Die Amish se ‘ou wêreld’ en ons uit ‘die ander wêreld’

amish-01

Susan Hougelman voor ʼn bekende landmerk in die Amish-wêreld van Wes-Pennsylvanië. Foto: Verskaf.

Ons ontmoet Susan Hougelman in haar restaurantjie in die kothuisstyl in New Wilmington in die weste van Pennsylvanië. Sy het ’n vertrouensband met die Amish-gemeenskap opgebou en neem mense van “die ander wêreld” na “die ou wêreld”. Die Amish noem almal uit “die ander wêreld” “the English”. Vir dié toer is ek “English” – vir my ook ’n ander ervaring.

Daar is ’n stukkie romantiek aan die ou wêreld van die Amish, ’n gemeenskap wat mekaar help en versorg. Hulle volg ’n eenvoudige lewenstyl sonder enige moderne tegnologie. Almal werk hard en doen hul deel. Almal lyk dieselfde, trek dieselfde aan en hul perdekarretjies lyk dieselfde.

Die omgewing is pragtig, die huisies netjies en relatief groot en lyk nie armoedig nie.

Die herfslandskap gee ʼn bietjie kleur aan die pragtige, eenvormige wit huisies van die Amish.

Die Amish is ’n ou Europese gemeenskap en hulle ontstaan kan teruggevoer word na Switserland. Hulle is Anabaptiste, glo aan grootdoop en dat jou dade jou red. Hulle hou dus streng by ’n suiwer lewenswyse, werk hard en deeglik, is nederig en gehoorsaam, ingetoë en liefdevol, gee om en reik uit na mekaar, want dit is hulle pad na die ewigheid. Aan die begin van die 18de eeu het ’n groot groep Amish na Pennsylvanië geëmigreer weens dié staat se godsdiensverdraagsaamheid.

Bybelse name word vir die kinders gegee, Anna, Andrew, Samuel en Elizabeth. Wanneer ’n paartjie trou, is almal daar, en as iemand sterf, hou almal saam begrafnis.

amish-04

ʼn Tipiese Amish-plaaslandskap. Foto: Verskaf.

Pouse by die eenkamerskooltjie lyk soos enige ander skooltjie – gelukkige kindertjies wat baie speel en mekaar jaag. Die juffrou is ’n jong ongetroude meisie.

Die gesinne is groot, gemiddeld ses tot sewe kinders, en die gevolg is dat die gemeenskap vinnig groei. Sowat 95% van jong mense bly in die gemeenskap, word gedoop en lid van die kerk. Afvalliges word verban en mag nie na die gemeenskap terugkeer nie. Van 1992 tot 2013 het die Amish-gemeenskap in die VSA met 120% gegroei. Hulle getalle staan nou op ongeveer 250 000.

Hulle het nie motors nie, nie selfone of rekenaars nie en ook nie elektrisiteit nie. Hulle boer nie met trekkers nie, maar met perde. Boonop is hulle ongelooflike vakmanne.

Ons besoek ’n houtwerk-werkswinkel en die ywer, deug en deeglikheid straal uit die jong seuns. By nog ’n huis word wiegstoele gemaak. Die jong man wat ons ontmoet se vaardigheid is ’n belewenis. Daar is geen moderne gereedskap nie, maar hy maak ’n stoel met netheid en spoed wat ons almal verstom. Hy is vriendelik en innemend en gesels heerlik met Susan. Agter die maak van die stoel is die geloof dat net die beste van God se arbeid gemaak mag word. Goeie werk moet gelewer word. Jy werk aan die stoel en terselfdertyd aan jou verlossing. Ons kon dit sien in die vakmanskap van al die plekke wat ons besoek het.

amish-02

Mense moet net mens wees. Die Amish se poppe het nie gesiggies nie, want hulle glo die mens, as beeld van God, mag nie afgebeeld word nie. Foto: Verskaf.

Kinders kry skoolopleiding tot gr. 8 en daarna volg die seuns ’n spesifieke ambag, gewoonlik diensopleiding onder die kundige oog van ’n pa of familielid.

Daarna doen ons aan by ’n winkeltjie met die pragtigste naaldwerk en kwiltwerk. Die lappoppe het nie gesiggies nie. Die Amish glo dat God en daarom ook die mens as beeld van God nie uitgebeeld mag word nie. Dit is ook die rede waarom ons nie foto’s van mense mag neem nie.

Susan bring lekkers vir die kinders. Boeties en sussies gee eers vir mekaar. Die ouers het vir hul dogtertjie toestemming gegee om na stories op Susan se selfoon te kyk; hulle mag net nie die foon vashou nie. Hulle kyk na die drie varkies – ʼn  oomblikkie se ontvlugting na die ander wêreld. Hulle is vasgenael. Fluit, fluit, die storie is uit.

Die toneeltjie wys op die spanning wat ontstaan deur van ’n ou wêreld te wees, maar binne ’n ander wêreld te leef. Susan vertel van ’n jong seun wat in die nabygeleë dorp ’n grassnyer van die perdekarretjie af gesien het. “Ons kan dit só doen,” het hy opgewonde vir sy ma gesê. “Ons doen dit nié so nie,” het sy geantwoord. Hy was tevrede en is vandag steeds ’n harde werker in dié omgeegemeenskap.

Soms word ’n kompromie met die ander wêreld getref, maar dit word goed gereguleer. Sowat 200 meter van die huis is ’n houtkamertjie wat soos ’n buitetoilet lyk. Dis ’n telefoonhokkie. Daar is ’n sonpaneel op die dak wat die selfoon laai. ʼn Man mag soontoe stap om sakeoproepe te maak, maar met die voorwaarde dat die deur oopstaan.

