Die Amish se ‘ou wêreld’ en ons uit ‘die ander wêreld’

amish-01

Susan Hougelman voor ʼn bekende landmerk in die Amish-wêreld van Wes-Pennsylvanië. Foto: Verskaf.

Ons ontmoet Susan Hougelman in haar restaurantjie in die kothuisstyl in New Wilmington in die weste van Pennsylvanië. Sy het ’n vertrouensband met die Amish-gemeenskap opgebou en neem mense van “die ander wêreld” na “die ou wêreld”. Die Amish noem almal uit “die ander wêreld” “the English”. Vir dié toer is ek “English” – vir my ook ’n ander ervaring.

Daar is ’n stukkie romantiek aan die ou wêreld van die Amish, ’n gemeenskap wat mekaar help en versorg. Hulle volg ’n eenvoudige lewenstyl sonder enige moderne tegnologie. Almal werk hard en doen hul deel. Almal lyk dieselfde, trek dieselfde aan en hul perdekarretjies lyk dieselfde.

Die omgewing is pragtig, die huisies netjies en relatief groot en lyk nie armoedig nie.

Die herfslandskap gee ʼn bietjie kleur aan die pragtige, eenvormige wit huisies van die Amish.

Die Amish is ’n ou Europese gemeenskap en hulle ontstaan kan teruggevoer word na Switserland. Hulle is Anabaptiste, glo aan grootdoop en dat jou dade jou red. Hulle hou dus streng by ’n suiwer lewenswyse, werk hard en deeglik, is nederig en gehoorsaam, ingetoë en liefdevol, gee om en reik uit na mekaar, want dit is hulle pad na die ewigheid. Aan die begin van die 18de eeu het ’n groot groep Amish na Pennsylvanië geëmigreer weens dié staat se godsdiensverdraagsaamheid.

Bybelse name word vir die kinders gegee, Anna, Andrew, Samuel en Elizabeth. Wanneer ’n paartjie trou, is almal daar, en as iemand sterf, hou almal saam begrafnis.

amish-04

ʼn Tipiese Amish-plaaslandskap. Foto: Verskaf.

Pouse by die eenkamerskooltjie lyk soos enige ander skooltjie – gelukkige kindertjies wat baie speel en mekaar jaag. Die juffrou is ’n jong ongetroude meisie.

Die gesinne is groot, gemiddeld ses tot sewe kinders, en die gevolg is dat die gemeenskap vinnig groei. Sowat 95% van jong mense bly in die gemeenskap, word gedoop en lid van die kerk. Afvalliges word verban en mag nie na die gemeenskap terugkeer nie. Van 1992 tot 2013 het die Amish-gemeenskap in die VSA met 120% gegroei. Hulle getalle staan nou op ongeveer 250 000.

Hulle het nie motors nie, nie selfone of rekenaars nie en ook nie elektrisiteit nie. Hulle boer nie met trekkers nie, maar met perde. Boonop is hulle ongelooflike vakmanne.

Ons besoek ’n houtwerk-werkswinkel en die ywer, deug en deeglikheid straal uit die jong seuns. By nog ’n huis word wiegstoele gemaak. Die jong man wat ons ontmoet se vaardigheid is ’n belewenis. Daar is geen moderne gereedskap nie, maar hy maak ’n stoel met netheid en spoed wat ons almal verstom. Hy is vriendelik en innemend en gesels heerlik met Susan. Agter die maak van die stoel is die geloof dat net die beste van God se arbeid gemaak mag word. Goeie werk moet gelewer word. Jy werk aan die stoel en terselfdertyd aan jou verlossing. Ons kon dit sien in die vakmanskap van al die plekke wat ons besoek het.

amish-02

Mense moet net mens wees. Die Amish se poppe het nie gesiggies nie, want hulle glo die mens, as beeld van God, mag nie afgebeeld word nie. Foto: Verskaf.

Kinders kry skoolopleiding tot gr. 8 en daarna volg die seuns ’n spesifieke ambag, gewoonlik diensopleiding onder die kundige oog van ’n pa of familielid.

Daarna doen ons aan by ’n winkeltjie met die pragtigste naaldwerk en kwiltwerk. Die lappoppe het nie gesiggies nie. Die Amish glo dat God en daarom ook die mens as beeld van God nie uitgebeeld mag word nie. Dit is ook die rede waarom ons nie foto’s van mense mag neem nie.

Susan bring lekkers vir die kinders. Boeties en sussies gee eers vir mekaar. Die ouers het vir hul dogtertjie toestemming gegee om na stories op Susan se selfoon te kyk; hulle mag net nie die foon vashou nie. Hulle kyk na die drie varkies – ʼn  oomblikkie se ontvlugting na die ander wêreld. Hulle is vasgenael. Fluit, fluit, die storie is uit.

