Die agteruitgang van die sosiaal-demokratiese partye in Europa

Foto: En.wikipedia.org

Deel 1: Geskiedkundige opkoms en onlangse tendense

Die sosiaal-demokratiese partye (sosialistiese partye in sommige lande) is ʼn instelling in veral Europa en was van die eerste partye wat gevorm is en wat reeds in die 19de eeu die belange van die laer klas, by name die werkers, teenoor die besittersklas en elite verteenwoordig het.

Die werkersklas in die laat 19de en vroeë 20ste eeu was ʼn opkomende klas, sterk in getalle maar met min geld en selfvertroue en swak georganiseerd totdat vakbonde en die sosiaal-demokratiese partye hulle belange begin verteenwoordig het: die een by die werk, die ander een in die politiek. Die werkersklas het ʼn trots ontwikkel en het ʼn magsfaktor geword danksy die twee instellings wat hand-aan-hand gegaan het. Dit is aan die sosiaal-demokrate te danke dat talle hervormings ingestel is wat die werksomstandighede beter en veiliger gemaak en werksure verminder het, met beter betaling en talle byvoordele.

Die sosiaal-demokrate is wel gebore uit die denke van Karl Marx, maar het hulle later van die kommuniste onderskei daarin dat hulle nie na die utopie van die klaslose samelewing in ʼn verre toekoms gestreef het nie, maar na die verbetering van die werkers se omstandighede hier en nou, en dat hulle dit nie deur middel van ʼn revolusie wou doen nie, maar deur die stembus.

Hulle was prakties en op brood en botter sake ingestel, wat hulle meer suksesvol en meer aanvaarbaar vir die kiesers gemaak het as die kommuniste, en wat daartoe bygedra het dat sosiaal-demokratiese partye in meeste Europese lande die grootste of naasgrootste party geword en dikwels die regering gestel het. Veral ná die Tweede Wêreldoorlog het die meeste sosiaal-demokratiese partye gebreek met Marxisme en daardeur hoofstroompartye met ʼn breë appèl geword wat nie meer net op werkersbelange en vakbonde gerig was nie. Hulle pragmatisme het gemaak dat hulle naas die konserwatief-burgerlike Christen-demokrate die tweede groot hoofstroom- en volksparty geword het.

Veral in die 1970’s en 1980’s was in talle, indien nie die meeste Westerse lande nie, sosiaal-demokratiese partye aan bewind. In die laaste sowat 10 tot 15 jaar is egter ʼn geleidelike agteruitgang van dié partye te bespeur, wat veral in die laaste paar jaar duidelik geword het. Die tendens is orals te sien, maar is nie orals ewe dramaties nie. Verkiesingsuitslae in verskeie lande illustreer die punt:

In Nederland het die eens magtige Partij van de Arbeid (PvdA) wat altyd min of meer een derde tot ʼn kwart van die kiesers verteenwoordig het, geval van 25% en 38 setels in die verkiesing vir die Tweede Kamer in 2012 na 5.7% en 9 setels in 2017.

In Duitsland was die Sosiaal-demokratiese Party (SPD) altyd gewoond aan stempersentasies van tussen 35% en 45%, dus meer as ʼn derde van die kiesers. Ná 2009 het hulle agteruitgang begin met uitslae onder 30%, en met die laaste parlementsverkiesing in 2017 het hulle geval tot 20% van die kiesersteun. Meningspeilings sien hulle nou selfs by 15%.

In Frankryk lyk dit selfs nog meer dramaties. Die sosialiste het die politiek vanaf die 1950’s oorheers as grootste of tweede grootste party wat dikwels die president gestel en die parlement oorheers het. In 2012 het hulle nog 295 setels in die parlement (uit 577) gehad, in 2017 slegs 29, dus ʼn verlies van 90%. In die presidentsverkiesing van 2017 het die sosialistiese kandidaat, wat gewoonlik deurdring tot die uitklopronde, slegs 7% gekry, die marge van ʼn splinterparty. Met die opkoms van Emmanuel Macron se sentrum-linkse kitsbeweging En Marche aan die een kant, en die uitgesproke linkse beweging van Jean-Luc Mélenchon aan die ander kant, het die sosialiste betekenisloos geword.

