Die Afrikanerrebellie 1914-1915: Die omvangrykste burgeroorlog tussen blankes in die geskiedenis van Suid-Afrika

Byskrif: ‘n Kommando rebelle van 1914 nuttig ontbyt te velde. Foto: fak.org.za

Byskrif: ‘n Kommando rebelle van 1914 nuttig ontbyt te velde. Foto: fak.org.za

LEES OOK:
Groot planne om 100-jarige herdenking van 1914-Rebellie op sterfdag van De la Rey te gedenk
Radiodrama herdenk die dood van De la Rey

Die aanloop
Die Afrikanerrebellie van 1914-1915 was gemik teen die Suid-Afrikaanse regering se ondersteuning van die Britse oorlogspoging teen Duitsland en die Suid-Afrikaanse inval in Duits-Suidwes-Afrika ná die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog.

Daar was talle vonkies wat die kruitvat van Afrikanerverset laat ontplof het. Die internasionale politieke konteks het in twee belangrike opsigte die sluimerende gees van verset in Afrikanergeledere wakker gemaak: Die eerste faktor was die verskuiwing van die magsewewig in die internasionale politiek as gevolg van die unifikasie van Duitsland in 1871. Benjamin Disraeli het melding gemaak van “the German revoltion, a greater political event than the French Revolution of the last century… There is not a diplomatic tradition which has not been swept away. You have a new world… The balance of power has been entirely destroyed”.

Met groeiende kommer het Brittanje die opkomende industriële mag van Duitsland dopgehou.

Tweedens het Brittanje haarself al hoe meer geïsoleerd in die internasionale politiek bevind. Reeds enkele maande ná die einde van die Anglo-Boereoorlog het lord Selborne die Duitse vlootbouprogram met argwaan waargeneem en opgemerk dat dit toenemend duidelik is “that it is designed for a possible conflict with the British fleet.”

Reeds tydens die Imperiale Konferensie van 1907 het Brittanje gewag gemaak van die militêre hulp wat die Britse kolonies (insluitend Suid-Afrika) verplig sou wees om te verleen in geval van ʼn komende konflik wat die “nasionale bestaan” van Brittanje sou bedreig. Die Britse kolonies is op die hart gedruk dat “mutual support at a time of emergency” geverg sou word indien Brittanje in die toekoms in ʼn groot militêre botsing betrokke raak. Brittanje het gesteun op wedersydse hulp en ondersteuning van haar kolonies.

Twee bekende Boeregeneraals van die Anglo-Boereoorlog, Louis Botha (eerste minister) en Jan Smuts (minister van verdediging) het na aanleiding van die Imperiale Konferensies van 1907 en 1911 die vaste voorneme gehad dat, aangesien die Unie van Suid-Afrika deel van die Britse Ryk was, dié land tydens ʼn komende oorlog aan die sy van Brittanje sou veg. Met ʼn slim stukkie taktiek het Smuts daarin geslaag om die Verdedigingswetsontwerp van 1912 deur die Parlement te loods ingevolge waarvan Suid-Afrika aktief aan Britse kant sou veg in geval van oorlog. Toe Brittanje op 4 Augustus tot die Eerste Wêreldoorlog toetree, het Louis Botha die Britse regering in kennis gestel van die Unie se bereidwilligheid om imperiale troepe vir oorlogsdiens elders beskikbaar te stel.

Drie dae later doen die Britse regering navraag by die Unieregering of Suid-Afrika op Duitse radiostasies by Lüderitz, Swakopmund en elders in Duitswes-Afrika beslag kan lê. Op 9 Augustus het Brittanje ʼn verdere versoek gerig dat ʼn gesamentlike vloot-en landmagoperasie uitgevoer moes word om die inbesitname van die radiostasies in Duitswes-Afrika te bewerkstellig. Die volgende dag verwittig Botha die Britse regering dat die gesamentlike operasies uitgevoer moes word om die radiostasies in besit te neem.

Namate die pro-Britse gesindheid van die Uniegering aan die lig kom, ontplooi Afrikanerverset teen die Unieregering se ondersteuning van die Britse oorlogspoging. In Afrikanergeledere kom patriotgesindes al hoe meer teenoor Britsgesindes te staan. Boereoffisiere wat tydens die Anglo-Boereoorlog sy aan sy teen Britse imperialisme geveg het, staan mettertyd in opponerende kampe. Teenoor Botha, Smuts en volgelinge soos Ben Bouwer en George Brand, staan Afrikanerpatriotte soos generaals J.H (Koos) de la Rey, C.R. (Christiaan) de Wet, Manie Maritz, C.F. (Christiaan) Beyers en J.C.G. (Jan) Kemp.

