Die ANC het die reënboognasie uitgemoor

Bennie van Zyl. Foto: Daleen Gouws

Armoede en werkloosheid teenoor welvaart en geleenthede is deesdae dikwels die onderwerp van gesprekke onder Suid-Afrikaners.

Die drieparty-alliansie poog om ’n nuwe samelewingsorde ten opsigte van grondbesit te skep deur die land se geskiedenisfeite te manipuleer. Volgens die regering se geskiedenis het wit mense die grond van swart mense gesteel toe hulle hul in Suid-Afrika kom vestig het. Swartmense – ook tweedegenerasie-inwoners van die land – kan egter nie bewys van wie hulle die grond oorspronklik gekoop het nie.

Tradisioneel het privaat besitreg onder swartmense nie bestaan nie. Die koning het alle grond besit. Onderdane was ondergeskik aan die koning se goedgunstigheid op elke vlak van die lewe. Welvaartskepping vir die individu was ’n vreemde konsep.

Die wêreld het deur die eeue heen verskillende regeringsvorme met wisselende ekonomiese stelsels ervaar. Dit is nie moontlik om aan te voer dat enige van hierdie stelsels volmaak en sonder probleme is nie. Wat wel uitstaan, is dat die lande wat privaat besitreg en vryemarkbeginsels nagestreef het, meer welvaart ervaar het in vergelyking met lande wat onder die koning se guns of dwingelandy bestaan het.

Welvaart word natuurlik net geskep wanneer iemand die verantwoordelikheid vir hul eie omstandighede en die toekoms aanvaar en nie wag dat ’n beter lewe deur iemand anders vir hulle geskep word nie.

Privaat besitreg is waarskynlik een van die grootste drywers om wel in eie eiendom te belê. Die grondeienaar ploeg deurlopend terug in sy eiendom met die wete dat die eiendom in waarde groei en dus op verskeie maniere groter welvaart skep.

Hierdie vorm van welvaart kan net geskep word indien die staat verseker dat eiendom beskerm is van misdaad. Daarbenewens moet ’n beleidsomgewing bestaan waarbinne beleggers en entrepreneurs graag ekonomies aktief sal wil raak. Dus, indien die belegging veilig is, kan verdere welvaart geskep word.

Die eienaar bestuur die produksiefaktore om te voorsien in die vraag na lewensmiddele en ’n wins te skep. Die uitkoms hiervan is suksesvolle besighede wat in die vorm van belasting ’n bydrae maak tot die staatskas.

Wat is Suid-Afrika se werklikheid egter?

Argieffoto

Die ANC se vasberadenheid om ’n gesentraliseerde sosialistiese bestel te vestig, laat kapitaal uit die land vloei. Beleggers is bekommerd oor faktore soos onsekerheid oor eiendomsreg en ongunstige arbeidswetgewing. Onbeheerste misdaad en die regering se afwesigheid in die hantering daarvan, gooi nog meer petrol op die vuur van onsekerheid.

Suid-Afrika is nie as gevolg van COVID-19 na rommelstatus afgegradeer nie. Die afgradering is die gevolg van die beleidsomgewing wat Suid-Afrika se vertrouensposisie vernietig het. Die voortgesette inperking om die land tyd te gee om vir Covid-19 voor te berei terwyl alles daarop dui dat tot 80% van Suid-Afrikaners die virus in elk geval sal opdoen, is irrasioneel. Hoe lank het die staat nog nodig om voor te berei?

Die mag om belaglike regulasies in die hande van onbevoegde SAPD-lede sonder ’n gesonde onderskeidingsvermoë te laat, is ’n resep vir chaos.

Die vernietiging van die ekonomie deur die inperking, skep grootskaalse armoede en werkloosheid. Die maatskappye en individue wat besigheid sou kon doen om belasting te betaal, sal onbepaald nie hul kant kan bring om die staatskas te finansier nie.

Die sinnelose regulasies wat geensins bydra om die verspreiding van die koronavirus te beperk nie, het stewig bygedra om die ekonomie te vernietig. Dit het die onvermoë van die regering om gebalanseerde insig te toon, grootliks bevestig.

Die regering het met die hantering van Covid-19 bewys dat hulle goed verstaan hoe goedere verbruik word, maar ongelukkig geen insig het oor die produksie daarvan nie.

Welvaart is nie iets wat net bestaan nie, dit moet deur middel van produksie geskep word. Dis nie iets wat onder almal verdeel moet word nie, maar iets waarvoor daar gewerk moet word.

Korrupsie het nou al endemies deel van die ANC se DNS geword en die hantering van Covid-19 het dit (weer eens) onder die vergrootglas geplaas. Dit is hartseer dat rolspelers wat daarvoor verantwoordelik is om in nood te help, die geleentheid misbruik vir selfverryking.

