Die ABC van optogte

abc-van-optogte-deur-GdP-02

Gideon du Plessis, die hoofsekretaris van die vakbond Solidariteit, saam met Wayne Duvenhage van Outa. Foto: Verskaf.

Solidariteit kry gereeld uitnodigings van vakbonde of drukgroepe om aan optogte deel te neem. Elke uitnodiging word versigtig oorweeg want daar is altyd die risiko van reputasie-skade indien ʼn militante element ʼn optog kaap, of die organiseerders ʼn verskuilde agenda het. Die geleenthede waartydens Solidariteit die afgelope twee jaar saam met ander vakbonde aan optogte deelgeneem het, was uit protes teen korrupsie, hoë elektrisiteitspryse, die Aurora-skandaal en teen afleggings. Die organisasie se deelname is gewoonlik ook om verhoudinge met medevakbonde te bou wat later tot ons voordeel gebruik kan word as ons ondersteuning benodig.

Deesdae hou die meeste uitnodigings verband met ʼn anti-Zuma-optog en Solidariteit het vanjaar reeds aan drie byeenkomste van die FreedomMovement en aan een van SaveSA deelgeneem. Gelukkig het al die optogte voorvalvry verloop en was dit nie nodig om ʼn “vlugplan” te volg nie, waarvolgens Solidariteit óf voor óf tydens ʼn optog sal onttrek as daar enigiets plaasvind wat met ons waardestel bots of as ons veiligheid bedreig word.

Dit is opvallend dat al hoe meer wit Suid-Afrikaners aan optogte begin deelneem en tydens die SaveSA-optog op 7 April van Kerkplein na die Uniegebou was daar nagenoeg 10 000 wit Suid-Afrikaners (en kinders) onder die skare van 30 000.

Die jongste oproep vir deelname aan ʼn optog is vir die massabyeenkoms wat dié week in Kaapstad beplan word om die druk te verhoog in die aanloop tot die mosie van wantroue in president Zuma. Die kanse is goed dat Zuma die wantrouemosie gaan oorleef en dit mag dalk net die begin wees van nog talle optogte. Daarom gee ek lesers graag ʼn idee van wat om tydens ʼn optog te verwag.

Jou ingesteldheid

Jy moet van meet af besef dat ʼn massa-aksie so effe anders is as Saterdag se gestamp en gestoot ná die Superrugby-eindstryd op Ellispark. ʼn Bekende aktivis het tydens ʼn onlangse anti-Zuma-optog na die konstitusionele hof langs my geloop en ná slegs vyf minute se gestamp en stoot het hy ʼn erge kragwoord geuiter, sy plakkaat neergegooi en verdwyn. Ek het besef hy was nie reg ingestel nie.

Aanvangstyd bloot ʼn vae riglyn

Dit was wyd geadverteer dat die anti-Zuma-optog op 15 Mei in Johannesburg om 08:00 by die Mary Fitzgerald-plein in Newtown sou begin. Om 08:00 was net ek en Wayne Duvenhage van Outa op die plein en om 08:30 was ons steeds die enigstes daar. Ons besluit toe maar om solank te gaan ontbyt eet. So kon ek toe uiteindelik uitvind hoe daar op die polities onkorrekte naam, “Outa,” besluit is. Wat gebeur het, was dat ʼn groep rou Engelsmanne byeengekom het om die regsaksie teen die e-tolstelsel te loods. Hul regspan het hulle gedruk vir die naam van die applikant wat die hofaansoek bring. Hulle besluit toe bloot om dit wat hulle aanvanklik beoog het, “opposition to urban tolling alliance,” af te kort, naamlik Outa. Duvenage was totaal uit die veld geslaan toe die aanvanklike mediabelangstelling meer op die naam as op die regsaksie gefokus het omrede hulle salig onbewus was van die historiese sensitiwiteit rondom die woord. Outa is nou so gevestig dat dit nie verander kan word nie.

