Die aangewese grondslag vir aansprake op vryheid en selfstandigheid

"Ama-gi" - sover bekend die vroegste aantekening van die woord "vryheid" (in Sumeriese spykerskrif uit die stadstaat, Lagash, c. 2300 VC).

Teen die agtergrond van ʼn groeiende verlies aan vertroue in die beskerming wat die grondwet aan minderhede moes verleen, is Afrikaners oor ʼn breë front tans aan die soek na maniere om ten minste ʼn minimum-graad van kulturele en politieke vryheid en selfstandigheid te probeer bewerkstellig. Die eertydse vertroue in die grondwet was ongegrond en was in die besonder vir Afrikaners nadelig. Dit het valse gevoelens van sekuriteit meegebring en sodoende ʼn realistiese soeke na behoorlike strategieë vir kulturele en politieke self-beveiliging, gegrond op basiese selfstandigheid, vir etlike jare vertraag. Die valse vertroue in die grondwet was te wyte aan ʼn gebrek aan politieke vitaliteit en ernstige onkunde oor die fundamentele tekortkominge van ʼn liberaal-individualistiese benadering vir die beskerming van gemeenskappe. Dié gebrekkige vitaliteit en die redes daarvoor asook ʼn toeligting van tekortkominge in die grondwet kan in toekomstige bydraes aandag geniet. Hier ter sprake is ʼn ander kritiese vraag wat spesifiek betrekking het op juis die groeiende tendens onder Afrikaners wat na weë tot vryheid en selfstandigheid soek. Die vraag is: Wat is die grondslag van die aanspraak op vorme van vryheid en selfstandigheid; waarop word die aanspraak gebaseer en waarop behoort dit gebaseer te wees?

In beginsel is daar twee moontlike grondslae: die afgeleide oftewel geoktrooieerde grondslag teenoor die oorspronklike grondslag vir die aanspraak op vryheid.

Die afgeleide / geoktrooieerde grondslag vir vryheid

Volgens die afgeleide grondslag vestig die beroep op selfstandigheid en vryheid op die een of ander gesaghebbende dokument, in die besonder ʼn bindende regsdokument. Daarvolgens lei ons ons aanspraak op vryheid en selfstadigheid van die geldende reg af. Tipies hiervan is ʼn beroep op die grondwet. Dienooreenkomstig hoor ʼn mens dikwels van pogings om ʼn saak vir selfstandigheid en selfbeskikking op grond van artikel 235 van die grondwet uit te maak. Die artikel, word aangevoer, verleen ons die toestemming om bepaalde vorme vryhede uit te oefen. Op die gesag van die staat verkry ons as’t ware ʼn oktrooi om binne die regsreëls soos deur die staatlike reg neergelê selfbeskikking te mag uitoefen. Vandaar dat ons die afgeleide ook die geoktrooieerde grondslag vir vryheid kan noem. Andersins word op internasionale reg – konvensiebepalings – of dergelike instrumente van die Verenigde Nasies of die Afrika Unie of ander regionale organisasies gesteun in ʼn poging om selfbeskikking te probeer regverdig. Die argument is hier dieselfde aangesien die reg op vryheid weereens uit ʼn instrument van die reg afgelei word. Dis weereens die reg wat as’t ware ʼn oktrooi aan ons verleen om binne die grense daardeur afgebaken, selfstandigheid te mag uitoefen.

Ofskoon hierdie argumentasie vir die afgeleide grondslag nie sonder verdienste nie, behoort die beperkte waarde daarvan ingesien te word. Trouens, in sekere opsigte is hierdie geoktrooieerde vryheid nie net beperk nie, maar verydel dit juis die aanspraak op vryheid en selfstadigheid. Ten slotte het hierdie grondslag ook – om die harde woord te gebruik – ʼn dekadente karakter vir sover dit logieserwys strydig is met die inherent lewenskragtige aard van die aanspraak op vryheid en selfstandigheid. Ek verduidelik.