Patriotiese Afrikaners het veral opgesien na De la Rey en De Wet om leiding te neem in die groeiende verset teen ondersteuning van die Britse oorlogspoging en die voorgenome inval in Duitswes-Afrika. De la Rey se dood as gevolg van ʼn tragiese toeloop van omstandighede het talle Afrikaners verbitterd gelaat en gerugte dat die Botha-regering vir sy dood verantwoordelik is, is wyd gehoor.

Daar was egter ook ander faktore wat die vuur van ontevredenheid in Afrikanergeledere aangewakker het. Grootskaalse armoede in Afrikanergeledere, die knellende droogte van 1914 en toenemende wantroue in die regering se vermoë om verligting vir Afrikaners op die platteland te bewerkstellig, het verdere weerstand teen die regering se pro-Britse houding opgewek.

Bykomend daartoe is dat Afrikaners se taalbelange sedert die Anglo-Boereoorlog verwaarloos en is voorkeur gegee aan Engelssprekendes in staatskantore en op die spoorweë, veral in die hoogste posisies. Later tydens sy verhoor het Jopie Fourie die taalkwessie aangeraak. Hy het getuig dat hy besef dat die regering (as gevolg van sy verset) met hom teleurgesteld is: “Dog, ek is ook teleurgesteld met die regering, ʼn regering wat ek daar met die opoffering van my bloed geplaas het. Daar is ʼn praatjie van gelyke regte. Gaan na die tronk en ontvang ʼn gewone kwitansie vir ʼn pyp (spreker strek hier sy hand uit met die kwitansie vir sy pyp tussen sy vingers) en kyk en oortuig uself of daarop ʼn enkele Hollandse woord staan.”

Generaal J.B.M. Hertzog se weglating uit die Botha-kabinet vanweë sy pro-Afrkaner-uitsprake, sy toespraak by De Wildt in 1912 en die stigting van die Nasionale Party in 1914, het benewens bogenoemde faktore Afrikanernasionalisme – wat sedert die Anglo-Boereoorlog op die agtergrond was – sterk na vore gebring. Koerante soos Het Westen het ʼn belangrike bydrae gelewer om Afrikanernasionalisme op te wek.

Die verloop

De la Rey se dood en begrafnis was keerpunte in die ontplooiende verset van patrioties gesinde Afrikaners. Tydens ʼn protesvergadering die dag ná die begrafnis, besluit tussen 700 en 800 mense op Lichtenburg om ʼn beroep op die regering te doen om af te sien van die voorgenome veldtog teen Duitswes-Afrika en om voor 30 September op hierdie versoek te antwoord. Geen antwoord van die regering is egter ontvang nie. Op 9 Oktober gaan Maritz en sy mag van 500 tot 600 man by van Rooyensvlei tot Rebellie oor. Sy ondersteuners ontwapen die nagenoeg 50 Unietroepe in hul geledere wat nie saam wil rebelleer nie en laat hul deur ʼn gewapende mag oor die grens in Duitswes-Afrika afvoer.

Op 28 Oktober spreek De Wet volgelinge op Vrede toe en maak sy planne bekend: Hy sou na Maritz langs die Oranjerivier deurtrek en van daar na Pretoria terugkeer om die Britse vlag te stryk en ʼn vrye Suid-Afrikaanse republiek te proklameer. Mettertyd sluit Afrikanerontevredenes by sy groep Rebelle van ongeveer 300 man aan. Ná Beyers se bedanking as kommandant-generaal van die Unieverdedigingsmagte is hy genoodsaak om Pretoria te verlaat en beweeg hy geleidelik na Rustenburg.

Op 2 November sluit die Rebelle-kommando’s van Beyers en Kemp, altesaam sowat 2 000 man, op die plaas Vleeskraal, oos van Schweizer-Reneke, by mekaar aan. Hulle besluit dat Kemp met ʼn kommando na Duitswes sou deursteek, terwyl Beyers by opstandelinge in die Vrystaat sou aansluit en ʼn gewapende protes langs die Vaalrivier sou voer.

Kemp se kommando van ongeveer 600 Rebelle sou na ʼn epiese tog deur die woestyn in die hitte van die somer uiteindelik by Maritz aansluit en die Duitse militêre aanvoerders in Duitswes-Afrika ontmoet. Agtervolg deur gemotoriseerde Unietroepe word De Wet en sy volgelinge op die plaas Waterbury, sowat 20 kilometer van Morokweng, omsingel en tot oorgawe gedwing. De Wet gee hom oor aan luitenant-kolonel Jorrie Jordaan, ʼn bittereinder van die Anglo-Boereoorlog.

De Wet uiter die bekende woorde: “Ek is bly dat dit ʼn Afrikaner is wat my gevang het, want die eer – as dit ʼn eer is – kom alleen ʼn Afrikaner toe.”

