Die Afrikaner en Jode se apartheid en die Egiptiese sweep

Deur prof. Kobus Kok

Prof. Kobus Kok.

Dit is lente in Leuven en oral snoei mense wintertakke weg om plek te maak vir die belofte van die nuwe lewe wat kom. Almal weet dit kom, want die mooi lente spoel soos ’n onkeerbare tsunami nuwe lewe oor die landskap.

Leuven se strate is soos ’n spookdorp. Mense is versigtig. Die winkels is leeg, maar plek-plek sit ’n ou man met ’n Belgiese bier in die hand op die grys klipsteenstraatjies voor ’n kroeg. Hulle lyk almal moeg en het so ’n ver kyk in die oë wat lyk of hulle diep binne-in hulself gesprekke voer met geesgenote in die ou kelders van hul harte.

In die lug van Leuven hang ou gedagtes en ’n lang verhaal. Ná al die jare vergaap ek my steeds aan die ou geboue wat oor die stad waghou. Soos die stadshuis van Leuven wat in die 1480’s in die Gotiese styl gebou is. Ek staan elke keer daar en dink, sonder dat ek dit kan keer, terug na Suid-Afrika en aan Jan van Riebeeck wat in 1652 aan die Kaap geland het.

Ek sit dikwels, as ek in die stad kom, by die Agora-restaurantjie wat direk grens aan die Sint-Pieterskerk en wat uitkyk op die stadshuis van Leuven. Dan sit ek ook, soos die ou ooms, en voer diep innerlike gesprekke wat my windlangs neem na die see en berge van Suid-Afrika tot aan die binneland en die bosveld.

En telkens, miskien ook omdat ek nie anders kan as teoloog of historikus nie, speel die geskiedenis voor my af soos ’n blitsverhaal. Ek dink aan die Franse Hugenote en kerkhervormers wat hier was en op ’n skip moes vlug na Suid-Afrika en dat die gebou waarna ek nou kyk, al bykans tweehonderd jaar oud was voordat hulle gevlug het. Hulle het ’n ryk kultuur en geskiedenis agtergelaat en as weeskinders en vlugtelinge na Suid-Afrika gekom om hulle daar te gaan vestig as vreemdelinge.

Van die begin af moes hulle probeer oorleef. In die proses het ons kenners geword in vestingmure bou – ekstern in die landskap en intern in ons gees. Maar ons het ook aangepas, geïntegreer en geassimileer en ’n unieke Kreoolse taal geskep wat deur slawe, vryburgers en onderdane gepraat kon word. Prof Giliomee se boek oor die Afrikaner is ’n roerende boek wat elke Afrikaner moet lees.

Fondasies en vestingmure moet mens bou as jy te midde van onderdrukking die minderheid is en as vlugteling en pionier in die vreemde iets van jou erfenis wil behou. Mens moet ons Afrikaners se oor-die-grens-trekkery verstaan as ’n strategie vir oorlewing van ’n klein minderheid in die vreemde. Maar soms word daardie selfde oorlewingstrategie van die minderheid ’n wrede Egiptiese sweep as die minderheid aan die mag kom.

(Foto: Kobus Kok)

Nadat ek my bier gedrink het, stap ek na die ondergrondse parkering by die plein, en loop vas in ’n betoging.

“Free, Free, Palestine…. Palestine will never die!”, eggo dit op die Ladeuze-plein in Leuven. ’n Groot sterk swart man hou ’n wapperende Palestynse vlag vas. Ek vra hom of ek ’n foto kan neem.

“Waar protesteer jullie precies vandaag over?” vra ek asof ek nie weet nie. Verbaas merk hy op: “Weet je het dan niet? Israël houdt Palestijnen gevangen. Het is apartheid! We roepen mensen op om Palestijnen te bevrijden van onderdrukking!”, sê hy.

Ek het nie verwag om die woorde “apartheid” en “onderdrukking” hier in die hartjie van Leuven te hoor nie. Terwyl ek so na die jong studentebetogings kyk, sien ek in my geestesoog ander betogings teen onderdrukking die afgelope tyd. Die Zeitgeist waarin ons leef kan opgesom word as die seisoen van “Weg met onderdrukking en beheer – Gee my ruimte om asem te haal en te kan floreer!”

Dit klink amper asof die wêreld opnuut weer deur ’n tienerkrisis gaan. Die tydgees waarbinne ons nou beweeg, is ’n tyd waarin onderdrukte minderhede en onderdruktes se stemme gehoor wil word. Dié wat beheer, word gedwing om te luister na die stemme van die minderhede en hul regte wat ál meer op die voorgrond geskuif word.