Die toneeltjie wys op die spanning wat ontstaan deur van ’n ou wêreld te wees, maar binne ’n ander wêreld te leef. Susan vertel van ’n jong seun wat in die nabygeleë dorp ’n grassnyer van die perdekarretjie af gesien het. “Ons kan dit só doen,” het hy opgewonde vir sy ma gesê. “Ons doen dit nié so nie,” het sy geantwoord. Hy was tevrede en is vandag steeds ’n harde werker in dié omgeegemeenskap.

Soms word ’n kompromie met die ander wêreld getref, maar dit word goed gereguleer. Sowat 200 meter van die huis is ’n houtkamertjie wat soos ’n buitetoilet lyk. Dis ’n telefoonhokkie. Daar is ’n sonpaneel op die dak wat die selfoon laai. ʼn Man mag soontoe stap om sakeoproepe te maak, maar met die voorwaarde dat die deur oopstaan.

Buite die huis staan ’n kerkwa. Die wa word getrek na die huis waar die volgende Sondag kerk gehou sal word. In die wa is Bybels en wat ook al nodig is vir die diens.

“Anna, are you ready for church on Sunday?” vra Susan. Dit is ’n groot vraag. Anna berei minstens ses weke lank voor vir die kerkdiens. Die huis word van hoek tot kant silwerskoon gemaak. Hulle glo die beste moet vir die Here gegee word. Die kerk trek van huis tot huis.

Elke kerkdistrik het tussen 20 en 40 families en sy eie biskop. Indien ’n nuwe distrik geskep word of ’n biskop tot sterwe sou kom, kom al die gedoopte mans wat lid is van die kerk, in ’n kamer bymekaar. In ’n volgende kamer word stoele uitgepak met Bybels op. In een van die Bybels is ’n papiertjie met ’n teksvers. Die man wat die Bybel kry, is die nuwe biskop van die distrik en is verantwoordelik vir die reëls en uitvoer daarvan.

Almal praat Engels, maar hulle het ’n eie taal, Pennsylvania Dutch, ontwikkel. Dit is ’n mengsel van Duits en Hollands en is soortgelyk aan ’n dialek van Switserse Duits. Hulle beskou die Duitse Lutherse Bybel as die enigste suiwer vertaling. Weens die taaluitdagings is dit nie vir almal toeganklik nie.

amish-03

ʼn Telefoonhokkie waar ʼn man besigheidsoproepe op ʼn selfoon mag maak. Die voorwaarde is dat die deur moet oopstaan. Foto: Verskaf.

Die gemeenskap is nóú verweef. Sondagaande is jeugsangaande. Dit is ’n groot gebeurtenis en ʼn hoogtepunt. ʼn Week se harde werk lê voor, maar by die sangaande kan daar ontspan, gekuier en gesing word.

Sondagaande is ook die tyd waarop ʼn ander groot gebeurtenis plaasvind. Die seuns kan die dogters op ’n “date” neem. Die dogters word met perdekarretjies na hul ouerhuise geneem. Die ouers mag geensins met die seun praat nie, want dit mag dalk lyk of hulle inmeng. Die ouers gaan na hul kamers en die kinders word alleen gelaat.

Indien die verhouding verder vorder, mag die twee op die bed gaan lê. Hier meng die pa voor die tyd wel in en sit ’n plank in die middel. Die twee draai elk ’n kwiltkombers om hom en haar en gaan lê aan weerskante van die plank. Hulle mag dan so laat as hulle wil met mekaar gesels sodat hulle mekaar se harte kan leer ken.

Daar is iets moois aan die Amish, maar tog voel ek ’n soort hartseer as ek verby die skooltjie ry. Almal het dieselfde kleertjies aan en die kindertjies se haarstyle lyk al klaar dieselfde. Ek leer by hulle van omgee, verbintenis en harde werk, maar ek wens ek kan vir hulle vertel van vryheid in Christus, genade en dankbaarheid. Die wêreld is nie so eenvoudig soos ou wêreld en ander wêreld nie.

Ons waai vir die kindertjies van die ou wêreld en die kindertjies waai vir ons van die ander wêreld. Ons is vir hulle vreemd en hulle is vir ons vreemd.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Dirk Hermann

Dirk Hermann is die bestuurshoof by Solidariteit.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

25 Kommentare

Nouja ·

Isolasie. Vrywillige isolasie. Dis die eerste woorde wat by my opkom as ek oor die Amish dink. Ten spyte van al die eerbare aspekte wat oor die mense gesê kan word, struikel hulle oor die hekkie. Ironiese ooreenkomste met ‘n plekkie halfpad Kaap toe.

