Die Afrikanerverklaring

Die eerste paneel in die Voortrekkermonument se Heldesaal beeld uit hoe die Voortrekkers die Kaapkolonie in 1835 verlaat. Die beeldhouer is Peter Kirchhoff. Die Afrikanerverklaring wat Maandag onderteken is, is simbolies van Afrikaners se bevestiging dat hulle hier is om te bly. (Foto: Verskaf.)

Afrikaners is ʼn inheemse kultuurgemeenskap in Afrika. Ons mense en ons geskiedenis is hier en daarom wil ons ook werk vir ʼn vry, veilige en voorspoedige toekoms vir ons nageslag hier aan die suidpunt van Afrika. Ons wil in ʼn gees van wedersydse erkenning en respek met ander gemeenskappe in Suid-Afrika praat en werk om oplossings te kry vir die veelvuldige krisisse wat ons almal se toekoms bedreig. Ons wil ook graag ʼn bydrae lewer tot die sosio-ekonomiese ontwikkeling van Afrika.

Ons besef dat hierdie land ʼn komplekse verlede het. Daar was in die geskiedenis ernstige konflikte tussen gemeenskappe, en Afrikaners bejeën swart mense se ervaring van die verlede met erns. Die krisis in die land so ernstig dat ons visie vir die toekoms sterker sal moet wees as ons geheue van die verlede. Ons moet steeds van tyd tot tyd in die truspieël terugkyk, maar ter wille van vooruitgang sal ons die reis na die toekoms net suksesvol kan aandurf as ons vorentoe deur die voorruit kyk. Ons mag nie toelaat dat ons in die hede so heftig oor die verlede twis dat ons die toekoms vernietig nie. Daarom moet ons bou op die voorbeelde van goeie verhoudinge en samewerking wat in die verlede tussen verskillende groepe bestaan het.

Daar word gevra wat Afrikaners benodig om blywend vry, veilig en voorspoedig saam met ander gemeenskappe in Suid-Afrika te kan leef sodat ons ook ʼn volhoubare bydrae tot die welstand van ander gemeenskappe hier aan die suidpunt van Afrika kan lewer.

Die bondige antwoord hierop is dat ons normaliteit benodig, dit wil sê ʼn normale samelewing waardeur ons ʼn voorspoedige toekoms vir almal kan help verseker. Ons wil graag ons basiese uitgangspunte om so ʼn normale samelewing te vestig, kortliks uitstippel.

1. Afrikaners is ʼn inheemse kultuurgemeenskap verbind aan Afrika

Ons het nie as Afrikaners na Afrika gekom nie. Ons voorouers het eeue gelede uit verskillende Europese lande hiernatoe gekom, maar ons het hier Afrikaners geword, lank voordat Suid-Afrika sy ontstaan as land gehad het. Ons taal en kultuur is inheems aan Afrika en nêrens anders nie. Ons het onsself, ons taal en baie van ons instellings na Afrika vernoem. Afrikaners is ʼn self-gedefinieerde kultuurgemeenskap – ʼn volk – en nie bloot ʼn taalgroep of ʼn rassegroepering is nie.

Ons beklemtoon dat ons deur Afrikaans ook ʼn taalverbintenis het met die meerderheid bruin Suid-Afrikaners, asook met ʼn beduidende aantal mense uit ander Suid-Afrikaanse gemeenskappe. Ons respekteer hierdie ander Afrikaanse kulturele gemeenskappe en werk graag in alle toepaslike gevalle en sake met hulle saam. Ons kom uit ʼn Christelik-Westerse tradisie en vertrou op God se beloftes van hoop vir die toekoms, veral in tye van nood. Die republikeinse ideaal het nog altyd sterk steun onder Afrikaners geniet, wat in die praktyk beteken het dat ons ons eie besluite oor onsself wil neem en uitvoer.

2. Ons wil hier bly en bydra tot die welstand van die land en al sy mense

Ons is daarvan oortuig dat daar hier ʼn toekoms vir ons is. Daarom wil ons die omstandighede help skep dat Afrikaners volhoubaar en voorspoedig hier kan bly. Dit sal ons in staat stel om ʼn blywende bydrae tot die welstand van ander gemeenskappe te kan maak. Ons streef ook daarna om bande met die Afrikaner-diaspora te behou en hulle aan te moedig om betrokke te bly. Ons betreur dit dat van
ons volksgenote teen hulle sin moes wegtrek omdat hulle nie meer ʼn toekoms hier gesien het nie.

