Sommige kommentators noem ons onlangse afgraderings ’n “katastrofe” of ’n “ramp”. Dit is natuurlik verkeerd. Die afgraderings bevestig slegs die ramp wat reeds besig is om in Suid-Afrika plaas te vind, veral gedurende die Zuma-jare. Ons gaan nie nou swaarkry nie, ons kry al ’n ruk lank swaar.
Dís die rede waarom die finansiële markte verrassend ligtelik gereageer het op die afgradering; hulle word reeds onderdruk. Staatsfinansies is reeds besig om stadig ineen te stort, die meeste van die semistaatsinstellings is reeds vernietig, die ekonomie staan reeds stil, en werkloosheid en armoede is reeds op hartverskeurende vlakke. Die kredietgraderingsagentskappe het dus maar net vir ons gesê wat ons reeds weet, en – ja – dit sal baie jare neem om ’n beleggingsgradering terug te kry.
Dit is hoekom diegene wat aanvoer dat daar ’n ander (BRICS) graderingsagentskap gestig moet word, belaglik is. Dis soos om te hoop dat ’n ander skaal nie gaan wys jy is vet en oorgewig nie; so asof dit die skaal is wat verantwoordelik is vir jou gewig.
Dit gaan ’n lang ruk neem voordat ons ons beleggingsgradering terugkry – indien dit ooit gebeur – want eers moet ons verstaan wat die roete na herstel gaan verg. Eerstens moet ons besef wat verkeerd is en tweedens moet ons beleidsriglyne instel om dit reg te maak. Maar om dit te doen, het jy eerlike en bevoegde leierskap nodig. En ons het ’n hopelose gebrek aan al twee!
Die probleem is die staat is te groot, daar is te veel staatsamptenare en hulle word in die meeste gevalle heeltemal te veel betaal. Die gevolg is ’n belastinglas en -rekord wat al groter word en staatskuldvlakke wat styg. Dit onderdruk ekonomiese groei en ontmoedig die neem van risiko’s en die maak van beleggings.
Dis staatsamptenare, wat deel is van die staat, maar voorgee om “maatskappye” te wees met “rade”, “uitvoerende hoofde” en “voorsitters”, is ’n algehele gemors. Nie net moet die reeds oorlaaide belastingbetalers voortdurend vir hulle borg staan nie, hulle rig ook ontsaglike skade aan wat die ekonomie betref – Eskom is ’n perfekte voorbeeld daarvan. En dit alles dra by tot die tesourie se probleme.
Arbeidswette, arbeidsverhoudinge en die tekort aan vaardighede dra alles by tot ons ellende. Misplaaste beleidstellings vryf sout in oop wonde en baie ander struikelblokke belemmer groei: SEB, aanskaffingsmanipulasie, kompetisie, beskerming van alle soorte asook ander beleidstellings wat verwarring veroorsaak, SA as ’n beleggingsbestemming ondermyn en bydra tot die koste daarvan om sake in die land te doen. En dan is daar natuurlik die endemiese probleem van misdaad – dit sê iets oor ons huidige toestand dat hierdie probleem nou verdwerg word deur ons ander ekonomiese probleme en van die nasionale agenda afbeweeg het.
Maar die ergste van alles is dat ons naam vernietig is en ons drome in nagmerries verander het.
Ons moet hierdie dinge raaksien, ons moet dit by die naam noem en eerlik wees daaroor – en daarvoor het jy ’n leier nodig!
Dit is egter maar net die eerste stap. Daarna moet ons die regte beleidstellings instel en toepas om hierdie probleme op te los. Ons moet aan die staatsdiens sny, ondernemings in staatsbesit privatiseer asook bevry word van die las van SEB, verwronge aanskaffing, die teruggee van grond, handel- en arbeidsbeleidstellings en baie meer. Ons moet ook ’n vaardigheidsontwikkelingstelsel van wêreldgehalte skep. Dit gaan alles ’n baie lang tyd neem – en daarvoor het jy ’n leier nodig!
Moenie die graderingsagentskappe blameer nie en moenie vir Zuma blameer nie. Al is daar baie korrupte en onbevoegde leiers uit wie ons kan kies, moet daar ook baie goeie en bekwame leiers wees uit wie ons kan kies. Die ANC kies egter vir Zuma, en diegene wat die mag het om van hom ontslae te raak verkies om dit nie te doen nie. Moet ons vir Zuma blameer of vir almal wat aandadig is aan sy voortgesette leierskap?
Ons sal uiteindelik weer die kans kry om die meesters van ons eie lot te wees. Wie weet hoeveel skade teen daardie tyd al aangerig sal wees. Maar as ons die vry en voorspoedige nasie wil wees waarna so baie van ons smag, sal ons moet seker maak ons kies iemand wat eerlik gaan wees in die identifisering van ons probleme, en eerlik in die regmaak daarvan.
Onthou egter een ding: Dit gaan ’n taai en moeilike reis wees, maar die alternatief gaan erger wees.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
35 Kommentare
Hi MM
Hoe lyk dit met ñ paar artikels hoe om die rommelstatus en swak ekonomie te oorleef? Nie net finasieël nie, maar met besparing, goedkoper voedsame voedsel, waar om verder te sny en te kan oorleef. Onthou asb, baie van ons trek alreeds vir ñ paar jaar baie swaar en lewe allankal onder die normale broodlyn. My begroting is alreeds tot die uiterste gesny, maar die wil tot oorlewing is ver te groot om boedel oor te gee. Iemand met kennis wat ons raad kan gee?? ñ Vrywillige kos fundi vir goedkoop, voedsame resepte?
Baie goeie artikel, Dawie! En jy skroom tereg nie om dinge wat fout is by die naam te noem nie.
Ek stem saam met Dawie. Dit is die ANC wat verantwoordelik is vir die gemors want hulle het die leiers gekies wat ons land so swak bestuur.
Wat ‘n voorreg om ‘n kundige soos Dawie Roodt se kommentaar en toeligting oor ons droewe land se ekonomiese en finansiële krisisse, hier te lese te kry!
Doe ‘seblief zo voort!
Nee Jurgens dit is nie ANC nie maar wel die kiesers wat vir hulle gestem het