Eerstens lewer geen interpretasie van ʼn regsdokument ʼn voorspelbare (gunstige) resultaat nie, veral nie wanneer die dokumente soos juis in hierdie geval, polities gelade is nie. Selfs al lyk dit met die eerste aanskouing hoe gunstig, is dit vatbaar vir teenoorgestelde vertolkings. Die reg oor selfbeskikking in die internasionale reg is ʼn voorbeeld hiervan. Dit is in omstredenheid gehul, en wat die betekenis daarvan in ʼn bepaalde situasie is, hang af van die politieke kragte wat in betrokke situasie vaardig is. Dieselfde geld in nog groter mate vir iets soos artikel 235 van die grondwet – die veel besproke selfbeskikkingsbepaling. Met sy verwikkelde en besonder gekwalifiseerde formulering lê die bepaling net soveel struikelblokke in die weg na selfbeskikking as wat dit vir selfbeskikking voorsiening maak. Daar is talle soortgelyke voorbeelde waarop gewys kan word. Om ʼn aanspraak vir selfstandigheid hieruit af te lei, is om sienderoë die pad van selfverydeling vir die saak van selfstandigheid in te slaan. Dit is nie die aanspraakmaker op selfstandigheid nie, maar ʼn ander entiteit, regering, of tribunaal wat in die laaste instansie oor die gesag beskik om te interpreteer wat die (regs)bepalings – waarop die aanspraakmaker hom beroep – beteken en wat kan beslis dat die aanspraakmaker se aanspraak inderdaad sonder gronde is en dit gevolglik verydel en vernietig.

Tweedens, het die afgeleide grondslag ʼn dekadente karakter. Toegegee, dis oënskynlik ʼn kwetsende stelling. Nogtans is dit ongelukkig geldig. Die punt is dat die aanspraak op vryheid per slot van sake nie kan berus op ʼn argument wat juis die aanspraak kan vernietig nie. Die aanspraak op vryheid staan op sy eie bene. Dit kan nie afhang van breekbare krukke wat iets of iemand anders verskaf nie; dit kan nie afgelei word uit reg deur iemand anders verorden en bindend deur iemand anders vertolk word nie. Vryheid en selfstandigheid behoort nie af te hang van die vergunning van regsreëls wat deur iemand anders verorden en vertolk word nie. Om die beslissing van die aanspraak op vryheid op hierdie wyse aan ander oor te dra, is om vryheid byvoorbaat prys te gee op dieselfde oomblik as waarop jy daarop aanspraak maak. Soos gesê, teenstrydig, selfvernietigend en dekadent.

Die oorspronklike grondslag vir vryheid

Plato (c. 428–347 VC)

Dit bring ons by die tweede en die aangewese grondslag vir die saak vir vryheid en selfstandigheid – die oorspronklike grondslag. Daarvolgens is die aanspraak op vryheid en selfstandigheid integraal aan, en inherent in, ons elkeen se dignitas (thymos, in die woorde van Plato) op ʼn individuele grondslag en as behorende tot ons kultuurgemeenskappe. Dit is ʼn onvervreembare eienskap van ons dignitas – ons menswaardigheid – om as volwasse mense behorende tot ons kultuurgemeenskap self, vry van dwang of voorskrif menslik gesproke oor ons eie lotgevalle te beslis. Ons lei hierdie bevoegdheid nie af van die een of ander reg vervat in ʼn gesaghebbende bron van die geldende reg nie. Ons steun nie op die toestemming van die dikwels gebrekkige reg van die staat nie. Nee, ons aanspraak op vryheid en selfstandigheid spruit regstreeks voort uit ons dignitas as in integrale deel van ons menswees. Vir sover die reg daarmee strook, is dit goed so, maar vir sover dit nie daarmee ooreenstem nie, is dit verkeerd as synde gefundeer in ʼn onverskoonbare krenking van ons dignitas. In daardie geval is daar nie by die verkeerde reg te berus nie, maar moet die krenkende reg regsgestel word sodat dit kan strook die aansprake voortspruitend uit ons dignitas en dit daadwerklik kan verreken.