3. Samewerking is in die belang van almal se vryheid, veiligheid en voorspoed

Ons glo dat daar meer dinge is wat die land se gemeenskappe verenig as wat ons verdeel. Al deel ons nie altyd dieselfde sienings nie, deel ons kernbelange soos ʼn werkende land en ʼn gesonde samelewing waarin almal die geleentheid het om ʼn beter toekoms te bou. Ons is enersyds verbind tot die bou van ʼn hegte gemeenskap onder Afrikaners, en andersyds tot die uitbou van bande met al die gemeenskappe van Suid-Afrika om só ʼn voorspoedige lewe vir almal te help bewerkstellig.

Afrikaners is ‘n goed georganiseerde gemeenskap en sal graag die ruimte en geleentheid wil hê om ʼn bydrae te lewer om die krisisse waarmee Suid-Afrika tans worstel, aan te pak. Ons glo dat samewerking tussen gemeenskappe, eerder as politieke mededinging, die oplossing vir goeie rassebetrekkinge is.

4. Ons bou om te bly

ʼn Kultuurgemeenskap leef in en deur die instellings wat vir sy voortbestaan benodig word, en waardeur sy kultuur aan die volgende geslagte oorgedra word. Daarom bou ons aan ʼn kulturele infrastruktuur, leefruimtes, tuistes en instellings om hier in Suid-Afrika te kan bly. Die doel van hierdie kulturele huishouding is nie om onsself te isoleer nie, maar juis om dit moontlik te maak om saam met ander in suidelike Afrika te bly.

5. Kulturele vryheid is ʼn voorwaarde vir demokratiese vryheid

Die land se getallewerklikhede beteken dat ons lewens op elke gebied deur die demografiese meerderheid oorheers sal word as ons nie kulturele vryheid het nie. Dit geld selfs vir die mees grondliggende sake wat ons voortbestaan raak. Meerderheidsoorheersing ten koste van minderhede is nie demokraties nie. Demokratiese vryheid kan slegs bewerkstellig word indien kulturele vryheid as ʼn noodsaaklike voorwaarde vir ons voortbestaan verseker word.

Kulturele vryheid is terselfdertyd ʼn voorwaarde vir ons moedertaal, Afrikaans, om as ʼn volle funksionele taal voort te bestaan.

Die erkenning van kulturele vryheid in die gestalte van kultuurverwante regte en ruimtes is ʼn voorwaarde vir die gelyke genieting van ons individuele regte. Sonder hierdie erkenning weeg die individuele regte van die demografiese meerderheid swaarder as die individuele regte van kulturele of nasionale minderhede.

Ons kulturele instellings soos skole, universiteite, vakbonde en dergelike ander skep vir ons die tuistelike ruimtes wat ons in staat stel om ons kultuur uit te leef. Ons ervaring is dat hierdie ruimtes voortdurend polities aangeval en deur wetgewing en politieke beleid in die gedrang kom. Daarom wil ons deur interne kulturele outonomie en inspraak in die owerheid verseker dat ons blywende demokratiese kulturele vryheid kan geniet. Wanneer ons met vrymoedigheid deur ons eie instellings aan ons kulturele lewe kan deelneem, is dit vir ons makliker om uit te reik na ander gemeenskappe en op hierdie manier samewerking te bevorder.

6. Ons onderskryf die gelykwaardigheid van alle gemeenskappe

Ons onderskryf die gelykwaardigheid van alle gemeenskappe as die grondslag vir ons almal se deelname aan die groter mensdom. Ons sien onsself gelyk aan, en nie bo of onder ander gemeenskappe nie. Ons is geregtig op dieselfde regte, ruimtes en bevoegdhede as ander kultuurgemeenskappe, en dit sluit ‘n ʼn kulturele gebied in. Dit is nie ʼn vreemde eis nie. Die internasionale reg en die Grondwet van Suid-Afrika maak ook hiervoor voorsiening.

Ons onderskryf maatreëls om gelyke geleenthede vir almal te bevorder, maar ons verwerp die voortsetting van rassewette wat Afrikaners tot tweedeklasburgers aftakel en tot ongelyke burgerskap lei. Dit smoor ondernemende Afrikaners se vermoë en sluit hulle uit van die geleentheid om ʼn bydrae tot die opheffing en ontwikkeling van die land en al sy mense te maak. Die misbruik van hierdie rassemaatreëls het in baie gevalle ook gelei tot die verswakking van die openbare sektor, openbare ondernemings en het selfs korrupsie in die hand gewerk.