Buite die huis staan ’n kerkwa. Die wa word getrek na die huis waar die volgende Sondag kerk gehou sal word. In die wa is Bybels en wat ook al nodig is vir die diens.

“Anna, are you ready for church on Sunday?” vra Susan. Dit is ’n groot vraag. Anna berei minstens ses weke lank voor vir die kerkdiens. Die huis word van hoek tot kant silwerskoon gemaak. Hulle glo die beste moet vir die Here gegee word. Die kerk trek van huis tot huis.

Elke kerkdistrik het tussen 20 en 40 families en sy eie biskop. Indien ’n nuwe distrik geskep word of ’n biskop tot sterwe sou kom, kom al die gedoopte mans wat lid is van die kerk, in ’n kamer bymekaar. In ’n volgende kamer word stoele uitgepak met Bybels op. In een van die Bybels is ’n papiertjie met ’n teksvers. Die man wat die Bybel kry, is die nuwe biskop van die distrik en is verantwoordelik vir die reëls en uitvoer daarvan.

Almal praat Engels, maar hulle het ’n eie taal, Pennsylvania Dutch, ontwikkel. Dit is ’n mengsel van Duits en Hollands en is soortgelyk aan ’n dialek van Switserse Duits. Hulle beskou die Duitse Lutherse Bybel as die enigste suiwer vertaling. Weens die taaluitdagings is dit nie vir almal toeganklik nie.

amish-03

ʼn Telefoonhokkie waar ʼn man besigheidsoproepe op ʼn selfoon mag maak. Die voorwaarde is dat die deur moet oopstaan. Foto: Verskaf.

Die gemeenskap is nóú verweef. Sondagaande is jeugsangaande. Dit is ’n groot gebeurtenis en ʼn hoogtepunt. ʼn Week se harde werk lê voor, maar by die sangaande kan daar ontspan, gekuier en gesing word.

Sondagaande is ook die tyd waarop ʼn ander groot gebeurtenis plaasvind. Die seuns kan die dogters op ’n “date” neem. Die dogters word met perdekarretjies na hul ouerhuise geneem. Die ouers mag geensins met die seun praat nie, want dit mag dalk lyk of hulle inmeng. Die ouers gaan na hul kamers en die kinders word alleen gelaat.

Indien die verhouding verder vorder, mag die twee op die bed gaan lê. Hier meng die pa voor die tyd wel in en sit ’n plank in die middel. Die twee draai elk ’n kwiltkombers om hom en haar en gaan lê aan weerskante van die plank. Hulle mag dan so laat as hulle wil met mekaar gesels sodat hulle mekaar se harte kan leer ken.

Daar is iets moois aan die Amish, maar tog voel ek ’n soort hartseer as ek verby die skooltjie ry. Almal het dieselfde kleertjies aan en die kindertjies se haarstyle lyk al klaar dieselfde. Ek leer by hulle van omgee, verbintenis en harde werk, maar ek wens ek kan vir hulle vertel van vryheid in Christus, genade en dankbaarheid. Die wêreld is nie so eenvoudig soos ou wêreld en ander wêreld nie.

Ons waai vir die kindertjies van die ou wêreld en die kindertjies waai vir ons van die ander wêreld. Ons is vir hulle vreemd en hulle is vir ons vreemd.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Dirk Hermann

Meer oor die skrywer: Dirk Hermann

Dirk Hermann is die bestuurshoof by Solidariteit.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

25 Kommentare

jongste oudste gewildste
Nouja

Isolasie. Vrywillige isolasie. Dis die eerste woorde wat by my opkom as ek oor die Amish dink. Ten spyte van al die eerbare aspekte wat oor die mense gesê kan word, struikel hulle oor die hekkie. Ironiese ooreenkomste met ‘n plekkie halfpad Kaap toe.

Jaycee

Heerlike artikel deur Dirk Hermann. Baie stof tot nadenke.

Eish

So n mooi vertelling dat n mens sommer hartseer word hier teen die afsluiting. Die leefstyl het vir my n besonderse bekoring insoverre die liefde teenoor mekaar op pragtige wyse uitgeleef word. Alhoewel dit ook maar nie perfek is nie, is die aardsheid van die bestaan tog op sy manier meer sinvol as ons voorspoedsleur. Dan, seker die aspek wat bo alles uittroon, die reëls van die samelewing. Dit wat jou vryheid uitstippel en die grense daarvan bepaal. Die grootse sekerheid wat dit meebring, is die gom van die samelewing. Te midde van dit alles, steeds onvolmaak, en net n… Lees meer »

Hendrik

Ek glo vir volhoubare toekoms, en nie net in S.A, moet daar tegnologiese dorpies gestig word waar alles op die hoogste beskikbare tegnologiese vlakke moet wees. Dink net ek spandeer daaglik tussen 2 en 3 ure net om by die werk te kom. Daarna sit ek by ‘n rekenaar en werk. Dit kos my R4000 p/m vir brandstof en dan is my voertuig se loopkoste nie ingereken nie. Met tegno dorpies kan jy vroeg oggend al inskakel op die netwerk en jou werk doen. Video konverensie en met 3 D drukkers en ander tegno toerusting kan jou help om jou… Lees meer »

Sebastiaan

Goed geskryf en interessant om te lees. het nog altyd gewonder oor die Amish. Daar is iets aantreklik aan so ‘n leefstyl, maar die opofferings sal vir meeste mense, ook vir my, te veel wees.