Ek dink aan die Jode wat hul minderheidstatus nog altyd met grense bewaak het en aan vierduisend jaar se Joodse geskiedenis en die belangrikheid van “behoort”. Op noemenswaardige manier het die Jode nog altyd hul identiteit as volk van God gekoppel aan ’n beloofde land. Met gebruike en gewoontes het hulle grensdrade rondom hulle gespan om hul identiteit te behou.

(Foto: Kobus Kok)

Selfs in die antieke tyd al was daar geglo jy eet nie met enige iemand aan tafel nie. Die antieke Jode het geglo dat mens onrein word as jy met onrein mense omgaan en dit in reëls en regulasies gegiet waarvolgens die wêreld verdeel word in heilige en onheilige mense, en plekke en objekte wat vermy moes word. Dit het skeidingsmure gebou om jou ganse lewe te orden ten einde as afgesonderde en heilige volk te kan voortbestaan. Dit maak sin as mens deel van ’n minderheid is. Maar as mens die mag in die hande het en dit institusionaliseer, lei dit tot ’n vorm van apartheid en onderdrukking – ’n Egiptiese sweep. Die mooi van Jesus as Jood was juis dat hy grense oorbrug het en dit wat onrein was, rein verklaar het. Jesus het apartheid eintlik kom dekonstrueer en ’n vorm van herstellende geregtigheid in die oog gehad.

Terwyl ek huis toe ry en uitsien om met my kinders op die gras bal te speel, hoop ek dat hulle eendag nie ’n kort nie, maar lang geheue en ou gedagtes sal hê. Ook dat hulle as grootmense eendag die wysheid sal hê om die golwe van die tyd reg te lees wat soos ’n tsunami oor die landskap van hul tyd gaan spoel. Ook dat hulle sal weet watter ou takke om weg te snoei sodat nuwe lewe kan kom. Dat hulle krities sal wees oor die Egiptiese sweep.

Ons moet bly droom en staan vir ideale – vir ’n gelyke wêreld waarin mense ruimte het om voluit te kan leef en te kan behoort. Maar soms, soos in Suid-Afrika, kan dit ook gebeur dat die voorheen verdruktes in ’n tyd van mag met ’n nuwe soort Egiptiese sweep ander se lewensruimte en identiteit kan verdring. Ek wonder of die tyd sal kom dat die Afrikaner as minderheid in Suid-Afrika weer ’n stem sal hê en dat mense sal opstaan teen die nuwe Egiptiese sweep wat die engele laat roep na ’n vorm van beskerming van eie kultuur en taal, regstellende geregtigheid en lewensruimte.

Maar miskien is dit nog te ver in die profetiese toekoms. Tog roep die toekoms ons alreeds nou, as ons mooi luister.

  • Kobus Kok is professor in Nuwe Testamentiese Studies aan die Evangelische Theologische Faculteit Leuven in België en Buitengewone Professor aan die Universiteit van Pretoria.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

4 Kommentare

jongste oudste gewildste
Delarey

Lekker lees Artikel Kobus. Jou opsomming van die tydsgees deur die volgende stelling ; “gee my ruimte om asem te haal en te floreer” verdien egter kommentaar. Ongelukkig ervaar ek eerder die tydsgees in die Weste as een waar die oorgelewerde wysheid en morele etiek (wat aanleiding gegee het tot ‘n baie hoë kultuur wat eerste gemoderniseer het en die wéreld die afgelope 300 jaar op meeste terreine gelei het) verwerp word. DIt word vervang deur ‘n lae linkse kultuur van algehele vryheid om te maak wat jy wil. Die tradisionele gesin, eie verantwoordelikheid (ek is nie ‘n slagoffer nie)… Lees meer »

Jack

Dit is amper onvermydelik dat mense wat grense en vestingmure bou waarbinne hulle hulle kultuur en identiteit kan verskans, eienskappe wat hulle oor eeue uitgeleef het en wat tot ‘n suksesvolle samelewing gelei het, die jaloesie van andere wat buite hierdie grense en vestingmure gehou is, sal opwek. Dis amper ‘n verloor-verloor situasie – doen jy dit nie word jy verswelg, doen jy dit wel word jy die “Egiptiese sweep”. Daatenteen glo ek vas dat selfbehoud ‘n basiese mensereg is. Dis nie nodig dat ons verskoning moet vra vir wie ons is en wat ons doen nie. Apartheid was nie… Lees meer »

Piet Snot

Goed om van jou Belgiese belewing te hoor, Kobus.
Hoop my kinders kan eendag uit België terugkeer na die land van hul geboorte, sodat hul kinders (of dalk eers hul kleinkinders) die nuwe terugveg kan begin.

Hoekom

Die vrae wat hierdie mense wat die Palestyne ondersteun hulself moet afvrae.
Sou daar minder segregasie gewees het as Israel ‘n muslim regering gehad het? Sou hulle die Jode dieselfde regte gegin het as wat die Jode die Palestyne gin?