Enige aanspraak op vryheid en selfstandigheid moet in die eerste plek op die erkenning van ons dignitas berus. Die reg kan ook ʼn rol speel met inagneming van die gebreke waarop hierbo gewys is. Daardie rol is egter hoogstens bykomstig en stawend vir die aansprake vanuit die onvervreembare oorspronge van ons dignitas.

*Koos Malan is onder andere die outeur van Politokrasie – ʼn peiling van die dwanglogika van die territoriale staat en gedagtes vir ʼn antwoord daarop wat pas by die regsuitgewers van die Universiteit van Pretoria verskyn het. Van die gedagtes wat in bydrae hierbo vervat is, word onder andere breedvoerig in die boek bespreek.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Koos Malan

Koos Malan is professor in publiekreg aan die Universiteit van Pretoria. Hy is onder andere die outeur van "Politokrasie – ʼn peiling van die dwanglogika van die territoriale staat en gedagtes vir ʼn antwoord daarop" wat pas by die regsuitgewers van die Universiteit van Pretoria verskyn het.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Anoniem ·

Dankie vir ‘n baie interessante bydrae Koos.

Die afgeleide grondslag vir vryheid is ongelukkig iets wat as’t ware deel is van Afrikanerkultuur en sy oorsprong in ons vergetelheid het. 

Ons Nederlandstalige voorouers wat in die veertiende eeu ‘n groot opbloei in ekonomiese, sosiale en kulturele ontwikkeling beleef het weens ‘n omwenteling in die tekstielbedryf en reuse torings (belforte) gebou waarbinne hulle die oktrooi kon bewaar wat hulle van die landheer ontvang het wat aan hulle dorp/stad “stedelike reg” verleen het om oor hulle eie sake te beskik.  Hierdie intimiderende torings is vandag groot toeriste-aantreklikhede en karakterbepalend in Vlaandere.

So het die Voortrekkers ook groot waarde geheg aan die daarstel van dokumente wat hul vryheidstrewe sou verwoord en bekragtig, soos die manifes van Piet Retief en die resolusie van nege artikels wat die voortrekkerleiers op 6 Junie 1837 opgestel het en “deur die volk aangeneem” is.  Selfs die ZAR en OVS het hulself eers deel van die statenrij gevoel na amptelike erkenning deur Brittanje met die Sandrivier- en Oranjerivierkonvensie.

Die menswaardige grondslag vir vryheid is iets waarmee ons waarskynlik vir ‘n tyd lank sal worstel. 

Dit lyk egter vir my asof daar ook ietwat van ‘n tweesnydende swaard teenwoordig is in hierdie grondslag wat daarop neerkom dat jy ook met die nodige waardigheid moet optree om vry te kan wees, want as vryheid voortvloei uit ons waardigheid is waardigheid ‘n vereiste vir vryheid.

Daardie waardigheid lê nie alleen in hoe ons onsself sien nie, maar ook hoe ons onsself tot uitvoering en uitdrukking kan bring en hoe ander ons daardeur sien en ervaar.

Vir Afrikaners en alle ander gemeenskappe wat hul eie sake wil besleg (waarskynlik ook die ANC regering) is die taak vandag om juis daardie waardigheid te bou.

In hierdie opsig span die oktrooi uiteindelik bloot die kroon; die formele erkenning van dit wat reeds gebeur het.

Anoniem ·

 
 
“DIE AANGEWESE GRONDSLAG VIR AANSPRAKE OP VRYHEID” –
‘N ANTWOORD OP DIE ARTIKEL DEUR PROF. KOOS MALAN.
 
 
 
‘n Vriend van my lees ‘n artikel deur Prof. Koos Malan oor wat nou eintlik die grondslag van ons aanspraak op vryheid behoort te wees. Hy verstaan nie presies wat bedoel word nie, en vra my om die artikel te lees en ‘n antwoord daarop te verskaf uit die VVK se perspektief.
 
