou aan om die ANC te ondersteun en gebruik allerlei metodes om hom te dwing om hul lot te verbeter.

Is daar enigeen wat hier lees en woon wat graag in Cyril Ramaphosa se skoene wil staan? Dalk as die leier van ‘n saamgesmelte ANC en EFF?

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Org Potgieter

Org Potgieter is ’n vryskutjoernalis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Jerry ·

“Come with the time, come the man!” CR is die man van die oomblik, die leier wat kan maak of breek, die mens met n goeie kant en n slegte kant. Die maimanes, malemas of groenewalds is nie een die man van die tyd hier en nou nie en hoe gouer mense gaan besef dat jy moet ter goeder trou optree teenoor CR hier en nou ten einde jou plekkie in die son te verseker, hoe beter. Jy wil jouself nie aan die slegte kant van CR bevind nie, want dan gaan die duiwel jou haal, soos hy vir sommiges gaan haal wat absoluut onnodiglik n benadering volg wat skoorsoekend en ondermynend is! Die ANC gaan n weghol oorwinning behaal in die komende verkiesing, want CR is die man van en vir die oomblik. Hopelik nie met n twee derde meerderheid nie, want dan sal al CR se opponente se weerstand verkrummel en dit waarna hulle nie ter goeder trou strewe sal soos mis voor die son verdwyn! Die kans wat daar was om hande te vat, het verby gegaan! Die man van die oomblik raak al hoe taaier en die tafel is gedek!

Basjan ·

Ware woorde ou Jerry! Dit is nou waarlik sinvolle kommentaar wat jy lewer. Ek hou ook van jou keurige taalgebruik en sinskonstruksie.

Christo Meintjes ·

Ek stem met almal se bevindings saam en kan verder gaan om te sê dat ek geen party of leier sien wat ons uit die gemors kan lei waar Suid Afrika hom huidiglik bevind en verder oppad is.

Francois vRvO ·

Die 2019 verkiesing sal defnetief die mees mededingende verkiesing ooit wees , die stemvee is nie noodwending onbeweegbaar nie , ek voorspel groot skuiwe en selfs die Vryheidsfront plus het ‘n kans om profeit te maak.
Maar daar is ook die moontlikheid dat ons Afrikaners se lot in die volgede 16 maande finaal gaan besluit word.

Liberaal ·

Tegnokrate is baie beter en sal die land baie vinnig ophef maar die polities korrekte ding is om beroepspolitici te ondersteun want hulle ondersteun hulleself en doen watookal die globale superrykes vir hulle voorskryf. Ons wil nie he die politici moet hulle paleise en lang slap karre verloor nie.

Hanno ·

Moet nie meer staatmaak op verkiesings nie want politici gaan ons nie red nie, selfbeskikking sal want dan kan ons ons eie besluite maak, wat vir ons goed is en nie vir kommunistiese kaders nie.

apie ·

Hoorie Org, jou feite is nie lekker nie.Die watertekort van die Kaap is as gevolg van die swak werk en geen beplanning en van die regering nie. Dit is nie stad Kaapstad se skuld nie – hulle probeer om te bestaan rondom die feit dat die regering nie damme bou en beplan nie. Ek verstaan nie hoe julle dit elke keer verkeerd kry nie. Dit lyk of jy iets teen die DA het. Hulle is die enigste munisipaliteite wat gesonde oudits het

Gerhard ·

Die stelling het te doen met die hantering van die saak, nie wie verantwoordelik is nie. Tog dink ek dat die DA deels verantwoordelikheid moet aanvaar vir die probleem en nie net vinger kan wys na die ANC nie.

Paul ·

Die DA het ‘n koopot geraak van dit wat nie werklik bymekaar hoort nie. Die gemende deler wat hulle bymekaar gehou het was maar eintlik die afkeur aan die ANC en die EFF. Dit werk nou ook nie meer nie want die bene van die DA is besig om af te kom, te veel uiteenlopende siele se aspirasies is besig om die DA te verlam.

Dan is jou stuk oor Die Nuwe Mfecane, absoluut in die kol.

Heinrich ·

Baie goeie kommentaar Rasper. Ek sê altyd daar is ‘n reuse verskil tussen rassisme en rasrealisme. Ongelukkig skreeu die linkses enige logiese poging tot rasrealisme morsdood en logiese gesprek met koue feite is ‘n groot nee-nee.

Celtis Africana ·

Uitstekende artikel.
Ek skep sommer baie moed vir ons voortbestaan in die helhool, want hoe meer lewensbedreigend die omstandighede vir die Afrikaner, hoe nader kom hul aanmekaar.
Hoe minder hul het, hoe meer vertrop hul.
Hul helde word gebore uit onleefbare situasies.
Hul Dawid kom na vore in die tye waar Goliat voor hul staan en spot.
Hul geloof blom in tye wanneer al die afgodjies verwyder is uit hul tente.
Hul trek laer wanneer die bedreiging tasbaar word.
Hul Rooi see word gekloof wanneer hul alkant vasgevang is sonder uitkoms.
Aan die einde van die dag is ons net skape wat herderloos gelaat is toe die wolwe opdaag.

Judge Dredd ·

Probleem is met die terme Vryheid en Demokrasie.
Meeste Afrikane dink Vryheid beteken om enigiets te kan doen sonder verantwoording/repurkasies.
Meeste Afrikane dink demokrasie is “Winner takes all” met die 51% meerderheid wat die ander 49% kan hied en gebied soos hul wil.

John ·

Dit gaan met die regering presies soos met daai ‘loods’ wat onlangs ‘n vegvliegtuig vir homself toege-eien het. Presies so. Met feitlik geen kennis en ervaring nie, durf hy die ruimtes aan in iets bo sy vuurmaakplek en swiep windmakerig rond, voer aksies uit waarvoor die vliegtuig nie geskep is nie en raak al meer gerus totdat hy begin glo dat hy ongelooflik bekwaam en onsterflik is… tot hy die grond tref. Mmusi weer, was en is nie bekwaam om die DA te lei nie en bewys die Peter principle reg. Too good to be true staan op sy voorkop geskryf. Eers het hy Zille afgeskiet wat hom aangestel het deur nie eerlik te wees ten minste dat die Bybel se koms waarde dra nie en dan wil hy nie erken dat DA-lidmate ook fouteer nie; dat almal engele is en beskerm toe vir Moeder Kaapstad om die DA as volmaak te bemark.
En net daar val die bodem uit die DA se potblou-pappot.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.