Op 8 Desember sterf Beyers toe hy probeer om van die Vrystaat na die Transvaal deur te swem. Op 20 Desember word Jopie Fourie in Pretoria tereggestel vir sy aandeel aan die Rebellie. Op 24 Januarie 1915 val Maritz en Kemp Upington voor dagbreek aan. Na aanvanklike suksesse, kry die regeringsmagte die oorhand, waarna die Rebelle van Kemp en Maritz hulself by Upington oorgee. Daarmee het die Rebellie uiteindelik tot ʼn einde gekom.

Die omvang

Die Afrikanerrebellie van 1914-1915 was nie ʼn deeglik beplande en gekoördineerde versetaksie nie. Dit was grootliks die emosionele opwelling van verset teen die marginalisering en verarming van Afrikaners sedert die Anglo-Boereoorlog. Tog was dit die omvangrykste burgeroorlog tussen blankes in die geskiedenis van Suid-Afrika. Statisties gesproke was daar ongeveer 11 472 persone wat aktief gerebelleer het, waarvan 7 123 (62%) van die Vrystaat was; 2 998 (26%) van die Transvaal en 1 251 (11%) van die Kaapprovinsie. Van die gebore Vrystaatse Afrikaners wat manlik en 18 jaar en ouer was, het ongeveer 16% gerebelleer (teenoor ongeveer 5% in die Transvaal).

Die Unieverdedigingsmagte het sowat 32 000 soldate, insluitende ongeveer 20 000 Afrikaners ontplooi om die Rebellie te onderdruk. Sowat twee derdes van die Unieverdedigingsmagte-soldate was Transvalers. Geen Britse/imperiale troepe was nodig om die opstand te onderdruk nie. Aan regeringskant het 132 soldate gesneuwel of aan hul wonde beswyk en 242 soldate is gewond, 190 Rebelle is dood en ongeveer 325 is gewond.

Die persone wat ʼn leidende rol in die Rebellie gespeel het, was vooraanstaande persone en gesiene lede van die samelewing. Ten spyte van gesoute en ervare leiers in Rebelle-geledere kon hul nie teen die Unieverdedigingsmagte staande bly nie. Die belangrikste redes was dat in die 12 jaar wat sedert die einde van die Anglo-Boereoorlog verloop het, tegnologiese ontwikkelinge (insluitend vliegtuie en motorvoertuie) die aard en implikasies van oorlogvoering verander het. Die dae toe die gewapende ruiter op sy perd die pas in oorloë kon aangee, was verby. Hoewel Rebelleleiers soos Beyers, Maritz en Kemp voor die Rebellie in die Unieverdedigingsmagte was, was hul middele as Rebelle-aanvoerders beperk, en in die Vrystaat was sowel die Rebelleleiers as hul manskappe nie in moderne oorlogvoeringstegnieke opgelei nie.

Die afloop en implikasies

Die grootste impak en effek van die Rebellie moet nie op militêre terrein gesoek word nie. Hoewel betreklik klein in omvang en hoewel die opstand nie militêre voordele vir patriotiese Afrikaners opgelewer het nie, het die Rebellie groot effek in Afrikanergeledere gehad. ʼn Skrywer verklaar: “Nog nooit tevore of daarna het daar soveel bitterheid en so ʼn verskeurdheid by die Afrikanerdom geheers nie.” ʼn Ander skryf dat die geskiedenis van ʼn ganse geslag, miskien ʼn halfeeu, daarin saamgepers is. Op alle vlakke van die samelewing is die skeuring gevoel – selfs in die kerk waar kerkrade, wat uit die invloedrykste mense in die distrik bestaan het, hulle bykans soos een man by die Rebelle aangesluit het. In sommige gevalle was die situasie kritiek.

Godsdienstige verdeeldheid het gewentel rondom die vraag of Brittanje van Suid-Afrika kon verwag om deel te neem aan ʼn offensiewe veldtog om ʼn ander volk se “landspale” te verskuif.

Tog het daar veel goeds uit die Rebellie na vore gekom. Ten spyte van die moontlikheid dat talle gesinne vanweë die boetes wat Rebelle moes betaal totale verarming en selfs ekonomiese ondergang in die gesig gestaar het, het burgerlike inisiatiewe in Afrikanergeledere na vore getree onder die besef dat hulle self verantwoordelikheid moes neem om ʼn groot deel van hul gemeenskap van die bedelstaf te red.

Die direkte gevolg was die Helpmekaar-beweging met die besielende appèl: “Laat ons mekaar en ook andere help”.