Ek lees toe Koos se artikel; wat opsommenderwys neerkom op die volgende:
 
1.    Daar is twee moontlike grondslae waarop ons vryheids-aanspraak kan berus: Die “afgeleide”- of die “oorspronklike” grondslag.
2.    Die “afgeleide grondslag” beteken ons aanspraak op vryheid word gebaseer op regsdokumente, byvoorbeeld Art. 235 van die Grondwet; en internasionale verdrae in die Volkereg.
3.    Die “oorspronklike grondslag” beteken ons eis vir vryheid berus nie op wette of regsdokumente nie – dit is ‘n reg waaroor ons inherent beskik – ‘n “onvervreembare eienskap van ons reg op menswaardigheid”.
4.    Die “afgeleide grondslag” is volgens Koos dan ook ‘n valse grondslag vir ons aanspraak op vryheid; en daarvoor bied hy etlike redes aan:
4.1  Interpretasies van regsdokumente lewer nooit voorspelbaar-gunstige resultate op nie.
4.2  Die reg op selfbeskikking in die Internasionale Reg is in “omstredenheid gehul” – en wat die betekenis daarvan in ‘n bepaalde situasie is, “hang af van die politieke kragte wat betrokke is”.
4.3  Met sy “verwikkelde en gekwalifiseerde formulering, lê Art. 235 van die Grondwet net soveel struikelblokke in die weg na selfbeskikking as wat dit vir selfbeskikking voorsiening maak”.
4.4  Vryheid moenie afhang van die vergunning deur regsreëls, wat iemand anders verorden en vertolk nie. Om die beslissing oor vryheid aan ander oor te dra, is om vryheid by voorbaat prys te gee op dieselfde oomblik as waarop jy daarop aanspraak maak.
5.    In teenstelling hiermee, gee die “oorspronklike grondslag” van vryheid ons die reg om as kultuurgemeenskap, vry van dwang of voorskrif oor ons eie lotgevalle te beslis. Ons steun nie op die toestemming van die “dikwels gebrekkige reg van die staat nie”.
 
 
Op die oog af klink Koos se argument moontlik gaaf vir sommige vryheidsgesindes. Lekker heldhaftig. Dit herinner nogal aan die argumente van Sydney Gregan (ook houer van ‘n doktorsgraad in die Regte) en sy mini-partytjie wat die VVK en laasgenoemde se roetekaart jare lank reeds uitkryt en kritiseer langs die volgende lyne:
 
Daar gaan (ooreenkomstig VVK-strategie) met die kommunistiese Regíme onderhandel word.Die Regíme word sodoende erken as die wettige regering van die land.Daar word afstand gedoen van ons volk se “historiese aanspraak op ons land Suid-Afrika; ons sal uiteindelik met ‘n volkstaatjie tevrede moet wees”.
 
Kom ons bekyk Sydney se laasgenoemde sê-goed (wat op die oog af net so gaaf klink as Koos s’n) eers gou van naderby:
 
