Die agt pilare van die blaam van apartheid

jacob zuma

Pres. Jacob Zuma. Foto: Elmond Jiyane

Mnr. Jacob Zuma laat nie ʼn kans verbygaan om apartheid te blameer vir alles wat verkeerd gaan in die land nie. Dit het mnr. Zuma onlangs weer gedoen in sy toespraak in die Nasionale Raad van Provinsies, toe hy apartheid blameer het vir die moeilike ekonomiese klimaat en die hoë vlakke van armoede. Geen aanspreeklikheid word aanvaar vir enige van die probleme nie. Korrupsie en lae ekonomiese groei as gevolg van beleidsonsekerhede lê aan die kern van die “moeilike ekonomiese klimaat”, maar dit is te betwyfel of mnr. Zuma dit verstaan. Maar – daar was ʼn tyd wat mnr. Zuma anders gedink het oor hedendaagse probleme. Aan die begin van sy termyn as president word hy in April 2010 aangehaal waar hy, waarskynlik met verwysing na sy voorganger, gesê het: “Ons sal nie apartheid kan blameer as dorpe nie water, geen elektrisiteit, geen paaie het nie. Ons sal niemand anders kan blameer as kinders nog onder bome studeer nie, as huise en skole uitmekaar val nie.” In die tyd hierna het hy egter begin besef dat dit baie makliker gesê as gedaan is, en deesdae is hy voor in die koor as verwyte en beskuldigings oor apartheid geslinger word.

As ons oor apartheid praat, wil ons dit nie regverdig of verdedig nie. Dat apartheid ʼn gerieflike kapstok geword het waaraan mislukkings en nie-uitvoering van beleid gehang word, is ʼn gegewe.

Die blaam van apartheid het ʼn uiters gevaarlike spel geword waarin die interpretasie daarop neerkom om wit mense verantwoordelik te hou vir die huidige omvang van probleme van die land.

Apartheid het nou al so ʼn gerieflike kapstok vir die verplasing van blaam geword dat mens die “blaam van apartheid” weer kan onderverdeel, afhangende van die blaamverplasing se oogmerk. Breedweg kan ʼn mens die verplasing van die blaam van apartheid in agt pilare verdeel.

Die eerste pilaar is die sogenaamde Bell-Pottinger spel. Lei die aandag af. Gebruik voortdurend die terme apartheid, kolonialisme, dekolonialisme en witmonopoliekapitaal. Só word die aandag afgelei van die hedendaagse wanbestuur en korrupsie en staatskaping.

Die tweede pilaar is die ANC-gom. Tot en met die oorgang in 1994 was apartheid die gerieflike gom om ʼn groot klomp uiteenlopende ideologieë, faksies en burgerlike instellings onder een sambreel te verenig teen apartheid. So is ʼn breë groep sienings bymekaargehou. Dit het mettertyd verbrokkel. Om elke keer apartheid te blameer is dus ook ʼn gerieflike agenda in ʼn poging om die groeiende ontnugtering en vervreemding in toom te hou.

Derdens is die wit bevolking se rol in die aftakeling van apartheid in sommiges se visier. Daarom word wit mense gereeld gebombardeer met die voorgestelde welvaartsbelasting en die herverdeling van grond, en moet die jong wit bevolking in die idioom van die blaam van apartheid deurlopend die skuld dra vir die verlede. George Orwell het gesê: “Die mees effektiewe manier om mense te vernietig, is om hul eie begrip van hul geskiedenis te ontken en te vernietig.”

Die vierde pilaar het te make met die inperking van vryheid van spraak. Enige kritiek teen die ANC-regering of uitvoering van beleidsraamwerke trek onmiddellik die “hunkering na apartheid”-kaart uit die pak. Hiervan kan mev Helen Zille eerstehands getuig. Dieselfde kan natuurlik nie van kritiek uit die swart geledere gesê word nie, en is dit dikwels dat die “apartheidskaart” dan vervang word met die woorde “teen-revolusionêr” indien dit ʼn swart persoon is, of selfs ʼn gevangene van witmonopoliekapitaal.