Eish ·

Ek dink nie so nie. Dis Woord mense diè.
2 Korinthiërs 6:14 (53 vertaling)
“Moenie in dieselfde juk trek met ongelowiges nie, want watter deelgenootskap het die geregtigheid met die ongeregtigheid, en watter gemeenskap het die lig met die duisternis?”

Sann ·

As jy bedoel om na Orania te verwys, het jy dit effens mis. Hulle lewe allermins die geïsoleerde, gekontroleerde lewe van die Amish. Oraniërs maak baie graag gebruik van volhoubare tegnologie, en het gereelde skakeling met nasionale en internasionale groepe/mense. Die ooreenkomste mbt selfwerksaamheid is tog bewonderenswaardig, dan nie?

Gerhard ·

Orania is glad nie soos die Amish nie. Dit is dalk ‘n slegte ding van sekere kante beskou. Die Amish het ‘n amper onaantasbare beeld, wat Orania regtig mee kan doen. Orania is maar net ‘n Afrikaner gemeenskap wat nog as Afrikaners kan leef, anders as meeste Afrikaners wat meer en meer gedwing word om in die Nuwe Suid-Afrika te assimileer. Eintlik is hulle in sekere opsigte vryer as die Afrikaners in die res van die land. Eintlik in meeste opsigte.

Karen ·

As die “hekkie” waarna ” nouja”verwys , een of ander relatiewe wêrelds aanvaarbare definisie van gebalanseerdheid of “normaliteit” is,is die struikeling oor die hekkie nie te ernstig nie! Môre , oormôre is dit weer die norm! Staan liewer by n beginsel as by die veranderende modegiere van die dag. Een vd dae is Orania die konsep waaroor gegons word en die enigste heenkome vir ouens wat agter hekke vermoor word, eerder as om te” struikel oor hekkies”!

Jaycee ·

Heerlike artikel deur Dirk Hermann. Baie stof tot nadenke.

Eish ·

So n mooi vertelling dat n mens sommer hartseer word hier teen die afsluiting. Die leefstyl het vir my n besonderse bekoring insoverre die liefde teenoor mekaar op pragtige wyse uitgeleef word.
Alhoewel dit ook maar nie perfek is nie, is die aardsheid van die bestaan tog op sy manier meer sinvol as ons voorspoedsleur.
Dan, seker die aspek wat bo alles uittroon, die reëls van die samelewing. Dit wat jou vryheid uitstippel en die grense daarvan bepaal. Die grootse sekerheid wat dit meebring, is die gom van die samelewing.
Te midde van dit alles, steeds onvolmaak, en net n roepe na die vrede van die volheid van n aardse bestaan.
Tog, n baie suiwer versugting te midde van die ontaardheid van die moderne samelewing.

Hendrik ·

Ek glo vir volhoubare toekoms, en nie net in S.A, moet daar tegnologiese dorpies gestig word waar alles op die hoogste beskikbare tegnologiese vlakke moet wees. Dink net ek spandeer daaglik tussen 2 en 3 ure net om by die werk te kom. Daarna sit ek by ‘n rekenaar en werk. Dit kos my R4000 p/m vir brandstof en dan is my voertuig se loopkoste nie ingereken nie. Met tegno dorpies kan jy vroeg oggend al inskakel op die netwerk en jou werk doen. Video konverensie en met 3 D drukkers en ander tegno toerusting kan jou help om jou werk te doen. Diesentraliseer fabrieke of maak dat fabrieke teen volle produktiewiteit 3 dae van die week 24 uur loop in skofte en dan die volgende 2 dae van die week word onderhoud gedoen. Om te oorleef in S.A. sal ons net anderste moet dink en met klompe (clusters) van uitnemendheid word. Wat kan ons leer van die Amish en binne gemeenskap verband, met ‘n goeie waardesisteem ons eie toekoms verseker in S.A. en tot voordeel van almal in S.A.

Maroela ek het niks negatief gese nie en niks polities onsensitief nie. Dink en kyk vorentoe.

Eish ·

Jy bly steeds deel van die rat race “Tecno towns” of nie. Voel die rustigheid van die aardsheid van diè bestaan! Hemels.

Sebastiaan ·

Goed geskryf en interessant om te lees. het nog altyd gewonder oor die Amish. Daar is iets aantreklik aan so ‘n leefstyl, maar die opofferings sal vir meeste mense, ook vir my, te veel wees.

Eish ·

Ek wonder tog of ons nie almal in die stilligheid die leefstyl bewonder nie, maar nie die “guts” ontbreek.
Alhoewel hul ook maar nie nie perfek is nie, respekteer ek die klompie vir die moed van hul oortuiging.

Denise ·

Gelukkige mense ek glo nie hulle het ons probleme van moord, verkragtings, inbrake nie hulle wette is streng en hulle is gelowige mense !!!!!

