Die ANC en die koronasepter

Nkosazana Dlamini-Zuma, die minister van samewerkende regering en tradisionele sake (Foto: National Cogta/Twitter)

Dis met toenemende verstomming dat ’n mens sommige berigte oor die Suid-Afrikaanse regering se hantering van die koronakrisis lees. In die naweek het berigte verskyn oor hoe die regering welsynsorganisasies en individue reg oor die land aktief verhinder om hul Bybelse plig na te kom en die “weduwees en wese” te voed.

So het die minister van samewerkende regering en tradisionele sake, dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, blykbaar verordineer dat hoogstens drie permitte per organisasie vir die verspreiding van voedsel toegestaan mag word, en dat elk van dié drie slegs vir die verspreiding aan vyf mense aangewend mag word. Wat hier agter skuil gaan, is dat noodleniging genasionaliseer word – slegs die staat mag mense help.

Dit gaan gepaard met allerlei drakoniese maatreëls wat enigiemand met ’n normale, gesonde verstand nie anders as totaal belaglik kan beskou nie. Die verbod wat daar op draf en met die hond stap was, en die staande verbod op die verkoop van sigarette en alkohol – ’n mens het nie woorde nie. Om nie eens te praat oor die verbod wat daar was op die verkoop van gaar kos en klaargemaakte koffie nie.

(Moenie my verkeerd verstaan nie. As iemand wat van 1967 tot 1985 self gerook het, is ek nie ten gunste van rook nie – dis ongesond en dit stink – maar om dit te verbiéd, gaan te ver. En as iemand wat graag ’n glasie wyn drink, wil ek die vryheid hê om binne perke daarvan te geniet.)

Dis geen wonder nie dat die welsynsorganisasie Helpende Hand hom voorberei om die staat hof toe te vat. En dan kom die ANC ook nog met hulpmaatreëls waarvan wit mense uitgesluit word.

’n Mens moet ewenwel probeer om te verstaan waar die regering se magsvertoon vandaan kom. Ek wil twee elemente uitlig.

Pres. Cyril Ramaphosa. Foto: Kopano Tlape/GCIS

Ten eerste: Politieke wetenskaplikes identifiseer oorkoepelend drie soorte politieke stelsels: Liberale demokrasieë, asook outoritêre en totalitêre diktature. Wat die drie in dié skema van mekaar onderskei, is nie of hulle links of regs is nie, maar die mate waarin die staat beheer oor die samelewing het.

Daar is geen stelsel waar die staat geen beheer hoegenaamd het nie. Só iets sou op ’n bandelose anargisme neerkom.

Nietemin, ’n demokrasie laat die groots moontlike mate van ruimte vir die burgerlike samelewing om sy eie ding te doen en eie inisiatiewe te onderneem. Die stelsel gaan bowendien gepaard met die verdeling van die mag tussen verskillende staatsinstellings (wetgewende, uitvoerende en regterlike mag, provinsiale of deelstaat-regerings, asook die burgerlike samelewing met sy drukgroepe en vrye media).

In ’n outoritêre diktatuur baken die regering vir hom ’n groot gebied af waar hý die septer swaai, maar daarbuite laat hy ’n sekere ruimte vir die burgers bestaan. Die mense moet egter weet: So gou hulle die grens oorskry en die diktatuur aktief teenstaan, klink hy hul doppie.

Daarenteen laat ’n totalitêre diktatuur géén ruimte buite die heersende ideologie toe nie. Die hele samelewing moet tot in elke uithoek van die staatsideologie deurdronge wees.

Let wel, links of regs speel hier geen rol nie. Sowel Nazi-Duitsland as die Sowjetunie was goeie voorbeelde van totalitêre diktature.

Nou terug by Suid-Afrika. In opdrag van die Kremlin het die Kommunistiese Party van Suid-Afrika die ANC deur die jare geïnfiltreer en het mettertyd die meeste leiersposisies in die organisasie oorgeneem. Dit was deel van die tipiese twee fase-revolusie wat ook elders in die wêreld gevolg is.

Argieffoto

Die idee was dat die ANC as stormram die wit regering in die eerste fase van die revolusie sou platstoot (bekend as die “nasionaal-demokratiese revolusie”). Daarna kon die kommuniste in die leiding van die organisasie naatloos tot die tweede fase, die “sosialistiese revolusie”, oorgaan en die land in ’n Leninistiese diktatuur omskep.

Die ANC was as sodanig geen kommunistiese beweging nie, maar byna al sy leiers in die topstrukture was oortuigde kommuniste. As sodanig vat ’n mens geensins kortpad as jy stel dat die ANC in die struggle-jare intens deur die Leninistiese model van totalitêre diktatuur beïnvloed is nie.