Apartheid se teenvoeter is natuurlik nog meer van dieselfde, maar omgekeerd. Die regstelling van die verlede en apartheid vereis dus ʼn vorm van swart apartheid en dit vind sy toepassing in transformasie, demografiese verteenwoordiging en swart ekonomiese bemagtiging. Die regstelling van apartheid “regverdig” as vyfde pilaar die nuwe diskriminerende beleidsraamwerke.

As sesde pilaar word die argument dikwels as versagting deur kommentators uitgespreek dat byvoorbeeld korrupsie vandag erg is, maar dat apartheid nog erger is. So kan alle sfere van die samelewing se gebreke uitgelig word, maar altyd ter versagting, want in apartheid was dit volgens die pleit ter versagting, nóg erger.

Die sewende pilaar van die blaam van apartheid is die selfgeldende een van politieke korrektheid teenwoordig by verskeie meningsvormers, kommentators en sommige joernaliste. Om hulle plek in die samelewing te regverdig en op te eis sal hulle eers standpunt inneem teen apartheid, en dan toeslaan met hulle kritiek teen die huidige regering.

Laastens is dit die kriminalisering van individue en groepe met apartheidsimbole as die groot sonde. Enige wit rassisme word met dubbele standaarde gestraf. Oorwegend wit protes en die reaksie teen die vertoon van die ou landsvlag het gevolglik die goeie bedoelinge van Swart Maandag oorskadu. Om nou egter aksies op tou te sit om die vlag of die Stem te verbied of te kriminaliseer sal nie die gewenste uitwerking hê nie. Veel eerder kan ons die amptelike vlag van RSA vertoon as simbool van protes, want dit is onder hierdie vlag wat moord en misdaad toeneem en korrupsie hoogty vier.

Ons moet kan praat oor apartheid sonder om dit regverdig. Ons moet die konteks en die geskiedenis verstaan. Daar is genoeg verskoning gevra vir apartheid. Die grootste struikelblok is nie meer die wil om verskoning te maak nie, maar die wil om aanvaarding van veral wit mense se hand van vriendskap en hulp. Wit mense se bydrae in die Suid-Afrika van vandag is enorm ten spyte van vele struikelblokke en kan nóg groter wees.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Jan Bosman

Meer oor die skrywer: Jan Bosman

Jan Bosman is Hoofsekretaris van die Afrikanerbond.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

30 Kommentare

jongste oudste gewildste
bgj van der westhuizen

dit is net n bewys dan die anc regering te swak en sleg is om die land te bestuur

Eish

Ja née, dis maar die manier waarop kapasiteitsgestremdheid weggesteek word.

Swannie

Ai, Jan Bosman, wanneer gaan jy tog agterkom dat GEEN vlag geswaai is tydens die Swart Maandag optog nie.

Die gebeure waarna jy verwys het jare gelede gebeur. Die joernalis wat die fotos geplaas het, het reeds om verskoning gevra, alhoewel hy bybedoelings gehad het met die plasing daarvan.

Kry dus asb jou feite reg voordat jy enige artikel skryf.

Burger

As jy nie aan die benadeelde kant van apartheid geleef het nie , sal dit moeilik wees om die implikasie daarvan te verstaan . Apartheid het inderdaad bygedra tot die situasie waarin ons vandag is . Daar is soveel haat geskep dat die deur oopgemaak is sodat die land geplunder kan word. Die haat was groter as al die korrupsie . Ek het nog nooit verskoning gevra vir apartheid nie . Ek weet nie meer waar die mense is teen wie ek n onreg gepleeg het nie . Daar was baie , maar hoe spoor jy hulle op ? Ek… Lees meer »

Swannie

Ja-nee, ek kan my alweer indink wie vandag aan diens is by Maroela Media.
Enige kritiek moet mos in die kiem gesmoor word en mag en sal nooit geplaas word nie.