Die afskaffing van hierdie maatreëls sal die remme wat ekonomiese groei aan bande lê, help losmaak en tot die voordeel van die publiek in die geheel bydra. Rassewetgewing wat die klein persentasie Afrikaner-jongmense benadeel, maak geen verskil aan die groot meerderheid jong swart mense nie. ʼn Rassebedeling is nie versoenbaar met ʼn grondwetlike demokrasie, ʼn werkende staat en ʼn groeiende ekonomie nie.

7. Die verlede moenie ons almal se toekoms vernietig nie

Daar word gesê dat elke gemeenskap homself as die sentrum van die wêreld beskou en sy geskiedenis as die sentrale verhaal van die mensdom skryf. Dit geld ook vir die uiteenlopende geskiedenisbeskouings van Suid-Afrika se gemeenskappe, iets wat ons skerp kan verdeel. Ons erken die komplekse verlede en die nalatenskap van historiese konflik wat deels steeds voortleef. Ons betreur ook die feit dat inspirerende historiese voorbeelde van samewerking tussen gemeenskappe in Suid-Afrika vandag grootliks vergete is. Tog mag die verdelings van die verlede nie op so ʼn manier voortgesit word dat dit ons almal se toekoms vernietig nie.

Daarom moet ons bou op die historiese voorbeelde van samewerking wat tussen gemeenskappe bestaan, eerder as om te bly vaskyk teen die geskiedenis van konflik.

Ons kan nie die verlede verander nie, maar ons kan saamwerk om die krisisse waarmee ons vandag gekonfronteer word aan te pak. Ons kinders kan nie verwyt word vir wat voor hul geboorte gebeur het, terwyl baie regeringsleiers nie verantwoordbaar gehou word vir wat hulle vandag doen nie.

8. Die Grondwet erken die strewe na grondgebied

Soos enige ander gemeenskap is daar nie presiese eenstemmigheid oor wat ons gemeenskap vir ʼn voorspoedige voortbestaan benodig nie. Desondanks bestaan die nodige demokratiese volwassenheid om nie dít waaroor jy verskil teen te staan nie. ʼn Wesenlike deel van Afrikaners steun die demokratiese ideaal van interne kulturele outonomie in Suid-Afrika. Daar is ook ʼn betekenisvolle groep wat ingevolge die republikeinse tradisie die standpunt huldig is dat kulturele vryheid sonder grondgebied sonder gronde is. Hoewel die ANC hierdie strewe al erken het, maak die regering dit in die praktyk baie moeilik om dit ten uitvoer te bring. Daarom word ʼn politieke oplossing hiervoor benodig.

Spesiale kulturele sones met ʼn geografiese basis kan ʼn deel van die oplossing hiervoor wees, byna soos die kulturele gebiede van ander gemeenskappe in die land. Die Grondwet bied wel ruimte hiervoor, soos die voorsiening wat dit maak vir verskillende vorme van interne selfbeskikking. Geen nasionale minderheid het die luukse om enige grondwetlike deur na groter outonomie self toe te maak nie omdat hy hom dan permanent afhanklik stel van die meerderheid.

9. Eenheid in verskeidenheid

Versoening en nasiebou mag nie verskraal word tot inlywing by die ANC of ons demografiese inlywing by die meerderheid nie. Die geskiedenis wys dat so ʼn benadering eerder ʼn polariserende kulturele herlewing ontlok. Ons glo dat die erkenning van verskeidenheid die beste manier is om nasionale eenheid te bevorder. Dit is die sleutel tot eenheid in verskeidenheid. Ons steun nie die idee dat versoening afhang van die aanvaarding van ANC-beleid nie omdat so ʼn eis grondliggend ondemokraties sal wees, en die gelykheid en menswaardigheid van mense sal aantas.

10. Owerheidsinspraak

Afrikaners word tans uitgesluit van openbare en kulturele inspraakstrukture, soos die erkende instellings van tradisionele gemeenskappe byvoorbeeld is. Daar moet kanale geskep word waardeur Afrikaners op nasionale vlak inspraak kan kry in sake wat ons gemeenskap en die land raak.

11. Ekonomiese bemagtiging

Dit is noodsaaklik dat die armoede, werkloosheid, misdaad en die dergelike ander ernstige maatskaplike knelpunte wat die land teister, beslissend aangepak word. Afrikaners wil graag ʼn bydrae lewer tot die ekonomiese bemagtiging van arm mense. Afrikaners glo dat daar lesse vir vandag te leer is uit die geskiedenis van die ekonomiese en kulturele opheffing van Afrikaners.