Ook in Spanje beleef die sosialiste al vir ʼn paar jaar ʼn agteruitgang. Sedert die 1980’s was hulle lank die dominante party. In 2004 het hulle selfs 44% van die stemme gehaal en was uitslae bo 35% die norm. Met die laaste verkiesing in 2016 het hulle teruggesak na 22% van die steun, nadat hulle al geruime tyd op ʼn afwaartse trajek was. Gereelde leiersveranderings en binnegevegte toon ʼn party in krisis en geen omkeer is in sig nie. Daar is ook kompetisie van die nuwe verlinkse party Podemos.

In Brittanje is die Arbeidersparty ook onlangs deur moeilike tye, maar word in ʼn sekere sin deur die kiesstelsel, wat in wese ʼn tweepartystelsel is, gered. Tans lyk dit egter onwaarskynlik dat hulle in die nabye toekoms weer die eerste minister sal stel, veral omdat hulle na die periode van ʼn gematigde “New Labour” onder Tony Blair met Jeremy Corbyn weer ʼn uitgesproke linkse leier het wat vir die meerderheid kiesers nie aanvaarbaar is nie.

In Swede was die sosiaal-demokrate vir die grootste deel van die 20ste eeu die bepalende party, in so ʼn mate dat hulle Swede in ʼn sosiaal-demokratiese modelstaat verander het. Hier is die agteruitgang nog nie so sterk nie omdat die welsynstaatmodel nog werk, maar ook hier is ʼn afwaartse tendens te bespeur. Terwyl die sosiaal-demokrate sedert die Tweede Wêreldoorlog konstant bo 42% steun gekry het, het hulle met die laaste verkiesing in 2012 na 31% teruggesak, en meningspeilings dui op verdere verlies aan steun in die volgende verkiesing later vanjaar.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Sebastiaan Biehl

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk as navorser, argivaris en toergids vir die Orania Beweging in Orania, is ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling en skryf is veral politiek, geskiedenis, reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

7 Kommentare

Gerhard ·

Die vraag is egter, tot watter mate is die rede agter die verval van sosiaal-demokrate die gevolg van ander partye wat hulle beleid aanneem? Ek reken dit speel ‘n rol.

Sebastiaan ·

Hierdie is die eerste deel van die artikel. In die tweede deel sal ek juis na die redes kyk.

Kaufman ·

Die immigrante neem woongebiede en werksgeleenthede van die werkersklas oor, dit sou ek raai is die rede vir die afwaartse neiging. Die rykes sit steeds veilig in hul nessies en sien nie wat op grondvlak gebeur nie.

Rupert Ashford ·

Sebastiaan, jy laat na om te verduidelik dat die sosialistiese eksperiment begin faal het toe die ander mense se geld begin opraak het. Hierdie partye het almal eers meer na die sentrum geneig met die Christen-demokrate aan die regterkant van die sentrum en tussen hulle het hulle dinge beheer en lekker gemaklik “regering” gespeel. Toe kom die 90’s en die millennium en toe die GFC en nou spring hulle almal na links. Die “open borders” klomp se manewales en die instroom van Moslems het ook ‘n klomp volksnasionalistiese “Trump tipe” partye die lig laat sien wat almal ‘n beduidende invloed op die politiek het (wie was nou weer die finale twee presidentskandidate in Frankryk waar geswore vyande uiteindelik moes saamwerk om Le Pen te kelder?) en in sommige gevalle selfs beheer oorgeneem het soos in Oos-Europa. Merkel het vir maande gesukkel om ‘n regering te vorm omdat sy nie met die regse party wou saamwerk nie maar hulle sal een of ander tyd na daardie stemme moet luister teen wil en dank.

Sebastiaan ·

Ek stem saam. Soos bo gesê is hierdie net die eerste deel van die artikel, die redes vir die agteruitgang word binnekort bespreek.

Eish ·

Ten einde vir n land om homself te kan handhaaf, moet die bevolkingsaanwas teen n koers van 2.11 kinders per gesin geskied. Duitsland, Engelnd, Spanje, Italië, die hele klomp is onder die mediaan. Daarteenoor toon aanwassyfers van Moslems in die lande n koers van 8.1 kinders per gesin! Voor 2050 gaan Duitsland meer Moslems as Duitse inwoners hê wat die huidige bestel totaal irrelevant gaan laat. Dan is dit die kalifaat wat gaan regeer. Dit, is die groter prentjie.

Groottrek ·

Daarom moet ons reel met westerse lande wie se westerse bevolkings afneem, om daarheen te trek. Ons is maar drie of vier miljoen westerlinge in SA, daardie lande sal ons almal maklik kan huisves.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.