Die amp van gelowiges

Bennie van Zyl. Foto: Daleen Gouws

By TLU SA bely ons as organisasie ons geloof in God Drie-enig soos geopenbaar in Sy Woord, die Bybel. Daar is by ons geen twyfel oor die omvang van die genade wat daagliks, onbeskryflik groot, op ons uitgestort word nie. Dit is waar ons krag en wysheid vandaan kom en daarom besef ons dat ons ʼn lewe van dankbaarheid tot eer van God moet lei.

Elke individu wat Christus as  persoonlike Saligmaker en Verlosser bely, bevind hom- of haarself inderdaad in die amp van gelowige. Dit skep vir elkeen ʼn bepaalde verantwoordelikheid, maar ook vryheid. Dit is dalk goed dat ons van tyd tot tyd ʼn rukkie stilstaan en onsself ten opsigte van hierdie heerlike amp wat ons elke dag as sondaarmense kan uitleef evalueer, en in hoe ʼn mate ons wel suksesvol is in die uitvoering daarvan.

Wat is vryheid en wat behels dit? In eie volksverband is daar ʼn groot versugting om vry te wees van die onderdrukkende tirannie van ons staat. Elke volksgenoot behoort daarna te streef om as volk vry te wees van ʼn onderdrukkende en onbillike regeerder en om as volk tot eer van God te leef. ʼn Christen sal eers na enige vorm van volhoubare vryheid kan streef nadat innerlike vryheid en vrede gevestig is. Dit kan ons slegs uit ons verhouding met ons Skepper bepaal.

Vryheid bring onmiddellik ook bepaalde verantwoordelikhede na die tafel. Vir ʼn Christen sal vryheid eerstens beteken dat ek daarna streef om vry van sonde en tot eer van God te leef. Vandag ervaar ons egter dat daar met vryheid een of ander humanistiese vertrekpunt is en dat die uitgangspunt sou wees dat die mens inderdaad “vry” is om te doen soos wat dit hulle behaag. Christus is as die fokuspunt verwyder en vervang met die mens self as die spilpunt.

Uiteraard is die belangrikste verantwoordelikheid in die amp as gelowige om Jesus Christus se aardse bestaan as voorbeeld na te streef en vanuit ons sondige natuur daadwerklik alle sondes te beveg en ʼn rein lewe tot eer van God te lei. Die Bybel rig ons hieroor. Met Jesus wat reeds vir ons aan die kruis gesterf het, is dit ʼn heerlike pad om te stap. Ons moet egter waaksaam wees om te luister na wat die Woord sê en nie te hoor wat ons persoonlike behoeftes ons wil láát hoor nie. Ons het ʼn baie duidelike kultuuropdrag vanuit die Woord ontvang wat ons volgens die verordeninge, soos deur die Bybel vir ons uiteengesit, moet uitvoer.

ʼn Ander groot verantwoordelikheid wat ons elkeen in die amp van gelowige het, is om ons stemme te laat hoor. In vandag se tyd is daar so baie meganismes tot ons beskikking om ons stemme te laat hoor. Dit is hartseer om daagliks op sosiale netwerke te ervaar hoe mede-Christene op ʼn onaanvaarbare wyse met mekaar praat. Dit blyk in baie gevalle of die saak onder bespreking later nie eers meer van belang is nie – net solank die ander persoon op die lelikste manier gediskrediteer kan word. Ons moet in alle kommunikasie altyd kan antwoord – bou ek of breek ek?

As Christene weet ons dat alle gesag van God afkomstig is. Die owerheid is inderdaad deur God bemagtig om hulle amp uit te voer. Die regeerder moet hierdie taak as deel van die samelewingsorde – waar verskeie instellings soos kerke en skole elk hul eie verantwoordelikheid het – uitgevoer word. As Christene vereis ons dat die staat in belang van die inwoners optree in die nakoming van hulle regeringsamp. Wanneer die staat hul regeringsposisie misbruik en hul tot magsmisbruik, onregmatige selfverryking, korrupsie en onregmatige inmenging by die ander instellings in die samelewing wend, bring dit ʼn bepaalde verantwoordelikheid by elkeen van ons in ons hoedanigheid as gelowiges na vore.

Die staat se rol is om die publieke regsorde te handhaaf. Wanneer die staat nie by magte is om orde te handhaaf nie en die inwoners self daardie verantwoordelikheid moet oorneem – soos met die onlangse onluste gebeur het – kan daar met reg gesê word dat die staat nie die verantwoordelikheid van die regeringsamp nakom nie.