12. Kultuurverdrag

Vanweë ons posisie as ʼn permanente minderheid, is Afrikaners demokraties uitgesluit en sonder toegang tot die owerheid. Ons het geen ander kanale om met die regering te skakel behalwe as deur die howe, die media en openbare botsings nie. Dit lei tot konflik en ʼn verslegting van verhoudinge. ʼn Kultuurverdrag kan ʼn kanaal vir skakeling met die owerhede skep om knelpunte betyds te takel, ooreenkomste daaroor te bemiddel, en vertroue te herstel en op te bou.

So ʼn verdrag behoort as minimum vereiste die bestaande kulturele regte en ruimtes in die Grondwet en internasionale reg te herbevestig. Afrikaners se aansprake op en ons beklemtoning van regte en belange moenie in isolasie gesien word of as spesiale behandeling geag word nie. Ons vind aansluiting by die ruimte wat die Grondwet bied en ook by internasionale gevestigde konvensies wat regte aan kultuurgemeenskappe verleen en verpligtinge op state plaas. Dit sluit in die reg van ʼn kultuurgemeenskap om te bestaan; die reg op instellings waarin en waardeur hulle kan leef en waar kultuuroordrag kan plaasvind; die reg op die ontwikkeling van kulturele gebiede; en die vrystelling van onbillike rassebepalings wat die uitoefening van hierdie regmatige strewes kan dwarsboom.

Ons is van mening dat ons hierdeur ons standpunte gestel het, asook wat ons nodig het om hier voort te bestaan. Daarmee het ons ook ons bona fides as Suid-Afrikaners bevestig.

Hierdie verklaring is op Maandag 22 April 2024 onderteken deur onder andere diegene betrokke by die samestelling daarvan. Lees meer oor die Afrikanerverklaring op die webblad. 

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

22 Kommentare

Kosie ·

Ja? En wat van die Afrikaner Akkoord wat reeds besluit en onderteken is in 1994?
Die een wat die spul “Afrikaners” so graat onder die mat probeer in vee. Nee wat, ouens, hierdie is blote lippetaal om die stemvee gelukkig te probeer hou.
As julle eg was in julle motiewe het julle die Afrikaner Akkoord gevat en gehardloop met dit, maar dan sien die stemvee dalk net julle verraad. Spaar liewer die bome as om die “Verklaring” uit te reik.

George ·

Alles goed en wel julle skryf en vierfees, maar in die werklikheid wil die afrikaner nie veel meer doen as om te kla oor die toestand van die land nie, en dat iemand anders sal regmaak.

Grassie ·

Ek het aanvanklik gedink hier is nou iets goeds op pad totdat ek die lys van deelnemers gesien het, Weer die Broederbond van ouds, ‘n Dakar-veteraan en en en……
Waar is jul wigte en teenwigte nou. Saam met die skepper daarvan onder die kluite. ‘n Mens moet egter nie net altyd negatief wees nie. Miskien doen julle hierdie keer die regte ding. Tyd sal leer.

Hendrik ·

Ons ervaar selfbeskikking omgewing al vir 30 jaar en ons wil net se baie welkom almal in ons wereld van selfstandige onafhanklike dienste en veiligheid. #Kleinfontein

RS ·

Gaan daar werklik iets uitgevoer kan word met hierdie woorde op skrif, of is dit net nog ‘n manier om mense te “pie” vir ‘n stem?
Vir my is hierdie bloot die skepping van ‘n groep se identiteit.

kragaap ·

Die Afrikaner kla oor die toestand van die land wat binne 30 jr verander is van ‘n land met wêreldklas onderrig, gesondheidsisteem, weermag en wapenindustrie, sterk en funksionele polisiemag, eie kernkrag kapasiteit, nasionale lugdiens, en sterk ekonomie, uitstekende paaie, water en krag infrastrukture, en spoorwee en werkende hawes, na ‘n morele en finansieële bankrot, misdaad en korrupsie oorheersde gefaalde staat in Afrika. Maak nie saak hoe hard enige groep probeer om ‘n verbetering aan te bring nie dit word weggedra of opgeeet of gebreek. Die huidige bewind het nie die verstandelike vermoë of kennis, nie te praat van die politiek wilskrag, ondernemings vermoeë of waarde stelsel om enige iets te verbeter nie. Wat sê die liedjie van Talking Heads – we are on a road to nowhere. So waarom jou energie mors op iets wat gewerk het en letter vermink is ?