Die drie Afrikaanse kerke van gereformeerde oortuiging het deurlopend aan die aktiwiteite en fondsinsamelings van die Helpmekaar-beweging deelgeneem. Hierdie inisiatiewe sou vertolk kon word as die eerste vonk in die Afrikaner se ekonomiese bewuswording, die eerste stappe op die weg na die “Eerste Ekonomiese Renaissance” van die Afrikaner. Daarmee het ook die opheffing van die Afrikaner op onderwysgebied en in sosio-maatskaplike verband na die Anglo-Boereoorlog ʼn aanvang geneem.

Die Rebellie van 1914-1915 het ook tot gevolg gehad dat Afrikanervroue sterk op die voorgrond getree het. Oor die hele land het vroue aktief meegedoen aan fondsinsameling vir aangehoudenes, vertoë gerig vir vrylating van Rebelle en optogte gehou om hul weerstand teen regeringsbeleid te demonstreer.

Die versterking van die republikeinse ideaal en strewe van die Afrikaner is in beduidende opsigte deur die Rebellie aangewakker. Die Rebellie het gedien as stimulus van die republikeinse beweging en die effek daarvan is vandag steeds in Afrikanerkringe sigbaar. ʼn Outeur stel dit dat indien die betekenis van die Rebellie in die breër verloop van die geskiedenis geleë was in die stimulus wat dit vir die republikeinse beweging gegee het, is die nagevolge van die Rebellie, in weerwil van die 100 jaar wat intussen verloop het, steeds sigbaar. Ten diepste het die Rebelle opgetree uit die besef dat hul politieke toekoms van hul vermoë tot selfstandige optrede afhanklik is. Hoewel die politieke konteks van die Afrikaner sedertdien verander het, was dié besef met republiekwording in 1961 ʼn belangrike dryfveer en is dit vandag steeds ʼn besef wat sluimerend in die Afrikaner se politieke hunkeringe leef.

Waarskynlik is die blywende en universele betekenis van die Afrikanerrebellie geleë in die feit dat die marginalisering van etniese gemeenskappe, geringskatting van hul strewes tot behoud van hul taal, onderskatting van hul toekomsverwagtinge, kultivering van ʼn openbare beeld dat hul eintlik tweederangse landsburgers is en verbloemde diskriminasie op ekonomiese en sosio-maatskaplike gebied, politieke regimes kan destabiliseer en geweldige implikasies vir politieke ordes kan hê. Dit hoef nie eens groot getalle mense te wees wat tot verset gedryf word nie, selfs klein getalle gemarginaliseerdes kan tot desperate dade van weerstand gebring word.

Die emosionele opwelling wat met rebellie gepaard gaan, laat gewoonlik littekens wat in sommige gevalle dekades neem om te heel. Die godsdienstige en emosionele veerkrag van klein minderhede kan geweldige implikasies vir heersers hê. Die opstand van Holland en Zeeland onder leiding van Willem van Oranje teen die gesag van Filips II van Spanje het daartoe aanleiding gegee dat Nederland ná 80 jaar van oorlog, groot lewensverlies en ekonomiese terugslae, polities vry geword het. Selfs die verset van klein groepies gemarginaliseerdes kan blywende emosionele wrewel opwek soos blyk uit die Slagtersnekrebellie van 1815 en die afloop daarvan. Die verset van Afrikaners teen die Kaapse owerhede teen die einde van die 18de eeu en die patriotbewegings wat daaraan deel gehad het, bevestig dat die optrede van gemarginaliseerde groepe soms buite verhouding is tot hul getalle – juis omdat rebellies dikwels aangewakker word deur die marginalisering van emosionele en politieke sentimente wat minderhede na aan die hart lê.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Andries Raath

Professor Raath, skrywer van die boek "Niklaas van Rensburg: Die Siener" en "Onthou!" is ’n senior professor in regsgeleerdheid aan die Universiteit van die Vrystaat. Sy besondere belangstelling is regsgeskiedenis, regsfilosofie en die geskiedenis van pioniersgemeenskappe.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Frik Lotz ·

Dis n uitstekende stuk werk. Baie goed geskryf en net eenvoudig fantasties. Wel gedaan! Ekself het ook die boek oor Niklaas van Rensburg gelees en dit is net so n goeie stuk werk. Baie goeie boeke wat u geskryf het, prof. Raath.

Johan ·

Moet bieg ek het nie die outeur se naam gesien voor ek begin lees het nie, maar halfpad deur die stuk agterdogtig geraak. Goed geskryf Oom Dries.

Lizl ·

Dit was nou pure leesgenot gewees. Lekker om in die geskiedenis te dwaal en te lees van manne wat se ja nog hulle ja was en hulle nee hul nee. Waar is die dae !

anita ·

Die insae in hierdie deel van ons geskiedenis behoort deur ieder en elk gelees te word. Die lesse van saam staan as , n groep moet vandag ook van toepassing wees. Ek voel my verryk drur die kennis.a

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.