Bruno Stef ·

My probleem met so n klein groep mense is dat hulle miskien op n groot skaal ondertrou en bv soos in die geval van die Afrikaner veral hartsiektes van geslag na geslag oordra aldus n Wits professor wat n spesialis op die gebied is.Of dit werklik die geval is of net n teorie van een persoon is kan miskien waar wees.Die waardes en leefwyse van die Armish is verhewe bokant die drek wat wereldwyd elke dag belewe word volgens die nuwe Wereld Orde.

Eish ·

Geldige punt. Ek dink hul ontvang jou met ope arms indien jy hul leefstyl aanvaar. Dalk die enigste poort vir my vir emigrasie uit die helhool.

LET THEM BE ·

Al probleem wat ek met die AMISH het is die ondertrouery en die feit dat die volwasse mans met jong meisies van so jonk soos 12 trou en meer as een vrou kan he, met groot hoeveelhede kinders. Ek gee nie verder om dat hulle leef soos hulle daarvan hou nie . ek het net ‘n ERNSTIGE kommer oor jong meisies wat nie ‘n keuse het nie as om met ‘n volwasse man te trou en hulle kan behandel soos hy goeddunk nie .. verder moet hulle maar aantokkel .. hulle pla my nie.

Meraai ·

Ek was in Des 2012 in Amerika en een van ons plekke wat ons wou besoek was die Amish. Ons was op ‘n toer in een van daai karretjies. Die man het ons na sy plaas toe gevat en daar rond gewys. Hy het ‘n melkery en daar het hy dieselfde toerusting as wat jy op ‘n gewone plaas sal kry behalwe dat die krag met ‘n tenk vol saamgedrukte lug opgewek word. Hulle het glad nie ‘n kerk gebou nie en in die omgewing gebruik hulle iemand se kelder on die huis as ‘n kerk en iets wat hulle as gemeenskap dan saam doen is hulle eet saam. Elkeen bring ‘n gereg en almal eet saam daaraan. Ons vra hom toe of hy weet hoe ‘n rekenaar en ‘n selfoon lyk of gebruik het en sy antwoord was hy het een by sy seun gesien wat uit die Amish is, maar hy gebruik dit nie omdat dit teen hulle gebruik is. O en hy was iets in sy 50 en klaar afgetree, dis hoekom hy die toere nou doen sy jonger seuns sien nou om na die boerdery. Moet se dit was nogal een van die lekker dae op ons vakansie, behalwe dat dit vrek koud was en daai karretjie is oop. Wind kom oral in en na die toer het ons in ons warm kar geklim en die hitte vinnig aangesit net om warm te word.

karin ·

Dankie vir die interessante artikel. Ek dink heelwat mense, soos ek, stel belang in die Amish en bewonder hulle.

M Gibbens ·

Interessant, soveel mense wat ‘n “wonderwerk”oplossing wil hê vir ‘n gesonde samelewing sonder om in die Wonderwerker te glo (en die werk in te sit) – en dan die Amiese wat so naby gekom het, en tog so ver van ‘n begrip van God se genade. Dankie vir die artikel

bgj van der westhuizen ·

amish doen niks verkeer nie en goeie voorbeeld van hade werk hulle vra niks van usa regering nie en orania is eits ander s maar dit is n goeie begin waar ons as wit afrikaners goed doen en hulle vra die regering niks nie as jy nie hou van wat hulle doen nie moet nie soon toe gaan nie

Danie Malan ·

Ek sal glad nie omgee om ‘n ruk lank tussen die Amish te leef nie.
Hoe meer mense se lewenswyse van joune verskil, hoe interessanter is hulle.
Maar ek sal my motorfiets baie mis… :):)

rassie ·

Baie insiggewende artikel. Laat my wonder uit hoeveel verskillende wêrelde (standpunte/toekomsvisies/lewensbeskouings) Afrikaners deesdae vir mekaar waai.

Vermeende ·

Die Amies is net volhoubaar binne n groot ekonomie, op sy eie sal die leefstyl tot stilsand kom.
Ek admireer die die Amies vir hulle toewyding en is ook jaloers op hulle eemvoudige bestaan sonder al die probleme van die moderne wereld.
Hinker ons almal nie maar tog na n rustiger lewe nie?
Ek sal graag hulle statestieke wil sien. Hoe lyk diefstal, moord en verkragting daar by hulle of selfs net egskeiding onder hulle.
Ek glo daar is baie van ons mense wat maklik sy demokratiese vryheid sal inboet om in vrede en veilig te kan lewe soos die Amies.
Tot nou toe was dit nag die enigste model wat se rekord redelik skoon is maar ongelukkig is die Amies nie ekonomies volhoubaar nie, Orania aan die anderkant is wel omdat tegnologie ingespan word. Orania het die ou en die nuwe wereld met mekaar laat trou maar so ook SA voor 94.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.