Die Amerikaanse Burgeroorlog teenoor die Anglo-Boereoorlog

Die koronapandemie gee ’n mens noodgedwonge meer tyd by die huis en dus ook tyd om te lees. In tye van ’n krisis is die beste tydverdryf die ontvlugting na ander wêrelde en tye, eerder as om gedurig nuus te lees (wat tans almal koronaverwant is) wat net jou bloeddruk opjaag.

Een boek wat ek lankal beoog het om te lees, maar wat intimiderend dik is, is Gone with the Wind van Margaret Mitchell, een van die klassieke familiedramas uit die Amerikaanse Suide, wat in 1937 gepubliseer is. Al is dit ’n roman, vertel dit tog veel oor die era en spesifiek die Amerikaanse Burgeroorlog (1861-1865) en sy impak op die mense. Die hoofkarakter is Scarlet O’Hara, hoogmoedige, selfgesentreerde “Southern Belle” uit die staat Georgia, wat gewoond is om te hiet en gebied en om altyd in die middelpunt te staan. Deur die ontwrigtings en die swaarkry van die oorlog kom sy hard aarde toe en leer verantwoordelikheid, opoffering en naasteliefde ken en verander van bedorwe missies tot pioniersvrou.

Gone with the Wind is natuurlik uit die wit perspektief geskryf en subjektief – die slawerny word dus ook nie as die onreg beskryf wat dit sonder twyfel was nie. Die grootste deel van die boek handel wel oor die oorlog self en die tyd daarna. Met die lees van die boek kon ek nie help om telkemale aan Suid-Afrika en die Afrikaner te dink nie. Daar is veral talle parallelle met die Anglo-Boereoorlog, wat sowat 40 jaar later plaasgevind het.

Foto: Wikimedia Commons

Die Suidelike state van die VSA, die konfederasie, was gekenmerk deur ’n tradisionele, landelike en konserwatiewe voor-industriële leefwyse en het gestaan vir die regte van die deelstate teenoor die Noorde wat gekenmerk was deur vinnige ontwikkeling, verstedeliking en industrialisasie – wat die sentrale staat wou versterk en dieselfde wette vir almal wou hê.

Die kwessie van slawerny was die oorsaak van die oorlog, net soos dit in die destydse Transvaal die uitlandervraagstuk was, maar in beide gevalle het dit eintlik (soos in feitlik alle oorloë) oor mag en beheer gegaan, en oor die idee van een groot verenigde en gesentraliseerde staat teenoor die idee van klein onafhanklike state wat wel vrywillig oor sekere dinge saamstaan.

Net soos die Boererepublieke, het die konfederasie geen kans gestaan nie en was dit in alle opsigte hopeloos ondergeskik aan die vyand: militêr, finansieel, wat internasionale steun, hulpbronne en logistiek betref. Nogtans het sowel die Boere as die gekonfedereerde soldate besonder dapper geveg. Hulle het uitstekende generaals soos Robert Lee en Thomas Jackson gehad wat, ten spyte van die materiële ondergeskiktheid, die vyand lank in bedwang kon hou en merkwaardige suksesse behaal, al moes hulle uiteindelik die knie buig voor die oorweldigende oormag.

Terwyl die Suide aangewese was op sy eie yl verspreide bevolking en sy beperkte hulpbronne, kon die Noorde groot getalle buitelanders werf om vir geld te veg en kon hulle deur die beheer van die see ook alles wat nodig was, invoer. Die Boere was slegs op hulself aangewese, terwyl die Britte hul reusewêreldryk tot hul beskikking gehad het en massas nuwe soldate en materiaal kon inbring.

‘n Plaas wat deurgeloop het onder die Engelse se verskroeide aarde beleid in die Anglo-boereoorlog. Foto: Verskaf.

Nes generaal Kitchener die verskroeide aarde-beleid teen burgerlikes in die Boererepublieke toegepas het, het die Noorde, by name generaal William Sherman, die Suide se plase en dorpe verwoes en ontsettende persoonlike lyding veroorsaak.

In beide gevalle was die oorlog ’n waterskeiding wat ’n era en ’n leefwyse wat uit pas was met die res van die land (en toenemend met die wêreld), beëindig het. Die Boere, oftewel Afrikaners, moes ná die einde van die oorlog aanpassing aan hul rustige en landelike patriargale leefwyse maak om uiteindelik te moderniseer en op dieselfde vlak as die Engelse te kom en weer selfbeskikking te kry. So ook moes die mense van die Suide, ná die skielike einde van hul gemaklike en ouwêreldse leefwyse, harde bene kou en aanpas om later weer politieke beheer terug gekry, al was dit onder ander omstandighede.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Sebastiaan Biehl

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
Therese

‘n Wenner-artikel, soos altyd.
“Ontvlugting na ander wêrelde en tye” … só waar!
Die ooreenkomste tussen die Suidelike Amerikaners en Afrikaners is regtig verstommend.
“Gone with the Wind” gaan beslis herlees word.

Simon

Maar wat van die verskille? Die grootse een dalk die 100+ moordkampe van die Britte waarin soveel vroue en kinders hul lewens verloor het. Die wereld misken daardie gebeure tot vandag toe. Die Amerikaners was nie so wreed nie.