1.      Ja Sydney, ons verkose Volksraad gaan met die Regíme moet praat. Nes jou groot held – Oom Paul Kruger – ook eers met die Ingelse onderhandel het oor die teruggawe van vryheid (en Kruger daarmee vir Shepstone – op jou weergawe – net daar toe erken het as die “wettige Regering van die land”) voordat hy uiteindelik aan die volk berig kon gee dat die deure oral in sy gesig toegeklap is…en die pad na Majuba oop gelê het. Vraag is nou net, hoekom was hierdie ordelike en wettige wyse van optrede (wat die onregpleger eers ten minste kans gegun het om sy onreg op ‘n vreedsame wyse te herstel) goed genoeg vir jou held Oom Paul, maar is dit nou nie meer goed genoeg vir ‘n hedendaagse Volksraad nie? “Neem uit die verlede…”
2.      Gregan die Regte-Doktor weet dit klaarblyklik nie, maar die “wettigheid” al dan nie van ‘n regering – watter Regering op aarde ookal – hang geensins daarvan af of ‘n verdrukte volk met daardie regering onderhandel of nie. ‘n Regering moet net aan een enkele vereiste voldoen voordat die Reg daardie regering as die “wettige” regering van ‘n sekere staat beskou of nie (en totaal afgesien van die manier waarop so regering aan bewind gekom het): Hy moet effektiewe beheer oor die relevante grondgebied uitoefen. En dit doen die ANC helaas – of ‘n Volksraad met hom gaan onderhandel, of nie. Dus, aan die paar AVP’s, Orde Boerevolkers,  en ander volkshelde van die lewe – JULLESELF is die mannetjies wat help seker maak die ANC is en bly hierdie land se “wettige” Regering – elke keer as julle by ‘n tolhek stop en julle geldjie uithaal. Elke keer as julle vir ‘n vuurwapenlisensie aansoek doen. Of vir ‘n rybewys. Of vir ‘n karlisensie, ‘n Venter-waentjie of ‘n woonwa-lisensie. Of vir enige hernuwings van enige van voormelde. Of julle inkomstebelasting-opgawes ewe getrou indien (tog net nie die tronk nie…!) en die verskuldigde geldjie uithaal en wys. Of julle erfbelasting betaal. Of BTW betaal op die goedjies wat julle by die kafee koop. Die lys gaan aan en aan…
3.      Wat betref “afstand doen” van ons “historiese aanspraak op ons land Suid-Afrika”: As ‘n Volksraad moet afstand doen van ‘n deel van die huidige Suid-Afrika om vry te kan wees in ‘n ander deel daarvan, is ons in goeie geselskap. Want die Emigrante-Boeren oftewel Voortrekkers het in die 1830’s AFSTAND GEDOEN van die ganse Kaapprovinsie. Die Bloedrivier-Boere het in die 1840’s AFSTAND GEDOEN van Natal. Tussen die 1840’s en 1854 moes ons AFSTAND DOEN van die Vrystaat. Later moes die Vrystaat AFSTAND DOEN van die diamantvelde in sy westelike gebiede. Die ZAR moes AFSTAND DOEN van talle gebiede aan sy wesgrens en suidoos-grens. En met die tuislandbeleid skaars ‘n paar dekades gelede, was AFSTAND GEDOEN van 40% van Suid-Afrika se hoogste reënvalstreke. Feit is dat ons nog nooit hierdie land in sy totaliteit besit, bewoon en bewerk het nie. Ja, ek en honderde duisende ander sal heeltemal tevrede wees met volkome vryheid in ‘n “volkstaat”, eerder as om langer die moord en doodslag en Goddeloosheid van Azanië te trotseer terwyl ons futiel vasklou aan ‘n (histories-onjuiste) “aanspraak op ons land Suid-Afrika”.
 
Terug na Koos: Kom ons begin deur Koos volkome gelyk te gee: “Bravo, Koos! Ons stuur die ‘afgeleide grondslag’ van vryheid in sy peetjie in. Na die duiwel met wette en internasionale verdrae – soos ware kristalbalkykers weet ons die uitleg daarvan gaan in elk geval teen ons wees. Ons vryheid gaan nie afhang van die vergunning deur regsreëls, wat deur andere gemaak was en vertolk gaan word nie. Vry van dwang of voorskrif, gaan ons van nou af vir ‘n slag oor ons eie lotgevalle beslis! En ons gaan defnitief nie steun op toestemming van die gebrekkige reg van hierdie staat nie. STORM, burgers, STORM!!!”
 
Dawerende stilte…want die burgers storm nie. Soos hulle nie in 1994 gestorm het nie, en ook nie in die afgelope 17 jaar gestorm het nie.
 