Dieter ·

Afrikaners kan nie meer saamstaan nie, dis een ding verseker. Ons wil eerder kommentaar lewer oor of iets te min Bybels of die Bybel en politiek loop nie saam nie, of die Dros wat sy kroeg te vroeg toemaak.
Almal is in hulle eie gemak sones, die van ons wat in n oorlog baklei het, is te min of te oud.
die jonger generasie het sag geword, en gaan alles moet verloor.
As ons alles verloor het, sal ons weer as ‘n volk kan saamstaan.
Dis ongelukkig hoe die geskiedenis ons leer.

Republikein in die Wes Kaap ·

Kernsaak 8 kan uitgebrei word:”(i)Ons erken en ondersteun die reg van Afrikaners en ander inheemse nasies wat volkseie enklawes vestig waar hulle as unieke groepe ekonomies, sosiaal en kultureel kan voortbestaan.(ii)Ons erken en ondersteun die reg van Afrikaners en ander inheemse nasies wat streef na die onafhanklikheid van hul streke waar hulle saam as gelykes kan bou aan soewereine state.” Dan is daar geen geheime agendas oor afstigting nie.Of alle Afrikaners die mislukte land in sy huidige vorm wil/kan red en herbou is debateer.Of ons kommunistiese kan vertrou is te betwyfel.

Republikein in die Wes Kaap ·

Grassie, ek gee jou ‘n brief dat niks sal nou gebeur nie. Dis net leë woorde sonder werkbare planne.

Wakkerslaper ·

Ek vra weer, hoe kan hierdie groep mense ‘n verklaring namens ons as volk maak? Wie het hulle as leiers gekies? Waar het ons as volk die kans gekry om insette te lewer in hierdie “verklaring” en wat dit moet sêen na wie dit gestuur moet word? Ek vir een is beslis nie lus om “handjies te vat” met hierdie terroriste regime en sy mense nie. Dit is PRESIES hoekom ons vandag in hierdie gemors en posisie is! Roep volksvergaderings af, laat ons toe om leiers te nomineer en te kies deur te stem, gee ons die kans om insette te lewer in enige verklarings en planne, dan sal ek miskien belangstel…

Goldy ·

Mens moet nou begin besef dat kulture onversoenbaar is en party nie instaat is tot welvaartskepping nie. Dis maar so, en mense moet dit aanvaar en nie probeer om ander te verander nie, en daarvoogens vorentoe beplan.

Andries ·

Ek is nogal verbaas dat ek niks van die proses vooraf in die 3 jaar wat dit bespreek is, gehoor het nie. Geen deelname en insette is van die gewone man/vrou gevra nie.
Die volgende stelling getuig nie van vasberadenheid en oortuiging nie:
“2. Ons wil hier bly en tot die welstand van die land en al sy mense bydra.” Die sin klink asof ons iemand se toesteming nodig het om hier te bly. Dis nie n geval dat ons hier wil bly nie. “Ons gaan hier bly” Sekere mense wil ons nie hier hê nie en hulle moet duidelik verstaan dat ons nêrens gaan nie.

annie ·

… En ander inheemse nasies? Is dit nie wat nou aangaan nie? Skielik is ‘ander’ ook ingesluit by die groep Afrikaners. Is dit wat die ‘Plus’ van die VF ? Beteken? Askies tog dat ons leef. Kan ons asseblief ok asemhaal in Afrika. Askies, askies, askies. Nou sal ons uiteindelik in die Kaapse onder die base van daai gebied dien. Askies, askies, askies… Hoe pateties kan mens wees!

Wakkerslaper ·

Presies Andries! Hierdie “verklaring” ruik soos die volksverraad wat in die vroeë 90’s gepleeg was. Daar was ‘n 2de referendum belowe wat NOOIT gebeur het nie. Skielik “verklaar” die links-liberales ‘n “verkiesing” wat ALLE mag en beheer oorgegee het in die hande van terroriste!

Republikein in die Wes Kaap ·

Wakkerslaper, nugter weet. Maar die verklaring lyk soos ‘n gedwonge verklaring van stylvolle oorgawe en onderwerping na ‘n vernederende nederlaag op die slagveld. Onderteken daai blanko verklaring en jy is deel daarvan. Dis Dakar 2. Wat my bekommer is dat meer as 65% van die Afrikaners waarskynlik die verklaring sal steun. Dis weer ‘n herhaling van die ’92 referendum.

trotsNAMSA ·

Dieter, jy neem die woorde uit my mond ! Afrikaners het verswak.

