Die Alternative für Deutschland word 10 jaar oud

Die kantore van die AfD in die Duitse Bundestag. (Foto: MICHAEL KAPPELER / DPA / dpa Picture-Alliance via AFP)

Tien jaar gelede, in Februarie 2013, is in Duitsland die party Alternative für Deutschland (AfD) deur die ekonomie-professor dr. Bernd Lucke gestig. Die party was destyds liberaal-konserwatief en sy fokus was veral op die ekonomie.

Die rede vir die ontstaan van die party was veral ontevredenheid met die destydse kanselier, Angela Merkel, se beleid om “die Euro ten alle koste te red”. Dit sluit in om bankrot lande soos Griekeland, wat nooit die voorwaardes vir lidmaatskap binne die Euro-sone vervul het nie, met verskeie reddingspogings wat deur die Duitse belastingbetaler betaal is, binne die Euro-sone te hou.

Lucke en ander prominente ekonome het die skuld- en transfer-beleid en die toenemende opgawe van nasionale besluitneming ten gunste van meer en meer oordrag aan Europese Unie (EU) instansies gekritiseer. Die party het destyds as “professore-party” bekend gestaan en kon dit, anders as talle ander nuwe partystigtings, regkry om nie die gewone politieke avonturiers te trek nie, maar ʼn hele paar prominente en gesaghebbende openbare figure.

Die term “alternatief”, wat die Groenparty sowat 30 jaar vroeër op hulle vaandels geskryf het, was bedoel om te wys dat daar iets anders buite die breë sentrum-linkse konsensus van die taai en lang Merkel-jare is en dat daar wel nie net een siening tot ʼn saak is nie. Die media was aanvanklik versigtig-skepties. Die eerste toets was die algemene verkiesing dieselfde jaar, waar die AfD met 4,8 % amper die intog in die nasionale parlement bereik het.

Die party het daarna ʼn merkwaardige opgang gemaak en een na die ander provinsiale wetgewer betree. Die sukses het egter ook tot politieke begeerlikhede in die party gelei en dit het gou duidelik geword dat daar verskeie groepe binne die party is wat nie om dieselfde vuur sit nie. Lucke is na ʼn relatiewe kort tyd as leier uitgewerk. Ook ander ekonome en intellektueles het toenemend vervreem gevoel, soos wat die party meer en meer regs-populisties geraak het en veral in Oos-Duitsland suksesvol was.

Pleks van kritiek op die Euro en die Griekeland-redding het die AfD se fokus meer en meer na kritiek op die oopdeurbeleid vir immigrante, die groot tema van 2015, geskuif. Lucke se opvolger as leier, me. Frauke Petry, het die party tot die groot sukses van 12,6 % in die verkiesing van 2017 gelei. Ook in die provinsiale wetgewers het die AfD se opmars voortgeduur. Petry kon egter nie die stromings bymekaar hou nie en is vervang ten gunste van ʼn gesamentlike leierskap – gewoonlik een meer liberale en een meer konserwatiewe leier, wat weer meer stabiliteit gebring het.

Tans is Alice Weidel en Tino Crupalla die mede-leiers. Weidel het veral as koukusleier in die parlement naam gemaak as skerp en ongenaakbare debatteerder.

Intussen het die aanvanklike skeptiese afstand teenoor die AfD egter in openlike vyandskap omvorm. Uit alle oorde – die media, alle ander partye, nie-regerings- en regeringsorganisasies en maatskappye – is die party tot “pariah” verklaar. Ook die Verfassungsschutz (binnelande intelligensiediens) word op die AfD losgelaat om bewyse te vind wat tot ʼn verbod kan lei. Selfs gewelddadige aanvalle op AfD-ampsdraers deur verlinkse aktiviste was en is aan die orde van die dag.

Die toenemende wind van voor, saam met binnegevegte en talle bedankings, het ook in die verkiesings sy neerslag gevind, waar die AfD na sy groot suksesse skielik provinsiaal en nasionaal agteruitgegaan het.

Veral in Oos-Duitsland het die party egter ’n krag gebly. Onlangs toon die party, as enigste werklike opposisie tot die “woke” konsensus in die Duitse politiek en media, weer groei in meningspeilings en provinsiale verkiesings.

Ten spyte van alle pogings om die party dood te smoor, is die AfD hier om te bly. Dit vul ʼn leemte wat die Christen-Demokrate, met hulle verskuiwing na links, wyd oop gelaat het. Om egter werklik ʼn verskil te maak, moet die party iewers saam regeer – al is dit net op munisipale vlak. Met die brandmuur wat vasstaan, blyk dit vir eers nie moontlik te wees nie.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Treurwilger ·

Die AfD is dus, wat die “openlike vyandskap” betref, in min of meer dieselfde bootjie as Geert Wilders se party in Nederland.
As “Die Media” iets of iemand gebrandmerk het, is dit ewige verdoemenis.

Groen Ghoen ·

Dit wat in veral die VSA en Duitsland gebeur is uiters interessant. Politieke debatvoering is nou deur die media vervang: Die media bepaal dus die politieke diskoers en uiteindelik wie die politieke mag het. Covid het geleer dat dit moontlik is om redelike teenstemme eenvoudig d.m.v. veral vrees dood te “kanselleer.” Dink bv. aan die aanblaas van vrees deur die massamedia, sodat mense selfs in die buitelug die absurde gedoen het deur met maskers te loop, en in huise opgehok is waar die virus na hartelus kon versprei, maar verbied is om op die strand te loop.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.