Vele ander voorbeelde van die staat wat nie hul taak korrek uitvoer nie kom daagliks na vore. In hoe ʼn mate spreek ons die regering aan indien onregmatig opgetree word?

Die waardestelsels en dit wat die regering nastreef, bots daagliks met dit wat Christene van ʼn regering verwag. Vir die Christen om dit wat die regering daagliks doen vir lief te moet neem, is onaanvaarbaar.

Dit skep baie vrae. Is die bestel waarbinne ʼn verskeidenheid van volkere elk met hul eie kulturele waardes en oortuigings saamgevoeg is billik teenoor wat die onderskeie volkere as hul eie beskou? Sou ʼn ander bestel onder die huidige omstandighede – die magshonger en magsmisbruik van die ANC-regering – nie ʼn beter toekoms vir Suid-Afrika se mense in hul verskeidenheid daar kon stel nie?

Ons sit met ʼn tirannie wat gewis nie so kan aangaan nie. Dalk moet ons ʼn multinasionale federale stelsel oorweeg. In so ʼn bestel sal elke kulturele groepering volledige seggenskap oor hulle eie kulturele sake hê. Sodoende kan die bestaande tirannie, wat daarop gemik is om die verskeidenheid van kulture te vernietig, gestuit word.

Elke belydende Christen moet die verantwoordelikhede van die amp van gelowige opneem en nie verder stilbly nie. Dit is ons verantwoordelikheid om vir die regte redes in verset te kom teen dit wat verkeerd is. Verset is nie ʼn individu wat in opstand kom nie; dit kan net skriftuurlik geregverdig word indien dit kollektief met behoorlike gesag geskied. As individue, maar ook deur alle strukture en verál kerke, moet die vernietigende pad van hierdie regering blootgelê word. Ons elkeen is inderdaad “die kerk”. Daar is nie iewers ʼn “hulle” wat die verantwoordelikheid het om iets aan die staatsmisbruik te doen nie – dit is ons elkeen se taak om in gemeenteverband en in eie kerkverband die Woord gestand te doen sodat die kerk sy vermanende verantwoordelikheid teenoor die staat beter sal nakom. Plaas die regering op terme vir dit wat onaanvaarbaar is en begin konstruktief vir ʼn beter bedeling werk – die huidige bestel is nie volhoubaar nie. Die ANC se DNS het bewys dat dit nie ʼn sukses van Suid-Afrika kan maak nie.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Bennie Van Zyl

Meer oor die skrywer: Bennie Van Zyl

Bennie van Zyl is hoofbestuurder van TLU SA.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

6 Kommentare

jongste oudste gewildste
Willem

Goed gestel Bennie, baie mooi en raak gevat, maar wat stel jy voor doen ons daar omtrent

Adam Adriaan

Waarheid!! Dit is tyd dat die leuen wat verkondig word as die waarheid geopenbaar word. Ons mense word oorspoel met onwaarhede deur die Linkse Libiral kommuniste met die media as hulle grootste wapen. Dit is tyd dar die mensdom begin wakkerskrik en besef waarmee ons te doen het. Ongelukkig is daar van ons boere nasie wat blind is vir die waarheid.”2 Thess 2Vers 11 And for this God shall send them strong delusion, that they should believe a lia”

OW

Goeie skrywe mnr van Zyl.Eerwaarde Allan Hendrikse het jare gelede ‘n konfederasie van state voorgestel,maar is summier afgeskiet deur die leiers van destyds.Na mening moet die kerk en dit sluit alle kerke in ‘n groter rol speel as wat tans die geval is.Jy hoor maar min as die kerk,die Liggaam van Jesus Christus enigsens sy stem laat hoor.Hierdie aangeleentheid sal op nasionale vlak aangepak moet word en deur die verskeie bestuurstrukture tot uiting te laat kom.Daar is natuurlik ‘n magdom vrae wat gevra kan word.Laat die grondwet bv ‘n federale bestuur toe?Daar sal getoets moet word of bevolkinsgroepe ten gunste… Lees meer »

annie

Die ergste woorde wat ‘n mens seker eendag voor die Hemelpoort sou kon hoor na ‘n orasie soos hierbo, is: Ek ken jou nie. Ons boere moet aarde toe kom; ophou heilig speel. Hul kan binnekort hul erfporsies op aarde verloor deur aanspraak te maak op Christenskap, maar ons werke, verhoudinge met ons eie naaste en boerderymetodes is boos. Onthou die mank diere wat die Jode vroom geoffer het… Ons, wit en swart, eet daagliks giftige vleis, graan, vrugte, groente, olies en die Vader merk niks??