In die eerste jare ná 1994 het die kommuniste in die ANC teruggehou, onder meer omdat die magspolitieke mat deur die verbrokkeling van die Sowjetunie onder hulle uitgepluk is. Maar jy sien dat die koronakrisis die ou reflektiewe terugval op totalitêre magsuitoefening weer tot lewe roep.

’n Tweede saak moet hier genoem word. Dit is dat die ANC-leiding diep verdeel is en dat die koronakrisis ’n kwaai magstryd laat losbars het.

Die leiding in die hantering van die krisis word gehanteer deur die geheimsinnige Nasionale Bevelsraad (NBR), waaroor byna niemand iets weet nie. Wie dien in die liggaam? Hoe fungeer die besluitneming? Op watter regsgronde berus die liggaam se bestaan?

Is dit ’n wonder dat twee voorste advokate, Nazeer Cassim, SC, en Erin Richards, die regsgeldigheid van die NBR betwis en waarskynlik ’n hofsaak daaroor sal aanspan?

Ace Magashule, sekretaris-generaal van die ANC (Foto: Simphiwe Mbokazi/African News Agency/ANA)

Bowendien is dit opvallend dat Dlamini-Zuma en Ace Magashule, sekretaris-generaal van die ANC, vir pres. Cyril Ramaphosa gereeld in die openbaar repudieer. Ramaphosa kom met maatreëls wat redelik klink, en voor jy jou oë uitvee, het Dlamini-Zuma en Magashule met ’n teenoorgestelde aankondiging teruggeslaan.

Die feit dat Ramaphosa, wat meestal ’n redelike indruk maak, dié twee (en ander wat hul voorbeeld volg) nie kragtig kortvat nie, wys dat sy posisie in die party taamlik wankelrig is. Hy moet fyn trap as hy president van die land en leier van die ANC wil bly.

Suid-Afrika is natuurlik nie die enigste land waar ideoloë die krisis gebruik om hul mag te bevorder nie. Jy sien dieselfde ding gebeur in Pole en Hongarye, in Rusland en Venezuela, almal voorbeelde waar diktators die krisis as voorwendsel gebruik om die demokrasie nekom te draai.

Suid-Afrikaners moet dus bedag daarop wees dat die ANC se linkervleuel gretig in sy hande vryf by die vooruitsig om sy ideologie tot in die verste uithoeke van die samelewing af te dwing. Dit gaan om meer as die doeltreffende bestryding van die virus, hoe belangrik dit ook al is. Dit gaan om die behoud van die liberale veelparty-demokrasie in ons land.

Staan sterk!

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Burgermeester ·

Dankie Leopold vir die skrywe van die bostaande artikel. Só vanaf die voorstoep hier op die vlaktes duskant Hebron, blyk dit of ons ‘n pseudo totalitêre diktatuur stelsel beleef. Kyk byvoorbeed na Ramaphosa wat so poseer in sy militêre uniform. Hy lyk eenvoudig net belaglik daarin. Ons word beset deur kommuniste!

Kattebol ·

Dit is al ‘n paar weke lank baie duidelik dat die stryd nie oor virus bekamping gaan nie maar total control.

marius ·

Lang storie kort . Die stuasie word uitgebuit om die finale nekslag toe tecdien . Punt

Chris ·

Wat verskil die vorige bedeling van die huidige regime in optredes. Vra maar net.

Heinrich ·

Antwoord is eenvoudig: in die vvorige bedeling het die minderhied die meerderheid opgetrek met die sterkste ekonomie in Afrika, beste infrastruktuur en ten spyte van al die sanksies selfstandig kan wees (ja met al die foute daarby saam). Hierdie regime trek almal af en wil soos Zimbabwe ook niks oor hê nie, dan is hulle mos bevry van alle demokratiese en vry-ekonomiese nonsens.

Willem ·

Leopold dis FEITE my ou maat. Ek kan nie glo Maroela laat jou berig toe nie. Wens n mens kan die inligting in ander meduims bekend maak. Soos groot Ontbyt waar die regering lof toegeswaai word. Dankie vir die artikel. Stuur sommer vir RSG ook

Charles ·

Nee, maar liberalisme en universele stemreg is mos wonderlik, of hoe se ek?

Miskien moet die ANC maar net met die sak patats vorendag kom en heeltemal kommunisties gaan, ons as “slapgat” Afrikaners (is ons nog die naam werd?) verdien ‘n kommunistiese bewind as straf vir ons eerlose 1992 magsoorgawe.

Die ANC het reeds ons Taal vernietig (o ekskuus, dit doen ons sommer self), waarom nie sommer alles vernietig nie?

Pio ·

Daar is baie menings waarmee ek saamstem, soos hierdie-een, maar alles is net ‘n getjommel en niks word daadwerklik daaraan gedoen nie! Ek hou duimvas vir die blonde advokaatjie. Tenminste lyk dit of sy die guts het om ‘n stappie verder te gaan! Sterkte Erin Richards en Nazeer Cassim, ons staan een honderd persend agter julle!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.