Terug by die optog. Om 09:30 was daar darem al ʼn paar mense wat lekker gesing en dans het, maar die optog het eers teen 11:00 begin. Dit is ongelukkig die norm, hoewel die onlangse SaveSA-optog na die Uniegebou wat om 12:00 ʼn aanvang moes neem, vroeër begin het toe Sipho Pityana om 11:40 die megafoon geneem en met gebed geopen het. Ons het om 11:45 begin stap – ʼn baie seldsame verskynsel inderdaad, maar wat die verskil gemaak het, was dat ʼn sakeman hier aan die stuur van sake was.

Waar parkeer jy?

Ek verkies om by die eindpunt te parkeer, maar so ʼn paar blokke weg van die finale eindpunt. As dinge handuit ruk, gebeur dit gewoonlik teen die einde en dan is ek nie so seker wat die fynskrif op my verskeringspolis wat lui dat oproerverwante dekking beperk is, inhou nie.

Parkeer dus naby die eindpunt en stap na die beginpunt toe, tensy jy alternatiewe vervoer kon reël. Soveel strate word egter afgesper dat ry soms ʼn uitdaging is. Ek het ook al geleer dat as jy by die eindpunt parkeer en baie toesprake gehou word, jy nie meer so avontuurlustig is om weer ver te loop ná die tyd nie.

Wat neem jy saam?

Ek dra gewoonlik ʼn goeie paar stapskoene en het water, ʼn paar energiestafies en ook ʼn vorm van identifikasie (bloot vir ingeval) byderhand. Ek het egter geleer dat om te veel water voor die begin van die optog te drink nogal ʼn uitdaging kan skep. Daar is wel geriewe by die begin- en eindpunt, maar die rye is gewoonlik lank en higiëne verg ʼn groot kopskuif.

In die somer is sonblok noodsaaklik en ʼn sonbril help baie. Om “selfies” die wêreld in te stuur is baie gewild, maar weens die hoë konsentrasie van mense is die sein, soos in die geval van ʼn volgepakte rugbystadion, maar gebrekkig.

Wat gebeur gedurende ʼn optog?

Daar is gewoonlik aan die begin ʼn groep van so 100 optoggangers wat onder die geblêr van vreeslike harde musiek een of ander vorentoe-hardloop-dan-agtertoe-kruip-dansie uitvoer, of ’n ry vorm en dan in gelid dans. Ek is al gevra watter danspassie ek verkies, en toe ek noem dat die een waarin almal so in ʼn ry staan my keuse is want dit herinner my aan ʼn drilsessie tydens my nasionale dienspligjare, het ek agtergekom dit was nie ʼn gepaste antwoord nie.

Die gratis T-hemde wat uitgedeel word, is baie gewild en sekere optoggangers vertrap mekaar skoon om een van die goedkoop Chinese produkte in die hande te kry wat ná een was twee nommers krimp en in vreemde kamoefleerdrag verander.

Voordat die optog begin, word ’n paar toesprake deur die leiers van die hooforganisasies wat betrokke is, gelewer en bykans geen spreker hou by die tydsbeperking van drie minute nie. Die meeste toesprake begin met “Amandla” (“mag”), waarop die skare antwoord met “Awethu” (“mag aan die mense”) – vir ons ʼn bietjie kultuurvreemd. Gebruik gerus jou reg op stilswye as jy ongemaklik voel daarmee.

As jy wit is, berei jou maar voor dat baie mense sal wil handskud om dankie te sê dat jy deelneem en die handskudmetode is daardie aksie wat lyk of jy met ʼn Rubik-kubus speel. Wees ook voorbereid op sekere joernaliste se gelade vrae rakende jou rede vir deelname.

Wanneer die groot oomblik aanbreek en die volk in beweging kom, het jy ʼn paar opsies: Jy hardloop óf om heel voor te wees, óf jy tree uit die staanspoor agter aan. Die linker- en regtervleuelposisies is ook veilige opsies om die aanvanklike drukgang te vermy. Ervare organiseerders sal egter ʼn beroep op die skare doen om almal rustig agtermekaar te begin inval met die voorste vyf rye wat vinnig begin stap, terwyl almal agter hulle skuifeltreetjies gee totdat spasies begin oopval.