(Ek dink nou skielik aan ‘n insident uit die Tweede Wêreldoorlog: Teen 1943 is die Duitse oorlogspoging hopeloos. Een van Hitler se beste generaals, Veldmaarskalk Fedor von Bock, is daarvoor bekend dat hy geen Hitler-aanhanger is nie…en ‘n opstandige groep Duitse offisiere, probeer om Von Bock te werf vir hulle poging om van Adolf ontslae te raak. Daarop reageer die ou krygsheer heel verontwaardig: “Ek is ‘n Pruisiese Veldmaarskalk – geen Suid-Amerikaanse operette-generaal nie!”)
 
Jy sien, Koos, wat “die Wet sê” en wat in verdrae staan, is vir hierdie volk belangrik – ons erf dit waarskynlik van ons Dietse stamvaders. Ek glo geensins die flou storietjie dat die volk lamgeslaan bly al word ons stelselmatig uitgewis, want “die tyd is nog nie reg nie”. As “die tyd nie reg was” op 1 500 plaasmoorde en meer as tien maal soveel dorp- en stadsmoorde nie – hoekom sal “die tyd reg wees” as ons nog ‘n paar duisend dooies bykry? Wie gaan teen watter magiese aantal moorde besluit “genoeg is genoeg”?
 
Kom ek waarborg jou, Koos: Die volk sou lankal in beweging gekom het, mits dit kon gebeur in volksverband (nie in die vorm van een of ander klein bendetjie nie) en mits die volk oortuig kon wees dat hy regmatig optree in die hele proses – ook regmatig in terme van wette en internasionale verdrae. En ek glo die breë, redelike volksmassa weet instinktief dat ons tans geen regmatige vryheidsgerigde optrede teen die ANC kan neem nie. Feit is, die ANC-Regering het nog nie eens ‘n geleentheid gehad om ons vryheid op vreedsame wyse in ‘n eie grondgebied te herstel nie (selfs al sou hulle wou!). Want daar was nog nie demokraties-verkose volksleiers met wie die ANC om ‘n tafel kon sit nie – leiers wat deur die volk ‘n mandaat gegee is om die kwessie van volksvryheid in ons eie staat met die ANC te beding.
 
Die ander punte wat ek vir Koos wil uitlig is die volgende:
 
1.      Hoekom moet dit ‘n “of/of” situasie wees betreffende die “afgeleide-“ en die “oorspronklike grondslag” van ‘n vryheidseis? Wat my betref staan die reg op vryheid en selfbeskikking vas; en wel op grond van beide regstukke en inherente menswaardigheid.
2.      Die internasionaal-erkende reg op selfbeskikking asook die bewoording van Artikel 235 kan seker deur onsself as “omstrede”, “onseker”, of wat ookal bestempel word – as ons dwaas genoeg wil wees om ons vyande sommer nou al argumente in die mond te wil lê. Feit is, die Volkereg bepaal: “Alle volke het die reg op selfbeskikking”. Artikel 235 van die Grondwet gaan verder en bepaal dat ons reg op selfbeskikking in ‘n territoriale entiteit nie uitgesluit is nie. Wat is so omstrede of onseker daaraan? Hoekom wil ons altyd so graag die vyand se geveg vir hom help veg? Wanneer het die ANC self al beweer Artikel 235 beteken nie ons kan onsself in ‘n volkstaat regeer nie? Hoekom het hulle dit in die eerste plek in die Grondwet laat inskryf, as dit so niksseggend is? Duidelik tog nie omdat hulle ewe beangs net op soek was na ‘n uitweg om by hierdie volk se “spierkrag” verby te kom nie? Ek waarborg jou hulle het (ook) met die opstel van Artikel 235 maar alte goed geweet hoe pateties, in die rug gesteek, en verdeeld hierdie ou volkie was.
3.      Indien iemand dalk nog onseker daaroor is: Die Volksraad wat op 23 en 24 September vanjaar verkies gaan word, gaan die finale beslissing oor ons vryheid VERSEKER NIE OORLAAT aan die “gebrekkige reg van die staat nie”. Die finale beslissing oor ons vryheid gaan berus waar dit nog altyd in die grootste momente van ons volksbestaan was – by die volk self. Die volk het reeds sulke besluite oor vryheid begin maak – dit is juis ook hoekom ons in September vir ons ‘n Volksraad gaan verkies. Dis ook hoekom finale besluite insake ligging, ensovoorts van ons nuwe Republiek by volksvergaderings per meerderheidsbesluit geneem gaan word. Dis hoekom die volk gaan besluit wat hy gaan doen as die ANC en die internasionale gemeenskap alle deure in die Volksraad se gesigte sou toeklap. Maar in die aanloop daartoe gaan ons die pad van die Reg loop, en gaan ons alle wette en internasionale verdrae wat vir ons van enige waarde kan wees, maksimaal benut.
 