Wicus ·

Die lewe het my paar lesse geleer:

1. Ek vertrou min politikusse.
2. As jy alles wil behou kan jy alles verloor (1968, ek lê in die HF Verwoerd saam met ooms, hul bekla die feit dat plase uitgekoop word vir tuislande).
3. Vreemde arbeid neem jou later oor. Hoeveel van die kommentators hier gebruik tuinwerkers/huishulpe? My pa het my destyds ‘n skeldnaam genoem toe ek uitwys daar is meer werkers as ons gesin op die plaas, van hulle ook nog onwettig van Lesotho af, ek het rooiligte gesien.
4. ‘n Volk/groep/individue skaar agter ‘n ideaal as dit hulle emosioneel aanspreek, dit geld enige volk of nasie in die wêreld. Wanneer ‘n sterk leier die regte saak dryf sal die Afrikaner verenig.
5. As jou buurman honger is kan jy nie rustig slaap nie.
6. Ons mense is nog te verslae vir aksie. Daar was toentertyd ‘n volkstemming met ‘n ideaal, VVK, hoeveel kommentators hier het deelgeneem?
7. Die ou SA was net wonderlik vir ‘n paar mense (ons). Gaan lees kommentare van anderkleuriges op ander platvorms, die algemene siening is dat nou se bedeling baie beter is.
8. Die kultuur verskille in SA is net te groot vir ‘n eenheidstaat. Ek verkies om tussen die mense te woon en werk wat dieselfde kultuur waardes as ek het (taal, afkoms, gesk, godsdiens, lewensuitkyk, drome, …..)
9. Wanneer jy met die rug teen die muur is moet jy verskillende planne beraam om uit dit te kom, enige plan is beter as geen. Hopelik sal die behoudenes (eina, dit beteken elkeen van ons) met iets beters en werkbaars vorendag kom as hierdie verklaring.
10. Min mense handel volgens beginsels, die probleem van die oomblik bepaal die handeling. Ek herinneer my dat daar ‘n verdrag tussen die Zoeloes en Voortrekkers was na Dingaan se val om mekaar wedersyds te help, die het toe nie meer gegeld tydens die Anglo/Zoeloe oorlog nie.

Ek is bevrees, daar gaan nog baie in die see loop voor ‘n werkbare alternatief die lig sien.

Leona ·

O liewe Jinne maar mense kan galbraak en due wiel herontdek. Maklik, sê net NEE, ek ondersteun dit nie. Jy hoef nie jou rede te motiveer nie!

Johan ·

Ek hou daarvan, insette sou dalk lekker gewees het en n duidelike stelling dat daar nie meer plek vir die Broederbond en hulle gedrag is nie. Ek verstaan waar die Broederbond vandaankom, maar dit is uitgedien en word net as wapen teen mede Afrikaners gebruik.

capie ·

Vandag is ek skaam om te sê dat ek myself op ‘n tyd ook as Afrikaner gesien het. Wie is nou ‘n Afrikaner. Hoe kwalifiseer mens as een. Is my kleinkinders wat nie meer heeltemal wit is nou uitgesluit? Ek ken families wat die helfde wit en die ander helfde bruin met ‘n swartetjie tussen in. Wie kwalifiseer nou as Afrikaner. Die wit Afrikaans sprekende bedelaars by die verkeerslig en in die plakkerskampe, is hulle Afrikaners? en indien wel wat doen die gegoede Afrikaners daaromtrent. Vir my is diegene wat hulself “Afrikaners” noem net ‘n spul snobiste. Vandag behoort daar nie meer grense wat ras betref te wees nie. Gee vir ons ‘n onafhanklike Weskaap waar daar geen verwysing na ras is en gaan baklei in die res van SA met die rassistiese heersers daar. Baie dankie.

Japie ·

Ek is Afrikaner in hart en siel. Ek het oor baie jare my bydrae gelewer maar as enige van die mense wat hulle self in 1993 die reg gegee het om namens die Afrikaner te onderhandel by die Afrikanerverklaring betrokke is wil ek niks daarmee te doen het nie. Die probleme waarmee ons as Afrikaner vandag sit is die gevolg van die 1993 onderhandelaars. Hulle probeer net relevant bly deur n nuwe inisiatief te stoot. Hulle het hulle eie volk verraai en sal dit weer doen. Kulturele selfbeskikking sal nooit ware vryheid bied nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.