Gedurende die optog vermaak diegene wat dié soort ding al jare lank doen hul mede-optoggangers met danspassies en sang. Slagspreuke soos “Zuma must fall” en “The people united, will never be defeated” is baie gewild. Struggle-liedere word ook gesing (maar in ʼn goeie gees). Ek vat egter nie kanse nie en sorg dat ek op die sy bly en by die aanhoor van enige woord wat soos “Retief” klink, is ek by die naaste Wimpy in.

Plakkate is ʼn integrale deel van ’n optog en baie moeite word gedoen met die bewoording en om humoristiese boodskappe oor te dra. Ongelukkig word perke egter soms oorskry.

Danspassies bly ʼn sentrale deel van ʼn optog, maar is nie verpligtend nie. Met die FreedomMovement-optogte dra ek altyd hul banier en dan het ek ʼn verskoning om nie by lawwighede betrek te word nie. Daar is egter altyd ʼn paar mense wat so meegevoer raak deur hul nuutgevonde deelname aan optogte en hul selfvertroue neem so vinnig toe dat hulle begin glo hulle kan beter dans as Helen Zille – en dan moes hulle liefs nie! Vir my lyk sommige se danspassies soos voorspelers wat so ʼn fop- of kammasprongetjie voor in die lynstaan gee om hul opponente te flous – dit lyk net vreemd.

By die eindpunt lê daar gewoonlik sakke op die grond met watersakkies of ysies in om optoggangers ná die lang stap te lawe. Dan volg daar weer toesprake. Ek was al genader om namens Solidariteit ʼn paar woorde te spreek en het by dr. Pieter Groenewald, leier van die Vryheidsfront Plus, geleer wat die krag van ʼn kort toespraak by so ʼn geleentheid is. Groenewald het tydens ʼn onlangse anti-Zuma-optog tydens sy spreukbeurt net genoem dat die kiesstelsel moet verander en dat Suid-Afrikaanse burgers die president moet verkies – “finish en klaar” en almal onthou dit.

Ek sien gewoonlik op na so ʼn optog en vererg my ʼn keer of wat vir iets of iemand, maar as ek daar wegstap, voel ek dat ek, benewens my plig om te gaan stem, deel was van die hoofstroom om van Suid-Afrika ʼn beter plek te maak om in te bly.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Gideon Du Plessis

Meer oor die skrywer: Gideon Du Plessis

Gideon du Plessis is hoofsekretaris van die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

4 Kommentare

Theresa ·

Lekker-lees artikel en goeie humor.
Wanneer hou ons ‘n optog en watter stappe moet ons volg om dit te laat realiser – om kleinhoewe- en plaasmoorde teë te staan.

Eish ·

Ek het die artikel terdeë geniet baie dankie Gideon. Ek dink tog jy kan jou hand waag aan n internasionale topverkoper: ” Toi -Toi for dummies” Onthou in hemelsnaam die Afrikanse vertaling ook! Dank sy jou diepgaande kennis van die onderwerp en uitwys van al die liddoring aspekte van die protesmars, sal ek op die ouderdom my liefs skaar by n meer besadigde vorm van verset soos om die volkslied slegs in Afrikaans te sing of Afrikaanse Bybels in Kwa Zulu Natal te versprei.

John ·

Sjoe, eks nou gedaan… van die’ optog. So bly ek is gewaarsku. Om ‘n goeie dag van jou verlof so te moet mors op iemand wat dit nie verdien nie…

Antonetta ·

Nou weet ek ook hoe dit gedoen word en waaraan gedink moet word. My kop is nog net nie heeltemal daar nie. Glo my, dit klink soos ñ normale dag vir ñ laerskooljuffrou – soos vandag. Dit begin 7uur met padpatrolliediens, drie periodes, pousediens, drie periodes, pousediens, drie periodes. 240 kleintjies in en uit jou klas. Ons is gelukkig lief vir hulle. Dit maak seker die verskil. Jy, Gideon, doen waarvoor ek nog nie kans sien nie.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.