Ons is immers geen Suid-Amerikaanse operette-aktiviste nie.
 
–       Paul Kruger
Voorsitter: Sentrale Komitee, Volksraad Verkiesing Kommissie.

Propatria ·

Prof Koos Nadat ek hierdie gelees het, is ek baie bly dat ek uit Boere bloed geteel is, ten spyte daarvan dat die Kaap Kolonie nie enige grondwetlike vryheidsregte gehad het nie, en die Kaapse Kerk die Trekkers as ketters verklaar het, die Kaapse regeering wette uitgevaardig het dat die Trekkers verbied om vuurwapens saam te neem en vele meer het hulle steeds Afrika se wilde diere en swart stamme aangedurf om vir hulle ongebore nageslag vrye land te laat vererf.

Ek is van opinie dat die woord Vryheid iets word soos die woord naaste, wat elkeen nog vertolk soos hy wil. Soos mense praat van hulle naaste, maar verwys eintlik na hul verste praat mense van vryheid en sien dit as een of ander abstrakte droom en leef verder voort in slawerny en geniet dit boonop.
Daar sal n punt kom waar n gegewe hoeveelhied mense hul vryheid afdwing.

Anoniem ·

Adv. P Kruger,

Ek glo en vertrou wat jy skryf die beste
antwoord tot hede was aangaande ons volk se vryheid wat ek ooit gehoor of
gelees het.  Ons volk moes telkemale deur
die geskiedenis heen van “woning” verander en hoekom nie nou weer nie?  Ek sal ook liewer in ‘n volkstaat woon om die
eeue oue moorde op ons volk vanaf die vroegste tye af vry te spring.

Plaasmoorde kom van die vroegste eeue met ons
saam.  Ons was ook van vroeg af ontwapen
en die “kerk” het ons voorouers onder sensuur geplaas omdat hulle in daardie
tyd nie “polities” korrek was nie. 
Hierdie storie klink bekend.  Daar
was ook gedurende daardie tye geredeneer dat ons nie vry mog wees nie en ons
voorouers was met vervolging gedreig en sommiges was selfs vervolg.

Wel!  As
die geskiedenis hom herhaal, dan sal ons vryheids-ideaal en die werklikheid daarvan
hom sekerlik ook herhaal.  Ek glo in my
hart dat Koos probeer om die weegskaal vir pro en kon te laai en neutraal te
bly, maar ongelukkig is die tyd van neutraliteit nou verby.  Ons moet standpunt inneem.  Die VVK is die begin en ek moet op ‘n
regdenkende oorweging my hiermee vereenselwig.

Vir die kerk Christene wat hier lees en deur
hulle predikante gemaan word soos in die dae van ouds, om nie te “trek” na
vryheid nie en dat ‘n Christen die ander wang (teen die ANC) moet draai, vir
hulle wil ek herinner aan die opdrag van God aan Moses:  Deut. 17:15 “… dan moet jy
sekerlik ‘n koning oor jou aanstel wat die HERE jou God sal verkies; uit die
midde van jou broers moet jy ‘n koning oor jou aanstel; jy mag geen
uitlander, wat jou broer nie is nie, oor jou aanstel nie.”