Die ANC se rassistiese onderrok hang ver uit. Dit is ironies dat dit juis wit mense is wat grootliks bydra om die fondse te verskaf om hulpverlening te gee. Dis ook hierdie groep wat op grond van ras uitgesluit word wanneer hulp uitgedeel word. Die ANC het die reënboognasie uitgemoor.

Kan Suid-Afrika die ANC se beleid nog verder bekostig?   

(Foto: Wikimedia Commons)

Hulle volhard op ’n ideologiese pad wat gaan lei tot verdere grootskaalse armoede en werkloosheid. Nêrens in die wêreld kon hierdie sosialistiese benadering al enigsins welvaart skep nie. Dít het kredietgraderingsagentskappe vir ons bevestig.

Dit is ’n ope vraag hoe lank die virus nog met ons gaan wees. Maar intussen moet mense eet en leef. Dit beteken die ekonomie moet glad funksioneer om die vraag en aanbod van middele te reguleer.

Die ANC-beleid is die oorsaak van die situasie waarin Suid-Afrika tans verkeer. Enige regdenkende mens sal hieruit besef dat om voort te gaan met die bestaande beleid, ’n glybaan na ekonomiese mislukking sal wees.

In hoe ’n mate die ANC kan losbreek van die bestaande DNS en besef wat presies nodig is om die ekonomie te laat groei, bly ’n onsekerheid. Persoonlik het ek ernstige bedenkinge oor of dit wel moontlik is.

ANC: Bevestig privaat besitreg as die vertrekpunt van welvaartskepping. Besef dat diegene wat die verantwoordelikheid om suksesvol te wees, aanvaar, noodwendig die positiewe resultate sal bereik.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Bennie Van Zyl

Bennie van Zyl is hoofbestuurder van TLU SA.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Pierreli ·

Dit sal nooit gebeur nie. Hulle blameer nog steeds apartheid.

marius ·

Heel korrek . Daar is sewe kleure . Geen wit en ook nie swart nie . Dalk moes die ikoon verwys het na ‘n donderwolk nasie ….

Frans ·

Die ANC-luister nie na rede nie want by hulle is die Vryheidmanifes die eintlike grondslag vir die ekonomie van Suid Afrika.Dit was van die begin af duidelik dat grondbesit nie privaatbesit insluit nie,want die Vryheidmanifes maak dit duidelik dat:

THE LAND SHALL BE SHARED AMONG THOSE WHO WORK IT!

Restriction of land ownership on a racial basis shall be ended, and all the land re divided amongst those who work it, to baniish famine and land hunger;
The state shall help the peasants with implements, seed, tractors and dams to save the soil and assist the tillers;
Freedom of movement shall be guaranteed to all who work on the land; All shall have the right to occupy land wherever they choose;

Die onderhandelaars by Kodesa moes ‘n klousule in die grondwet ingeskryf het :
“The Freedom Charter of the ANC shall no longer be used as source of reference to own and acquire
land and land reform.’

Alexander ·

Die skrif is aan die muur wat ons pragtige land aanbetref. Die reenboognasie was ‘n mite geskep deur die liberales. Die enigste uitweg is om elke dag in geloof voort te gaan en op God te vertrou. Mens kan nie ‘n politikus vertrou nie, maar jy kan wel op God vertrou. Hy was, Hy is, Hy kom……net Hy is almagtig!!!

Magda ·

Vertaal hierdie ASB in Engels en alle ander Afrika Tale – sodat dit in al die koerante en plekke geplaas kan word sodat ALMAL DIT KAN LEES. “Miskien” sal daar iemand wees wat dit raak sien met verstand en onder hulle almal kan verduidelik, want die huidige Onbevoegde klomp gemors daar bo – nee wat moet dit nie eers vir hulle stuur nie, want hulle gaan dit NIE verstaan nie. Maar dit is die eerste artikel waarmee ek 100% saam stem. Ons kan dit nie net hier lees en dan se “okay” dit moet ASB verder versprei word sodat iemand iets kan doen om SA te red – en dit is n baie dringend noodsaaklik dat daar in gegryp moet word.

Kiewiet ·

Is staatskaping soos orals in die wereld, waar mense slim genoeg is om nie deur die onosele meerderheid se onpraktiese denke, regeer word nie, dalk n opsie? Geen wonder Afrika is die ashoop van die wereld nie. Maar nou-ja die oposisie sit ook net in die parlement vir die “Pay Tjek” ne?

Kiewiet ·

Daar le die hele Suid Afrikaanse situasie netjies in een skrywe opgesom, dankie Mnr, Bennie van Zyl,
Ek hoop jy het hierdie skrywe aan die geagte prez, en aan Luthuli huis ook gestuur. Maak ook seker dat al die leiers van die oposisie partye ook n kopie in die hande kry veral n sekere leier van die eff.

Pierreli ·

Die ANC sal nooit erken dat hulle die oorsaak is van die land se ekonomiese toestand nie. Ek het nog nooit enige swart mens gehoor sê hulle is jammer oor iets of erken dat hulle skuldig is aan iets wat hulle verkeerd gedoen het nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.