Hoekom haal ek ‘n vers uit die Bybel?  Omdat die Bybel die grondbeginsel en fondasie
van ons volk met sy vryheidstrewe is. 
Omdat dit een van die redes was wat die volk van ouds laat trek het en
omdat Godsdiens in ons Boerkultuur ‘n ingebore werklikheid is.

Vryheid is meer as die hele RSA.  Dit begin by die huis, dan brei dit uit na
jou volk op ‘n gemeenskaplike terrein en as ons Godsdienstig gehoorsaam in, glo
ek sal God dalk meer as net die RSA aan ons gee.  Maar kom ons begin by die daarstelling van ‘n
volksraad en gaan woon solank in ‘n gebied waar ons volksgenote meer uitmaak as
die volksvreemdes.  Kleinfontein en
Orania is byvoorbeeld twee sulke plekke waaraan ek onmiddellik kan dink.

Jorik van Suid-Afrika ·

Interessante redenasie. Maar ek vermoed die grondslag vir vryheid (en miskien moet mens eerder van meervoudige “grondslae” praat) behels veel meer as persoonlike dignitas – as ons dit in ou Grieks-Romeinse terme wil stel. As sulks kom die betoog taamlik na daaraan om te beweer dat menseregte die grondslag vir ons aanspraak op vryheid moet wees. Maar ja, die skrywer sleep dan menswees (en dignitas) as behorend tot ‘n bepaalde gemeenskap by die korthare daarby in. Meeste voorstaanders van die menseregte benadering beskou nie menswees as sulks binne die konteks van groepe of gemeenskappe nie. Vandaar die aard van die 1994-grondwet. Wat meer is – om aan te toon dat jy tot ‘n gemeenskap behoort, en jou vryheid op grond daarvan te eis, is waarskynlik om net so vaag en ongedefinieerd te redeneer as die menseregte-aanhangers. Die kernvraag is juis, wanneer ontwikkel ‘n gemeenskap as ‘n kollektiewe liggaam die reg/aanspraak op vryheid? Waar en wanneer doen hulle aansoek om vryheid? Wie erken die aanspraak, en waarom? Dis met hierdie laaste vraag wat ons behoort te worstel. As jou aanspraak gegrond is op individuele dignitas behoort die meeste van ons onmiddelllik aansoek te doen vir ons vryheid en ons behoort dit in die groter politieke gemeenskap van Suid-Afrika (waar menseregte na 1994 nou die nuwe evangelie is) onmiddelllik te ontvang – of solank as wat dit die SA posdienste gaan neem om die pakkie af te lewer. Indien ons die aanspraak baseer op die feit dat ons aan gemeenskappe behoort, sal ons seker vir onsself moet uitmaak aan watter gemeenskappe ons behoort, en dan is ons terug by konsepte soos taal, volk en ras – uiters belangrike begrippe wat nie in die artikel enigsins aan die orde kom nie. So ver my beskeie waarneming van die geskiedenis betref is dit veral volke, en daarnaas godsdienstige en taalgemeenskappe wat aanspraak maak op vryheid, wat opoffer vir vryheid en soms wel vryheid verkry – meestal deur jare en dekades van stryd. Soms word daar ‘n sambreel getrek oor hierdie verskille – soos in Brittanje gedoen is, en ook in 1994 in Suid-Afrika; en dan verloor hierdie argetipiese politieke gemeenskappe (gebaseer op geloof, etnisiteit en taal) hulle vryheid, of die gemeenskappe verval in selfvernietigende konflik. Ons kan maar gerus dink aan die Ierse konflik, die situasie van die Vlaamse volk, die Baske in Spanje, die Palestyne in Israel, die posisie van die Negers in die VSA, die Eskimos in Kanada, die tragedie van Rwanda-Burundi, die Sudan, die wegbreek van Pakistan van Indië in 1948-1949, die situasie in Tibet, en die gebeure in talle lande in Oos-Europa, insluitende Serwië en Bosnië.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.